Fotograaf: Ulrich Knoblauch by Supernova;
Model: Roxanne by Boss;
Hare en grimering: Bernice Dodd by Infidels

Fotograaf: Ulrich Knoblauch by Supernova; Model: Roxanne by Boss; Hare en grimering: Bernice Dodd by Infidels

Gesondheidstories

Die sonskyn vitamien

Die son is die belangrikste bron van vitamien D. Maar selfs in ons sonskynland het baie mense ’n tekort daaraan. Kry dié somervakansie jou dosis sonder om jou risiko vir velkanker te vergroot.

Son en see is vir baie van ons sinoniem met die somervakansie. En jy durf waarskynlik nie die son aan sonder ’n hoë sonskerm en groot sonhoed nie. Goed so. Suid-Afrika het immers een van die hoogste velkanker-syfers in die wêreld. Nou het ons ’n dilemma: Die belangrikheid van vitamien D is ál meer in die kollig, en sonskyn is die beste bron daarvan. Jou liggaam vervaardig dit as jou vel aan die son se UVB-strale blootgestel word.

Sowat 15 – 20 minute per dag indie son (sonder sonskerm) is al wat nodig is. Studies wys dit kan jou teen talle siektes beskerm, van osteoporose tot kanker. Maar selfs in sonnige Suid-Afrika is dit ’n probleem. Dr. Bernard Brom van Stellenbosch, medevoorsitter van die SA Vereniging van Geïntegreerde Medisyne (SASIM), gaan selfs so ver om te sê die meeste van ons het óf ’n tekort daaraan, óf ons vlakke is “laag normaal”. Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van die Paarl, beaam dit. Uit 100 mense wat in haar praktyk getoets is, was net drie se vitamien D-vlakke normaal. Die rede? Ons werk meestal binnenshuis en smeer die sonskerm dik aan as ons in die son kom.

’n Sonskerm met ’n SBF van agt of meer blokkeer nie nét die skadelike ultraviolet-strale nie, maar ook die produksie van vitamien D. Jou liggaam se vermoë om vitamien D te vervaardig neem boonop af soos jy ouer word.

Dis góéd vir jou

  • Sonlig stimuleer die produksie van serotonien, die liggaam se sogenaamde goedvoel-hormoon. Dit verbeter dus jou bui, keer depressie, laat jou beter slaap en kan jou selfs help om gouer van reisroes te herstel.
  • Dit gee jou immuniteit skop. Vitamien D is noodsaaklik om jou immuunstelsel se “vegters” te aktiveer en jou dus te beskerm teen van griep en voedselvergiftiging tot selfs kanker, volgens Deense navorsing.
  • Dit verlaag cholesterol. Volgens Britse navorsers is dit waarskynlik die rede waarom mense in die kouer noordwestelike dele van Europa meer aan hartsiektes sterf as in die sonnige Mediterreense lande.
  • ’n Tekort daaraan kan tot vetsug lei, aldus Skotse navorsing. Dit beheer die hormoon leptien wat jou brein laat weet jy is versadig. As jy aan vetsug ly, produseer jy ’n tiende minder vitamien D as mense wie se gewig normaal is.
  • Vitamien D help jou liggaam met die opname van kalsium. Dis dus noodsaaklik vir beengesondheid en osteoporose.
  • Lae vlakke word gekoppel aan onvrugbaarheid, endometriose en polisistiese-ovarium-sindroom. Dit kan dalk ook ’n rol speel by pre-eklampsie (hoë bloeddruk tydens swangerskap), vroeë geboortes, bakteriële vaginale infeksies en gestasie-diabetes, ’n toestand wat laat in swangerskap verskyn en gewoonlik daarna verdwyn.
  • Hoë vlakke van vitamien D word gekoppel aan ’n laer risiko vir alzheimersiekte, volgens ’n Franse studie. En Amerikaanse navorsers het bevind lae vlakke van die
    vitamien by ouer vroue word verbind aan ’n groter kans dat die geheue verswak.

Onthou dié algemene riglyne

  • Kom minstens 4 – 6 keer per week sowat 20 minute per keer in die son. Jy moet ’n veloppervlakte gelykstaande aan jou gesig en voorarms aan die son blootstel (sonder sonskerm). Doen dit in die somer voor tienuur soggens en ná vieruur smiddae. Veral mense wat heeldag op kantoor is, moet tyd maak om in die son te kom, naweke of smiddae ná werk. Maar moenie in die son braai nie.
  • Dis moeilik om vitamien D net deur jou kos in te kry. In Europa word dit juis om dié rede veral by suiwelprodukte gevoeg. Bronne is eiers, salm, tuna (die vetterige rou soort, nie die blikkies nie), sardientjies en volroommelk. Visolie (soos lewertraan) is ook ryk daaraan.
  • Aanvullings. As jy nie ’n tekort het nie, kan jy 200 IU per dag neem, sê Mariza. Neem dit saam met kalsium en magnesium sodat al drie optimaal opgeneem kan word, beveel sy aan. (Kalsium 600 – 900 mg/dag, magnesium 300 – 450 mg/dag.) Vitamien D₃ (cholekalsiferol) is meer doeltreffend as D₂ (ergokalsiferol). Jy het vir D₃ gewoonlik ’n voorskrif nodig. As ’n bloedtoets wys jy het ’n tekort, moet jy aanvullings onder toesig van ’n dokter neem. Die Amerikaanse vitamien D-raad beveel dan 5 000 IU/dag aan.
  • Sonbeddens? Nee! Dit blokkeer meestal die son se UVB-strale (wat nodig is vir die vervaardiging van vitamien D), maar nie die UVA-strale nie. Dit is ’n risikofaktor vir melanoom, sê dr. Izolda Heydenrych, ’n dermatoloog van Kaapstad.

Kry dit só in
Hoe jy jou daaglikse dosis vitamien D inkry, is ’n onderwerp waaroor kenners debatteer. Bly uit die son en eet kosse ryk aan dié vitamien, sê die Amerikaanse Akademie van Dermatoloë. En dr. Izolda Heydenrych, dermatoloog van Kaapstad, waarsku die voorkoms van melanoom (een van die dodelikste kankersoorte bekend) in SA is tans die hoogste ter wêreld. Maar volgens dr. Bernard Brom is die son die beste bron van vitamien D en dit het
boonop ander gesondheidsvoordele. Selfs al volg jy ’n gesonde dieet, gaan dit nie jou D-vlakke baie laat styg nie. Kos wat daarmee verryk is, gaan ook nie die ding doen nie. Hy weet dit uit persoonlike ervaring, sê hy.

Bykomende bronne:
Health and Happiness deur dr. Arien van der Merwe (HSM Publishers, 2013)
Besoek www.healthstresswellness.com; www.dailymail.co.uk; ScienceDaily; British Medical Journal

Kontak
Mariza van Zyl: www.bettereat.net
Dr. Bernard Brom: www.creatinghealth.co.za