Gesondheidstories

Gesonde Kersfees!

Dis die tyd van son en saffier, van ontspan, eet en geniet! Want jou kop kry dié tyd van die jaar ’n wil van sy eie en besluit: Nou skakel ek af. Jy wil jou sorge vergeet.Heeldag op en wakker voel en skielike energie-insinkings en dringende kosbehoeftes voorkom. Vergeet van dieet, sê Suna Kassier, ’n dieetkundige van Durban. As jy nou gewig probeer verloor, gaan jy waarskynlik net voor al die versoekings swig. En dan gefrustreerd en neerslagtig voel – terwyl almal om jou jolig is.

Maar jy wil ook nie in Januarie oorgewig en futloos wees omdat jy te lekker feesgevier het nie, nè? Besluit liewer om nie gewig op te tel nie deur meer aktief te wees, sê Suna. Amerikaanse navorsing toon juis 51% van jou jaarlikse gewigstoename vind in die feestyd plaas. En onthou: Dis vakansie, jy kan soms net niks doen nie. Die Chinese het ’n gesegde: Alle feeste kom tot ’n einde. Maar dit hoef nie – jy kan nou begin en die hele 2007 sprankel.

Jy wil gesond eet, maar dis feesmaal ná feesmaal – en jy is mos ook maar net mens. Hou só kop:

* Eet iets ligs, soos ’n vrug, slaai, ProVitas en ’n paar neute voor ’n geselligheid. Jy gaan waarskynlik later as gewoonlik eet en kan jou dan aan die kos vergryp.

* As daar ’n buffet is, kies laevet-, hoëveselkos en vermy ryk souse.

* Eet net minder ongesonde kos as dit ’n aansit-ete is.

* Eet stadig. Dit gee jou maag tyd om jou te waarsku jy het genoeg gehad.

* Gesonde idees vir partytjie-happies is groente-stokkies met lae-olie-slaaisous of laevetjogurt-doopsous, volkoringbroodjies met hoender, tuna, salm of maaskaas.

* Jy kan maar nagereg weier. Of eet net minder daarvan, dan voel jy nie afgeskeep nie.

* Eet klein porsies, veral as jy uiteet.

* En op dae dat jy nie partytjie hou nie: Eet lig, byvoorbeeld gestoomde vis en groente, en drink baie water.

* Vleisbraai hoef nie ’n maaltyd van oordaad te wees nie. Braai vis, hoender of varkvleis. Dit bevat minder vet. Gebruik ’n laevet-marinade. Jy kan ook hoender of vis in foelie toedraai en op die kole gaarmaak. Voeg suurlemoensap, asyn, vars kruie en groente soos uie en tamaties by vir ekstra geur. Vervang aartappelslaai met aartappels, patats, mielies of heel uie. Draai dit in foelie toe en stoom op die kole gaar.

* As jy reis, pak peuselkos in – vrugte, droëvrugte of ’n mengsel van sade en neute. Koop biltong wat min vet bevat. (Droëwors het baie vet.) As jy in ’n kitskosrestaurant móét eet, kies ’n volgraanbroodjie (nie gerooster nie), of laevet-jogurt.

Bronne: Susan Lehman, voedingkenner van Pretoria, en Suna Kassier

Net enetjie

Alkohol het baie kalorieë en stimuleer boonop jou eetlus. Dis ook gif vir jou lyf. Beperk dit dus en drink baie mineraalwater. As iemand iets daaroor sê, moenie verskoning maak nie. Sê bloot dis hoe jy daarvan hou. Of drink Appletiser (dit lyk soos wyn). En sodawater met ’n suurlemoenskyfie lyk soos hardehout.

As jy alkohol drink:

* Drink ’n glas water ná elke alkoholiese drankie. Dit voorkom dat jy dehidreer en jy drink ook minder.

* Drink alkoholiese drankies minstens ’n uur uitmekaar. Wissel dit met nie-alkoholiese drankies af.

* Eet iets voor jy alkohol drink. Dit vertraag die opname van alkohol deur jou liggaam.

* Vermy sout, soet en vetterige kos – dit maak jou dorser.

* Meng hardehout soos vodka met baie vars vrugtesap. Of verdun witwyn met sodawater.

* Sterk koffie om jou nugter te maak? Nie so nie. Dit gaan jou brein stimuleer en jou lewendiger laat voel, ja. Maar alkohol word deur die lewer verwerk en koffie gaan nie dié orgaan se werking versnel nie. Daardie kloppende hoofpyn die oggend ná al die joligheid? Jou liggaam het gedehidreer en koffie gaan net die proses aanhelp.

* Alkohol se uitwerking is sterker as jy rook. Rokers se liggame verbrand meer voedingstowwe. Veral vitamiene B6 en C, wat belangrik is om die lewer te ontgif.

* Volgens SA Brouerye bevat een van die topverkoper-biere 465 kilojoules per blikkie (340 ml). Die ligter variant (light) bevat 408 kilojoules vir dieselfde hoeveelheid. Vergelyk dit met die 1 020 kilojoules van droë witwyn per 340 ml.

Bronne: Susan Lehman en Suna Kassier

Ontgif jou liggaam
Swaar maaltye kan die limfstelsel buite aksie stel. Gifstowwe kan dan nie doeltreffend deur die liggaam uitgeskei word nie. Dit hoop op en stel groter eise aan die lewer, niere, spysvertering- en immuunstelsel.

Die volgende drankie spoel gifstowwe uit die lewer en maak die galblaas, niere en ingewande skoon:
45-60 ml suiwer, koudgeperste olyf- of amandel-olie, 90-120 ml vars suurlemoensap, 3-6 knoffelhuisies en gerasperde vars gemmerwortel na smaak. Versap in voedselverwerker tot skuimerig. Drink dadelik. Vermy as jy galstene het of gehad het. Ook as jy swanger is of borsvoed.

Bron: Gesond binne vyf minute deur Jane Alexander (Tafelberg, 2001)

Speel klaar met die olikheid

Vitamien C kan die ergste byt uit jou babelas haal, aldus Patrick Holford in sy New Optimum Nutrition Bible (Piatkus, 2004). Dit versnel die lewermetabolisme. Neem 1 g vóór jy gaan jol, dieselfde hoeveelheid as jy bed toe gaan en weer die volgende oggend.

Die webwerf www.health24.com beveel ’n koppie kruietee aan – gemmer, vinkel, kamille en peperment is die gewildste. Voeg ’n paar fyngedrukte fenegrieksade (fenugreek) en vars pietersielie by.

Volgens die voedingkenner Susan Lehman moet jy daagliks die antioksidante ko-ensiem Q10 en alfa-lipoïensuur drink (beskikbaar by apteke/gesondheidswinkels.) Dit stabiliseer jou bloedsuiker en absorbeer vry radikale. As jou liggaam alkohol verbrand, word baie vry radikale gevorm.

10 woema- wenke

 
As jy ongereeld eet, gaan jy noodwendig moeg, pap en beduiweld voel. Want om jou bloedsuiker konstant te hou móét jy gereeld eet. Mense wat dit doen, is boonop maerder omdat hul metabolisme gestimuleer word.

1. Jy het dit seker al 100 keer gehoor. Hier is nommer 101: Eet ontbyt! As jy die dag met ’n gesonde maaltyd begin, sal dit die hongerpyne lank hokslaan.

2. Eet klein, gereelde maaltye. Kies ’n ligte, voedsame happie en nie ’n hoëkalorie-versnapering nie. Sorg dat daar altyd vrugte, neute en droëveselbeskuitjies byderhand is.

3. As jy weet jou tyd is beperk, pak vooraf peuselhappies en mini-maaltye in.

4. Sluit proteïene in om jou meer versadig te laat voel. Kombineer bv. Ryvita of ProVita met kaas en ’n vrug.

5. Oefen daagliks, al stap jy net flink.

6. Onthou om in die son te kom. Dis salf vir die siel. (Maar onthou jou hoed en sonskerm.)

7. “Stiltetyd” of ’n dutjie smiddae kan wondere doen. Mediteer of slaap 20 minute lank.

8. Probeer om 7 tot 8 uur per nag te slaap.

9. Drink baie vloeistowwe, veral water.

10. Luister na ’n CD met opgeruimde musiek. Navorsing toon musiek kan jou meer energie gee.

Bron:www.webmd.com

Ai, sooibrand . . .

Voorkom olikheid ná die vrolikheid. Oftewel: Voorkom suur en maagsap wat in die slukderm beland. Dit veroorsaak branderigheid en ongemak in die middel van jou borskas.
Suna Kassier sê dis belangrik om nie jou maag te vol te stop nie. Eet klein, gereelde etes, kou kos goed, moenie te veel praat terwyl jy eet nie en sit regop.

Ryk, vetterige kos kan sooibrand veroorsaak of vererger. As jy die versoeking nie kan weerstaan nie, skep kleiner porsies in. Drink minder vloeistowwe saam met etes, dra klere wat nie styf sit nie en vermy inspannende oefening ná ete.

Drink omega-3-vetsure (1 000 mg) vóór ete, sê Susan Lehman. Gal wat afgeskei word, bind aan dié “goeie vette” en word dan deel van die spysverteringsproses. Bron: www.webmd.com

 

Allergies vir Kersfees? Maak seker jy nies en snuif nie die hele vakansie nie. Sorg vir genoeg ventilasie in die vertrek waar die Kersboom, kerse en potpourri is. As die boom in ’n houer met water is, vervang die water gereeld met vars water. Pasop vir kos met “versteekte” bestanddele waarvoor jy dalk allergies is – eiers, melk, soja, koring, vis of skulpvis, neute en peulvrugte. Bron: www.health24.com

 

REIS GESOND
Ekonomiese-klas-sindroom (diepaar-trombose)
Sowat 10% van lugreisigers kan ernstige bloedklonte ontwikkel, meestal sonder enige simptome vooraf. Kenners reken dis weens die beknoptheid in die ekonomiese klas.

* Beweeg gereeld.
* Trek jou beenspiere gereeld saam en ontspan dit terwyl jy sit.
* Drink genoeg water, maar vermy tee, koffie en alkohol.
* Hoërisiko-gevalle: Ouer as 40, reeds hartversaking gehad, spatare, vetsug, rook, swangerskap, toestande wat veroorsaak dat jou bloed vinniger stol, onlangse chirurgie, en vroue wat middels met estrogeen neem, soos die Pil. Raadpleeg jou dokter vooraf.

Vermy kos en water wat jou siek kan maak

* Kry toepaslike immunisasie.
* Vermy ys en kraanwater.
* Drink net gebottelde water of water wat gekook of met chloor behandel is.
* Eet net warm kos wat deeglik gekook is.
* Vermy koue kos soos slaai en slaaisous.
* Skil alle vrugte en rou groente af.
* Moenie kos by straatverkopers koop nie.
* Vermy rou vis en skulpvis.
vBorsel jou tande met gekookte of gebottelde water.

Malaria

* Vermy muskietbyte.
* Vermy buitenshuise aktiwiteite van sononder tot sonopkoms.
* Gebruik in dié tyd muskietafweermiddels met die bestanddeel “deet” op onbedekte dele van die vel. Dra langmouhemde en -broeke.
* Slaap onder ’n muskietnet.
* Hou deure en vensters toe.

Neem voorkomende medisyne
Dis belangrik om dit reg te gebruik. Klop by jou naaste reiskliniek aan vir die jongste gesondheidsinligting oor jou bestemming.

Besoek die dokter . . .
as jy siek word of griepagtige simptome het 6 maande ná jy in ’n malaria-gebied was.

Bilharzia
Dit word deur ’n parasiet veroorsaak en kom dikwels in ontwikkelende lande voor. Swem net in seewater of swembaddens met chloor.

Griep
Jou risiko daarvoor is hoër as jy reis. In die Noordelike halfrond benodig jy ander entstowwe as in die suide.

  • ’n Mediese noodhulptassie is by die SAA Netcare-reisklinieke beskikbaar. Dit bestaan uit medikasie en toerusting wat noodsaaklik is vir reis.
Telefoonnommers:
SAA Netcare-reiskliniek: 011 807 3132, webblad: www.travelclinic.co.za
Susan Lehman: 012 332 0045, webblad: www.cntsa.com

Hallo, son!

Die son-saluut is ’n reeks van 12 jogaposisies wat in een vloeiende beweging gedoen word. Chareen Swartzberg,’n joga-instrukteur van Centurion, sê dis ’n uitstekende manier om soepel te bly en stamina te bou. As jy nie joga-fiks is nie, doen dit stadig.


1. Staan met jou voete bymekaar, handpalms teen mekaar voor die bors. Asem verskeie kere in en uit.

2. Asem in, gooi jou arms agteroor en reik na agter – sover as wat gemaklik voel.

3. Asem uit en buk vooroor. Gryp jou enkels en probeer jou knieë met jou voorkop raak. (Buig jou knieë indien nodig.)

4. Asem in, rek jou regterbeen so ver moontlik na agter en sit jou knie op die grond. Leun agtertoe, ken in die lug.

5. Hou jou asem steeds in en bring jou linkerbeen ook agtertoe. Steun jouself met jou hande en voete en lig jou lyf op.

6. Asem uit en sak grond toe – eers jou knieë, dan jou bors en dan jou voorkop. Jou heupe is steeds in die lug en jou tone na onder gekrul.

7. Asem in, laat sak jou heupe en punt jou tone. Gebruik jou arms om jou bolyf op te lig en buig so ver agteroor as wat gemaklik is. Jy kan jou arms by die elmboë buig.

8. Asem uit, lig jou heupe en laat sak jou hakke en tone op die vloer. Druk jouself op sodat jou lyf ’n V-vorm maak.

9. Asem in, bring jou regterbeen vorentoe en plaas jou voet tussen jou hande. Strek jou linkerbeen agtertoe en kyk op.

10. Asem uit en keer terug na posisie 3.

11. Asem in, gooi jou arms agteroor en rek na agter (posisie 2).

12. Asem uit en keer terug na posisie 1. Herhaal die reeks, en ruil jou linker en regterbeen om in posisie 4 en 9.

* Kyk na illustrasies van dié oefeninge by www.yogasite.com/sunsalute.htm