FOTO: Instagram  @weightlessfairya>

FOTO: Instagram @weightlessfairya>

Gesondheidstories

70% van SA vroue is oorgewig PLUS 5 kosse wat jou maer maak

Vroue in Suid-Afrika word vetter en vetter. Tot 70% van ons land se vroue is oorgewig, berig Die Burger. Lees die volle artikel op hul webblad.

Die Universiteit van Washington se Instituut vir Gesondheidstatistieke en Evaluering se nuutste navorsing toon dat 69.3% van Suid-Afrikaanse vroue swaarder is as wat gesond is vir hulle. Slegs 38.8% van mans in Suid-Afrika is oorgewig.

Wat beteken ‘oorgewig’?

Ten einde te bepaal of iemand oorgewig, ondergewig of gesond is, moet mens na die verhouding tussen hul gewig en lengte kyk. Hiérdie getal is jou liggaamsmassa-indeks (LMI) en dit het die wêreldwye aanvaarde manier geword om gesonde gewig te bepaal – alhoewel dit nie in alle gevalle 100% akkuraat is nie.

Bereken jou LMI hier

LMI onder 19 = ondergewig
LMI tussen 19-25 = normaal
LMI bo 25 = oorgewig

Skud daardie kilos af

Mariza van Zyl, RD Kliniese Geregistreerde Dieetkundige van Betereet deel ‘maermaak’-kosse wat dalk sal help om jou gewig onder beheer te kry.

  • Die regte olie: elke sel in jou lyf is ’n weerspieëling van die soort vet wat jy eet. Sekere vetsoorte veroorsaak byvoorbeeld meer insulienweerstandigheid, omdat dit die selwande se werking verander. Dit dra by tot ’n geleidelike proses (dikwels oor jare) van stadige gewigstoename wat dan later sneeubal en bydra tot ontwikkeling van diabetes en hartsiekte. My top-keuses is koudgeparste of koud-geprosesseerde olyfolie, neute en sade (of koudgeparste olies), kanola-olie ( net Suid-Afrikaans-geproduseer en sonder preserveermiddels), avokado’s en botter.
  • Sardientjies:  Sardientjies is ryk aan verskeie voedingstwowwe, minerale, vitamiene en natuurlik Omega 3-vette. Wat jy miskien nie geweet het nie, is dat 1 blikkie sardiens elke week genoegsaam is om aanvullings oorbodig te maak. Sorg vir sardiens in olyfolie, water of tamatie. Die Omega 3-vette speel ’n direkte rol in die insuliensensitiwiteit, maar ook in die ontwikkeling van insulienweerstandigheid.
  • Gemmer: Vars of gedroog. Dis maklik om gemmer deel van jou daaglikse patroon te maak; mens kan selfs heerlike tee daarvan brou. Gemmer werk op verskillende plekke in jou lyf om die onderliggende kwessies, wat  met hardnekkige oorgewig soos bonsende bloedsuiker, stress, cholesterol, en oneffektiewe detoksifikasie gepaardgaan, aan te spreek.
  • Kefir: Dit is aangesuurde melk en proe so iets tussen karringmelk en jogurt. Jy maak dit self met ’n ‘jogurt plantjie’ of kefir-kultuur. Nee, dit stink nie soos KUBUS vir dié wat dit onthou nie. Dit is een van die goedkoopste en maklikste, mees effektiewe maniere om veral jou dermkanaal gesond te hou. Hipokrates het al meer as 2 000 jaar gelede geweet die dermkanaal is die orgaan wat ’n uitgesproke effek op die hele liggaam se werking het. Die nuutste navorsing dui daarop dat daar waarskynlik ’n direkte verband tussen die gebrek aan voldoende dermflora,  tesame met gepaardgaande suboptimale vertering (a.g.v. bv. preserveermiddels), te veel verfynde kosse wat arm is aan vesel en voedingstowwe en te min rou kosse en die oorgewig en diabetes epidemie is! Anders as meeste kommersiële bronne van kulture of probiotika, bevat jou tuisgemaakte jogurt egter geen preserveermiddels nie en ook nie net een of nege verskillende soorte organismes nie, maar ’n wye verskeidenheid! Elkeen het ’n ander funksie. Almal is eintlik baie nodig en ons kry dit nie sommer uit ander voedselbronne nie…
  • Pomelo’s: Beskikbaar. Bekostigbaar. BRILJANTE aanvulling vir gewigsverlies, insulienweerstandigheid en selfs bloeddruk. Navorsing toon dat mense vet verloor deur net ’n pomelo te eet. Lees gerus meer op www.betereet.co.za oor hoéveel, wánneer en wát. Onthou: pomelo mag inmeng met die absorpsie van sekere medikasie.

Bronne: Die Burger, SARIE.com

Nóg van Mariza van Zyl op SARIE.com