steve_hofmeyr024
Gesondheidstories

Die dag toe Steve by die dood omgedraai het . . .

Hy lig sy hemp in sy studeerkamer op 
en wys die operasieletsels van drie jaar gelede. Dit herinner hom daaraan dat hy die dood in die oë gekyk het.

Sedert die bekende sanger ’n noodoperasie vir ’n geperforeerde dikderm moes ondergaan, gis mense gereeld oor sy gesondheid. Veral toe hy nege maande daarna twee bloedklonte gehad het: eers in sy been en kort daarna in sy een long. Jou risiko daarvoor vergroot ná ’n groot operasie.

“Ja, dit was net so gevaarlik soos my dikderm-probleme, maar ek het dit ook oorleef!”

Hy hou nie daarvan as mense gedurig dink hy is siek as hy net effe “af” lyk nie, maar hy het inderdaad sy aanhangers groot laat skrik. Almal was bang die mediasirkus rondom sy egskeiding van die aktrise Natasha Sutherland vergroot sy kanse vir nog ’n perforasie. Dit was net ses maande ná sy noodoperasie.

Jou liggaam kan seker net soveel hanteer ná ’n hoop spanning en ’n vinnige pas?

“Nee wat, mense hoef nie oor my bekommerd te wees nie. Ek is blakend gesond. Ek weet nie eens van my dikderm nie!

“Ek draf weer en doen sit-ups met tien kilogram op my bors. Die trauma het my effe stadiger gemaak en ek is maar neuroties oor my dieet. Ek drink ook baie minder.”

Hy het ná die wake-up call ’n nuwe blaadjie omgeslaan, maar kon dit net ses maande lank regkry om die pas baie stadiger te vat. Toe het hy weer die krane oopgedraai, beken hy. Tog het sommige veranderinge gebly. “Ek is nou so bang vir doodgaan, ek verdra nie een oomblik se stagnasie in my lewe nie.”

Afskaal is nie heeltemal uitgesluit nie, verseker hy. “Miskien vroeër as wat ek gedink het. Ek het vele belangstellings. Rock ’n roll en celeb speel is maar twee daarvan. Ek is ’n rustige student van die klassieke en literêre. Ek floreer ook in isolasie.”

Hy het ná die perforasie sy 
humeur en stres geblameer, maar hy ontspan dan steeds nie! Wat gaan hy daaraan doen?

“Ek rasionaliseer ’n bietjie anders. En ek is al immuun teen die media-aanslag. Destyds kon ek nie verstaan wat hulle so knaend in my private kamers verloor het nie. Vandag gooi ek tee of bliksem joernaliste. Dis ook goeie raad vir hartpasiënte wat dinge opkrop! Ek bring meer tyd saam met my kinders deur – die beste terapie.”

Sy humeur is wie hy is, maar soms voel hy tog hy moet dit kalmer vat ter wille van sy gesondheid.

“Beslis. Ek het selfs ’n wag voor my mond aangestel. Hy tjaila af en toe, maar ek kan deesdae as vlieg teen die muur die offensief absorbeer.”

Hy beken hy het met sy siekte in die waakeenheid baie goeie voornemens gemaak, maar nie by almal gehou nie. “Ek het belowe ek sal nooit weer seks hê nie . . .

“Ek val nou en dan nog weg aan ‘warm’ kosse met rissies en 
Tabasco-sous en ek eet rooivleis. Maar ek kou my kos meer! My voornemens het niks met my 
maag te doen gehad nie, maar 
alles met my kinders en 
hul erfenis.”

Hy bestuur deesdae sy lewe beter.

“Wel, ek dink ek doen dit. Ek slaap byvoorbeeld baie meer as in 
die Spoegblog-dae. Ek luister na 
my lyf.”

Sy eetstyl is beslis aangepas. Hy 
eet min of glad nie saans nie. Sy groot ete vir die dag is smiddags. “Ek doen steeds my Brans en 
Special K in die oggend, maar dit doen ek al dekades. Ek’s nie groot op eiers en vleis soggens nie. My genesing is moontlik meer geestelik as dieet-gedrewe.”

Hy het nie so groot geskrik dat hy nou ’n gym freak is nie. Hy oefen sommer tuis met gewigte en probeer om sy gewig onder 100 kg te hou. Daar moet darem steeds plek wees “vir ’n boepie”, spot hy.

Hy is ook baie meer selfsugtig met sy tyd.

“Ek lees lank in die bad en spring nie elke keer as iemand bel vir onderhoude, ens., nie. Ek kan nie 
en hoef nie alles te doen nie en probeer minder as vyf konserte per week hou.”

Hy bepaal sy eie skedules en dagboek, gaan meer oorsee vir vakansies en steel ’n week hier of daar vir selfbederf.

“Maar as ek môre omkom, wil ek nie te veel spartel nie. Ek het geleef en dit was ’n voorreg!”

Hy sal altyd aan divertikulose ly, weet hy. (Klein, ballonagtige uitstulpings in die dikderm. Sien kassie hieronder.)

“Dit is slegs gevaarlik as een van daardie uitstulpings bars. My pa is daaraan dood. Dit het dié ou brawe Boer ook byna sy peetjie laat sien.”

Hy het voor hy siek geword het, simptome soos hardlywigheid en sporadiese maagpyn gehad. “Dit was later chronies en toe byna verlammend. Dit is nie dadelik deur dokters gediagnoseer nie. Maagpyn is maar algemeen in ons tyd.

“Dis was nogal ’n dobbelspel. Ek het drie konserte in daardie toestand gedoen. Maar met die laaste een, op Standerton, was ek byna dood.

“In die middel van die nag is ek soos ’n vrot vel uit die bed geslinger van pyn. Ek het gebukkend uitgehol en gelukkig mense in die gastehuis 
se kombuis teëgekom. ’n Pyn-
stillende drup het my tot by my huis in Midrand gekry. Maar ek kon nie weer regop staan nie.

“Ek en Natasha het dadelik hospitaal toe gejaag. Dié motorrit, asook die busritte terwyl ek op toer was, het my byna doodgemaak. 
(Hy toer met sy eie bus.) Ons 
paaie werk wreed met geperforeerde kolons.”

Vir hom was die sakkie (kolostomie) wat hy ná die operasie ’n paar maande lank moes dra “die enkel swaarste en mees vernederende straf vir die ego”.

Hy het dit minuut na minuut gehanteer. Jy leer die innerlike ritme van jou gestel ken soos die lirieke van die ‘Bloubul’, sê hy.

Hy hoop dit was die laaste 
keer dat hy deur so iets 
moes gaan.

“So ’n probleem ontwikkel nie oornag nie en daar’s min voorkomende advies. Eintlik is dit die stadige vergiftiging van 
jou ingewande.  

“Maar eendag het jy een rantsoen stres te veel gehad – en dan blaas die eindfluitjie so byna vir jou.

STEVE SE SIEKTE

• Met divertikulose vorm uitstulpings op swak plekke in die dikdermwand. Simptome: ligte krampe, opgeblasenheid, hardlywigheid, diarree en (soms) bloeding in die stoelgang. As dit nie bloei, ontsteek of gebars het nie, is geen behandeling nodig nie.

• Soms kan die uitstulpings ontsteek (divertikulitis). Simptome: pyn, koors en kouekoors. Dit word met antibiotika behandel.

• Die mees gevreesde komplikasie is as dit bars. Dit gebeur gelukkig taamlik min. Indien dit sou gebeur, is die sterftesyfer tussen 20% en 30%. Simptome: erge buikpyn (die dokter kan omtrent nie daaraan vat nie) en ’n buik wat baie hard is.

• Risikofaktore vir divertikulose: Baie vet en proteïene, en min vesel. Onaktiewe lewe, vetsug.

• Raad: Volg ’n dieet met baie groente en vrugte, aangesien dit baie natuurlike vesel het. Droë vrugte of sade en neute is die ideale happie as jy baie besig is. Oefen gereeld en drink baie water.

Bron: Dr. Fritz Potgieter, gastroënteroloog, 
Pretoria Oos-hospitaal

  • Nicolene

    Ja nee,almal van ons moet maar verantwoordelikheid neem v ons eie gesondhdeid. Net bly Steve het survive.

  • Nicolene

    Ja nee,almal van ons moet maar verantwoordelikheid neem v ons eie gesondhdeid. Net bly Steve het survive.

  • Martie

    Ja ek weet waarvan Steve praat ek was ook 3 jaar gelede deur presies diesselfde ,stem saam dit was verskriklik pynlik maar die swaarste was die sakkie wat jy dra.Dit was verskriklik maar met Genade het ek daardeur gekom.
    Ek gaan weer die 16 Aug in vir n Breukoperasie agv. kolostomie.

  • Tessa Maritz

    Ek deur dieselfde dikderm trauma. Moet maar die dieet volg en baie toilet toe gaan. Moenie uitstel nie. Gryp ‘n boek en sit lekker lank en ontspan op die Witstoel. Mag God se genade oor my wees. Ek wens dit vir niemand toe nie. My letsels laat my onthou hoe naby ek aan die dood was. God se genade is groot!!!

  • Petro

    Ek weet nou eers waardeur Steve is, want ek werk nou met die pasiente wat sulke operasies ondergaan het. OnS is net dankbaar dat dit nou soveel beter gaan en is mal oor die nuwe "Steve".Ons kon egter op ‘n ander geleentheid vroeer vanjaar lekker lag oor die aangeleentheid.

  • Carita Hinterholzer

    We only live once, so Steve, leef elke dag asof dit jou laaste gaan wees…en as mense iets se, is dit omdat hul jaloers is. Sal altyd dink jys great!!!! Carita

  • sciemipreatte
  • Ouma in distress

    Skuus, bietjie laat met kommentaar. Eintlik net een vraag: volgens die medici is neute gif vir iemand met hierdie siekte?
    Was my gunsteling kos en ek wroeg nou al vyf maande daarsonder. Sal so graag weer my amandels en pampoensade wil eet!