Lee Malan

Gesondheidstories

Gesondheidsdinge: Wenke vir die somer

Braaivleis, die gesonder opsie

Dit hoef nie ’n maaltyd van oordaad te wees nie. Braai meer vis, hoender of varkvleis, wat minder vet het. Gebruik ’n laevet-marinade. Jy kan ook hoender of vis in foelie toedraai en op die kole gaarmaak. Vir ekstra geur, voeg suurlemoensap, asyn, vars kruie en groente soos uie en tamaties by. Vervang aartappelslaai met aartappels, patats, mielies of heel uie. Draai dit in foelie toe en stoom op kole gaar.

Hiep-hiep, vonkelwyn!

Hier is nog ’n rede om dié feesdrankie te geniet. Jou hart gaan dankie sê. Sjampanje en ander vonkelwyne verminder jou kans op hartaanvalle en beroerte. Dit bevat antioksidante wat jou bloeddruk verlaag, volgens Britse navorsing.

Ai, sooibrand

Voorkom olikheid ná die vrolikheid. Oftewel, suur en maagsap wat in jou slukderm beland.
Dit veroorsaak daardie branderigheid en ongemak in die middel van jou borskas. Moenie
jou maag te vol stop nie. Eet klein, gereelde etes, kou kos goed, moenie te veel praat nie en sit regop terwyl jy eet. Dit keer dat jy te veel lug sluk. Ryk, vetterige kos kan sooibrand veroorsaak of vererger. As jy móét, skep kleiner porsies in. Drink minder vloeistof saam met etes, dra klere wat nie styf sit nie en vermy inspannende oefening ná ete.