oranje_bougainvilleasmall
Gesondheidstories

Maak die menopouse makliker! Deel 2

‘Ek is nog ‘n babe, net ‘n voller en wyser een!’

Anneline Black (47), ‘n grimeerkunstenaar en beeldpoetser van Brush Strokes in Kaapstad, is in haar peri-menopouse. Dis die tydperk net vóór jy finaal ophou menstrueer. Haar simptome het so ‘n jaar en ‘n half gelede begin: sweet en warm gloede snags, soms ook bedags. Soms érg, soms nie juis iets om van te praat nie.

“Ek slaap nie snags genoeg nie en is bedags moeg en geïrriteerd. David, my man, gewoonlik vol begrip en ondersteunend, vertel my dis sommer nonsens. Ek is veels te jonk om nou al in my menopouse te wees! So asof dit vreeslik is om ‘n óú vrou in haar oorgangsjare te hê. Hy sê dit nie, maar dis hoe dit my laat vóél. Miskien is ek irrasioneel. Maar al die ‘gek’ simptome laat my hulpeloos voel, asof ek nie in beheer van my eie lyf is nie.

“Deesdae is ek egter nie meer heeltemal so ongeduldig met myself nie. Ek leer baie by ander vroue in dieselfde bootjie. Hoe meer ek daaroor praat, hoe minder voel ek alleen. Ek het selfs gevind heelwat vroue jonger as ek gaan deur dieselfde ding.

“Ek het ook opgelet my middel is ‘voller’ as voorheen. Ek was altyd so trots op my dun middeltjie! Maar uiteindelik hang dit alles van jou ingesteldheid af. Ek is nog ‘n babe, net ‘n voller en wyser een.”

 

Kommentaar

Heidra Dahms, ’n ginekoloog van Johannesburg, sê vroue dink jou menopouse kom eers in jou vyftigs. Nie so nie. Dit gebeur meestal tussen 45 en 50, maar dis normaal van 38 af. Jou menopouse is die punt waar jy ses maande lank nie gemenstrueer het nie. Maar jy kry die ergste simptome (warm gloede, vergeetagtigheid, ens.) in die sowat vier jaar daarvóór. Jy menstrueer nog, hoewel jou siklus onreëlmatig kan wees. Nog simptome is: hoofpyn, jy slaap sleg en is buierig en geïrriteerd. Hierdie simptome kan tot vier jaar ná die menopouse aanhou. Enkele vroue ervaar dit langer.

 

 

HVT:
Die voor- en nadele
Een uit elke drie vroue ervaar in die menopouse simptome wat hul lewensgehalte beïnvloed. Jou liggaam vervaardig in jou veertigs en vyftigs minder van die vroulike hormone estrogeen en progesteroon. Dit veroorsaak die menopouse se ongemaklike simptome soos warm gloede, gewrigspyne, rugpyn, hartkloppings en slaaploosheid. Op lang termyn kan lae estrogeenvlakke ook ernstiger gesondheidsprobleme veroorsaak.

VOORDELE: Hormoonvervangingsterapie (HVT) verlig van die lastige, vroeë simptome. Dit verminder ook jou kans op kolonkanker, Alzheimersiekte se simptome isdaarna minder hewig, en dit verbeter jou lewensgehalte. Jy slaap bv. beter en jou vagina is nie so droog tydens seks nie. Boonop verouder jou vel stadiger. Dit beskerm jou ook teen osteoporose, maar net sewe tot tien jaar lank en slegs terwyl jy dit neem. Daar is eers geglo dit beskerm jou teen kanker van die eierstokke, maar dis verkeerd bewys.

NADELE: Dit verhoog jou kanse op endometriale kanker (kanker van die baarmoedervoering) en bloedklonte (veral in die eerste jaar dat jy dit gebruik, en as jy rook). Jou kans op borskanker neem effens toe as jy dit langer as vyf jaar neem. Dit kan onder meer migraine en ander hoofpyne vererger, en gewigstoename, waterretensie, galstene en borsteerheid veroorsaak.

Ja of nee?
Die debat rondom HVT het ‘n paar jaar gelede nuwe stukrag gekry. Die Amerikaanse Women’s Health Initiative Study (WHI) moes ontleed in watter mate kombinasie-HVT (estrogeen en progestien, of sintetiese progesteroon) jou op lang termyn beskerm. Die studie is ná vyf jaar gestaak. Nie net was daar ‘n klein toename in die risiko op borskanker nie, maar die kans op hartaanvalle het ook met 41% verhoog.

Aan die positiewe kant: Vroue het aansienlik minder heup- en werwelbreuke gekry. Die deel van die studie waar net estrogeen gebruik is, gaan voort. Dis vir vroue wat ‘n histerektomie gehad het. As jy egter steeds jou baarmoeder het, kan estrogeen jou kanse op baarmoederkanker verhoog. Daarom word dit met progesteroon gekombineer.

Heidra Dahms, ‘n ginekoloog van Johannesburg, sê nuwe navorsing het leemtes in dié studie uitgewys. Die vroue in die studie was bó 65, wanneer die meeste vroue nie meer HVT nodig het nie. Op dié ouderdom kan jy egter reeds hartsiektes onder lede hê. (Dit kan dus in dié studie nie net aan HVT toegeskryf word nie.) Nuwe toetse wys kombinasie-HVT (estrogeen en progestien) vererger hartsiektes as jy reeds sulke probleme het. As jy egter HVT gebruik terwyl jou hart nog gesond is, beskerm dit jou.

In die WHI-studie is ook een spesifieke middel gebruik: Prempro, wat jare lank die standaardvorm van HVT in Amerika was. Plaaslik word dit onder die naam Prempak bemark (maar dit word selde voorgeskryf). Dis sintetiese estrogeen uit perde-urine, gekombineer met progestien.*

Nuwe neiging
Daar is ander HVT-produkte in verskillende kombinasies. Die nuwe neiging is HVT-produkte wat as “natuurlike” (of bio-identiese) estrogeen geklassifiseer word. Dis chemies identies aan die hormone in jou liggaam. Dit word egter steeds in ‘n laboratorium vervaardig en moenie verwar word met planthormone of fito-estrogeen wat in die natuur voorkom nie.

“Nie alle menopousale vroue het HVT nodig nie. Vir dié wat dit wel moet gebruik, ís daar veilige keuses. Ná vyf jaar moet die risiko’s en voordele jaarliks teen mekaar opgeweeg word,” sê Heidra.

Dawie Slabbert, ‘n ginekoloog van Kaapstad, sê: “Jy hoef nie aan die menopouse se simptome uitgelewer te wees nie. Bekyk jou situasie saam met jou ginekoloog. Deesdae word die laagste moontlike dosis vir die kortste moontlike tyd voorgeskryf.”

*Jou testosteroon-vlakke val ook ná die menopouse, hoewel nie so vinnig soos estrogeen s’n nie. ‘n Simptoom hiervan is dat jou seksdrang verminder. Testosteroon-aanvullings kan oormatige harigheid en aknee veroorsaak, maar ‘n lae dosis kan wondere vir jou lewensenergie en libido beteken.

**Vir meer inligting, besoek die SA Menopouse-vereniging by www.menopause.co.za.

HVT: Die regte een vir jou

‘n Inplanting:  Dit lyk soos ‘n ryskorrel en word onder jou boud se vel ingeplant. Die hormone word deur jou vel opgeneem en nie deur jou lewer nie (belangrik as jy geneig is tot bloedklonte). Dit moet elke drie maande vervang word. Estrogeen wat op dié manier toegedien word, kan in jou bloed ophoop – dit moet jaarliks getoets word.

‘n Plakker: Dit word ook deur jou vel opgeneem en nie jou lewer nie. Jy plak een of twee keer per week een op. Baie vroue is egter allergies vir die gom wat dit laat klou.

‘n Pil: Dit kom in verskillende dosisse en jou dokter kan dit aanpas by jou behoeftes. Jy moet dit daagliks neem. Dit word deur jou lewer opgeneem.

Estrogeen-jel: Jy smeer dit daagliks aan. As jy nog jou baarmoeder het, moet jy ook progesteroon neem. Jy kan ‘n progesteroon-aanvulling gebruik of die Mirena laat insit. (Dis ‘n intra-uterien-toestel, of IUD, wat progesteroon afskei.)

Daar is baie soorte HVT-produkte op die mark. As jou ginekoloog jou en jou mediese geskiedenis goed ken, kan die eerste een wat jy probeer reeds werk. Sommige mense (minder as 20%) moet drie of vier verskillende soorte probeer. Daar is nie newe-effekte as jy van een soort na ‘n ander oorskakel nie. Indien jy HVT gebruik, laat toets jaarliks jou bloeddruk, estrogeen-, cholesterol- en bloedsuikervlakke. Gaan ook jaarliks vir ‘n mammogram.

DIE NATUURLIKE MANIER

HVT se newe-effekte maak baie vroue sku daarvoor. Dr. Arien van der Merwe is ‘n mediese dokter van Pretoria met ‘n wye kennis van natuurlike produkte. Sy beveel die volgende “resep” vir die menopouse aan. Sy gebruik dit die afgelope drie jaar self.

*Kruie: Swart slangwortel (black cohosh); dong quai (Angelica sinensis); fenegriek (fenugreek); salie; wildejamswortel en kelp. Daar is produkte op die mark

met alles in een. Besoek www.HealthStressWellness.com vir meer inligting.

*Neem ‘n multi-vitamien met vitamien B1, B2, B3, B6 en B12, biotien, foliensuur, en vitamien C en E.

Ook kalsium, magnesium, vitamien D, borium en kalium, plus omega-3 (spesifiek salmolie) en omega-6 (spesifiek aandblom- of sterblom-olie). Hoewel daar deesdae sprake is dat die moderne mens te veel omega-6 inkry, beveel Arien dit tog vir die menopouse aan.