Daantjie Badenhorst  Asperger-sindroom
Gesondheidstories

Die professor-sindroom

Jare gelede skryf Ron Meaker van Kaapstad ‘n romantiese briefie aan sy vrou, Avril. Hy vertel haar hoe wonderlik hul verhouding is, dat hulle deur dik en dun bymekaar sal staan. Sý skryf ook ‘n brief – aan God: “Liewe Heer, kry my hier uit. Doen iets!”

Sy wroeg: Van watter planeet ís Ron?

Want Ron het Asperger-sindroom (AS), ‘n minder ernstige vorm van outisme. Hy is (in klein dosisse) ‘n onderhoudende geselser wat jou lekker kan laat lag. Sy handdruk is ferm, hy kyk jou netjies in die oë. Al is hy eers op 51 gediagnoseer, het hy lankal geleer om sy sosiale gebreke te verbloem. “Oogkontak is goeie maniere. Dus kyk ek na rolprente hoe dit gedoen word. Jý doen dit net, ek moet eers daaroor dink,” sê hy.

Hul gedrag het naam gekry.

Avril het na oplossings begin soek toe sy sien hul vierde kind, Kyle (18), het baie van sy pa se karaktertrekke en dieselfde probleme soos moeilike sosiale interaksie. ‘n Psigiater het hulle met AS gediagnoseer. Hul gedrag het naam gekry.

Jy ken ook dalk só iemand. Of is sélf so. Ander mense vind jou “vreemd” – jy tree sosiaal lomp en eksentriek op. Wanneer moet jy wat sê, hoe naby moet jy aan ander mense staan en waar moet jy kyk? Jy weet nie dié dinge instinktief nie. Soos die 19-jarige AS-lyer wat geleer het jy moet vroue altyd eerste laat stap. Hy wóú die sosiaal korrekte ding doen. By ‘n supermark kom ‘n oorgewig vrou van voor af en hy sê vir sy maat: “Wag, laat die vet vrou eers verbykom.”

 

Moontlike tekens van AS

  • Jy het nie aangebore sosiale vaardighede nie – soos om lyftaal te lees en ‘n gesprek te voer;
  • Jy haat dit as jou roetine verander;
  • Het skynbaar ‘n gebrek aan empatie;
  • Jou stem is eentonig – sonder toon of klem op sekere woorde. Jy herken ook nie subtiele veranderings in ander se stemtoon wat die betekenis van hul woorde kan verander nie;
  • Jy vermy oogkontak;
  • Het een (of meer) belangstelling waarvan jy alles weet. Jy praat baie daaroor en voer dikwels ‘n monoloog;
  • Jou motoriese ontwikkeling was stadig. Jy leer laat om ‘n bal te vang, fiets te ry of met ‘n mes en vurk te eet;
  • Jy is sensories baie sensitief soos vir harde geluide, helder ligte, of sterk smake en teksture.
    Onthou: Nie een mens met AS is dieselfde nie.
  • *Bron: www.webmd.com
 

Baie Aspies, soos hulle mekaar informeel noem, gaan sukkel-sukkel deur die lewe – sonder om gediagnoseer te word.

Madaleen Harmse van Pretoria is nege jaar lank vir bipolêre gemoedstoornis behandel en moes hoë dosisse medikasie neem. ‘n Kennis met AS het haar twee jaar gelede aangemoedig om ‘n tweede mening te kry. Op 34 is sy gediagnoseer met AS en ‘n vrees vir sosiale interaksie (Social Anxiety Disorder).

Ek is nie dom nie, ek sién die wêreld net anders as julle.

AS-lyers is dikwels intelligent, het ‘n uitstekende langtermyn-geheue en vaar goed op skool.

(Bygesê: in vakke waarin hulle belang stel.)

Jy kry dié soort gedrag ook soms by hoogs intellektuele of akademies ingestelde mense – en dit lei tot bespiegelings dat genieë soos Michelangelo, Einstein en Newton AS-lyers was.

Die kern-probleme (soos sosiale interaksie en kommunikasie) is dieselfde vir AS en outisme, maar in klassieke outisme is dit veel erger. Die gholfspeler Ernie Els het onlangs die kollig op klassieke outisme laat val toe hy bekend gemaak het dat sy seun Ben (5) outisties is.

“Ben is nogal erg daardeur aangetas. Maar hy’s ‘n wonderlike kind,” het Ernie aan Associated Press vertel. “Dis nogal ‘n uitdaging. Dis nuut vir almal en daar is baie mense met verskillende idees.” Nadat hulle wêreldwyd kenners geraadpleeg het, het hulle op ‘n behandelingspad besluit.

“Soos enige gesin vir jou sal vertel, is dit nie maklik nie. En dis ‘n verandering in jou lewe en prioriteite.”

Hy het die organisasie Autism Speaks gekontak en gaan nou help om geld in te samel en mense meer bewus te maak van die toestand. Hy het selfs ‘n logo van die organisasie op sy gholfsak.

Daar is ‘n derde groep, savant-outisme. Dis wanneer die persoon ‘n buitengewone talent het, soos in wiskunde of musiek. Maar die outisme lê sy vermoë om te funksioneer aan bande. Onthou Raymond (Dustin Hoffman) in die rolprent Rainman?

Adri (skuilnaam), ‘n sake-analis, het haarself op 33 met AS gediagnoseer. 

Sy het haar eie onderneming in die rekenaarbedryf gehad, maar verhoudingsprobleme met haar kliënte het haar gedwing om dit te laat vaar. Haar huisdokter het haar aangeraai om oor AS te lees – en sy het haarself daarin herken.

“Ek het intussen geleer om te dink voordat ek praat, om dinge op te tel wat onder die oppervlak aangaan. Maar dit maak my móég. Ek kon 14 uur aaneen werk, maar nou is ek ná sewe uur uitgeput.”

AS is ‘n verhoudingsgestremdheid, sê Jana Forrester, sielkundige by Veraskool vir leerders met outisme in Kaapstad. Jy sukkel om verhoudinge aan te knoop. Jy verstaan nie altyd ander se sienings nie en wil dinge op jóú manier doen – dit wat jy ken.

Jy praat land en sand oor jóú passies, maar stel nie belang of iemand daarna wil luister nie. Jy kom nie agter hy/sy is verveeld nie: lyftaal en gesiguitdrukkings is vir jou ‘n geslote boek.

Adri sê: “Maar ons kan leer om plek vir ander se menings te maak, probeer om minder selfgesentreerd te wees en leer hoe om gesiguitdrukkings en lyftaal te interpreteer. Ons maak selfs vriende – waarskynlik ons grootste uitdaging. Mettertyd word ons sosiale onbeholpenheid minder opvallend.

By die werk sukkel Aspies om met kollegas oor die weg te kom.

Hulle verander dalk dikwels van werk. Daantjie Badenhorst, ‘n wenner van Noot vir Noot en Flinkdink, het jare lank by die Staatsdrukkery in Pretoria vasgebyt:

“Ek het met min kollegas ‘n goeie verhouding gehad. Ses jaar lank het ek nooit ‘n merieteverhoging of bevordering gekry nie, want ek het geweier om my afdelingshoof se nukke en grille te aanvaar.”

Dit gaan beter by die dagblad Beeld, waar hy onder meer die kopie vir dié koerant se webtuiste redigeer.

Adri verduidelik dit só: “Ons dink ons help om probleme op te los deur foute raak te sien – en mense sonder ‘n omhaal van woorde daarop te wys. Dan klink ons onsensitief en ongeskik, want ons vergeet daar’s ‘n mens met gevoelens agter die probleem. Almal is vies en ons verloor ons werk. Want goeie spanwerk is belangrik.

Ons brein skakel nooit af nie. Kombineer dit met emosionele oorlading en sensoriese irritasies soos helder ligte en geraas. Jou brein raak uitgeput. Jy kan jou dan óf onttrek aan mense óf ‘n aggressiewe uitbarsting hê. Dis ‘n groot verleentheid by die werkplek.”

*Die statistieke

Volgens Jill Stacey van Outisme Suid-Afrika in Johannesburg is

  • een uit elke 158 mense outisties.
  • Dit kom vier keer meer by mans as vroue voor, dis nie bekend hoekom nie.
  • Dit neem toe, dalk omdat daar ‘n groter bewussyn is en dit dus meer dikwels gediagnoseer word.
  • Die definisie is ook verbreed om mense met AS in te sluit, waar dit eens net mense met klassieke en savant-outisme omvat het.
  • 70% van outisme-lyers het klassieke outisme,
  • 25% Asperger-sindroom en
  • 5% savant-outisme.
  • Aspies se perfeksionisme is legendaries.
    Toe Martie (skuilnaam), ‘n IT-spesialis, haar huis restoureer, het sy alles oor elektrisiteit uitgevind. Sy het ‘n plan van die stroombane geteken en die elektrisiën mog nie daarvan afwyk nie.

Hul woordeskat is dikwels uitstekend en hul grammatika perfek. Maar meer as 90% van kommunikasie is nie-verbaal - soos gesiguitdrukkings, lyftaal, stemtoon, oogkontak en die klem op sekere woorde. ‘n Mens weet instinktief dat wát gesê word, minder belangrik is as hóé dit gesê word. Aspies het nie daardie instink nie.

Hulle snap nie altyd grappies nie en interpreteer goed soms só letterlik dat dit moeilik is om met hulle te gesels. Natasha van Zyl, gedragsterapeut van Kaapstad, het bv. vir ‘n AS-kind gesê: “Ek het ‘n padda in my keel.” Hy was bitter ontsteld en wou dit sién. Toe Millie Miller van Johannesburg se dogter, Kirsty (22), hoor van iemand wat “aanmekaar sy kop teen ‘n muur stamp”, het sy verbaas laat hoor: “Dis mos dom. Wie sal só iets doen?”

Nuwe dinge maak hulle angstig – selfs om ‘n ander pad werk toe te ry. Roetine is ‘n noodsaaklike struktuur in ‘n dikwels onvoorspelbare wêreld. G’n wonder hulle is dikwels verbouereerd en angstig nie. Hulle het geleer om hul gedrag by die sosiale norme aan te pas, maar begryp dit net so min as wat wetenskaplikes Mars verstaan.

Hul fiksasie met ‘n spesifieke onderwerp is ook tipies.

Hulle weet alles daarvan af en sommige voer lang monoloë daaroor. (Hans Asperger, wat in die veertigerjare die toestand by kinders beskryf het, het na hulle verwys as “klein professore”.)

Wendy Savage van Pretoria sê van haar seun, Thomas (12): “Dis ‘n eenrigting- gesprek. En dit gaan net oor sy belangstelling: stoomtreine.”

Yolanda, Daantjie se vrou, mor sy belangstellings – motors en musiek – neem ál sy vrye tyd in beslag. “Daantjie wéét nie eens wat mý belangstellings is nie,” sê sy. “Ek weet darem naastenby,” verdedig Daantjie.

Hulle het twee kinders, Dirk (3) en Suzanne (11 maande). Daantjie sê nugter weet hoe Yolanda dit uithou.“Sý kan my los, maar my familie sit lewenslank met my opgeskeep. Sy het my gekies soos ek is en probeer my aanvaar, maar dis nie aldag maklik nie.”

Gesinsverhoudinge kan ‘n nagmerrie wees.

‘n Bloemfonteinse ma sê sy probeer ‘n buffer wees tussen haar 15-jarige AS-seun en sy pa. “My man glo hy het net ‘n paar taai klappe nodig – dat dit van hom ‘n ‘man’ sal maak. Daar is deesdae ‘n kilheid tussen ons. Ek verstaan die hel waardeur my kind gaan. Maar Pa dink dis net ‘n verskoning om die reëls te breek. My ander kinders dink hy kry al die aandag. As hy blind of doof was, sou almal hom wou help. Maar nou is hy bloot ‘moeilik’, ‘vreemd’ en ‘ongeskik’.”

Daar is ook ‘n ander kant. Adri sê haar man het haar leer ken as ‘n “disfunksionele” mens wat intussen

Kontak:

  • Outisme Suid-Afrika 011 484 9909/9923;
  • Outisme Wes-Kaap 021 557 3573/021 556 2600;
  • Unicaskool vir kinders met outisme, Pretoria 012 460 6539;
  • Veraskool, Kaapstad (021) 696 2844;
  • ASperger CONnections 021 715 5255 (Avril) of 084 513 1333 (Jana).

baie gegroei het. Vandag hóú mense van haar – ook by die werk. Haar man het haar lief en hulle is gelukkig saam.

Kenners waarsku jy kan nie ‘n bloudruk opstel en sê só lyk iemand met AS nie.

Daar is groot individuele verskille. Millie Miller se kinders het albei eienskappe van AS. Kirsty is sosiaal en lief vir mense. Maar David (18) is ‘n introvert en maak moeilik vriende. AS-lyers is nie noodwendig asosiaal nie: Hulle probeer soms hard om sosiale kontak te maak, maar op ‘n naïewe, ontoepaslike manier.

Diagnose word bemoeilik deurdat die oorsake nie bekend is nie. Gene speel ‘n rol. MMR-inentings (vir pampoentjies, masels en Duitse masels) en chemikalieë in die omgewing het al die blaam gekry, maar navorsing kon dit nog nie bevestig nie.

Hoe vroeër dit gediagnoseer word, hoe groter is jou kans op ‘n lewe waar jy deur ander aanvaar word.

Jy kan vroeër sosiale vaardighede geleer word en ondersteuningsterapie ontvang. (Soos kognitiewe gedrags-, speel- en kunsterapie.) Jana sê AS-lyers is meestal in hoofstroomskole, maar hul probleme sluit woede-uitbarstings en wisselvallige gedrag in. Hulle kan bykomende probleme soos disleksie (probleme met lees en skryf) en dispraksie (‘n onvermoë om vaardige bewegings akkuraat uit te voer) hê.

Ron het intussen psigoterapie en gedragsterapie ontvang en neem medikasie vir depressie, angs en obsessiewe kompulsiewe-sindroom (OKS). Hy en Avril het ‘n “kontrak” aangegaan: Sy wys hom daarop wanneer hy grense oorsteek. En hy leer steeds: “Daar gaan elke dag ‘n liggie aan.

“Ek maak nog daagliks my naam krater, maar dit voel tog of ek meer beheer oor my lewe het.”

 

My storie

Madaleen Harmse (36) van Pretoria is op 2 met akute limfatiese leukemie gediagnoseer en alles het daarom gedraai. As sy toe reeds tekens van AS getoon het, is dit misgekyk.

  • Op 4 kon sy lees, skryf en basiese wiskunde doen. Maar sy het nooit maats van haar ouderdom gehad nie. “Ek wóú graag maatjies hê, maar kon hulle nie behou nie. In die speelpark wou ek altyd by die perd se kop sit. My ma moes net vir mý op die swaai stoot. Partytjies was nag en is nog steeds. Dit maak my angstig.
  • My vriendskap met ‘n goeie vriendin het daarom skipbreuk gely: Ek het nie kans gesien om haar troue by te woon nie.

“Om my angsvlakke te verminder neem ek ‘n lae dosis medikasie. Ek ervaar ‘gewone’ mense gewoonlik as briesende bulhonde wat hul kake sluit. Maar as ek die medikasie neem, word die bulhond ‘n pekinees.

“Ek is ‘n wandelende ensiklopedie oor die onderwerpe waarin ék belang stel: Soos diere, veral perde en honde. Diere luister altyd, sonder om jou te kritiseer of af te jak. En musiek en insekte (soos vlieë, brommers en perdevlieë). Ek het eksperimente gedoen en verskeie nuwe produkte geskep om hulle van jou weg te hou.

“Sedert ek so twee jaar gelede met AS gediagnoseer is, maak baie dinge skielik sin. Ek was altyd die swartskaap in my gesin. Maar my menseverhoudinge het verbeter. Ek verstaan hul gedrag beter en probeer meer tegemoetkomend wees. Ek het altyd soos ‘n seer vinger uitgestaan. Ek wéét nou hoekom. En ek is nie alleen nie. Perdry is my terapie. My groot droom is om perdry-terapie te gee vir mense met outisme, post-traumatiese stres, ens. Ek is besig met opleiding daarin. My volgende doelwit is om borge te kry.”

*Mense wat belang stel, kan Anna Atkins van Outisme SA by 012 993 4628 bel.

 
  • http://www.etiennemaraisministries.com Etienne Marais

    Haai daar ek is ook met Asperger gediagnoseer maar deur die Here se genade het ek baie dinge oorkom. Ek het ‘n bediening om God se Woord deur middel van gratis CD.s te versprei.

  • http://www.etiennemaraisministries.com Etienne Marais

    Indien u meer wil weet oor hierdie bediening gaan kyk gerus na my webtuiste
    http://www.etiennemaraisministries.com want daar is meer oor my bediening.

  • MELITA VAN DER MERWE

    EK WIL GRAAG ANDER JONGMENSE MET ASPERGER ONTMOET. WAAR BEGIN EK? IS DAAR IEWERS ‘N VERENIGING OF STEUNGROEP? IS DAAR ANDER JONG MANS OF DAMES WAT OOK GRAAG VRIENDE MET ANDER ASPERGER LYERS WIL MAAK?

  • Lydia van SARIE

    Vir steungroepe, kontak een van die volgende organisasies, hulle sal jou kan verwys na ‘n groep in jou omgewing:

    * Outisme Suid-Afrika 011 484 9909/9923;
    * Outisme Wes-Kaap 021 557 3573/021 556 2600;
    * Unicaskool vir kinders met outisme, Pretoria 012 460 6539;
    * Veraskool, Kaapstad (021) 696 2844;
    * ASperger CONnections 021 715 5255 (Avril) of 084 513 1333 (Jana).

  • Marisa Cronje

    Haai, ek is ma van Aiden (7jaar) en is nie seker of hy dispraksia het nie. Waar kan ek dit laat toets?

  • Melinda Barnard

    Ek het seun, hy is 13jr – gediagnoseer met AS – sielkundige beveel tuis-onderrig aan. Ons het een jaar aangesluit by Nukleus en wil nou oorgaan na Impak, mar hul is ontsettend duur en die werk is so baie, ons kan dit nie in die jaar se tyd onder die knie kry nie – hy is slim en as hy iets geleer het, onthou hy dit, maar dit neem tyd.

    Kan iemand my help – waar kan ons inskakel waar ons op ons eie tyd kan leer en tog ‘n toekenning kan kry en bevorder kan word na vlg graad – help asb

    Melinda Barnard

  • Anza Basson

    Dankie vir hierdie wonderlike artikel!!!!!, Ek was al vanoggend in trane – hoekom? Mense rondom my onmiddelike gesin, glo my nie as ek vir hulle vertel my kind het AS nie. Niemand wil verstaan waardeur ons elke dag moet "kloor" om net die dag te "oorwin" nie.

    Hy lyk op die oog-af na n heel normale goed gebalanseerde tienerseun – maar beweeg n klein stappie nader aan hom en jy sal gou besef hierdie seuntjie is nie "die normale goed gebalanseerde" tiener-seun nie.

    AS is werklik soos ‘n "donker monster" wat homself net ontbloot aan diegene wat "naby" genoeg is om hom raak te sien. – Soms wil ek mense "wakker skud" en se maak oop julle oe – en probeer verstaan dat hierdie nie n gestremde mense of n ooglopende afwyking is wat jy op straat kan identifiseer nie – nee, dit skuil diep gewortel in jou liefling kind – so diep dat soms net jy as ouer dit werklik kan raaksien en verstaan.

    Meer nog kan ek die nie hanteer as daar verwys word na my kind as "die enetjie wat nie kan "cope" in hoofstroom skool nie" – Mense! hierdie kinders is "inventors" Hulle is begaafd – hulle is denkers en hulle het n kennis wat verder strek as meeste volwasse mense wat ek ken. Hul woordeskat is fenominaal – (al lyk dit nie so nie.)Hulle is die "Eintstein’s" die Thoma’s Edison’s, van die toekoms – mits hulle kans gegun word om dit te mag en kan wees.

    Ek wens uit my hart daar kan meer artikels rondom hierdie sindroom verskyn – die oningeligte wereld daar buite het kennis nodig om te "verstaan" waaroor dit gaan sodat hulle begrip kan opbou vir diegene wat daarmee moet deel.

    Nogmaals dankie SARIE !!!!

  • Dorothea

    Dankie vir hierdie artikel. Iemand het hierdie week vir my gese dat my 32-jarige seun dalk AS het. Ek wens ek het dit jare gelede uitgevind, dan het ons nie soveel probleme gehad nie. Hy het so baie van hierdie simptome.