Dieet

Dieetblog: Wat is banting?

Binne die volgende weke gaan ek vir julle ’n paar stories vertel. Nee, nie stories oor hoe goed my pasiënte gewig verloor op banting óf laekoolhidraat-hoëvet- óf laevet- of lae-GI-diëte nie. Nee, stories oor kos, dieet, vetword of maerword én gesondwees, maar aan die hand van die huidige tendense.

Hoekom? Want ek glo mense onthou ‘n storie veel beter.

Lank lank gelede was daar ’n vet man – William Banting. Hy was ’n welvarende begrafnisondernemer (die familiesaak het verskeie beroemdes en koninklikes in Brittanje begrawe). Hy was kort en ongemaklik en het in sy middeldertigs met sy gewig begin sukkel. Hy was blykbaar die enigste lid van sy familie met dié probleem.

Op aanbeveling van sy dokter, ene dr. William Harvey, het William Banting begin om sy dieet te verander. Dr. Harvey het William gesien as ’n geleentheid om as’t ware ’n “eksperiment” te doen en het bladsye vol notas geneem terwyl William sy pasïent was. Dr. Harvey het pas teruggekeer van ’n kongres oor dieet en diabetes in Parys, waar hy die beroemde wetenskaplike Claude Bernard hoor praat het. Willam was nie iemand wat soos ’n voëltjie geëet het nie. Hy het baie geëet en ryk geëet. Room, botter, brood, vleis, poedings, bier, tee met baie suiker in. En hy het min geoefen. Ná sy konsultasie met dr. Harvey moes hy heelwat afskaal: net 4 etes per dag en sy voedselkeuses is beperk tot vleis, groen groente, vrugte, droë wyn en ‘n klein porsie brood. Hy het suiker, bier, melk en botter vermy, asook aartappels, wortels, preie en beet. Varkvleis en kalfsvleis (veal) was ook nie op die spyskaart nie en ook nie vetterige vis soos salm of makriel nie. 3 glase rooiwyn saans was deel van sy dieet, asook ’n skeutjie whiskey indien hy so sou voel voor bedtyd.

Hy was so beïndruk met sy wonderbaarlike gewigsverlies dat hy sy sukses met ander wou deel. Hy het dit gehaat om oorgewig te wees en die feit dat hy nie probeer het om enige geld te maak uit sy sukses nie, sê nogal dat hy ’n ware filantroop was. In ‘n Ope brief oor vet, wat hy op eie onkoste 150 jaar gelede gepubliseer het, verduidelik hy wat hy gedoen het. Hierdie briefboek is vandag nog in druk.

William Banting het heelwat ander gesondheidskwessies behalwe sy gewigsprobleem gehad: swakker wordende sig, gehoorgebreke, slapeloosheid en ’n breuk, asook verskeie swere en pitsere. Hy is 10 jaar ná die publikasie van sy brief oorlede.

Vertel hierdie storie dat mense wat bant nog net 10 jaar oor het om te lewe? Vir seker nie, maar dit vertel wel vir my ’n paar ander dinge: Eerstens, mense wat nou botter en room in hulle koffie gooi in navolging van prof. Noakes en sy weergawe van banting, is nie waarlik besig om te bant nie. Hulle is besig met ’n “ander” storie. ‘n Laekoolhidraat-hoë-vet- of selfs ‘n ketogeniese dieet. Of miskien is dit Paleo of ’n mengsel? (Meer hieroor by ’n later geleentheid).

Tweedens het dr. Harvey baie mooi hoeveelhede uitgestip vir hoeveel vleis en brood William moes eet, maar geen hoeveelhede is gegee t.o.v. die groente en vrugte nie. Daar is mense, en dalk is jy een van hulle, wat moeg raak vir groente eet. William was seker ook een van hulle, want hy was lief vir “lekker” eet en heel moontlik (soos vir baie mense vandag) was dit veel makliker om die vleis-en-wyn-voorskrifte te volg as die groente. Voorsiening van vars groente en vrugte in ’n stad soos Londen was 150 jaar gelede ook ‘n heel ander kwessie as wat dit vandag is. William het in ‘n stadshuis gebly en al sou ’n klein tuin beskikbaar gewees het vir groente kweek, wonder mens oor die volgehoue beskikbaarheid vir sy groot gesin. Bitter min groenteplante oorleef natuurlik in die koue Europese winters…

Laastens is daar mense wat hulle nie hoef te steur aan genoeg groente en vrugte nie – maar dié wat las het van oorgewig, swak visie, gehoorverlies, swere en pitsere is onwaarskynlik deel van hierdie “gelukkige” groepie wat kan eet wat hulle wil, rook en drink en min slaap en steeds maer en gesond bly. Nege porsies vars groente en vrugte is wat nodig is om genoeg antioksidante en veral die vitamien B-kompleks en folaat in ons dieet te verseker ten einde toestande soos swak visie en gehoor, asook swere en pitsere, te help voorkom. Omega 3 vanaf vetterige vis – waarvan hy nie mag geëet het nie – is natuurlik kardinaal vir gesig en gehoor én vir ‘n  gesonde vel en immuunstelsel. Ek dink spesifiek hier aan die swere en pitsere. Klink vir my of William Banting wel maer geword het – maar vir seker nie “gesonder” nie. Fluit fluit, my storie is uit. Lees nóg van Mariza se blog