FOTO Neville Lockhart

FOTO Neville Lockhart

Gesondheidstories

‘Ek’s besig om my greep te verloor’ – joernalis se storie

“Ek is nie ek nie. Ek weet dit. Ek het nog nooit so gevoel nie. Ek is besig om my greep op die lewe te verloor …”

Só het die bekroonde joernalis Elsabé Brits vroeër in ’n onderhoud met SARIE haar intense emosies gedeel. Dit was nadat sy met bipolêre gemoedstoornis gediagnoseer is en haar boek, Kyk my in die oë, geskryf het. SARIE.com plaas vandag, op Bipolêre Bewustheidsdag, weer Elsabé se storie, soos vertel aan joernalis Riette Rust.

Ek het haar altyd op ’n afstand bewonder. Dié slim wetenskapjoernalis wat met gemak skryf oor paleontologie, argeologie, genetika, astronomie … Min het ek besef Elsabé Brits leef al meer as ’n dekade saam met bipolêre gemoedstoornis. Sy beskryf dit as ’n genetiese siekte van die brein “wat erge skommelinge in jou gemoed” veroorsaak.

“Die Elsabé van 2001 is in alle opsigte onkant betrap,” vertel sy in ’n Kaapse koffiewinkel. “Ek het geglo ek kan nie die siekte hanteer nie. Ek wou nie só lewe nie.”

Maar uit die “donker, gladde gat” het sy algaande opgestaan en ’n boek, Kyk my in die oë (Tafelberg, 2011), geskryf. Om weer die seer te beleef, die intensiteit van die siekte en die woede teenoor ander wat nie kon verstaan nie, was net te erg, vertel sy. Dié dat die skrywery twee jaar geneem het. Sy moes tussenin ander dinge doen.

“Dit was maar ’n baie rou plek om na terug te gaan. Soms was dit asof ’n vragskip op my bors kom lê.”

Sy moes weer gaan kyk na: Wat is die siekte? Wie is ek? Waarheen is ek op pad? Wanneer ander haar boek lees, sal hulle kan sê: Dis my storie ook. Of: My suster is ook so. En hulle sal beslis dink: As sy daar kon deurkom, kan ons ook. “Ek wil ander hoop gee, maar ook help om iets van die stigma rondom die siekte af te breek. Want dis erg wanneer mense woorde gebruik soos ‘gek’, ‘malhuis’,” sê sy.

Sy leef daagliks saam met bipolariteit. Maar sy sien uit na die toekoms. En nou praat die spesialiswetenskapjoernalis: “Oor so 15, 20 jaar sal ’n genetiese toets (deur bv. speeksel of vel of bloed te toets) kan bewys dat ’n mens die siekte oorgeërf het en dat jy daarom nie ‘skuld’ daaraan het nie.” Sy kan nie wag nie, want hopelik sal mense dan ophou veroordeel …

Moord ná moord. Dit is my lewe as misdaadverslaggewer. Maar jy gaan kantoor toe, drink koffie, skraap jou menswees byeen en skryf die storie. Ek is op die Kaapse Vlakte.’n Vrou met rooigehuilde oë vertel haar man en sy vriend is gisteraand dood. Beroof en ‘soos honde van die trein geskop’.

Terwyl die vrou vertel, skuur iets teen my hand. Warm en nat. Dis die betraande wang van haar dogtertjie, so drie jaar oud. Die kind se trane teen my hand! En ek kan niks daaraan doen nie! Dis drie-uur die middag, ek moet nog die storie skryf. Maar ek kan nie. My gedagtes woel weg,’n bewing trek deur my lyf. Wat gaan aan? Uiteindelik dring dit tot my deur: Ek is nie meer ek nie. Ek wéét dit. Ek het nog nooit so gevoel nie. My brein, siel, wese, verstand, noem dit wat jy wil, het ontplof. Nee, ingeplof. Ek is besig om die greep op lewe te verloor.

’n Greep wat ek die afgelope maande voel weggly het en het daarom vir Sally,’n sielkundige, gaan sien. Nou kan ek nie my kop stilkry nie en bel my vriendin en kollega, Liesel: ‘Jy moet kom help, ek is mal.’ En ek moet in ’n hospitaal se psigiatriese eenheid opgeneem word. Ek pak skottels,’n teddiebeer uit my kinderjare en my matriekafskeidrok van elf jaar gelede in. Liesel keer my. Dis ’n volskaalse maniese episode, maar ek besef dit nie.

Dis moeilik om te beskryf. Ek is geïrriteerd, angstig en oorgestimuleer. Ek praat vinnig en aanhoudend. My gedagtes maal. Die Amerikaanse psigiater Kay Redfield Jamison praat van an unquiet mind. Die emosionele pyn laat my voel of ek permanent voor die graf staan van iemand wat pas dood is. Die episodes duur van enkele dae tot weke. En daar is nie ’n pil wat kan help nie. Die psigiater dink eers dis major depressie. Vir Sally sê ek: ‘Dit voel asof ’n bose kant van my uitgekom het, asof daar ’n monster in my is.’

Uiteindelik kry die monster ’n naam: Bipolêre gemoedstoornis. Ek dink terug: Ja, daar was tye dat ek so rusteloos was. Eenkeer het ek vir ses dae lank niks geëet nie, tot ek wou flou word. Ook nie geslaap nie, maar baie kreatiewe energie gehad (’n euforiese fase), selfs beeldhouwerk gedoen. Dan was die depressie weer daar, soms vir maande.

Op my 21ste verjaardag was ek, 1,67 m lank, so maer dat ek minder as 50 kg geweeg het. Daar was ook onbesonne, impulsiewe insidente, soos die keer toe ek op ’n partytjie so woedend geraak het vir ’n vrou dat ek haar geskop het. Ek het gedink ek is bloot anders,’n vreemderige soort mens. Toe breek die wal. In die hospitaal reageer ek nie op behandeling nie en maniese episodes móét gestop word.

Hulle is neurotoksies, want dit tas die brein fisiek aan. Hoe langer jy siek bly, hoe moeiliker raak behandeling.

Die psigiater beveel elektrokonvulsiewe terapie (EKT) aan om die chemiese wanbalans in my brein te herstel. Ek dink aan die skrikwekkende skoktoneel in die fliek One Flew Over the Cuckoo’s Nest. Die pasiënt in die dwangbaadjie … Gelukkig werk dit nie so nie. Ek kry ligte narkose,’n mondskerm wat my tande en tong beskerm en ’n spierverslapper vir moontlike sametrekkings weens die skok wat van 30 sekondes tot ’n minuut kan duur.

Dis asof jou brein soos ’n rekenaar af- en weer aangeskakel word. Buiten vir ’n seer kop, is my korttermyngeheue tydelik aangetas. Ek weet nie daarvan dat ek gesê het ek wil eerder dood wees nie. Ek vergeet totaal dat ek wél die sonsverduistering gesien het. Sal ek ooit weer kan werk? Ek kry elke tweede dag EKT, ses sessies. Ver, soos vanuit digte mis, trek die monster uit my gestel. Wat gaan die mense by die werk dink? O, daar is Elsabé, sy het mos ’n breakdown gehad. Hoe verduidelik ek dat dit veel, veel meer was?

My fisieke liggaam en ek, Elsabé, voel ver verwyderd van mekaar. Die manie maak my soms psigoties. Op ’n keer gesels ek met ’n Engelse ridder. Ek voel dat ons letterlik swaarde kruis. Ek gryp ’n ou hokkiestok om terug te veg en skel hom uit. Ek besef dis onwerklik, maar ek kan myself nie keer nie.

Ek bel my destydse baas uit die hospitaal. Hy is kil en kortaf. Die boodskap is duidelik: Laat alles net asseblief voortgaan soos normaal. Maar dit kan nie!

Ek hoor dat ek nie meer misdaad sal hanteer nie – ek sal ’n gewone verslaggewer wees – en ek verloor my selfoontoelaag. Dié oproep knak my. My lewe moet van voor begin …

Op 5 Desember 2001, sesuur die oggend, bel my baas my tuis. ‘Marike de Klerk het toe nie selfmoord gepleeg nie, sy is vermoor,’sê hy. Dis my kans om weer my merk te maak. Ek werk sommige dae tot 16 uur, maar knak amper toe ek ’n vrou se kat omry. Nóg ’n dood! Wat is dit wat ek voel? Mag ek so voel? Moet ek elke emosie onderdruk?
Intussen raak my mediese fonds uitgeput. (Gelukkig het die wet intussen verander, chroniese medisyne word betaal.)

Voor die Paasnaweek beleef ek weer ’n maniese episode. My psigiater is weg vir die naweek, my geld is op en ek moet Valkenberg (Kaapstad) toe. Maar by dié staatshospitaal vir psigiatriese siektes weet niemand van my nie. Ek bly vir die naweek by Liesel. Speel met haar hond tot sy tong op die grond sleep. Ek draf om en om haar huis. Kyk dieselfde stukke van ’n DVD oor en oor. Wil dieselfde grap oor en oor hoor. Ek word al sieker. Weens te min geld word ek ’n buitepasiënt van ’n Kaapse hospitaal. Soggens vyfuur meld ek aan vir EKT – saam met die nag se oorskot dronkes met mes- en steekwonde. Wie sal na my omsien? Jy word wakker gemaak, jy is vaal en verward en moet huis toe. Ek kry weer ses skokke – in die bestek van nege maande dus 18.

Op 2 Mei 2002 stap ek by die werk in. Alles wat op my lessenaar was, is opgepak. Die verskuilde boodskap is: Gaan pak jouself tog net iewers anders uit. Dis die vreeslikste gevoel wat ek nog beleef het. Maar ek besluit: Ek is die ultimate survivor. In Augustus (2002) volg die Marike de Klerk-hofsaak. Ek werk hard daaraan. Intussen hanteer ek die stigma.’n Skieter wat aan een of ander psigiatriese siekte ly, het iewers ’n hele paar mense afgemaai, hoor ek.

‘Is dit die siekte wat jy het, Elsabé?’ vra ’n senior. ‘Kan mense soos julle sommer uithaak en mense doodskiet?’ Nee, ek is nie ’n moordenaar nie. Maar waar begin ’n mens verduidelik? Die bekende ‘Serenity Prayer’ gee my perspektief: God, grant me the serenity To accept the things I cannot change; Courage to change the things I can; And wisdom to know the difference.

Een van my artikels oor Marike de Klerk se dood is ’n finalis-inskrywing vir die Mondi/Shanduka-toekenning! Ek kan steeds skryf! Ek is nog hier! Ironies dat haar wrede dood my die kans gegee het om weer op my voete te kom.

In 2003 ontmoet ek my lewensmaat. Carol is uit wyse, ou hout gesny. En sy verstaan. Ek kan die monster vir ’n rukkie aan haar oorhandig as ek moet. Maar belangriker: Ons is baie lief vir mekaar. (Ons is verlede jaar getroud.)

Intussen werk ek aan my ideaal om ’n pos as spesialis-wetenskapjoernalis te skep. Algaande kry ek dit reg en wen uiteindelik ’n Mondi vir ’n wetenskap-artikel. Ek het steeds soms gemoedskommelinge. Maar ek sien die hipomanie (kleiner maniese episodes) aankom. Dan ‘sentreer’ ek myself, raak rustig en probeer stres en te min slaap vermy. Drink ’n ekstra gemoedstabiliseerder. Kry hulp as dit moet.

Die stigma ontstel my steeds. Soos toe ek in die hospitaal beland met ’n bloeiende neus, weens ’n gebreekte beentjie. Die verpleegpersoneel wou dadelik weet wat ek aan myself gedoen het toe hulle hoor ek is bipolêr. Hulle wou eenvoudig nie glo ek kan ook ’n doodgewone mediese probleem hê nie!

Die Elsabé van vandag verskil hemelsbreed van die ou een. Ek wil goed lewe, lees, reis. Elke oomblik geniet en waardeer. Ek het nou veel meer empatie. Ek sal nooit ’n hawelose wat met homself loop en praat veroordeel nie. Want dalk is hy ’n ongediagnoseerde skisofreen.

Ek het tien jaar gelede al besef ek moet elke dag, vir die res van my lewe, voorskrifmedikasie drink. Dis nie onderhandelbaar nie. Dit word ’n ritueel, soggens en saans. Uitstekende medikasie,’n briljante sielkundige en ’n bekwame psigiater is die kern-beleggings in die beheer van my gemoed.

Die monster is nie meer alles nie. Sy gaan saam, ja. Maar sy bepaal nie meer waarheen ek gaan nie. My lewensdoel is om (as pasiënt) uit psigiatriese sale te bly. My laaste hipomaniese episode was in 2004. Ek weet dat die lewe wéér swaar sal wees. Maar ek sal kan drink uit die bron van water diep binne my. Ek was al in bitter diep, donker gate en het uitgekom. Ek kan dit weer doen.

OM TE WEET

• Sowat 3 – 5% van die bevolking, ewe veel mans as vroue, ly aan bipolêre gemoedstoornis.
• Die siekte begin gewoonlik in die vroeë volwasse stadium. Daar is geen genesing nie, maar dit kan goed met medikasie soos gemoedstabiliseerders, antidepressante en antipsigotiese middels – aangevul met psigiatriese en sielkundige hulp – beheer word.
• Medici het mettertyd ontdek daar is verskeie (7 tot 8) variante.
• ’n Gesonde, geroetineerde leefstyl wat oefening insluit, is noodsaaklik. Omega 3- en foliensuuraanvullings help beskerm die brein teen depressie. Alkohol maak die maniese fase veel erger. Vermy dit.

Besoek gerus die webwerf van die Suid-Afrikaanse Depressieen- angsgroep (SADAG) by www.sadag.org of skakel hul tolvrye hulplyn by 08 0070 8090.
Besoek ook www.bipolar.co.za

BRONNE: Prof. Piet Oosthuizen, Tygerberg-Hospitaal, en die Johannesburg Bipolêre Vereniging

HULP NOU VIR JOU

SADAG (SA Depressie-en-angsgroep) se inbelsentrum bied krisisintervensie, berading en ondersteuning. Skakel 0800 70 80 90 of gaan na www.sadag.org

Is jy op Twitter? Praat vanaand tussen 18:00 en 19:00 saam met beraders. Gaan na www.tweetchat.com, gebruik hutsmerk #bipolarchat en twiet saam.
Vir meer inligting, bel Sam by 011 234 4837.

Op Facebook: Klik op “Message” op SADAG se Facebook om met hulle te gesels op Vrydag 27 Mei 2016. Daar sal twee geleenthede wees om kenners oor die toestand uit te vra. Om 13:00 is dr. Duncan Rodseth van die Donald Gordon Mediese Sentrum aan die beurt. En om 19:00 dr. Mike West van die Akeso-kliniek in Milnerton.