FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Gesondheidstories

Dieetkundige Mariza blog: Wie is “hormoon-sensitief”?

Wie is “hormoon-sensitief”?

Bietjie velprobleme? Toemaar, die Pil sal dit uitsorteer. Is jou hormone deurmekaar? Die Pil sal dit uitsorteer. Menopousaal? ’n Plakker, jel of hormoonroompie sal dit uitsorteer.

En wat maak jou lyf met die hormone wat jy so inneem? Waarheen gaan dit? Al ooit daaroor gewonder? Dit word toenemend duideliker dat die groot hoeveelhede “hormone” in ons omgewing glad nie onskadelik is nie. ’n Verhoogde voorkoms van sekere kankers, oorgewig, “man-boobs” by mans, en jong meisies wat op 9 begin ontwikkel – dis maar net ’n paar simptome van abnormale of veranderde hormoonvlakke in ons liggame.

Inherente hormone kan geaffekteer word deur hormone of hormoonagtige stowwe uit ons omgewing. Sekere gifstowwe, spuitstowwe en preserveermiddels (soos parabene wat algemeen gebruik word in kosmetiese produkte), asook medikasie, kan inmeng in die normale prosesse waardeur jou lyf hormone verwerk en uitskei. Hormone wat natuurlik deel is van voedselprodukte soos melk (sien ook blog oor melk) sal in sommige individue ’n sterker uitwerking hê as in ander.

Daar is ook voedsel wat “hormoonagtige” komponente bevat wat ’n meer positiewe effek op die liggaam sal hê of hormoonverwerking sal aanhelp. Soja, keker-ertjies en ander peulgroente, en sade soos vlassaad bevat unieke aktiewe bestandele wat eerder ’n balanserende uitwerking op die liggaam het. Soms word hierdie kosse sommer oor dieselfde kam geskeer as die sintetiese hormoonstowwe en ook gebrandmerk as “sleg”. Maar hulle moet inderwaarheid deel wees van die behandeling van veral estrogeen-dominansie (te veel estrogene in jou lyf).

Die volgende scenario is algemeen: Jy gaan op die Pil – en word vet. Jou vriendin gaan ook op die Pil – en sy tel nie ’n gram op nie. Hoekom nie?

Jy is heel moontlik “hormoon-sensitief” vanweë ’n genetiese predisposisie. As jy boonop geneig is tot hardlywigheid, gaan die kombinasie van die ekstra hormone – hetsy vanaf ’n pil of omgewingsblootstelling – saam met die onvermoë om die verwerkte hormone uit te skei, lei tot opeenhoping. Soos die tyd aanstap word die opeenhoping deel van ’n bose kringloop met meer hormone in jou lyf as wat dit kan hanteer. Opeenhoping van byvoorbeeld estrogeen gaan jou liggaam laat dink jy maak reg om swanger te word en dít kan bydra tot veranderinge in jou vetverspreiding en gewigstoename. Oor die lang termyn gaan dit ook jou risiko vir onder meer borskanker verhoog.

FOTO: Instagram  @hefaultinmyloins

FOTO: Instagram @hefaultinmyloins

Vandag hoef jy nie meer te wonder nie – jy kan toets daarvoor. Dra jy ’n genetiese variasie vir ’n geen met die naam COMPT, is jou vermoë om hormone te verwerk meer traag en dít verhoog jou risiko vir onder meer borskanker as jou blootstelling aan hormone verhoog word soos wanneer jy die Pil gebruik of te veel hormone inkry via omgewings- en voedingsbronne.

Die goeie nuus is dat selfs indien jy hierdie “traagheid” in jou lyf dra, jy wel die hormoon-verwerkingsmasjien se ratte geolie kan hou deur die regte voedingstowwe in te neem. Só help stuit jy die “opeenhoping” en vrywaar jy jouself van die potensiële gevolge van te veel hormone.

Kies gerus hier jou 3 gunsteling-kosse wat “my lyf help om hormone te verwerk” en maak hulle deel van jou weeklikse eetroetine, selfs al weet jy nie of jy die COMPT-geenvariasie dra nie. Jy kan net baat t.o.v. jou hormone én jou algemene gesondheid en gewigsbeheer.

Bronne van ‘eksterne’ hormone uit jou omgewing en voedsel HORMOON-HELPERS uit jou koskas –
Vermeerder jou inname hiervan
Die Pil of hormoonvervangingsterapie Vesel
Cimetidine/Tamoxifen Koolsoort-groentes soos broccoli, kool, Brusselse spruite
Endokriene versteurders soos sekere plastiek (Bishenol A), spuitstowwe, gifstowwe, sekere preserveermiddels soos parabene Vlassaad, rog (bevat ligande)
Flavonoïede, veral vanaf veral sitrusvrugte en druiwe
Isoflavone vanaf sojabone, alfalfa (lusern)
Borrie, D-limoneen (suurlemoenskil), magnesium (neute en sade)
Hormone van diere: veral vleis/hoender/eiers/melk van diere wat nie vrylopend is nie Groentee
Resveratrol, vanaf geparste druiwepit-olie
Roosmaryn (gebruik die krui dikwels in kos of gebruik essensiële roosmarynolie wanneer jy kos gaarmaak)

Besoek www.betereet.co.za en Facebook/bettereat vir resepte en idees hoe om hierdie voedsel deel te maak van jou dieet op lekker maniere.

** VRYWARING – Hierdie blog het ten doel om inligting oor voeding en die menslike liggaam beskikbaar te maak aan die algemene publiek en die doel is nie dat dit gebruik word as individuele terapie of behandeling nie. Vir individualisering, bespreek asb. u unieke geval met ’n mediese dokter of geregistreerde dieetkundige.

Groete tot volgende keer

Mariza

Mariza van Zyl

Mariza van Zyl RD

Kliniese Geregistreerde Dieetkundige

BeterEet Voeding en Voedsel Konsult

www.betereet.co.za