Gesondheidstories

Digitale skerms en jou oë

As jy lang ure voor ‘n rekenaar sit, moet jy jou oë teen die newe-effekte van die digitale skerm beskerm.

Om eenvoudige oogsorggewoontes deel van jou daaglikse roetine te maak is makliker as wat jy dink. Wêreldsigdag op 9 Oktober 2014 val saam met Nasionale Oogbewustheidsmaand (23 September tot 20 Oktober), daarom deel ons dié maand wenke vir goeie oogsorg. Vandag kyk ons na die skadelike effek van digitale skerms op die gesondheid van jou oë.

Mellins i-Style, ’n voorste groep optometriste in Suid-Afrika, het die volgende wenke vir die beskerming van jou oë.

Om lang tye voor digitale skerms te werk kan jou oë irriteer en selfs beskadig. Dit kan lei tot oogspanning, dowwe visie, probleme om op voorwerpe op ‘n afstand te fokus, droë oë (veral met kontaklense), hoofpyn sowel as nek-, rug- en skouerpyn. Die volgende wenke sal help:

  • Maak seker dat jou huidige lensvoorskrif steeds gepas is vir jou oë en goed genoeg is vir rekenaargebruik.
  • Vervang jou kontaklense met ‘n bril wanneer jy voor die rekenaar werk. Dit kan help om oogspanning, wat deur kontras en flikkering van die rekenaarskerm veroorsaak word, te verminder.
  • Stel jou rekenaarskerm sodat die boonste deel van die skerm dieselfde hoogte as jou oë is en dat jy effens af na die skerm kyk.
  • Kies ‘n gemaklike stoel wat ‘n goeie postuur ondersteun. Stel die stoel se hoogte sodat jou voete plat op die vloer is.
  • As jou oë droog is, knip hulle meer of gebruik oogdruppels.
  • Rus jou oë elke 20 minute. Kyk ses tot sewe meter weg vanaf die skerm vir 20 sekondes.
  • Strek jou bene minstens elke twee uur en gaan stap vinnig vir 10 tot 15 minute.

Vir meer wenke en advies oor gesonde visie, besoek www.mellins.co.za