HiRes
Gesondheidstories

Allergies vir Kersfees? Keer dit!

Spog met ’n gesonde sonbruin eerder as ’n rooi uitslag, en maak seker jy snuif en nies nie die hele vakansie nie. Want onthou, dié tyd van die jaar floreer allergieë…

Die feestyd en kos is sinoniem. Maar as jy ’n kos-allergie het, kom daar dalk van lekker eet lekker huil! En dis nie net om die etenstafel waar jy op jou hoede moet wees nie. Daar kon dalk skimmel gegroei het op die Kersboom wat heeljaar vergete in die motorhuis lê. En dis dalk juis wat jou allergiese rinitis (hooikoors) veroorsaak. Prof. Michael Levin, hoof: allergieen-asma-kliniek by die Rooikruis- Kinderhospitaal in Kaapstad, vertel waarvoor jy moet ligloop. Die kostafels kreun Kerstyd is kuiertyd en jy eet dalk by vriende of familie wat nie weet jy het ’n kos-allergie nie. Of jy eet ’n partytjiehappie sonder om te besef dit bevat ’n bestanddeel wat vir jou verbode is. “Verbode” kosse in dié sin val in een van twee kategorieë: jy is allergies vir iets, of jy het ’n intoleransie.

1. Ware kos-allergieë

Wat is dit? Die meerderheid mense word deur dokters na allergieklinieke verwys vir vermoedelik kos-allergieë. Die mees algemene sondaars is melk, eiers, grondbone, neute, seekos, skulpvis, soja en koring. Simptome kan wissel van galbulte (urtikaria), ’n rooi, opgehewe en jeukerige veluitslag. Tot jou mond, lippe en tong wat swel of jeuk. Ander simptome kan insluit: Jy sukkel om te sluk, het ’n loop- of toe neus, jy is kortasem, naar, vomeer of het maagkrampe, is lighoofdig of word flou. Die simptome wissel van mens tot mens. In uiterste gevalle kan dit ’n lewensbedreigende anafilaktiese reaksie veroorsaak, wat ’n mediese noodgeval is (sien “Anafilakse”).

SOS Lig familie en vriende in oor jou kos-allergie. Maar dit bly jóú verantwoordelikheid om seker te maak wat jy in jou mond sit, is veilig. En om meer uit te vind as jy onseker is. ’n Piepklein hoeveelheid van die betrokke kos kan ’n allergiese reaksie veroorsaak, daarom moet jy dit liefs vermy. Wat doen jy as jy iewers in die bos is en die etiket met bestanddele op ’n kosproduk is verwarrend? Jy weet jy moet dit los as daar staan dit bevat melk. Maar wat as die etiket sê dit kan traces (’n titseltjie) van melk inhê? Of dis in ’n fabriek gemaak waar neute gebruik word? Moenie waag as jy in ’n onbekende situasie is nie. Moet dus nie iets nuuts/ongewoons/anders eet nie. Selfs al het jy gewoonlik net ’n ligte reaksie teenoor ’n spesifieke kossoort, is dit nie nou die tyd om kanse te waag nie.

2. Kos-intoleransie

Wat is dit? Dit is ook bekend as ’n nie-allergiese hipersensitiwiteit. Anders as met kos-allergieë, is die immuunstelsel nie betrokke nie, maar jou liggaam sukkel om die spesifieke kossoort te verteer. Die reaksie hang af van die hoeveelheid kos wat jy eet – kleiner porsies van die betrokke kos word verdra. Dis belangrik dat jy weet of jy bv. laktose-intolerant is (’n kos-intoleransie: jou liggaam kan nie die suiker in melk en melkprodukte verteer nie), of allergies vir melk. ’n Kos-intoleransie gaan jou ongemaklik laat voel (krampe, winderigheid, diarree). ’n Erge reaksie op ’n kos-allergie, daarenteen, kan lewensgevaarlik wees. Sommige kos-intoleransies is reaksies op chemikalieë wat by kos gevoeg word om dit te geur, kleur of preserveer.

SOS Teken oor twee tot vier weke aan wat en wanneer jy eet, die gaarmaakmetodes, porsiegrootte en jou simptome. Los “probleem”-kos vir ’n proeftydperk van twee weke. As jou simptome nie verbeter nie, konsentreer op ’n volgende kosgroep. Vermy kosse wat simptome veroorsaak drie tot ses maande lank.

3. Bye en blomme

Pasop vir Dis hoofsaaklik bye waarvoor jy moet oppas. (Ons is nie juis allergies vir perdebysteke nie.) Die reaksie kan wissel van swelling op die plek waar jy gesteek is tot swelling op ander plekke en lewensgevaarlike anafilakse (sien kassie links onder op dié blad).

SOS Die angel bly gewoonlik in die steekplek agter. Verwyder dit so gou moontlik, want dit neem net sekondes vir die gif om jou liggaam binne te dring. Skraap die angel met die kant van ’n kredietkaart of vingernael uit. Moenie druk nie, want die angel stel dan meer gif vry. Sit ys op die steekplek en drink antihistamien. As jy hipersensitief vir ’n bysteek is, moet jy altyd ’n EpiPen saamdra. Dra langmouklere en vermy plekke met bye (blomtuine, vullisdromme). Parfuum lok ook bye.

4. Dis lekker by die see …

Maar pasop hiervoor

  • ’n Allergiese reaksie weens iets wat jy aansmeer, soos sonbrandroom.
  • Dooie seegras kan skimmel ophê.
  • Koue-urtikaria is ’n uitslag weens blootstelling aan koue, bv. Clifton-strand se yskoue water. Dis ongewoon, maar in ekstreme gevalle kan jou bloeddruk verlaag, jy kan flou word en verdrink.
  • As jy ekseem het, kan hitte, sweet en enigiets wat daarteen skuur, jou vel irriteer. Dinge soos seesand en ekstra chemikalieë (bv. in sonbrandroom) op jou vel kan dus jou ekseem laat opvlam.

Ekseem is ’n jeukerige, droë, chroniese rooi veltoestand op sekere dele van die liggaam – soos die waai van jou arms en bene. Dit word met allergieë geassosieer, maar nie daardeur veroorsaak nie. As jy maklik allergieë kry, kan ekseem dalk ook jou voorland wees. Sowat 30% van kinders met baie erge ekseem het bv. ook kos-allergieë.

SOS As jy ekseem het, het jy ’n baie droë vel. Smeer tot ses keer ’n dag (as dit ernstig is) salf met ’n olie (nie water nie) as basis aan. Vermy seep en ander huishoudelike produkte met natriumlorielsulfaat (sodium lauryl sulphate). As dit skielik opvlam, behandel dit baie gou met ’n kortisoonsalf of -room. Mense is soms bang dit maak die vel dun en veroorsaak newe-effekte. Ja, dit kan gebeur as jou vel normaal is en jy lank baie sterk kortisoonsalf gebruik. As jy egter ekseem het, onderdruk dit die inflammasie wat velskade kan veroorsaak.

Kontak Besoek die Suid-Afrikaanse Allergie-vereniging en Allergy Epicentre op Facebook.