501845761
Gesondheidstories

Lesersblog: “My lewe met meervoudige sklerose”

Christelle Taute (43) is op 29 jaar oud met meervoudige sklerose gediagnoseer. Sy blog oor haar reis met dié siekte.

September 2000

Ek was nog so jonk, net 29 jaar oud. Dit het gevoel of die neuroloog my met ’n bak yswater gooi. ’n Paar dae tevore het ek nog by my ma se huis op die gras gesit en kuier met my familie. Die volgende oggend het ek wakker geword en ek kon nie uit my linkeroog sien nie. Dit was ’n openbare vakansiedag in Suid-Afrika, 24 September 2000, in my geheue geëts vir altyd. My eerste gedagte was dat ek besig is om blind te word en ek het dadelik die volgende dag ’n afspraak by my oogkundige gemaak. Natuurlik kon hy niks kry nie en het my verwys na ’n oogspesialis wat op haar beurt, ná my eerste MRB (magnetieseresonansie-beelding), my verwys het na ’n neuroloog.

Dit is waar die nuus aan my gebreek is deur ’n onsimpatieke alleenloper-neuroloog: ek het meervoudige sklerose (MS). Sy was meer gefokus op die feit dat ek in elk geval nooit sou trou nie, aangesien ek nog op 29 ongetroud was. Sy kon nie met sekerheid sê nie, want die diagnose word gewoonlik gemaak deur letsels op die brein te tel (sulke wit kolle op die skandering). Daar was volgens haar net een letsel wat reeds nie normaal was nie. Maar wat dit glo “moeilik” gemaak het om die term “meervoudige” sklerose te gebruik as daar duidelik net een is.

“In elk geval,” het sy nonchalant gese “die feit dat jy nie uit jou oog kan sien nie, dui op optiese neuritis, ’n aantasting van die oogsenuwee, en dit is gewoonlik een van die eerste tekens van meervoudige sklerose.”

Die trane het gevloei, ek het soort van geweet waarvan sy praat, want my heel eerste baas se vrou het dit gehad. Al wat ek kon onthou, was dat sy in ’n rolstoel was, of ek het gedink dis wat ek onthou het. Ek dink nie ek het eers mooi geluister toe hy my daarvan vertel het nie, want daai tyd was ek 21 jaar oud en untouchable. Nou was ek 29 en die wêreld wat ek gedink het lê oop voor my om te ontgin, het al hoe meer begin lyk soos ’n kaarthuisie wat besig was om inmekaar te tuimel.

Die onsimpatieke oujongnooi het nie getroos nie en al waarmee ek daar weg is, was die warboel van emosies en gedagtes wat my oorweldig het. Daar was nie hoop nie, sy het nie medikasie aanbeveel nie en ek het nie die vaagste benul gehad wat ek nou moes doen nie. Moes ek iemand bel, moes ek na nóg ’n dokter toe gaan vir ’n tweede opinie, of moes ek net aanvaar dat dit nou my nuwe realiteit sal word? Maar sy was nie eers seker nie, so hoe moes ek voel?

Ek het gedoen wat die maklikste was – ek het in my kar geklim, my skouers teruggetrek en die pad werk toe gevat vanaf Pretoria na Sandton. Half mik-mik met een blinde oog het ek met durf en daad besluit ek sal net moet aangaan. Ek sal navorsing doen, ek sal die MS beveg. Soos die noodlot dit wou hê, was daar ’n telethon op die radio wat geld ingesamel het vir kinders met kanker. Ek dink in daardie stadium het ek net weerloos en skielik baie alleen gevoel. Ek het gehuil en gewonder hoe ek die nuus gaan oordra aan die mense die naaste aan my, maar om eerlik te wees, ek dink ek het meer gehuil omdat ek myself jammer gekry het.

Ek het die trane afgevee toe ek in Sandton by die kantoor aankom.  Met my normale selfvertroue het ek die gebou binnegestap en in die kantoor van my baas ingeloop, die besturende direkteur kort op my hake. Hulle het geweet ek was by die dokter vir toetse oor die blindheid in my oog. Sy het gevra wat die uitslae was en ek het gesê dit is moontlik MS. En sy het geantwoord: “Christelle, that is not good news, but a friend of mine also has it, and after years, all she complains about is a sore neck.”

Ek het beter gevoel en geweet ek sal fine wees.

Lees haar volgende blog-inskrywing volgende week Dinsdag 26 Augustus

  • judy

    sjo, my sussie het ook MS, al vir 24 jaar vanaf diagnose en dit is ‘n pad wat mens stap, nie ‘n maklike ene nie

  • Patrick

    Christelle,
    Daar is wonderlike nuus vir alle MS lyers. Daar is ‘n produk met die naam Low Dose Naltrexone, of sommer LDN. Skakel Dr. Johan Van Wyk. Sy adres is Beyers Naude Laan Northcliff Johannesburg. Alhoewel hy ‘n Dermatoloog is, het hy baie kennis van LDN en dit genees wel MS sonder enige newe effekte.
    Dit is ook glad nie duur nie. Jou dokter sal niks weet van LDN nie, so moet hom asb. nie vra daaroor nie. Kyk gerus op Youtube na al die videos van mense wie genees is van MS (Multiple sclerosis) met LDN. Sterkte.

    Google ook http://www.lowdosenaltrexone.org Dalk kan ‘n ander leser wie vir Christelle ken, hierdie goeie nuus aan haar oordra. Byvoorbaat dank.

    Patrick