sr0911gesondheid02
Gesondheidstories

Gesondheidsnuus: Jou eie gesondheidstuin

Goedheid in ‘n nartjie

Nartjies is &aposn goeie bron van vitamien C

Nartjies en ander sitrusvrugte (suurlemoene, lemoene en lemmetjies) is ‘n uitstekende bron van vitamien C. Calamondin, ‘n dwergsitrusvariant, kan in ‘n piepklein tuintjie of selfs ‘n pot geplant word.

Aalwyn-krag (Aloe vera)
Bitter, ja, maar goed vir mondsere. Gebruik die sap op brand- en skroeiwonde en teen ‘n veluitslag. Cleopatra het dit glo in haar skoonheidsmiddels gebruik.

Tee-doepa

  • Soete drome:
    Voeg ‘n koppie kookwater by ‘n ¼ koppie vars roosmalvablare (rose geranium).
  • Vir beter bloedsirkulasie en teen velkwale:
    Gooi ‘n koppie kookwater by ‘n eetlepel vars blomblare van die gousblom.
  • Teen babelas, verkoue, hoes, sinus, hooikoors, toeneus enbrongitis:
    Gooi ‘n koppie kookwater by ‘n ¼ koppie vars viooltjieblomme en -blare.
  • Teen ‘n hoes kan jy ‘n teelepel heuningbyvoeg. Laat die tee in al die gevalle vyf minute trek, syg deur en drink stadig.
 

Kappertjies kelder kwale
Kappertjies is &aposn natuurlike antibiotikum
Die blare met hul skerp smaak is ‘n natuurlike antibiotikum. Eet vars blare, blomme en sade vir borskwale, ‘n toe neus en emfiseem. As tonikum: Maak ‘n tee van ‘n ¼ koppie vars blare en blomme. Of eet dit saam met slaai en op toebroodjies met kaas.

Mirt vir eina-spiere
As jou spiere styf en seer is: Vou vars mirt-spriete (dun takkies) saam met baie gerasperde seep in jou waslap toe en masseer jouself daarmee. Plant dit ook in jou groentetuin om insekte te verjaag.

Tawwe tamaties
Hulle is ryk aan leukopien, ‘n kragtige antioksidant wat skynbaar doeltreffender is as betakaroteen (wat deur jou liggaam in vitamien A omgesit word) in bv. wortels en spinasie. Tamaties vaar ewe goed in die tuin en in bakke, groei vinnig en dra trosse vrugte.

Kry ‘n moesie-kaart 

Meer mense in SA kry velkanker as op enige ander plek ter wêreld, buiten Australië. En jy is juis so lief vir die son én het moesies op jou lyf? ‘n Gerekenariseerde skandeertoestel maak dit nou makliker om hulle dop te hou en veranderinge betyds waar te neem. ‘n Kamera lys al jou moesies en ‘n spesiale mikroskoop tel detail op wat nie met die blote oog gesien kan word nie. ‘n Moesie-kaart of melanogram word in elke sessie opgestel en met voriges vergelyk. Dit kan veranderinge van so min as 2% uitwys. Dis goedgekeur deur die SA Dermatologiese Vereniging en die meeste groot mediese fondse betaal daarvoor.

Besoek Mole Screeing Centres of South Africa se webtuiste vir inligting oor jou naaste sentrum.

 

Dieet-woema

As jy gewig wil verloor én gesond wil leef, bied die Wellness Kit ‘n antwoord. Sandy Goldberg, ‘n leefstylkonsultant, het van 21kg ontslae geraak nadat sy haar kop en leefwyse verander het. Sy het dié ervaring gebruik om die Wellness Kit saam te stel. Dit bevat ‘n gids, Low Fat Food for Your Mind, Body and Soul, en 3 pakkies kleurkaarte. Die kaarte gee jou wenke en inspirasie om belangrike denkveranderings oor gewigsverlies te maak. Jy kry ook raad oor die beste kosse en lekker gesonde resepte. Die stel kos R650, posgeld ingesluit. Bel Sandy by 021 434 6313, stuur epos na sandy@uniquelifestyle.co.za of besoek www.uniquelifestyle.co.za.

Ewige jeug?

Resveratrol is ‘n middel in rooidruiwe se skil (en dus in rooiwyn) met allerlei gesondheidsvoordele. Dit kan bv. help om hartsiektes en beroerte te voorkom. Maar dis as verjongingskuur dat dit die wêreld aan die gons het. In gekonsentreerde pilvorm kan dit glo veroudering verlangsaam. Dit kom ook in die skil van bloubessies, frambose en rooibosbessies (cranberries) voor. 

 
Bronne: Margaret Roberts se Plantmaats (Briza-uitgewers, 2007) en Alles oor kruie (Southern Book-uitgewers, 1994)