save_the_date_542x768
Gesondheidstories

Gedryf deur adrenalien!

Nie net raak ekstreme sportsoorte al hoe gewilder nie, ons jaag … jaag … jaag … deur dolle dae. Want ons is verslaaf aan adrenalien. Goed of sleg?

deur LYDIA VAN DER MERWE
Foto’s Greatstock, Gallo Images/gettyimages.com

Jy weet van Alkoholiste Anoniem. Ooreters Anoniem. En nou: Adrenalienverslaafdes Anoniem. (Regtig!) Dit kan net in ons gejaagde samelewing gebeur: Dat mense aan die bruising van hul eie adrenalien verslaaf kan raak. Jy jaag van die môre tot die aand, en naweke sit jy vasgenael voor die TV – vir aksiebelaaide sport, TV-kanale met sensasionele nuus 24 uur van die dag, naelbyt-realiteitsprogramme en flieks. Anders is jy verveeld. Daarom neem al hoe meer mense deel aan ekstreme sportsoorte. Die aksieman het oorgeneem by die metroman van die jare negentig, verkondig Spice, ’n Britse aksie-avontuurgroep. Spice het opdrag gegee vir ’n navorsingsprojek waarby meer as 1 000 mans betrek is. Die mans het neus opgetrek vir hul voorgangers se gekuier voor die spieël. Hulle fokus eerder op dinge wat hul adrenalienvlakke opjaag – vir fiksheid, plesier en selfvervulling. En dis nie net die jong ouens nie. Sowat 44% van die aksiemans in die studie was tussen 35 en 44 jaar, en 22% tussen 45 en 54 jaar. Nog navorsing het bevind ekstreme sportsoorte (soos valskermspring, skermsweef en rubberbootroei) neem wêreldwyd met sowat 30% per jaar toe – die vinnigste van alle sportsoorte. Die Extreme-sportkanaal saai 7 dae per week in meer as 8 tale en na sowat 50 lande uit.

Die sogenaamde adrenalien-rush is ’n wesenlike deel van ons bestaan. Dit het ons voorvaders toeka gehelp as gevaar dreig. Stel jou voor: Grootjie die grotman word deur ’n sabeltandtier gejaag. Sy liggaam skei adrenalien af, wat hom meer spoed en krag gee. Hy seil onder die dier uit en hys hom ylings in ’n boom op. Die gevaar is verby en sy adrenalienvlakke keer na normaal terug. Maar wat as die sabeltandtier ’n hap uit sy boud ruk? Terwyl Grootjie kreunend in die grot lê, word nog ’n hormoon, kortisol, afgeskei. Dit help met die genesing van die wond deur die immuniteit te onderdruk.
En dis dié hormoon wat jou siek kan maak as jy langdurig onder druk is. En vandag? ’n Akteur se verhoogde adrenalienvlakke dwing hom op die verhoog en verseker sy beste optrede. Die adrenalienvlak van akteurs wat getoets is, was voor elke optrede hoog – net soos op die openingsaand. Eweneens sou ’n atleet nêrens gekom het sonder adrenalien wat hom of haar aanspoor om te wen nie. Jy ervaar die bruis van adrenalien as jy jou bankstaat oopmaak, in die spitsverkeer vassit of met jou man baklei. Die adrenalien-rush van die deursneependelaar wat in die verkeer sit en stoei, verskaf genoeg glukose dat hy/sy ’n kilometer ver sal kan hardloop! Adrenalien gee jou die spoed en selfvertroue wat jy in besige tye nodig het. Dit motiveer en stimuleer jou en help jou om op stres te reageer – met kortisol as die “skadu-maatjie”, immer gereed om “toe te slaan” as die stres te lank aanhou.

Jaag … jaag … jaag
Volgens Charl Stevens van Hartbeesfontein, ’n dokter met ’n belangstelling in psigoneuro-immunologie, is daar ’n sekere persoonlikheidstipe wat maar net nie kan ontspan nie. Jy doen alles vinnig: Eet en praat vinnig en voltooi ander mense se sinne. Jy storm voor toemaaktyd by die supermark in en sukkel daaruit, swaar gelaai met inkopiesakke – net om jou ’n tweede loop te spaar. As jy in die “sneltou” vir 10 items of minder staan, tel jy hoeveel goed daar in die mandjies van die mense voor jou is. En as dit te veel is, wys jy hulle daarop. Ongeduldig, onverdraagsaam, jaag … jaag … jaag …
Jy vrees mislukking en dat jou lewe buite beheer sal tol as jy ’n oomblik afskakel. Werk is alles en jy kan nie sonder stres funksioneer nie. Intussen skei jou liggaam aanmekaar klein hoeveelhede adrenalien (en later ook kortisol) af. Aanhoudende hoë adrenalien-vlakke hou verband met onder meer hooikoors, asma en ekseem. Daar is selfs mense wat beweer hulle raak siek die oomblik dat hulle met vakansie gaan. Charl reken daar is waarskynlik ’n psigiese komponent teenwoordig, omdat jy dan buite jou gemaksone funksioneer. Want fisiologies is daar nie ’n verklaring hiervoor nie. Gebruik jy die liggaam se “noodsisteem” te dikwels, raak jy uitgeput, gespanne en depressief, eerder as gefokus en wakker.

Uitgerekte stres versnel die verouderingsproses en word vereenselwig met onder meer spysverteringsiektes, hoë bloeddruk en cholesterol, asook hartaanvalle en hormoonwanbalanse. As jy op stimulante leef wat die vrystelling van adrenalien stimuleer (soos koffie, sigarette, diëte met hoë suikervlakke en stres), kan dit die balans van die skildklier versteur. Dit vertraag jou metabolisme en jy kan gewig optel. Navorsing aan die Universiteit van Stanford in Kalifornië toon ná twee weke van verhoogde kortisol-vlakke krimp die dendritiese “arms”, wat breinselle met mekaar verbind. Die skade is nie permanent nie: As die stres ophou, groei die “arms” weer. Gewilde beroepe vir die adrenalienverslaafdes is aandelemakelaars, paramedici, waaghalse, polisielede, entrepreneurs en soldate.

En ekstreme sportsoorte?
Wat is dit met die mense wat deur woestyne jaag en teen berge opklouter? vra die mediese webblad www.webmd.com Die geriewe van die moderne lewe noop mense om met hul avontuursoekende kant in aanraking te kom. Ons is nog altyd deur avontuur aangetrek, dink maar aan die ontdekkingsreisigers van vroeër. Daar is vandag nie juis meer nuwe horisonne oor om te ontdek nie. Dus skep mense hul eie uitdagings, sê die webblad. Volgens Charl beoefen mense sulke sportsoorte in hul vrye tyd. Adrenalien word dus momenteel in sarsies afgeskei. Endorfiene (goedvoel-neuro-oordragstowwe) word waarskynlik saam met die adrenalien afgeskei. Dis goed: Daar is ’n gesonde balans in dié mense se lewe. Die sofapatat én die werkolis kan iets by hulle leer. Ons kan nie alle opwinding, verandering en uitdaging uit ons lewe sny nie. Ons moet werk – en soms veg – om doelwitte te bereik wat die moeite werd is. Maar uitdaging en stres moet immer met ontspanning en rus afgewissel word.

Adrenalien –  2 Vroue se ervaring

Verna van Schaik, ’n Johannesburgse grotduiker, wat drie wêreldrekords in Boesmansgat in die Noord-Kaap laat spat het:
“Moenie wat ek doen met adrenalien-verslawing verwar nie. Alles moontlik word gedoen om die risiko’s te verminder. Maar ondanks dié maatreëls is daar geen manier om die afskeiding van adrenalien te vermy nie. Omdat diepduik bekende grense verskuif, is dit onlosmaaklik aan adrenalien gekoppel. As jy iets doen wat jou lyf as lewensgevaarlik beskou, is die adrenalien net nóg ’n aspek wat jy moet hanteer. Maar dis nie iets wat ek geniet nie, dit pla my. Ek kan nie so goed konsentreer nie, daar is skoenlappers op my maag, my hande bewe en ek haal vinniger asem. Dit terwyl ek ontspanne en kalm wil wees … stadige hartklop, stadige asemhaling. Dis moeiliker om my gedagtes te fokus, ek is geïrriteerd en het tyd vir niks behalwe die taak wat voorlê nie. Adrenalien is ’n irritasie, iets wat ek nie kan vermy nie en moet bestuur. Dit doen ek deur
meditasie.”

Lee-Anne Liebenberg, waaghals van Edenvale, Gauteng, met verskeie internasionale flieks agter haar naam:
“Ek is ’n adrenalien-junkie – en trots daarop! Ek kry onttrekkingsimptome as ek nie gereeld my adrenalien-“inspuiting” kry nie. Ek is knorrig en maak die wêreld vir almal om my moeilik. Wat laat my adrenalien pomp? Stunts! Spoed … Vuur … Hoogtes … Om karre te rol is my gunsteling. Dis ’n wonderlike gevoel as ek iets gevaarliks doen. Ek is in ’n ander wêreld, mý wêreld. Dit voel of my hart by my bors wil uitbons, ek voel hoe klop en bruis die are in my nek … Ek haal diep asem om myself te kalmeer en skud my hande een keer. Lek oor my lippe. Dan dink ek slegs aan elke beweging: Hoeveel treë, die tydsberekening, wat ek met my lyf moet doen terwyl ek die waagtoertjie uitvoer. Soms onthou ek nie eintlik ’n harde kennismaking met die grond of ’n ontploffing nie, ek dink ek is te vol adrenalien. Ná ’n stunt is ek ’n halfuur of wat nog hiperaktief. Ek voel fantasties! Dit voel soos ’n droom – asof dit nie ek was wat dit gedoen het nie. En daardie aand slaap ek soos ’n baba.”

Wakker word!
Ons voorvaders het nie wekkers gehad nie. Teen dagbreek stimuleer lig die pineale en pituïtêre kliere in die brein, wat weer die byniere stimuleer om adrenalien af te skei. Jy word wakker, uitgeslaap en verfris. Maar nie as die wekker jou wakker raas terwyl dit nog donker is nie. In plaas daarvan dat jy jou liggaam toelaat om natuurlik wakker te word, het jy ’n stimulant soos koffie of nikotien nodig om te kan funksioneer. Die liggaam word dan met adrenalien oorspoel. Die liggaamschemikalieë skarrel rond om hormone soos insulien en glukagon te produseer en só stygende bloedsuikervlakke te stabiliseer. Maar nie te lank nie, of jou bloedsuikervlak val weer en jy voel doodmoeg.
Bron: New Optimum Nutrition Bible

Verlaag jou stresvlakke
•    Neem minder suiker en ander stimulante in. Hoe afhankliker jy van sulke stimulante is, hoe meer gaan jou bloedsuikervlak fluktueer. En lae bloedsuikervlakke stimuleer die vrystelling van adrenalien. Die byniere dink jy is besig om te sterf en gaan in die “veg-of-vlug-modus’’ in. Intussen is jou bloedsuiker laag omdat die liggaam ná jou suiker-orgie moet oorkompenseer.

•    Die liggaam het vitamiene B en C nodig om die sogenaamde streshormone (die belangrikste is adrenalien en kortisol) te vervaardig. Vermeerder jou inname daarvan as jy onder kwaai druk is. Ook foliensuur, kalsium, magnesium en omega 3-vetsure, soos vis of vlassaadolie.

•    Onlangse navorsing toon koolhidrate en proteïene saam verminder die stimulering van kortisol. Eet dus vrugte saam met neute en bruinrys saam met vis. Neute, sade, bone en lensies bevat proteïene en koolhidrate en is goeie anti-streskos.

•    Gee die liggaam ’n natuurlike hupstoot. Adrenalien en die goedvoelneuro- oordragstowwe dopamien en noradrenalien, word uit die aminosuur tirosien vervaardig. Neem 1 000 mg tirosien op ’n leë maag of saam met koolhidrate.

•    Neem Siberiese ginseng, 200 tot 400 mg per dag van die gestandaardiseerde ekstrak.

•    Oefen, oefen, oefen. Navorsing toon hoe fikser jy is, hoe laer is die vlakke van streshormone.

Bron: New Optimum Nutrition Bible

Te veel of te min?
Het jy ’n oormaat adrenalien? Jy is geïrriteerd, senuweeagtig of angstig, het uitermatige vrese, verhoogde bloeddruk, ’n vinnige of ongereelde hartklop, is slaaploos, het koue hande en voete, sweet oormatig, kners op jou tande, het gereeld hoofpyn, spierspanning, is rusteloos en sien of hoor dinge. En as die volgende jou pas, het jy dalk ’n adrenalientekort: Jy is depressief, konsentreer moeilik, jou aandagspan is kort, jy sukkel om take te voltooi, het ’n gebrek aan dryfkrag, is dikwels moeg, kan nie stres hanteer nie, en onttrek jouself sosiaal.
Bron: New Optimum Nutrition Bible

Bykomende bronne:
New Optimum Nutrition Bible deur Patrick Holford (Piatkus- uitgewers, 2004),
Natural Highs deur Partick Holford en dr. Hyla Cass (Piatkus-uitgewers, 2001), www.webmd.com, www.health24.com
Adrenalienverslaafdes Anoniem: Besoek www.adrenalineaddicts.org