Fibromialgie: Die pynlike waarheid - deel 1
Dit het ’n lastige naam en slegte reputasie. Meestal vroue ly daaraan – onverklaarbare pyne, styfheid en moegheid. Jare lank moes ons hoor dis depressie of stres. Nie meer nie.
"Ek lewe in ’n borrel. My dogtertjie se graad 4-huiswerk is vir my te moeilik. My hande voel asof hulle wil afskeur van die pyn. Ek is vol bloukolle en skrape soos ek val en in mure, deure en meubels vasloop. Ek verdwaal in ons klein dorpie en vergeet waar ek my motor geparkeer het. Ek is so moeg. Só moeg.”
Annie Bartie (48) van Somerset-Wes was in 1995/1996 ’n finalis in SARIE se Sakevrou van die Jaar-wedstryd. Sy was ’n adrenalienverslaafde en haar werk was haar kos. Totdat die onverklaarbare simptome twee en ’n half jaar gelede begin het – dokters kon dit maar net nie vasvat nie.
Ná talle doktersbesoeke en toetse het dit wel ’n naam gekry: Fibromialgiesindroom (FMS). Daar is baie mense met soortgelyke simptome, sê kenners. Nie altyd in dieselfde graad nie – Annie se simptome is ekstreem.
FMS kom egter by 3% tot 5% van mense voor, meestal vroue. Jou lyf pyn oraloor. Jou spiere voel of dit oorwerk of verrek is. Dis gevoelig as daar aan spesifieke teer punte op jou lyf geraak word: rondom jou nek, skouers, rug, elmboë en knie- en heup-gewrigte (die illustrasie dui dit aan). Jy is dodelik moeg, selfs wanneer jy soggens opstaan. Jy slaap sleg. Dalk is jy ook depressief. En jou kop: Dit voel of daar ’n pingpong-balletjie in jou brein los is terwyl jy stoei om die regte woorde raak te vat. Jy het probleme met jou geheue en konsentrasie. Dit het ’n naam: FMS-mis (fog).
Dis alles vae simptome wat jy nie regtig kan verduidelik nie. Die toestand word boonop gereeld misverstaan en verkeerd gediagnoseer, hoewel algemene praktisyns deesdae meer bedag daarop is. In Amerika is dit ’n nuwe gonswoord nadat die Food and Drug Administration (FDA) drie middels spesifiek daarvoor goedgekeur het. Twee van hulle is in Suid-Afrika beskikbaar, maar is nog nie by die Medisyne Beheerraad spesifiek vir behandeling van FMS geregistreer nie. FMS is die mees algemene artritis-verwante siekte naas osteoartritis. Die naam is ’n samestelling van Griekse en Latynse woorde vir vesel, spier en pyn. Dit ry dikwels op die rug van toestande soos osteoen rumatoïede artritis, lupus, Crohn-siekte en ander outo-immuunsiektes. Dit kan selfs ’n vroeë voorspeller van ’n outoimmuunsiekte wees, volgens die joernaal van die Israelse mediese vereniging. (Lees meer)
Nog simptome
* Maagpyn
* Angs en depressie
* Chroniese hoofpyn
* Hipersensitiwiteit vir koue/hitte
* Inkontinensie
* Spastiese kolon
* Pynlike menstruele krampe
DIE OORSAKE
Navorsing met nuwegenerasiebreinskanderings wys FMS-lyers verwerk pyn anders as ander mense en is meer sensitief daarvoor, sê prof. Helgard Meyer van die departement huisartskunde by die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Pretoria. Vroue is tien keer meer geneig om daaraan te ly as mans.
Volgens www.webmd.com wys studies vroue het sowat sewe keer minder serotonien,’n breinoordragstof, as mans. Lae vlakke daarvan kan dalk jou pyndrumpel verlaag. Nog teorieë oor oorsake:
- Hormonale wanbalanse soos tydens die menopous
- Trauma aan jou sentrale senuweestelsel, soos ná ’n ongeluk, besering, siekte of emosionele stres.
- Moontlik oorerflikheid
Daar is egter maar skrale bewyse vir dié teorieë. FMS is waarskynlik ’n kombinasie van fisieke oorsake en emosionele faktore wat tot die ontwikkeling daarvan bydra, volgens www.fibromyalgiasymptoms.org.
Die volgende faktore vererger simptome,volgens ’n aanlyn-studie waaraan 2 596 fibromialgielyers deelgeneem het: Emosionele probleme (83%), weerveranderinge (80%), slaapprobleme (79%), inspannende aktiwiteite (70%), stres (68%), kommer (60%), reis per motor (57%), familiekonflik (52%), fisieke beserings (50%) en fisieke onaktiwiteit (50%). Ander faktore sluit in infeksies, allergieë, gebrek aan emosionele ondersteuning, perfeksionisme, neweeffekte van medikasie en blootstelling aan chemikalieë. (nog inligting oor die studie)
DIE DIAGNOSE
Daar is nie spesifieke laboratorium-toetse nie. Jou dokter sal jou ondersoek, jou mediese geskiedenis nagaan en na jou simptome luister. X-strale en bloedtoetse word gebruik om ander toestande met soortgelyke simptome uit te skakel.
Lees Deel 2: Alles oor die behandeling, die verband met stres en meer.
- Illustrasie deur Hanneke Visagie
Verwante artikels
-
Eindelik verlig terapie my pyn
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 1
Ek is 66 jaar oud. Ek is in Junie 2002 met ’n baie aggressiewe borskanker gediagnoseer. Die prognose was 7% kans om 5 jaar te oorleef. Maar my positiwiteit het tot die onkoloog verbaas. Dit was nie maklik nie, maar dit het goed gegaan met die chemoterapie.
-
Fibromialgie: Die pynlike waarheid - deel 2
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 7
Dit het ’n lastige naam en slegte reputasie. Meestal vroue ly daaraan – onverklaarbare pyne, styfheid en moegheid. Jare lank moes ons hoor dis depressie of stres. Nie meer nie.
-
Fibromialgie: Pas jou dieet só aan
SARIE - Junie 2010
Navorsing oor kos en FMS is beperk, maar dit kan nie skade doen om die volgende wenke te probeer nie.
-
Ook ’n ‘hapy chappy’, maar ...
SARIE Julie 2010
Ek reageer op jul brief (“Die diagnose” – Annette Voigt, Klein-Brakrivier, Julie 2010). Ek het presies alles beleef soos wat Annette verduidelik het. Ek was vir weke in die hospitaal oor pyne wat eenvoudig net nie bedaar nie, en by soveel dokters.














Kommentaar
Jorislie Dunn het gesê:
Ek het onlangs na `n menigte doktersbesoeke(almal met dieselfde uitkoms) self ondersoek ingestel. My ma het genoem dat ek dieselfde simptome het as sy wat artritis het.. Nadat ek heelwat opgelees en gesoek het, het ek tot die gevolg gekom dat ek al die simptome van Fibromalgia het. Ek staan elke oggend op met pyn iewers(meestal in vanaf my lae rug ondertoe). Deur die hele dag is daar pyn en ek slaap vreeslik sleg snags en staan moeg en moeilik op. Ek was al vele kere by die dr en dan skryf hulle dit toe aan depressie en ook die feit dat ek `n nuwe mamma is en seker maar net oormoeg is. So antidepresante word voorgeskryf. Volgens wat ek gelees het is dit dan ook een van die goed wat hulle vir mense gee wat aan Fibromalgia ly. Die vreemdste is. ONs het onlangs bloed toetse gedoen en nerens wys dit positief dat ek dit het nie, maar ek het al die simptome. Ek het bietjie met iemand anders gesels en die het dieselfde storie om te vertel. Sy dr maar haarself reg deur haar leefwyse en ook deur nie te veel te stres nie. Ek was onlangs in `n motor ongeluk en het van daar af ook `n permanente knop in my skouer en `n spier vandaar af tot in my nek bo wat stok styf staan heeldag en nag en verskrilike hoofpyne. As iemand bietjie raad het sal ek dit baie waardeer. Ek is nog jonk en wil graag die lewe saam met my man en 1jarige seuntjie kan geniet.
1ste Feb. 2012, 20:55Cathy Scholtz het gesê:
Jaar in en jaar uit, pyn en nogmaals pyn. Het net nooit n naam gehad vir my pyne. Dr het gesê dit is fibrositis, meestal aan die regter kant van my rug en nek, wat later oorgaan in migraine. Ek het elke dag van my lewe pyn! Ek het baie trauma beleef, en het definitief gevind dat pyne baie erger is na erge gebeurtenisse. Na my dogter oorlede is het die pyne nog erger geword. Ek het al baie medikasie gebruik,fisio, drs ens ens. Hier waar ek sit voel dit of ek van my nek tot by my voete in een groot knoop is. Soggens wanneer ek uit die bed klim is dit bitter seer, veral my lae rug en bene. Slaap sleg, en is deur die dag baie moeg. Dit is so moeilik om elke dag positief te bly en soms verstaan jou huismense nie, en dink miskien jy kla te veel, maar ai, dit is erg. Wens daar is n wonderkuur!!!
17de Mar. 2011, 09:20Maristha Schellink het gesê:
Het onlangs n ineteressante brokkie op die Net raakgeloop wat n lig laat opgaan het - n mening dat fibromyalgia eintlik n tipe arthitis is - rumatiek van die spiere en sagte weefsels. Ek het nog opgelees en n paar alternative medisyne probeer. Ek het regte verligting gevind in olive leaf extract and cat`s claw. Spierpyne baie minder, spysvertering is normaal, ek voel of ek weer krag het en lus vir die lewe! Probeer self, jy kan dalk net jou lewe terug wen!
24ste Feb. 2011, 08:39Maristha Schellink het gesê:
Baie dankie vir die artikel oor Fibromyalgia, ek het al vir 4 jaar die simptome, maar my GP is nie oortuig nie, hy het gese dit is maar in my kop. So ek het op die internet gesoek en gelees. Die pyn is vir my die swaarste kruis – ek kan nie lank stil sit nie voor die pyn te erg raak. In my geval is Fibromyalgia getrigger deur aanhoudende stress en aanhoudende slaapversteurings (ek raak aan die slaap maar word kort-kort wakker). Dit is n eensame ervaring – hoe kan mense verstaan as jy grumpy en ge-irriteer voel omdat jy 24 uur van die dag in pyn is? n Mens leer maar met tyd wat die beperkinge is van jou liggaam en pas daarby aan. Ek probeer om die simptome hok te slaam met n holistiese benadering en natuurlike middels i.p.v. anti-depressante (ek het dit probeer maar opgehou a.g.v. die newe-effekte) of pyn medikasie. Hierdie tips werk vir my. Mede lyers kan dit gerus probeer: Mens moet probeer om nie net genoeg slaap nie, maar n diep slaap is nodig. Probeer Thetamax - dit is sover die enigste slaapmiddel wat my help om diep te slaap sonder om my soos n zombie te laat voel. Dit is n kruiemiddel wat ontwikkel is vir meditasie. n Magnesium + Kalsium aanvulling, bv CalMag help regtig baie vir spierpyn en IBS krampe. Fisio of massering kan dalk te seer wees, vir my werk acupuncture beter. Leer n meditasie tegniek en oefen daagliks. Manage your stress triggers. Hydro-terapie of swem is excellent terapie/sport sonder om n mens se spiere te ooreis. Sterkte en moed hou!
3de Nov. 2010, 11:20Birtha de Witt het gesê:
Nadat ek n paar jaar gelede n artikel oor Fibromialgie gelees het, het ek besef wat my makeer. Ek is toe dokter toe en dit is bevestig. FIBROMIALGIE.Ek het altyd hierdie onverklaarbare pyn in my spiere en gewrigte ,moegheid, kragteloos en loop baie swaar.. Ag ek kan nie alles eerns opnoem hoe ek voel nie. Soggens le ek in die bed en dink wat ek alles op hierdie dag gaan vermag. Maar helaas wanner ek eers op is is dit so goed soos n koek wat platval. Ek het nie die krag daarvoor nie. Is behandel vir depresie met medikasie wat my absoluut van my lewe beroof het. Het elektroniese breinskokke gehad. So maklik vir dokters om te se dit is in jou verbeelding.Is beroof van die vooruitsig om n goeie beroep te beoefen. Wens ek kon net een pynlose dag ervaar. op 59jaar is ek oud en seer. Omdat ek altyd pyn het het ek al baie van my vriende verloor. Mense raak baie gou moeg vir iemand wat nie normaal fuksioneer nie.
14de Sep. 2010, 10:37