Gesondheidstories

Basta jou gene: Jy kan ernstige siektes keer

Jy begin reeds op dertig vir 
jou aftrede beplan en daarvoor spaar. Hoekom dus jou gesondheid aan die noodlot oorlaat?

Nes jy ’n bankrekening maandeliks aanvul met ’n neseier vir jou oudag, moet jy ook in jou gesondheidsbank deponeer. As jy ’n familiegeskiedenis van ’n lewensbedreigende siekte het, kan jy veral daarby baat om nou reeds gesondheidspunte te begin opbou.

“Almal wil deesdae ’n towerpil hê wat hul probleme vinnig oplos, maar dit werk nie so met jou gesondheid nie,” sê prof. Nola Dippenaar, ’n fisiologie-lektor aan die Universiteit van Pretoria se mediese skool en eienaar van die gesondheidsafrigting-maatskappy Health Insight.

Jy moet besef jou gesondheid ís in jou eie hande. Moenie jou net oorgee aan die genade van jou gene en hoop op die beste nie. Jy kan ’n verskil maak aan hoe jou gene hulle ‘gedra’ (of uitdruk). En hoe vroeër jy dit doen, hoe beter.”

GENE G’N VERSKONING

Eintlik, sê prof. Dippenaar, speel jou leefstyl ’n groter rol in jou gesondheid as gene. Prof. Maritha Kotze, ’n genetika-navorser aan die Universiteit Stellenbosch se mediese skool, stem saam.

“Hartsiektes kan byvoorbeeld dikwels voorkom word. Ja, jou gene speel ’n rol en sommige siektes, soos sekere kankers, is moeiliker om te keer. Maar selfs dán speel jou leefstyl ’n rol of jy siek gaan word, of nie. En hoe lank dit jou gaan neem om te herstel.”

Sowat 30% van alle leefstylverwante siektes, soos party kankers, kardiovaskulêre siektes en tipe 2-diabetes, kan deur beter gewoontes (soos stresbestuur en ’n gesonde dieet) voorkom word, sê prof. Kotze.

Al het jy ’n sekere geen-verandering (of mutasie) geërf, 
is dit nie ’n waarborg dat jy 
siek gaan word nie. Daar moet altyd eers iets wees wat die
geen ‘aanskakel’, soos jou leefstyl, ander buite-invloede of die uitwerking van ander gene,” sê sy.

By net sowat 5 tot 10% van vroue wat borskanker kry, is dit byvoorbeeld geneties, beaam dr. Arien van der Merwe, eienaar van Health Stress Management en skrywer van verskeie boeke oor natuurlike gesondheid.

Al gaan ’n appel ’n dag nie jou probleme oornag laat verdwyn nie, kan dit dus later jou lewe red, of jou help om vinniger ’n siekte baas te raak.

LEER NOU DIE REGTE GEWOONTES

Dis belangrik om so gou moontlik gesonde gewoontes aan te leer, sê
 prof. Dippenaar. En leer dit van kleins af vir jou kinders. “Dink daaraan as ’n lewenspolis wat jy op ’n jong ouderdom vir hulle uitneem.

As hulle van kleins af oefen en reg eet, kan dit later hul lewe red.”

Siektes kan ’n familietrek wees bloot omdat jy jou slegte gewoontes van kleins af aanleer. Kook jy dalk met hompe botter soos jou ouma pleks van gesonder vette? Of is naweke gesinstyd met groot etes en TV-kyk, soos dit altyd in jou ouerhuis was?

Volgens dr. Van der Merwe speel emosionele gewoontes ook ’n groot rol by leefstylsiektes. Dis dikwels die faktor wat die meeste afgeskeep word. “Dít leer jy ook by jou ouers aan. As jou ma gedurig gestres is, gaan sy dit waarskynlik aan jou oordra.

Geluk is belangrik om siektes te help voorkom. Jy wéét wat jou gelukkig en kalm laat voel – onthou om daagliks meer daarvan te doen,” sê sy.

Ons vergeet deesdae bloot om dít 
te doen waarvoor ons ontwerp is, sê prof. Dippenaar. Ons voorouers het tot 16 kilometer per dag geloop, net gestres as iets hul lewe bedreig en vars laevet-kosse geëet.

Ons doen dit nie meer nie. Dis soos om ’n kar te koop, die verkeerde petrol in te gooi, dit 
20 jaar lank te parkeer en dan te verwag dit moet ry. “Begin weer leef soos ons veronderstel is, want dís hoe die liggaam op sy beste werk.”

VOLG DIE WENKE OM LEEFSTYLSIEKTES TE VOORKOM

Eet elke dag 5 porsies verskillende groentes en vrugte. Hoe meer organies en kleurryk, hoe beter. Dit moet insluit sowat 15 mg vitamien E (gelykstaande aan ’n hand vol neute en sade, ’n eetlepel gesonde olies, ’n koppie spinasie of ’n aanvulling) en 1 000 mg vitamien C (soetrissies, koejawels, broccoli, kiwivrugte en bessies is propvol vitamien C, maar ’n aanvulling is nodig om genoeg in te kry). Die antioksidante daarin help om inflammasie, wat baie leefstylsiektes veroorsaak, te verminder.

Oefen gereeld, minstens
 30 minute op ’n slag en 3 keer
 per week. Dit moet straf genoeg 
wees om jou effens uitasem te maak.

Verminder jou stres. Mediteer, oefen of doen elke dag iets wat jou gelukkig maak.

Volg ’n dieet laag in vet en laag in cholesterol en vervang ongesonde vette (diervette en dié in gebakte of gebraaide kos) met gesonde vette soos olyfolie, druiwepitolie, olierige vis, neute en neutbotters.

Eet minder rooivleis, verfynde kos, suiker en sout.

Moenie rook of te veel alkohol drink nie. Dit verminder die opname van vitamiene en minerale in jou lyf. Rook bevat ook kankerwekkende stowwe. Twee eenhede alkohol per dag is veilig (1 eenheid = 1 bier, 
120 ml wyn of 25 ml sterk drank). Vermy dit heeltemal as jy oorgewig is, hoë bloeddruk of lewerprobleme het.

Drink daagliks genoeg vloeistof – 1 tot 2 ℓ water is ideaal, na gelang van jou gewig.

’n Veselryke dieet, minstens 25 g per dag, kikker jou spysvertering op en help om siektes soos kanker te voorkom. Eet 3 porsies veselryke graan per dag. Goeie bronne is volgraanpap, bruin- en wilderys, hawermout, quinoa, volgraanbrood en -pasta, lensies, neute en sade. Gebruik aanvullings soos psillium as jy sukkel om elke dag genoeg vesel te eet. (Te kry by goeie gesondheidswinkels.)

Eet baie knoffel, uie, broccoli, blomkool en kool. Dit bevat anti-oksidante wat jou liggaam help om skadelike stowwe af te breek en uit
te skei.

FNUIK JOU GENE

Jy kan só spesifieke siektes help voorkom as dit ’n familietrek is, of as jy reeds simptome daarvan het.

Kardiovaskulêre siektes

* Eet baie donkergroen, blaarryke groente, asook neute en sade, piesangs en lemoene vir genoeg B-vitamiene, foliensuur en magnesium. Dié voedingstowwe help om skadelike ensieme af te breek en jou hartritme en bloeddruk te reguleer.

* Rooiwyn, tee en donkersjokolade bevat stowwe wat “slegte” cholesterol verminder en selfs jou vlakke van “goeie” cholesterol (wat noodsaaklik is vir ’n gesonde hart) verhoog.

Borskanker

* Koester jouself. Al hoe meer studies wys sommige vroue wat borskanker kry, het dikwels onderdrukte woede, skuldgevoelens en gevoelens van waardeloosheid en neig om ander voor hulself te stel. Gee uiting aan jou gevoelens, skryf dit in ’n dagboek neer en gun jouself elke dag “ek-tyd”.

* Gebruik vlassaadolie (flaxseed oil, te kry by gesondheidswinkels). Navorsing toon kanker kom minder voor by vroue wat daagliks minstens ’n eetlepel van dié gesonde olie (vol antioksidante) inneem.

Alzheimer-siekte

* Voorkom of behandel toestande wat geheueprobleme kan veroorsaak, soos skildklier-probleme, hoë bloeddruk, hoë cholesterol en diabetes.

* Kry daagliks 5 µg (mikrogram) vitamien B₁₂ in, noodsaaklik vir breinfunksie. ’n Porsie rooivleis, olierige vis of verrykte (fortified) ontbytgraan per dag is genoeg.

* Ander goeie bronne is seekos, lewer, suiwel en eiers. Indien jy op die Pil is, moet jy veral seker maak dat jy genoeg vitamien B₁₂ inkry. Sommige studies wys die Pil verhoed dat jy dié vitamien deeglik absorbeer.

* Vermy slaappille en sommige antidepressante, wat geheueprobleme kan veroorsaak.

* Oefen jou brein. Doen dinge wat jou kreatiewe regterbrein en logiese linkerbrein uitdaag: lees, reis, leer nuwe vaardighede, probeer nuwe stokperdjies en speel speletjies wat jou verstand en geheue uitdaag.

Kolonkanker

* Vermy kosbrandsels (soos op braaivleis) en te veel diervette. Dit bevat kankerwekkende stowwe.

* Kry genoeg omega 3-vette in. In ’n Britse studie is bevind dis net so doeltreffend soos die anti-inflammatoriese middels wat ontwerp is om kolonkanker te voorkom by mense met ’n genetiese geneigdheid. Olierige vis soos tuna en sardiens en kosse wat met omega 3 verryk is, is goeie bronne.

* Drink ’n probiotika-aanvulling, wat help om jou spysverteringstelsel te reguleer en gesond te hou.

Diabetes

* Hou jou gewig in toom. Diabetes is algemeen by vetsugtige mense.

* Slaap genoeg. Dit help om jou insulienvlakke te reguleer.

* Eet baie bosbessies (cranberries), of drink bosbessiesap. Dis vol antioksidante wat die ontwikkeling van diabetes help vertraag.

Lewersiekte (sirrose)

* Eet minder rooivleis, maar maak seker jy kry steeds proteïene (maer-vleis, neute en vis) in. Dis noodsaaklik om skade aan die lewer te herstel.

* Gebruik sydissel-aanvullings (milk thistle), wat jou lewer beter laat werk.


Osteoporose

* Neem minstens 1 000 mg kalsium per dag in. Jy kan dit doen deur minstens 3 porsies suiwel per dag te eet (1 porsie = 125 ml melk, of ’n klein houertjie jogurt of ’n sny kaas), asook baie rou donkergroen blaargroente en broccoli of aanvullings in te neem.

* Hou jou gewig dop. As jy oor- of ondergewig is, kan dit die hormone versteur wat jou beendigtheid beskerm.

Artritis

* Kry genoeg omega 3-olies in. Dié vette verminder inflammasie en “smeer” as ’t ware jou gewrigte.
 Lewer (vol minerale) is een van die beste kosse om pyn te verminder, maar vermy dit as jy aan jig ly.

* Sny gluten uit. Dit kom voor in koring en rog en maak deeg elasties.  

Bronne

Prof. Maritha Kotze; prof. Nola Dippenaar; dr. Arien van der Merwe; Erika Ketterer, dieetkundige by die Hart-en-Beroertestigting; dr. Ingrid van Heerden, DietDoc by Health24; Julia Pienaar, ’n konsultant by The Stroke Aid Society; A Doctor’s Home Cure for Arthritis deur dr. Giraud W. Campbell; Ashleigh Caradas, dieetkundige by InteliHealth in Johannesburg; Faaiza Paruk, Johannesburgse dieetkundige; dr. Michael Mason, psigiater by die Psigiatrie-en-Geheuekliniek Panorama in Kaapstad; voedseldatabasis van die Amerikaanse departement van landbou.

  • Enrico

    Ek dink aan jou. Stuur baie groete vir jou ma-hulle.
    xxxxxxxxxxxxxxxxxx