sr0903gesonddinge
Gesondheidstories

Gesondheidnuus: Kollig op Vitamien K2

KOLLIG OP VITAMIEN K2

Wat is dit? Jy’t dalk al gehoor van vitamien K – dis noodsaaklik om jou bloed te laat stol en vir jou liggaam om kalsium reg te kan gebruik (vir gesonde bene en slagare). Bronne:Blaaragtige groen groente (soos kool, blomkool en broccoli). ‘n Nuwe gonswoord is egter vitamien K2.Te min hiervan hou dalk verband met die verharding van jou slagare (arteriosklerose) en osteoporose.

Wat kan dit vir jou doen? Osteoporose en kardiovaskulêre siektes loop hand aan hand: Te min kalsium in jou bene beteken te veel daarvan in jou slagare.Vitamien K2 aktiveer proteïene, wat noodsaaklik is om kalsium in jou bene neer te lê – en te voorkom dat dit in jou slagare beland (wat jou kans op ‘n hartaanval kan verhoog). In Japan is dié vitamien ‘n goedgekeurde behandeling teen osteoporose.

Wat is natuurlike bronne? Die beste natuurlike bron is natto,’n antieke Japannese kossoort van gefermenteerde sojabone.Daar is kleiner hoeveelhede in vleis, melk en ander suiwelprodukte. Jy kan ook voedselaanvullings neem. (Tensy jy medikasie gebruik om jou bloed dunner te maak.Vra eers jou dokter as jy reeds ‘n beroerte of hartaanval gehad het.)

HOEPEL LAAT JOU HART HUPPEL

Dis tans groot oefennuus: Hula Hoops, daardie plastiek-hoepel wat jy met die beweging van jou heupe om jou lyf laat draai. En baie meer pret as wat jy uit jou kinderdae onthou! Dis groter en swaarder as die tradisionele een en draai stadiger om jou lyf. Jy kan tot 440 kilojoules in 8 minute verbrand. Dit gee jou hartvatstelsel goeie oefening, en jy kan só ontslae raak van die “handvatsels” op jou heupe. Dit versterk ook jou maagspiere, aldus www.healthspas.co.za/index.php. Om self een te maak, besoek www.hooping.org.