Gesondheidstories

Gesondheidnuus: Tjips en kanker

Kollig op akrielamied

Wat is dit?
Dis ‘n chemiese stof wat in die vervaardigingsbedryf gebruik word. Dit vorm ook in koolhidraatryke kosse wat gebak, gerooster of gebraai word. Soos aartappelskyfies (crisps), diepgebraaide aartappels/aartappelskyfies (French fries), bros (crispy) brood en koffie. Rokers word daarmee gebombardeer.

Waarom die bohaai?
Dit kan dalk kanker veroorsaak. Navorsers het dit in 2002 toevallig in kos ontdek. Nederlandse navorsing het in 2007 gewys hoe meer akrielamied jy inkry, hoe groter jou kans vir baarmoeder- of eierstok-kanker. ‘n Deense studie het ‘n verband tussen akrielamied en borskanker gevind. (Twee ander studies kon dit egter nie bevestig nie). Die internasionaal aanvaarbare dosis akrielamied is 1 mikrogram/kg liggaamgewig daagliks. Oorsese navorsing wys 1 gram crisps = tussen 0.49 mikrogram en 1.2 mikrogram akrielamied.

Wat nou?
Dr. Carl Albrecht, hoof: navorsing by Kankervereniging van Suid-Afrika (CANSA), sê veral klein kinders moet so min as moontlik crisps eet. Oorsee word aartappels ontwikkel wat min of geen akrielamied vorm nie. Dis egter nog nie op die mark nie.

*Simba sê hulle werk daaraan om akrielamied in hul produkte te verminder. Hulle gebruik metodes wat wêreldwyd herken word.

**Besoek www.cansa.org.za vir meer.

Hoofpyn weg – sonder pille

Dis nie altyd nodig om ‘n pil te sluk as jou kop seer is nie. Probeer dié raat: Sit jou hande weerskante van jou kop. Druk saggies met jou vingerpunte en beweeg jou kopvel heen en weer – sowat 2 cm. Maak seker jou vingerpunte gly nie net heen en weer nie, maar dat jou kopvel beweeg. Sit nou jou vingerpunte op jou slape. Druk saggies en beweeg dit in klein sirkels (jou vel moet weereens beweeg). Herhaal aan die agterkant van jou kop, veral aan die onderkant van jou kopbeen. Doen dit met jou hele kop. (Besoek www.zest.co.uk).

 

SMS jy agter die stuur?
Dit kan jou reaksietyd met tot 35% vertraag, aldus ‘n Britse studie. So dis gevaarliker as om onder die invloed van drank of dwelms te bestuur! (Bron: www.healthspas.co.za).

Régte groentee
Groentee-blare is dun en sensitief – en brand as jy dit met kookwater maak, sê Mingwei Tsai van Nigiro-teehandelaars in Kaapstad. Dit smaak dan bitter en het ‘n saai, geelgroen kleur. As die water egter net baie warm is (tussen 60 tot 80˚C), is die tee helder geelgroen met ‘n natuurlike, soet geur.

Honger vir water
Ons verwar dikwels honger met dors. Drink dus eers ‘n glas water vóór jy tussen maaltye peusel, sê Celeste Naudé, ‘n dieetkundige aan die Universiteit Stellenbosch.