feb06gesondartikel1a
Gesondheidstories

Getroud maar steeds ’n maagd

“Ek en my man is vyf jaar getroud – en ons is steeds albei maagde.

“Ons het besluit om nie seks voor die huwelik te hê nie. Dit was ’n persoonlike, eerder as ’n godsdienstige keuse. Op my huweliksnag het alles om my ineengestort. Ek het verwag dat penetrasie pynlik gaan wees. Só angstig en bang was ek dat ek van vrees gebibber het nog voor ons intiem kon raak. En toe: My man kon my glad nie penetreer nie. Ek het soos ’n mislukking gevoel en hy was uiteraard gefrustreerd.

“Hoekom ek so bang was? ’n Familielid wat twee jaar voor my kansel toe is, het my van haar “eerste keer“ vertel. In skrikwekkende detail. Sy het gesê dit voel asof ’n stomp mes jou oopsny. Sy het my verseker dat dit nou lekker is, maar dat die eerste keer aaklig was.

“Dit was eers met ’n besoek aan die dokter (oor ’n vaginale afskeiding) dat my ‘skandelike’ geheim uiteindelik ’n naam gekry het: vaginismus. Die dokter kon nie ’n vinger in my vagina inkry om my te ondersoek nie.

 

Daar is gevalle waar egpare jare lank sonder seks saamleef

 

 

 

 

 

“Voorheen het ek gedink ek is abnormaal, dat my liggaam nie behoorlik funksioneer nie. Nou het ek darem geweet wat fout is. Maar ten spyte van verskeie besoeke aan sielkundiges, kon ons steeds nie seks hê nie. Ek het alle hoop laat vaar dat dit ooit sal gebeur. My man was die enigste ander mens wat van my probleem geweet het. En ons het nie daaroor gepraat nie.

“Ek was desperaat om ’n oplossing te kry, om behoorlik ’n vrou vir hom te wees en kinders te hê. Toe kom ek af op ’n webblad (www.vaginismus.com) met verskeie verhale soos myne. Uiteindelik het ek besef ek is nie alleen nie – en daar is ’n oplossing.“

Ronel* (25) se storie is nie uniek nie. Maar vroue met vaginismus is gewoonlik baie skaam oor hul probleem en praat nie daaroor nie. En hoe langer jy wag voor jy hulp soek, hoe langer neem die behandeling. Vaginismus is die onwillekeurige sametrekking van die bekkenvloer, “trampolienagtige” spiere wat die opening van die urinebuis, die vagina en die rektum ondersteun. Dit maak penetrasie óf onmoontlik óf baie moeilik. Die sametrekking van die spiere veroorsaak pyn, wat in intensiteit wissel. Dis dikwels ook onmoontlik om ’n tampon te gebruik of ’n ginekologiese ondersoek te ondergaan. En dis meer algemeen as wat jy sou dink. Volgens dr. Elna McIntosh, ’n seksuoloog van Johannesburg, ly sowat 6% van haar pasiënte daaraan. Sy ontvang ook amper daagliks ’n brief of e-pos van iemand wat hulp soek. Elna sê sulke vroue beskryf penetrasie só: “Dit voel of ’n muur toegang na binne versper.” “Sy penis is te groot vir my.” “Dit voel of ek uitmekaar geskeur word.” En een vrou: “Ek het nie ’n vagina nie – daar is nie ’n gaatjie nie.”

Daar is ’n verskeidenheid simptome – wat van vrou tot vrou kan verskil. Tipiese klagtes sluit ’n kombinasie van die volgende in: Branderigheid in die vagina en die omliggende dele, skerp pyne in die vagina, pyn in die laer buik, die gevoel dat jy dringend en dikwels moet urineer (soortgelyk aan ’n infeksie in die urinebuis), die onvermoë om enigiets in die vagina te plaas en rektale pyne, veral as jy ’n stoelgang het.

Jy sal waarskynlik nie eens weet dat daar fout is nie – totdat jy ’n tampon probeer gebruik, vir ’n ginekologiese ondersoek gaan of gemeenskap probeer hê. Sommige vroue sal wel ’n tampon kan gebruik en ’n bekkenondersoek kan ondergaan, maar seks is onmoontlik. Of omgekeerd.

Is dit in my kop?
Volgens dr. Domeena Renshaw, ’n seksuoloog van Chicago en Elna se mentor, raak sommige vroue paniekerig omdat hulle verwag dat penetrasie baie pynlik gaan wees. Die bekkenspiere trek dan só kragtig saam dat penetrasie onmoontlik is. Dis wat vaginismus is. Elna beskryf dit as ’n aangeleerde refleks.

“Dit het al seker met jou gebeur dat iemand ’n vinger in jou oog druk. As jy nou ’n vinger sien nader kom, sluit jy jou oë outomaties. Net só is daar vroue wat pyn gehad het tydens omgang, of toe een of ander voorwerp in die vagina geplaas is. Wanneer sy of iemand anders dan later probeer om weer ’n voorwerp in die vagina te sit, “sluit” die spiere onwillekeurig om dit teen pyn te beskerm. Sy is nie eens daarvan bewus nie. Die pyn wat sy dan ervaar, word deur die sametrekking van spiere veroorsaak.”

Vroue kan verskillende redes hê waarom hulle penetrasie vrees. Dit kan wissel van godsdienstige en kulturele taboes, tot ’n gebrek aan kennis van haar liggaam, vrees vir die onbekende en seksuele wanopvattings. Trauma kan ook ’n oorsaak wees bv. ’n kleintydse siekte waar die liggaam keer op keer behandeling van die een of ander aard moes ondergaan, komplikasies gedurende ’n bevalling, ’n fisieke, verbale of seksuele mishandeling. Dis dikwels intelligente vroue wat nie kan glo hulle kan nie so ’n natuurlike ding soos seks bemeester nie. Volgens Elna is hulle dikwels goed gekwalifiseerd, baie analities en altyd in beheer. Een studie het getoon 81% van hulle is gegradueerdes of professionele vroue. Dit kom ook meer dikwels by vroue voor wat baie gelowig is: Of sy nou Joods, Moslem of Christen is.

“Sy is jare lank ingeprent dat seks sonde is. Of dalk het iemand haar vertel dat seks die eerste keer seer gaan wees. Sy vrees dit dus nog voor sy dit probeer het.“

Soos Ansie (23). Sy was doodbang om die eerste keer seks te hê. “Ek het gedink dit gaan baie seer en ongemaklik wees. Ek was inderdaad só senuweeagtig dat ek na die hele ding opgesien het. Ek wou net weghol. Toe my vriend my penetreer, het my spiere eenvoudig ‘gesluit’. Hy kon my nie meer as ’n sentimeter penetreer nie. Só natuurlik was dié sluit-aksie dat dit soos ’n refleksbeweging is. Amper soos om jou hand van ’n warm stoofplaat weg te ruk. Of om jou oë te knip as iemand skielik naby jou hard hande klap.

“Ek het terselfdertyd ongelooflike pyn ervaar, skerp en ondraaglik. Dit was ook nie net penetrasie waarmee ek gesukkel het nie. Ek kon nie ’n vinger of selfs ’n tampon in my vagina kry nie. Die idee dat enigiets naby my vagina kom, het my laat sidder.”

Dis egter nie ’n toestand wat net maagde tref nie. Dit kan met vroue van alle ouderdomme gebeur. Ook vroue wat jare lank ’n bevredigende sekslewe gehad het. Dit word sekondêre vaginismus genoem. Soms word dit deur ’n fisieke probleem veroorsaak, soos ná ’n geboorte, ’n histerektomie of ’n infeksie. Dit kan ook net met ’n spesifieke seksmaat gebeur.

Estelle (35) is amper 12 jaar lank getroud en het 3 kinders. “Ek ondervind die afgelope sewe jaar vaginismus in verskeie grade. Dis op die oomblik só erg dat ek nie sonder geweldige pyn gemeenskap kan hê nie. Ek en my man het amper nege maande gelede gemaklik seks gehad. As ons dit nog probeer, is die kanse goed dat ek ’n urinêre of candida-infeksie ontwikkel.

“My ginekoloog het voorgestel dat ek dilators (instrumente om die vagina geleidelik te vergroot) gebruik. Ten spyte daarvan dat ek dit in my vagina kan sit, kan ek steeds nie gemeenskap hê nie. Seks veroorsaak deesdae gedurig konflik tussen my en my man, en ek voel soos ’n mislukking.”

Jou verhouding ly daaronder
Vaginismus kan oneindige skade aanrig. Jou man kan frustrasie, hulpeloosheid, verwerping en ontoereikendheid ervaar. Die verkeerde seksuele inligting of gebrek aan kennis van die vroulike liggaam kan dit vererger en lei tot vervreemding of selfs die verhouding opbreek.

Jana (25) se man het haar aangerand toe hy haar, ten spyte van verskeie pogings, nie kon penetreer nie.  “Ons is drie jaar gelede getroud. Ek was bang vir seks en het dit met flou verskonings ’n paar aande uitgestel. Toe ons uiteindelik probeer, het ek hom weggestoot. En weer en weer.” Totdat hy sy hand teen haar gelig het. Volgens Elna is dit dikwels ’n geval van ’n blinde wat ’n ander blinde probeer lei. Albei het dalk nog nooit seks gehad nie. “Ek het deur die jare geleer om ook die man te behandel, want hy het dikwels ook probleme soos byvoorbeeld impotensie of premature ejakulasie.”

Werner (28) en sy vrou is meer as ’n jaar lank gelukkig getroud, maar hulle kan nie gemeenskap hê nie, omdat dit vir haar te seer is. “’n Ginekoloog het gesê sy is baie styf onder en moet onder narkose ‘gerek’ word. Ek glo dit nie, omdat sy sonder moeite ’n tampon kan insit. Die spiere verstyf net as dit by seks kom.”

Daar is gevalle waar egpare jare lank sonder seks saamleef. Elna sê sy het met ’n egpaar gewerk wat 18 jaar lank nie seks gehad nie, en prof. Renshaw vertel van ’n paartjie wat 23 jaar lank getroud was en nog nooit seks gehad nie. “Ek het gevra: ‘Hoekom soek julle nou hulp, ná 23 jaar?’ Die vrou het geantwoord: ‘Ek het nie geweet daar is ’n gaatjie nie.”’ Sulke egpare verwek soms kinders met kunsmatige inseminasie. Elna het twee pasiënte gehad wat albei nog maagde was, en tog het hulle kinders gehad wat met ’n keisersnit gebore is.

“Sulke vroue het dikwels ’n aktiewe sekslewe; hulle het net nie gemeenskap nie.“

Daar ís uitkoms
Die goeie nuus is, dis geneesbaar – al is daar nie ’n kitsoplossing nie. Dit neem tyd en geduld. Want jy moet ’n refl eksreaksie afleer, wat diep uit die onderbewuste kom. Ongelukkig verstaan medici en sielkundiges nie altyd dié ingewikkelde verskynsel nie. Elna sê teen die tyd dat ’n vrou by haar aanklop, het sy al gemiddeld ses ander spesialiste gesien.

“Hulle word vertel niks skort met hulle nie, dat dit in hul kop is en hulle moet ontspan.“

Dit was Tina (22) se ervaring: “Dis onmoontlik om seks te hê óf om ’n tampon in te sit. My ginekoloog sê ek moet ’n operasie kry. My dokter vertel my ek moet ontspan. Ek weet nie wat om te doen nie.”

Elna sê vroue met vaginismus dink dikwels hulle is “te klein” en dat hulle vagina “gerek” moet word. “Hulle hoef nie enigiets te laat ‘rek’ nie. Hulle moet net leer om die spiere rondom die vagina te laat ontspan.” Dit behels oefeninge wat jy weke of selfs maande lank moet doen. Volgens haar moet jy in dié tyd nie gemeenskap hê nie. Want elke keer wanneer jy pynlike seks het, word die refleks versterk en neem dit langer om daarvan ontslae te raak.

Elna sê die oefeninge is in 90% van die gevalle doeltreffend, tensy jy ’n geskiedenis van seksuele trauma het. As jy terugflitse of nagmerries van só ’n ervaring het, moet jy eers met ’n sielkundige daardeur werk. Die oefeninge gaan ook nie help as jy ’n infeksie het nie. Sy leer pasiënte ook ontspannings- en asemhalingstegnieke. En werk met visualisering, hipnose en desensitasie (jy kyk na ’n prent van die vagina en teken jou eie).

Ansie het nou ná 5 jaar lank ’n normale sekslewe. “Ek is vooraf ingelig dat ek met die oefeninge moet vasbyt. Toe ek en my man uiteindelik weer probeer, was ons eers ná sowat tien probeerslae suksesvol. Ek het dit glad nie verwag nie. Iets in my kop en lyf het net meegegee. Dit was effens ongemaklik en seer, maar die pyn was anders as voorheen.”

“Ek het die eerste keer in my lewe sonder enige voorbehoud of kommer seks gehad. En dit het sedertdien net makliker en makliker geraak. Dis uiteindelik tweede natuur – en lekker!“

* Skuilname deurgaans gebruik.

Oefen die styfheid weg

As jy ’n baba gehad het, het jy waarskynlik in voorgeboortelike klasse geleer om Kegel-oefeninge te doen. Jy trek eenvoudig die bekkenvloer se spiere saam. Dis dieselfde spiere waarmee jy die vloei van urine stop. Trek die spiere saam, hou dit ’n paar sekondes lank só, en ontspan. Om seker te maak jy trek die bekkenvloerspiere saam – en nie jou maagspiere nie – doen dit aanvanklik terwyl jy op die toilet sit. As jy seker is jy doen dit reg, doen dit dwarsdeur die dag, telkens as jy daaraan dink. Trek dit elke keer sowat 20 keer saam. Moenie vergeet om die spiere ná elke sametrekking ’n paar oomblikke lank te laat ontspan nie. Probeer ná ’n paar dae om die oefeninge te doen terwyl jou vingers in jou vagina is. Eers een vinger, dan twee en dan drie. (Knip jou naels en gebruik ’n smeermiddel.) Druk jou vingers 5 tot 6 cm diep in jou vagina, of tot by die eerste lit ná die kneukel.

Hoekom jou vingers? Só kan jy seker wees dat die regte spiere telkens saamtrek. Jy raak ook gewoond aan ’n voorwerp in die vagina. Dis ook maklik om jou vingers vinnig uit te trek as jy seerkry. En dit kos niks! Dis nie ’n goeie idee om jou bedmaat se vingers te gebruik nie: Jy het minder beheer daaroor. Moenie mismoedig voel as jy een dag drie vingers inkry, net om die volgende dag met een vinger te sukkel nie – dit gebeur. As jy ’n paar keer agtermekaar drie vingers kon insit sonder dat dit pynlik is, kan jy gemeenskap hê. Moenie paniekerig raak as julle dit steeds nie regkry nie. Oefen ’n paar dae lank met jou vingers en probeer weer. Bron: Elna McIntosh

 

• Verdere leesstof: Woman’s experience of sex deur Sheila Kitzinger (Penguin,1985);
A Woman’s guide to overcoming sexual fear and pain deur Goodwin en Agronin (New Harbinger Publications, 1997)
• Kontak Elna McIntosh by 011 787 1222 of disa@icon.co.za
• Nog bronne: www.womentc.com, www.carteblanche.co.za, www.vaginusmus.com