FOTO Unsplash / Freestocks.org

FOTO Unsplash / Freestocks.org

Gesondheidstories

Altyd moeg? Hier’s jou redes

Altyd moeg? ’n Paar eenvoudige veranderinge aan jou leefstyl kan jou soos ’n nuwe mens laat voel.

Jy is net so móég. Dis ’n algemene klagte waarom mense dokter toe gaan. Die lewe is immers ’n groot gejaag – daar is eenvoudig nie rustyd nie. En jy aanvaar dis hoekom jy soggens te moeg is om op te staan. Tog kan daar baie ander redes wees. En die oplossing is dalk eenvoudiger as wat jy dink.

1. ’n Ystertekort

Wees versigtig vir ’n aanvulling as ’n bloedtoets nie gewys het jy het wel ’n ystertekort nie, omdat ’n oormaat yster soms tot allerlei gesondheidsprobleme kan lei. Probeer yster op die natuurlike manier inneem.

Vleis bevat yster in ’n verbinding wat sonder moeite opgeneem word (heemyster). Die yster in plantkosse (soos donkergroen blaargroentes, neute en bone) word moeiliker geabsorbeer. Verhoog die inname daarvan deur dit te kombineer met kosse hoog in vitamien C, soos lemoensap.

Simptome:

• Slaaploosheid
• ’n Gebrek aan lewenskrag en energie
• Jou tandvleis en die binnekant van jou onderste ooglid is bleek
• Jy sukkel om te konsentreer
• Verloor jou eetlus
• Mondsere
• Swak weerstand teen infeksie
• Hoofpyne
• Raak maklik uitasem
• Jou naels en toonnaels is bros

2. Trae skildklier

Dis die klier wat die vetjies kan laat aanpak as dit onderaktief is. Dit kan jou ook moeg en vergeetagtig maak. Jou skildklier skei hormone af wat feitlik al jou liggaamsfunksies beïnvloed. Beskou dit as jou liggaam se “minister van finansies” wat besluit hoeveel “geld” (liggaamsenergie) uitgegee kan word.

Simptome:

• Haarverlies
• Stadige pols
• Lae bloeddruk
• Buierigheid
• Depressie
• Koulikheid
• Hardlywigheid
• Seksflouheid
• Onvrugbaarheid
• Spierswakheid

3. Slegte nagrus

Slaap sorg vir ’n groot deel van jou daaglikse energie. Die derde van jou lewe wat jy veronderstel is om te slaap het ’n verreikende invloed op die ander twee derdes. Dit beïnvloed hoe wakker jy is, jou energie, bui, gewig, geheue, kommunikasievaardighede, reaksietyd, produktiwiteit en kreatiwiteit.

Oplossing: Gaan slaap en staan soggens dieselfde tyd op. Gebruik jou bed net om in te slaap, nie bv. vir TV kyk nie. Vermy alkohol of kafeïen voor slaaptyd. Moenie laat saans oefen nie. Probeer met ’n boek of warm bad ontspan voor jy bed toe gaan.

Vind hier uit of SLEGTE EETGEWOONTES en JAPPIEGRIEP nie dalk die rede is vir jou moegheid nie …  plus oplossings om dit te hok te slaan.