MOOD GS gesig Sketch of beautiful woman face. Vector illustration
Gesondheidstories

7 slegte gewoontes (wat goed is vir jou)

What a day for a daydream
What a day for a daydreamin’ boy
And I’m lost in a daydream . . .

Dagdroom, soos destyds deur die Lovin’ Spoonful-rockgroep besing, is nie altyd tydmors nie. Nee, sê wetenskaplikes, dit kan trouens ’n rol speel om jou probleme op te los.

En ja, die môrestond het goud in
die mond, maar ’n bietjie ekstra slaap kan bydra om jou gewig in toom te hou. Só maklik.

Soos Janus, die antieke Romeinse god met twee gesigte, kan slegte gewoontes soms ook ’n ander kant hê. Basta dus met skuldgevoelens as jy nie altyd jou beste voetjie voorsit nie. Jy kan dalk iets baie waardevols daaruit leer . . .

1. DAGDROME

Die pluskant: Dit kan jou help om probleme op te los

’n Nuttelose tydverdryf? Aikôna.

Jou brein is baie meer aktief terwyl jy dagdroom as wat voorheen gedink is, wys ’n studie in die joernaal Proceedings of the National Academy of Sciences. Breinskanderings wys dit gons dan behoorlik in jou brein se “uitvoerende netwerk” – die deel wat met komplekse probleem-oplossing vereenselwig word. Voorheen het mense aanvaar daardie deel van jou brein rus dan, en volgens die navorsers word dwalende gedagtes gewoonlik geassosieer met luiheid en onoplettendheid.

Maar dié studie wys jou brein is eintlik baie besig as jy dagdroom – baie meer as wanneer jy met roetine-take besig is.

Jy kan tot ’n derde van die tyd dat jy wakker is, dagdroom. Maar dis in werklikheid ’n belangrike bewussynsvlak waar jy onbewustelik jou aandag wegvat van ’n onmiddellike taak om probleme deur te werk. As jy dagdroom, fokus jy dalk nie op jou onmiddellike doelwit nie – soos om ’n boek te lees. Maar jou kop kan die tyd gebruik om op belangriker vrae in jou lewe te fokus. Soos watter koers jy met jou loopbaan moet inslaan.

* Bron: ScienceDaily.com

Doen dit reg

Dagdrome kan ’n kreatiewe uitlaatklep wees en dalk tydelik help om spanning te verlig. As jy gereeld en lank dagdroom, kan jy ook ontvlug. Dis nie altyd opbouend nie omdat jy meer in jou droomwêreld as in die werklikheid kan leef. Jy moet dus probeer om ’n balans tussen jou dagdrome en die werklikheid te handhaaf, sê Karlien Erasmus, sielkundige van Pretoria.

Skryf jou dagdrome neer – om seker te maak jy jaag die positiewe na wat deel van jou persoonlike verryking kan wees. Maar ook om te help dat jou gedagtes tot ruste kom. Volgens Karlien kan “skryfterapie” (die neerskryf van jou gedagtes, planne, drome en bekommernisse) jou help om ’n warboel gedagtes te orden. Te veel gedagtes kan jou konsentrasie laat verloor en jou selfs uit die slaap hou.

2. SLAAP LAAT

Die pluskant:  Dit kan die kilo’s weghou

Eet reg, oefen . . . en slaap genoeg.
 Dis die drie magiese bestanddele
 om jou gewig in toom te hou.
 Mense wat minder as vyf uur per
nag slaap, is 30% meer geneig om gewig aan te sit as dié wat langer
 slaap, wys ’n groot Amerikaanse 
studie oor sestien jaar.

Genoeg slaap is belangrik om hormone te balanseer wat jou eetlus en metabolisme help reguleer. Ook om balans tussen jou spier-, vet- en beenmassa te verseker, verduidelik Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van Beter Eet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl.

As jy nie genoeg slaap nie, is jy boonop geneig om meer deur die 
dag te peusel, te veel kafeïenryke drankies te drink en minder te oefen. As jy dus oor ’n naweek ’n bietjie later slaap, kan dit jou dalk help om die vetrolletjies weg te hou.

Doen dit reg

Drink voor slaaptyd ’n glas melk met ’n bietjie heuning of ’n blokkie sjokolade. Melk bevat die aminosuur triptofaan, en die koolhidrate in melk, sjokolade
en heuning help jou brein om
die triptofaan op te neem, wat soos ’n “kalmeermiddel” in die brein werk. Melk stimuleer ook die produksie van die hormoon melatonien, wat jou slaappatroon help reguleer.      

3. SKINDER

Die pluskant: Dit kan angs verminder

Vroue is gelukkiger en gesonder as hulle gereeld lekker met hul vriendinne klets, wys navorsing in die joernaal Hormones and Behavior. Baie van die hormone wat by die vorming van ’n band betrokke is, verminder stres en angs.

Dit vermeerder ook die vlakke van progesteroon, ’n vroulike hormoon wat met angs en stres klaarspeel en jou lekker laat slaap. Dit word deur jou eierstokke geproduseer en speel ’n belangrike rol om mense op sosiale, emosionele en kop-vlak te bind.

* Bron: http://psychcentral.com

Doen dit reg

As jy positiewe goed agter iemand se rug van haar sê, gee dit jóú ’n sielkundige hupstoot, wys nog ’n studie. Jy voel jy word sosiaal meer ondersteun – oftewel dat jy meer vriende het. Jou selfrespek styg boonop vir ’n rukkie.

As jy minder goeie dinge sê, kan jy skuldig voel. Maar dit verminder tog stres en kan konflik ontlont, sê die navorsers.

* Bron: www.sciencedaily.com

4. NEGATIEWE DENKE

Die pluskant: Dit kan
jou gelukkiger maak

Jy kan nie altyd gelukkig wees nie. Hartseer, angs, skuldgevoelens en frustrasie is deel van die emosionele landskap wat ons menslik maak, sê Paul Keedwell in How Sadness Survived: The Evolutionary Basis of Depression (Radcliffe Publishing, 2008).

Net soos pyn ons daarvan bewus maak dat iets fisiek skort, waarsku negatiewe gevoelens ons soms dat iets met ons binnewêreld verkeerd is.

Om altyd positief te probeer wees is inderdaad ’n tydelike kitsoplossing, beaam Gael Lindenfield in The Emotional Healing Strategy, A Recovery Guide for Any Setback, Disappointment or Loss (Michael Joseph, 2008). Doen jy dit aanmekaar kan dit jou selfs later depressief maak.

Doen dit reg


Dis ’n goeie ingesteldheid om te kies om meer positief deur die lewe te gaan, sê Karlien. Dis vir niemand lekker om saam met ’n suurknol te leef vir wie die glas altyd half leeg is nie. As jy egter uitermatig positief is, bestaan die gevaar dat jy jou ware emosies ontken.

Gooi jy altyd alles oor ’n positiewe boeg en gee jy voor niks is eintlik “so erg” nie, flous jy jouself dalk deur negatiewe emosies te onderdruk. Dis waardevol om soms sulke emosies te verwoord of ’n “stem” te gee, juis om jouself daarvan te bevry.

5. SWETS


Die pluskant: Dit kan pyn verminder

Toon gestamp? &^%$ maar tot die 
lug blou is. Dit kan die pyn meer draaglik maak, volgens ’n studie in
die joernaal NeuroReport. Britse navorsers wat hierin aangehaal word, het probeer vasstel of daar ’n verband tussen swets en fisieke pyn is.

Kragwoorde is inderdaad al eeue lank met ons en dis byna ’n universele manier waarop die mens hom verbaal uitdruk, sê die navorsers.

Gewone taal is gesetel in die regterbrein. Maar vroeër studies wys vloekwoorde is die produk van antieke strukture diep binne jou (meer emosionele) regterbrein.

In die studie is 64 vrywilligers gevra om hul hand so lank moontlik in ’n emmer yskoue water te druk terwyl hulle na hartelus ’n swetswoord van hul keuse herhaal. Hulle kon dit so al swetsend langer doen as met die alternatief: Hand ook in die yswater, moes hulle ’n alledaagse woord herhaal.

Dis nie duidelik hoekom daar ’n verband is nie. Dit kan wees dat kragwoorde jou aggressie vermeerder (oftewel die veg-of-vlug-respons aan die gang sit). Wat wel duidelik is, is dat swets nie net die sneller is vir ’n emosionele respons nie, maar ook vir ’n fisieke een.

* Bron: Reuters

Doen dit reg


Volgens Karlien moet jy jouself  aanmoedig om meermale eerlik met jouself te wees oor hoe jy werklik oor dinge voel – selfs dinge wat pla. Dit sal dan minder nodig wees om jou op ’n heelwat sterker manier uit te druk.

Gee dus erkenning aan jou eie emosies. As jy bv. nie ’n lekker dag het nie, sê aan jouself: “Ek voel af/moedeloos vandag, maar ek gaan tog my bes doen om dinge so goed as moontlik te hanteer.”

Of sê aan jou maat of kollega: “Dit voel asof ’n trein my getrap het, maar ek gaan die meeste van die dag maak.”

En nie: “Alles is reg en niks pla (ooit!) nie.” Jy is dan nie eerlik met ander en jouself nie – en kan dit dalk moeilik vind om in harmonie met jou eie emosies te leef.

6. VERGEET

Die pluskant: Dit kan jou help onthou!

Jou brein móét ou, nuttelose inligting vergeet om plek te maak vir dinge wat belangrik vir oorlewing is, sê dr. John Medina in Brain Rules: 12 Principles for Surviving and Thriving at Work, Home and School (Pear Press, 2008). As jy net mooi alles onthou, sal dit te veel plek in jou brein opneem. So, jy vergeet onbelangrike goed.

Daar is baie maniere van vergeet: Soos verstrooidheid en “dis op die punt van my tong”. Maar dit het alles een ding gemeen: Ons laat sekere inligting wegraak ten gunste van ander, sê hy.

Doen dit reg


As jy weer jou bril of sleutels iewers neersit, fokus ’n sekonde lank daarop en sien dan in jou geestesoog hoe dit opgeblaas word. Kaboem! Visualiseer dit in genoeg detail – en jy gaan volgende keer onthou waar dit is.

Onthou-lysies: Skep helder beelde van elke item en verbind dit op ’n dramatiese manier. Jy moet
 bv. onthou om katkos, melk, eiers
en hoofpynpille te koop. Stel
 jouself voor jy trap op die kat se stert. Kietsie gee ’n reusesprong, beland binne die karton eiers op 
die tafel en ski daarin oor die tafel. In die proses stamp hy ’n karton melk om. Jy moet Kiets met hoofpynpille kalmeer.

Meubileer ’n denkbeeldige huis: Die Romeine het ellelange toesprake onthou deur elke element daarvan in ’n beeld te omskep en dit iewers in ’n denkbeeldige huis te plaas. Jy loop dan deur die virtuele huis, kom elke item teë en noem dit in die toespraak. ’n Variasie is om deur ’n plek te loop wat jy goed ken (soos jou eie huis). Jy assosieer dinge wat jy teëkom met die goed wat jy probeer onthou.

Onthou name: Jy vergeet name omdat bekendstellings dikwels afgejaag word. Wees tydsaam, herhaal die naam dikwels en probeer om ’n beeld te skep waarmee jy die naam kan assosieer.

* Sê vir jouself jy gáán die naam onthou.
*Bestudeer die gesig voor jou met aandag en probeer unieke eienskappe identifiseer.
*Vra dat sy/hy die naam moet herhaal, selfs al het jy dit die eerste keer gehoor.
*Gebruik die naam verskeie kere in die gesprek.
*Vereenselwig die naam met iets unieks in die mens se voorkoms.
*Assosieer die naam met ’n glanspersoonlikheid of iemand
wat jy goed ken. (Besoek
 www.memoryconsulting.com.)
* Probeer om sekere patrone en gewoontes dieselfde te hou, soos om altyd op dieselfde plek by dieselfde winkelsentrum te parkeer; jou sleutel altyd op dieselfde plek neer te sit, ensovoorts stel Karlien voor.

7. ‘n SLEGTE BUI

Die pluskant: Dit maak jou minder liggelowig, verbeter jou vermoë om ander mense te “lees” en ook jou geheue

Don’t worry, be happy! Daar is egter
tog soms voordele aan knorrig wees. As jy in ’n slegte bui is, is jy meer krities oor en jy gee meer aandag aan jou omgewing.

Opgewekte siele is geneig om alles vir soetkoek op te eet, wys ’n reeks Australiese studies. ’n Goeie bui bevorder kreatiwiteit, buigsaamheid en samewerking. ’n Slegte bui daarenteen, maak jou meer oplettend en jy dink mooier voor jy ’n besluit neem. Jy gaan ook nie sommer ’n oorhaastige besluit neem op grond van rassistiese of godsdienstige vooroordele nie. As jy gevra word om ’n gebeurtenis te onthou waarvan jy ’n ooggetuie was, gaan jy meer detail reg onthou. En jou oorredingsvermoë is boonop sommer stukke beter.

(Lees meer: www.forgas.socialpsychology.org)

Doen dit reg


Dit lyk soms asof mense eerliker is oor hoe hulle werklik voel as hulle omgekrap is, sê Karlien. Daar is selfs ’n gesegde dat as jy wil weet wat die waarheid is, luister wat iemand sê as hy kwaad is. Ons is almal soms in ’n slegte bui of voel omgekrap oor iets.

Dis belangrik om te besef dis normaal. Maar dis net so belangrik om so gou moontlik die oorsaak van jou ongelukkigheid uit die weg te ruim. As jy heeltyd in ’n knorrige bui is, gaan jy net al hoe slegter voel.

En so ook die mense om jou. Probeer dan bepaal wat
die ware (dalk onderliggende) rede vir jou grimmigheid is. ’n Sielkundige kan jou help om ligter deur die lewe te reis.   

KONTAK
* Mariza: 021 872 8423; www.betereet.co.za
* Karlien: 012 362 7380; www.erasmustherapy.com

  • Lasya Venter

    Al te wonderlik!! Dankie! Kragtige en pittige pitkos vir ons as besige vroue wat onsself altyd kapitel oor die kleinste sondetjie.

  • yrvbjdputk

    zzfmstbsjf, njghireptv

  • irmkrrihhc

    hcindtbsjf, prakwgscpf

  • oocegynkdx

    ilphetbsjf, txbkdiyhjn

  • tjxhodhskz

    hqnqutbsjf, dhzmrxnwmz

  • vgkdlrnmbd

    dafzktbsjf, ytqdhglvfi

  • dayttwlsfg

    iksoktbsjf, xnelkvkclz

  • gydshnjklw

    tbnbttbsjf, yqvjelnfan

  • ajfxarzlku

    qszobtbsjf, pueuxubzdr

  • ajcupcblue

    ybftttbsjf, wkhsoahfvf

  • bnfzyrxodp

    ocrohtbsjf, http://www.rdzepagwte.com sttrzzonbb

  • krcjjvhbaf

    qknfwtbsjf, rhjlulfzkv