screen_shot_2013_07_10_at_10.24.32_am
Gesondheidstories

Die biologiese klok tik … vir mans óók

Mans kan mos babas kry totdat hulle die dag hul kop neerlê, reg?

Die Amerikaanse komediant Steve Martin het vanjaar die eerste keer
pa geword – op 67. Die rocksanger Rod Stewart was 66, nes die akteur en regisseur Clint Eastwood. Ons eie dr. Chris Barnard was 67 met die geboorte van sy seun Armin.

Ons dink nie dis vreemd nie, haal eerder ons hoed af vir die ou bokke se stamina.

Ouer ma’s? Hulle word so half skeef aangekyk. Hoekom het jy moederskap so lank uitgestel? Gee jy dan meer
vir jou beroep as ’n gesin om? Daar is mos die gevaar van Down se sindroom en ander genetiese afwykings. Jy moet ’n ekstra stel toetse ondergaan om dit uit te skakel.

Wat is jou grootste mediese dilemma?

Maar ouer ma’s hoef nie meer alleen te voel nie. Ál meer navorsing maak dit al hoe duideliker dat mans die verantwoordelikheid moet deel as iets verkeerd loop.

Ja, mans kan teoreties kinders kry totdat hulle die dag doodgaan. Maar die spruite van ouer mans het ’n groter kans vir ’n wye reeks probleme: van outisme tot psigiatriese afwykings soos skisofrenie. Hulle kan selfs ’n bietjie minder intelligent wees as die kinders van die jonger buurman.

Dr. Harry Fisch, ’n Amerikaanse uroloog en skrywer van The Male Biological Clock (Atria Books, 2008), preek al jare hieroor. “Mans moet weet as jy te lank wag, gaan jy dalk nie kinders kan hê nie. En jy kan dalk genetiese probleme hê. Moenie dink jy kan maar jol tot jy 40 of 50 is en dan kinders hê nie.”

Flora in jou maag: Die rede vir onvrugbaarheid en vetsug?

’n Kopskuif is nodig. En Yslandse navorsing, wat aanlyn in die joernaal Nature (www.nature.com) gepubliseer is, het die kollig opnuut daarop laat val. Ouer pa’s dra meer genetiese veranderinge (of mutasies) aan hul kinders oor, is gevind. (Dis toevallige DNS-veranderinge wat ’n geen kan verhinder om sy werk behoorlik te doen.) Hoewel die effek aanvanklik klein is, neem dit toe elke jaar wat jy ouer word. Tot sowat 97% van sulke nuwe genetiese veranderinge kan aan Pa se ouderdom gekoppel word.

Pa’s bo 40 se kans om ’n kind
met outisme te hê is ses keer groter as mans jonger as 29 s’n, wys gesamentlike Britse en Amerikaanse navorsing. En mans bo 50 is drie keer meer geneig om kinders met skisofrenie te hê.

Biologiese klok

Wat is ’n biologiese klok?

Vir vroue, weet ons, beteken dit jy word minder vrugbaar.

Jou hormoonvlakke, hoofsaaklik estrogeen, daal soos jy ouer word. En die risiko vir genetiese afwykings neem toe. Presies dieselfde gebeur met mans. Soos ’n man ouer word, neem die vlakke van die manlike hormoon testosteroon en ook vrugbaarheid af. Die sperms van ouer mans word ook verbind met meer genetiese abnormaliteite by babas.

(Bron: The Male Biological Clock deur dr. Harry Fisch)

Outisme, ’n toestand waarvan die oorsaak nog onbekend is, neem die afgelope dekade of wat toe. (In Amerika was daar ’n toename van 78% sedert 2007, berig Nature.) ’n Minderheidsgroep maak lawaai oor inentings by babas as moontlike oorsaak daarvan. Maar daar is geen stewige wetenskaplike gronde nie. Vir die teorie oor ouer pa’s is daar wel.

Dr. Kári Stefánsson, leier van die Yslandse studie, sê ’n toename in die gemiddelde ouderdom van pa’s het heel waarskynlik gelei tot die toename in outisme. (Ons het heelwat gevorder sedert die jare vyftig en sestig. Tóé het vooraanstaande mediese kenners die blaam vir toestande soos skisofrenie en outisme op Ma se skouers geplaas, sê die joernaal Psychology Today. Sy het glo nie vir haar kind genoeg liefde gegee nie!)

Dis nie al nie. Jou risiko vir bipolêre siekte, epilepsie, prostaatkanker, hartsiekte en borskanker neem ook toe as jou pa ouer as 40 is. En jou kans om te sterf voor jy volwasse is, is twee keer groter.

Basta jou gene: Jy kan ernstige siektes keer

Daar is ook ’n verband tussen
ouer pa’s en swakker prestasie in IK-toetse, wys Australiese navorsing in die joernaal PLOS Medicine (www. plosmedicine.org). ’n Kind wie
se pa 50 is, presteer twee IK-punte laer as maatjies met ’n 20-jarige
pa. (Die kinders van ouer ma’s, daarenteen, het beter gevaar.)

Mans se kans om voort te plant verminder boonop vinnig ná 40. Ons aanvaar ouer mans is steeds vrugbaar omdat hulle sperms produseer, sê dr. Fisch. Teoreties kan jy op enige ouderdom kinders hê as jy sperms het. Maar die vraag is: Gaan dit van dieselfde genetiese gehalte wees as dié van ’n jonger man? “Ons weet dat vrugbaarheid met die jare afneem. Ná dertig verminder testosteroon met 1% per jaar. Dié hormoon is die energie wat jy nodig het om goeie gehalte sperms te vervaardig. Dit neem daarom langer vir ’n ouer man om kinders te verwek, omdat die DNS-inhoud en dus die gehalte van perms nadelig beïnvloed word soos die jare aanstap.”

’n Rot se kans op swangerskap in sy middeljare – sowat 45 in mensjare – verminder met 50% as hy met ’n jong wyfie paar, wys Amerikaanse navorsing. En as hy wel voortplant, is die kans op ’n miskraam sowat 50%. (Teenoor 10% by jong muise.)

Amerikaanse navorsing wys voorts die risiko vir ’n stilgeboorte is hoër as die pa bo 40 is. Komplikasies tydens swangerskap is in die algemeen die minste onder babas wie se pa tussen 30 – 39 was. ( Ja, ook teenoor die jonger ouens.)

Dís die rede

’n Vrou word met sowat 1 – 2 miljoen eiers gebore, verduidelik The New
York Times (www.nytimes.com).
Teen puberteit het dit reeds met 75% verminder. Eiers sterf daagliks. Maar dié wat oorbly, bevat die oorspronklike genetiese kode wat in die begin van jou lewe geskep is.

Mans, daarenteen, vervaardig gereeld miljoene nuwe sperms. En
die kanse vergroot elke keer dat daar ’n fout in die genetiese kodering ontstaan. Die nuwe sperms kan steeds ’n eier bevrug, maar dalk gevaarlike genetiese veranderinge hê.

Selle wat sperms vervaardig, verdeel heeltyd en die aantal nuwe genetiese veranderinge word dus oor ’n tydperk meer. Die sperms van ’n 20-jarige het sowat 25 genetiese veranderinge, en dit vermeerder met sowat twee per jaar. Die sperms van ’n 40-jarige kan dus 65 nuwe genetiese veranderinge hê. Ma dra vyftien oor, wat ook al haar ouderdom.

By ouer mans is daar dus steeds sperms beskikbaar, maar baie van die DNS kan abnormaal wees, sê dr. Fisch.

Die nuwe Pil wat jou lewe kan verander

“Nadat jy so baie kopieë gemaak het, is die afdruk dalk nie meer bruikbaar nie.”

Waar ouer vroue dus bekommerd moet wees oor die lewensvatbaarheid van hul oorblywende eiers, lê die probleem vir mans by gehalte – en nie hoeveelheid nie.

Die genetiese veranderinge wat met die pa se ouderdom verbind word, kan boonop na die volgende geslag oorgedra word. Soos wat ons al hoe meer ouerskap uitstel, kan die genetiese veranderinge teoreties ophoop. Sommige navorsers verwys daarna as ’n “tydbom”, berig die tydskrif Newsweek.

Harry Fisch sê: By ouer ma’s praat ons van chromosoom-afwykings en toestande – soos Down se sindroom, wanneer daar fout gaan met die verdeling van die eiersel en dit ’n ekstra chromosoom tot gevolg het.

By mans is genetiese veranderinge ter sprake. En as jy van genetiese veranderinge praat, wie weet hoeveel toestande daaraan gekoppel kan word? Hoe meer ons kyk, hoe meer kry ons. Ons weet nog nie regtig wat die impak is nie. Ons krap nog maar op die oppervlak rond, sê hy.

Die omgewing se rol

Deesdae word gedink die proses
van epi-genetika is vir die genetiese afwykings verantwoordelik, sê prof. Riana Bornman van die departement urologie aan die Universiteit van Pretoria. Die DNS-volgorde bly on- veranderd, maar nie-genetiese faktore (soos die omgewing) veroorsaak dat die geen anders reageer (of homself anders “uitdruk”).

Gene word foutiewelik “af-” of “aangeskakel” (en kan dus nie hul werk behoorlik doen nie). Drie omgewingsfaktore kan onder meer ’n rol speel: wat ons inneem (eet, drink, inasem, gifstowwe), wat ons beleef (stres, trauma) en hoe lank ons leef, sê The New York Times in
’n meningsartikel. Die “chemiese afjakke” en “sosiale terugslae” van die alledaagse lewe het dus ’n impak op jou sperms – en op die gesondheid van jou ongebore kinders.

Pa, weet dus jou lewenservarings laat biologiese spore op jou kinders. En dat hulle dit weer aan húl kinders gaan oordra.

Jou nies sê wie jy is

Ma’s speel ook ’n rol in hul
seuns se toekomstige voortplantings- gesondheid: Deur die aankweek van ’n gesonde leefstyl en dieet by hul kind, sê prof. Bornman. Want die gemiddelde man se dieet en leefstyl is op 25 gevestig – hy verander
dit nie sommer daarna nie. En sy lewensgehalte as hy ouer word, word grootliks daardeur bepaal.

Prof. Bornman se spesifieke belangstelling en navorsing
is in hormoon-ontwrigtende chemikalieë (endocrine disrupting chemicals of EDC’s). Dis sintetiese chemikalieë in die omgewing wat die endokrienstelsel kan verander en ontwikkelings- en reproduktiewe afwykings kan veroorsaak.

Daar is bv.’n wisselwerking tussen sommige hiervan en verskeie hormone. So is normale skildklierontwikkeling belangrik vir breinontwikkeling, veral tydens swangerskap en ná geboorte. Blootstelling aan hormoon- ontwrigtende chemikalieë word gekoppel aan die toename in breingedrag-afwykings, waaronder disleksie, ADHD, outisme en verstandelike gestremdheid. In baie lande raak dié soort afwykings nou 5 – 10% van babas, volgens ’n 2012-verslag van die Wêreldgesondheidsorganisasie.

‘n Kopskuif nodig

Die Nature-studie het wye reaksie op die internet uitgelok. Baie
van die kommentaar was van
vroue en ’n algemene tema was: Kyk, kýk, Pa moet ook van die verantwoordelikheid dra as ouers te lank wag en iets loop verkeerd!

Daar word baie druk op vroue gesit om vroeg kinders te kry.

Dit is deels omdat hulle mettertyd onvrugbaar raak, maar ook omdat die risiko vir geboorte-afwykings later toeneem, skryf die koerant The Washington Post.

Soveel water het jou liggaam nodig

Die meeste vroue is maar te bewus van die gevare wat dit inhou as hulle eers later kinders kry. Maar mans het nog nooit daardie las gedra nie.

As ouer pa’s gekritiseer word, is dit omdat hulle bene te styf is om langer met die kind bal te speel. Of omdat die ouderdomsverskil met die ma groot is. Tot onlangs was daar nie rede om te vrees vir gesondheidsgevare vir die kind nie, sê die koerant.

Maar nou neem die wetenskaplike bewyse oor die teendeel toe. Sal dokters mans begin por oor hul planne vir ’n gesin as hulle vir hul jaarlikse mediese ondersoek gaan? vra The New York Times. Sal ouer pa’s ’n meer algemene onderwerp in mediese skole en ginekoloë se spreekkamers word?

Soos wat dié soort navorsing
die hoofstroom bereik, sal mans hopelik besef nie net vroue behoort bekommerd te wees as hulle ’n gesin te lank uitstel nie, skryf die tydskrif New York op hul webblad (nymag.com).

“Ons [vroue] haat dit as wel- menende kollegas uitvis wanneer ons met ’n gesin begin. Terwyl dit nooit vir ons broers, ooms en mansvriende gevra word nie.”

Daar is gereeld romantiese komedies met vroue (gewoonlik ambisieus, loopbaangerig) wie se biologiese klok so vinnig tik dat hulle gou iets daaraan met doen. Jennifer Aniston se karakter in The Switch gebruik ’n vriend as spermskenker. En Jennifer Lopez s’n in The Back-up Plan besluit op kunsmatige inseminasie.

Maar ’n romkom oor ’n 35- jarige man wat desperaat is om te trou omdat hy bekommerd is die gehalte van sy sperms gaan agteruit? Nie sommer nie.

Beskerm jou sperms

Hier’s raad aan mans (ongeag hul ouderdom) om hul sperms “gesond” te probeer hou.

Volg ’n gebalanseerde dieet. Foliensuur en vita- mien A is veral belangrik vir mans se sekshormone en spermproduksie. Eet dus genoeg donker blaargroente en eiers en drink melk.

Moenie rook nie.

Vermy steroïede. Dit sluit pille en inspuitings in wat soms vrylik by gimnasiums beskikbaar is, sê prof. Bornman. Dis deesdae een van die prominente oorsake van infertiliteit by mans.

Beheer jou bloeddruk. Sekere soorte medisyne vir hoë bloeddruk kan nadelig vir sperms wees.

Drink minder alkohol.

Sorg dat jou hart genoeg oefening kry. Hoe gesonder jou hart, hoe kleiner die kans dat jy sirkulasieprobleme, wat aan impotensie gekoppel word, ontwikkel.

Moenie skootrekenaars op jou skoot sit nie. Vermy ook ander bronne van hoë hitte, soos warm baddens en jacuzzi’s.

Vermy blootstelling aan swaar metale, soos lood en kadmium, wat moontlik by industriële werkplekke gevind kan word, sowel as bestraling en toksiese chemikalieë, wat sommige plaagdoders insluit.

Bron: www.webmd.com