Fibromialgie: Die pynlike waarheid - deel 2
Dit het ’n lastige naam en slegte reputasie. Meestal vroue ly daaraan – onverklaarbare pyne, styfheid en moegheid. Jare lank moes ons hoor dis depressie of stres. Nie meer nie.
Terug na Deel 1: alles oor die oorsake, simptome en diagnose
DIE BEHANDELING
Daar is geen kuur nie, en nie een behandeling wat ál die simptome aanspreek nie. Prof. Helmuth Reuter, ’n rumatoloog van Stellenbosch, gebruik ’n kombinasie van middels: Medikasie om jou beter te laat slaap, ’n soort antidepressant wat nie net jou gemoed lig nie, maar ook die pyn verminder en jou konsentrasie verbeter, en dalk ’n anti-epilepsie-middel wat vir die pyn help. Enige onderliggende siekte, soos lupus of osteoartritis, moet ook so goed moontlik beheer word, sê hy.
Navorsing wys jou simptome kan baie verbeter met sekere holistiese behandelings, hoewel die simptome meestal nie heeltemal verdwyn nie, sê prof. Meyer.
WERK AAN JOU LEEFWYSE
OEFEN GEREELD
Baie mense met FMS word onfiks omdat hulle te seer, moeg en styf is om te oefen. Volgens prof. Helgard Meyer van die UP lê internasionale riglyne baie klem op gereelde lae-impak aërobiese oefeninge (soos stap), strek- en geleidelike spierversterkingsoefeninge.
Visualisasie, meditasie, self-hipnose, asemhalingstegnieke en progressiewe spierontspanning – daar is vele ontspanningstegnieke wat stres, angs en pyn kan verlig. Jou liggaam kry dan jou “toestemming” om van die “veg-of-vlug”-respons na ’n kalm en ontspanne bui oor te skakel.
Gaan slaap elke aand op dieselfde tyd. Neem vooraf ’n warm bad. Maak seker jou kamer is donker, stil en koel. Prof. Meyer waarsku jy moet veral oppas vir kafeïen en alkohol laataand. Dit kan jou slaapritme versteur.
Prof. Meyer sê ook verskeie fisioterapeutiese tegnieke kan help. Die waarde van hidroterapie (die gebruik van water om pyn te verminder) is byvoorbeeld wetenskaplik bewys. Sommige lyers kan baat vind by akupunktuur en manipulasie deur chiropraktisyns. Kognitiewe gedragsterapie om negatiewe (en katastrofiese) denkpatrone te verander is waardevol, wys navorsing. Dit help jou ook om stres beter te hanteer, én as jy ’n perfeksionis is wat te hoë eise aan jouself stel, sê hy. Besoek egter net kundige en ervare terapeute. Pasop vir webblaaie wat wonderwerke belowe.
ANNIE BARTIE SE STORIE
“Ek is ’n gekwalifiseerde regsgeleerde, een van die eerste vroue-eienaars van ’n sekuriteitsmaatskappy. Later het ek ’n nis in die mark gesien om die intellektuele eiendom van bekende handelsmerke te beskerm. Dis wat ek wíl doen.
Maar nou kan ek niks meer doen nie. My brein is te deurmekaar. Ek is vasgevang in ’n borrel. Alles is seer, van my hande tot my rug. Daar’s ’n tinteling in my voetsole en vingerpunte. Soms val ek oor my voete, loop ek in goed vas. My hande is dom. Ek kan nie meer bottels oopmaak nie, nie hare vleg nie. My handskrif is verskriklik. Ek kan nie meer sekere dagtake verrig nie, soos motor bestuur. (Ek ry in goed vas.)
Dis skrikwekkend om uit te gaan. Alle geluide is so hard. Die lig is skerp. Al lyk jy gesond, voel dit of jy enige oomblik kan sterf van pyn.
Soggens is ek so styf dat Braam (Jordaan), my man, my moet ophelp. Hy gee my pille en wag dat ek dit drink, anders vergeet ek. Buiten FMS het ek ook Crohn-siekte, ’n outo-immuunsiekte waar segmente van jou spysverteringskanaal laat ontsteek, verdik en vol sere raak.
Sommige dae is die FMS erger. Ek verloor dan beheer oor my liggaamsfunksies. Ek weet nie wat die dag en datum is nie. Ek kan soms opstaan en my kop is helder. Dan sak ’n mistigheid egter toe en ek kan nie eens verstaanbaar praat nie.
En ek het altyd pyn: dag en nag. Van dowwe spierpyn tot verlammende, allesoorheersende pyn. Dis veral vir my kinders moeilik om te aanvaar dat hul ma, wat alles kon doen, nou om hulp moet vra. Ek kon van kleinkoekies bak tot ’n enorme saketransaksie beding, ingewikkelde kontrakte en regswerk hanteer en was pynlik netjies.
My versekeringspolisse betaal nie uit hiervoor nie. Hulle het lang stories dat ek nie siek genoeg is nie. Hulle reken ek kan beter word met ’n paar sessies by ’n sielkundige en ’n bietjie arbeidsterapie. Toe ek die eis indien, het een maatskappy summier my polis gekanselleer. Hulle meen ek het op die aansoekvorm gelieg.
Ek kon nog altyd alles wegwerk: ’n Egskeiding. My tweede man se dood. Stakings. Geldelike onsekerheid. Werk was ’n welkome heenkome.
Verlede Januarie het ek probeer teruggaan werk toe, maar ’n fout gemaak wat die maatskappy byna R1 miljoen gekos het. Nou wil hulle my nie meer daar hê nie. Ek het van ’n intelligente, selfversekerde vrou verander in iemand wat onseker oor die toekoms is. Maar ek het steeds hoop. FMS is ’n siekte waarvoor jy respek moet hê. Dit kan jou lewe steel as jy dit toelaat. Dit kan jou in ’n depressie laat verval wat jou vernietig – weer eens as jy dit sou toelaat. Gelukkig is ek ’n positiewe mens. Ek weier om siek te lyk, maar luister na my liggaam. As ek vrot voel, bly ek in die bed. As ek deurmekaar voel, hou ek my stil. Ek baklei nie meer teen die simptome nie. Ná meer as twee jaar van doktersbesoeke en toetse weet ek uiteindelik wat dit is.
Soms is dit moeilik om te dink dat ek in ’n oogwink van hero tot zero oorgegaan het. Maar ek bly dankbaar. Vir die liefde van my man, my ma, Maja van der Merwe, my skoonma, Dale Jordaan, en my kinders, Nikki (10), Clarissa (28), Mary Ann (25) en Samantha (22). Ek is dankbaar dat ek my kleinseun, Liam (2), ken en met hom kan speel, al sit hy my ore aan. En as ek die dag goed voel, trek ek my hoëhakskoene aan en gaan drink tee in die mall saam met my dogters.
Die verband tussen fibromialgie, stres en depressie
Depressie: Baie studies verbind fms met depressie. een uit elke 10 mense met fms ly ook aan depressie. sommige navorsers glo dis omdat depressie jou breinchemikalieë aantas. ander ondersoek afwykings van die simpatiese senuwees – die deel van jou senuweestelsel wat bepaal hoe jy stres en noodgevalle hanteer. Dit kan lei tot die afskei van stowwe wat jou meer sensitief vir pyn maak, voer hulle aan.
Stres: Daar word gespekuleer stres is ’n belangrike sneller vir fms. baie mense voel angstig, senuweeagtig en paniekerig rondom die tyd wat die fms-simptome opvlam. sommige kenners vind as jy minder stres, verminder jou depressie, angs en moegheid ook.
‘EK HET LEER CHILL’ - Lydia van der Merwe SARIE-gesondheidsredakteur en skrywer van hierdie artikel

“Ek is ’n haastige, ongeduldige perfeksionis. Toe ek agt jaar gelede met FMS gediagnoseer is, het dit vir my so half sin gemaak. My spiere is immers permanent gereed vir aksie – soos ’n wafferse atleet in die wegspringblokke. Dus het ek besluit om te probeer chill. Meer flegmaties te raak. Ek het joga begin doen – al was dit aanvanklik vir my ’n bietjie té rustig. (Waar is die tromme?) En voortvloeiend daaruit het ek geleer om op my asemhaling te konsentreer. Ek het elke dag ’n halfuur lank diepasemhalingoefeninge begin doen. Ná ses maande het ek agtergekom woedende mans in groot 4x4’s probeer my nie meer van die pad af druk nie.
My FMS is onder beheer. Dis lastig, maar beïnvloed nie my lewensgehalte nie. Ja, in die winter ís my lyf soggens soms styf en ek kom sukkel-sukkel uit die bed. My vroegoggend-stappie op die strand help – dis dus ’n móét. Ek weet my simptome is lig.’n Kop-verskuiwing gaan dalk nie vir almal in dieselfde mate help nie. Maar dis beslis ’n wegspringplek.”
- Illustrasie deur Hanneke Visagie
Verwante artikels
-
Eindelik verlig terapie my pyn
SARIE Julie 2010 | Kommentaar: 1
Ek is 66 jaar oud. Ek is in Junie 2002 met ’n baie aggressiewe borskanker gediagnoseer. Die prognose was 7% kans om 5 jaar te oorleef. Maar my positiwiteit het tot die onkoloog verbaas. Dit was nie maklik nie, maar dit het goed gegaan met die chemoterapie.
-
Fibromialgie: Die pynlike waarheid - deel 1
SARIE - Junie 2010 | Kommentaar: 5
Dit het ’n lastige naam en slegte reputasie. Meestal vroue ly daaraan – onverklaarbare pyne, styfheid en moegheid. Jare lank moes ons hoor dis depressie of stres. Nie meer nie.
-
Fibromialgie: Pas jou dieet só aan
SARIE - Junie 2010
Navorsing oor kos en FMS is beperk, maar dit kan nie skade doen om die volgende wenke te probeer nie.
-
Ook ’n ‘hapy chappy’, maar ...
SARIE Julie 2010
Ek reageer op jul brief (“Die diagnose” – Annette Voigt, Klein-Brakrivier, Julie 2010). Ek het presies alles beleef soos wat Annette verduidelik het. Ek was vir weke in die hospitaal oor pyne wat eenvoudig net nie bedaar nie, en by soveel dokters.














Kommentaar
Monica Joubert het gesê:
Baie dankie vir die artikel. Ek is onlangs gediagnoseer met FMS. Al wat my op hierdie staduim bekommer is die feit dat die geheue nie meer so goed is nie. Ek het dit toegeskryf aan ander faktore. Ek wil net graag weet of daar behandeling is vir die sg brain fog? Dit raak beslis erger, veral as jy nie sin- volle gesprekke kan voer nie. Ek raak soms die belaglikste dinge kwyt en kon nie verstaan wat die rede daarvoor is nie.
16de Jun. 2011, 07:54Fanus Buckle het gesê:
Wil net graag hoor of enigeen sukkel met hulle oe wat Fibromialgie het. Die moegheid en pyn kan hanteer word.
14de Mei. 2011, 17:17Cathy Scholtz het gesê:
Ek wonder net of my verskriklike vergeetagtigheid, verband hou met my fibromialgie. Ek het n baie goei langtermyngeheue, maar die afgelope paar jaar sukkel ek met my korttermyngeheue. Ek dink die alewige pyn, en die moegheid wat daarmee gepaard gaan, help die vergeetagtigheid aan. Daar is letterlik nie een area van my liggaam wat nie pyn. Ek het al my dieet aangepas, maar dit het ook nie gehelp. Soms is die pyn effe minder, maar partykeer moet ek gaan vir inspuitings, dan is dit so erg dat ek nie my nek kan draai. My lae rug is die ergste, voel soos n hoppelpad van die spierspasmas. Die situasie sit baie stremming op n huwelik, want jy kan dit eintlik nie hanteer as iemand aan jou raak, dit voel of my vel baie sensitief is. Ek is ook baie prikkelbaar, en dit maak my ongelukkig, want ek is eintlik n blymoedige en vriendelike mens.My kop voel of daar n klomp gewigte aanhang, en het altyd n dowwe pyn wat soms na migraine oorgaan.
17de Mar. 2011, 09:34ANNA AHLLERS het gesê:
eK IS REEDS 15 JAAR GELEDE GEDIAGNOSEER DEUR DR ASHERSON VAN JHB, MAAR HET NIE REGTIG 'GELY' NIE WANT TEN SPYTE VAN ERGE STYFHEID VAN MY LYF, HET EK NIE REGTIG PYN GEHAD NIE. NATUURLIK HET DIE INSPUITINGS WAT EK VAN HOM ONTVANG HET, BAIE GEHELP. SEDERDIEN IS EK NIE MEER OP 'N MEDIESE FONDS NIE EN WOONNOU IN DIE OOS-KAAP WAAR SY BEHANDELING NIE BESKIKBAAR IS NIE NIE. SEDERT AUGUSTUS 2010 HET EK EGTER OORNAG 'OUD' GEWORD. EK KAN NIE MEER INKOPIES DOEN NIE- DN KOS DIT MY 'N DAG OF TWEE IN DIE BED. DIS OOK ONTSETTEND MOEILIK OM TE LOOP EN EK MOET NOU KRUKKE GEBRUIK. DIE ENIGSTE PYNPILLE WAT DAREM HELP, BRAND MY MAAG EN EK IS UITERS DEPRESSIEF. EK KLA EGTER NIE - EK KAN NOG WERK (AL IS EK 67JR OUD) EN VIR MYSELF SORG. 'N MENS SE WêRELD RAAK NET SO KLEIN!!! DANKIE VIR DIE ARTIKELS - DIE VIT.D GEE MY NOU 'N VERSKONING OM 'N BIETJIE SON OP DIE VEL TE KRY!!!
22ste Nov. 2010, 17:00Magda Alberts het gesê:
Ek is nou so 2 maande terug met fibriomialgie gediagnoseer. My dokter het my op behandeling gesit en dit werk soos 'n bom na 15 jaar is ek vir die eerste keer sonder pyn dit is absoluut wonderlik. Ek het party dae gevoel waar voor lewe ek. Die dokter het eers 'n infiltrasie gedoen op al die teer punte en my toe op medikasie gesit Lyrica en Gen gem dit doen absoluut wondere.Ek hoop dit kan dalk van goeie raad wes vir die ander mense wat ook die probleem het. "STERKTE
6de Nov. 2010, 19:57Annemarie Venter het gesê:
Ek is `n 19-jarige student wat ongeveer vier jaar gelede gediagnoseer is met Fibromialgie. Ek moes my netbal op skool los omdat die pyn ondraaglik was. My simptome is maar lig, hoewel dit die afgelope jaar vererger het. Ek dwing myself om normaal aan te gaan en te funksioneer en positief te bly, maar dit kry my wel soms onder. Ek wil ook net my dankbaarheid spreek vir die artikel. Dit het my gehelp om van die nuwe simptome wat ek onlangs begin ervaar het te verstaan. Ek hoop die mense wat nie van Fibromialgie weet of dit verstaan nie `n beter begrip sal kry waardeur ons gaan. Sterkte vir die res, hou moed en staan sterk.
28ste Okt. 2010, 11:26Jean Horak het gesê:
As voetslaner was dit baie moeilik vir my om te aanvaar dat ek Fibromialgie het en baie moeilik stap. Die pyn is soms ondraaglik en ek probeer so min as moonlik toksiese medikasie gebruik.Die oorsake of faktore wat bydrae daartoe is omtrent almal van toepassing en ek besef dat dit maar weer gaan oor verkeerde keuses en 'n verkeerde leefwyse. Ek het 5 maande gelede tot my skok 'n hartomlyning ondergaan en moet baie stap. Dit is sleg want ek kan skaars uit my bed kom en moet stadig die dag bestorm of is dit bekruip. Dankie vir julle artikel. Nou kan ek dit vir die mense wys wat nie verstaan nie. Ek wil egter graag nog stap en wil graag voor die einde van die jaar 'n naweek stap aanpak. Die Here is goed want my gemoed is sterk.
16de Aug. 2010, 10:40Elize Leibbrandt het gesê:
Ek kon nie ophou lees aan alles wat hier staan nie. My klein sus van 57 het ook hierdie siekte en dit het my teen die mure gedryf om te weet ek weet nie regtig wat dit is en waardeur sy gaan nie, Baie baie dankie vir die artikel. Ek glo nou sal ek ook begrip vir haar toestand hê.
6de Aug. 2010, 14:01Erika Diener het gesê:
Baie dankie vir die artikel oor Fibromialgie. Ek is 5 jaar terug gediagnoseer met Fibromialgie en Osteo Artritis. Ek was ook van een dokter na 'n ander, biokenetikus, akupuntuur, fisioterapie,homeopate en selfs hipnose. Niks het gehelp nie, totdat my Ortopeed my na Dr Christo Muller verwys het. Hy het my met FM gediagnoseer. Ek het ook my werk verloor as gevolg hiervan en moes by hulle hoor daar bestaan nie iets soos Fibromialgie nie. Dit is goeie nuus dat die wereld bewus word van die siekte. Selfs Carte Blance het uit program daaroor gehad. Nogmaals dankie.
8ste Jul. 2010, 17:03