Polarised Square Brown Sunglasses van Glider (op uitverkoping)

Polarised Square Brown Sunglasses van Glider (op uitverkoping)

Gesondheidstories

Gooi jou bril weg

Ná jare se sukkel met brille en kontaklense kan jou sig wonderbaarlik herstel – soms tot 100%. Met die jongste tegnieke in refraktiewe laser-oogchirurgie is daar min mense wat nie gehelp kan word nie.

Dis ’n uitkoms as jy sportief is, ’n werk doen waar ’n bril in die pad is – of nie met jou kontaklense regkom nie.

Jou kornea (of horingvlies) en lens fokus die beeld op jou retina. Indien die fokuspunt nie presies op die retina val nie, het jy ‘n refraksiefout.

Refraksiefoute sluit in versiendheid (jy sien goed ver, maar voorwerpe naby jou is dof), bysiendheid (jy kan nie ver goed sien nie), en astigmatisme (jy kan nie op enige afstand goed fokus nie). Dis omdat die kromming van jou kornea te plat, rond of onreëlmatig is.

Die laserprosedure LASIK (laser assisted intrastromal keratomileusis) of PRK (photo refracive keratomileusis) stel jou oog se refraksiefoute reg deur die ronding van jou kornea te verander.

Navorsing wys sowat 90% tot 95% van mense is baie tevrede met die resultate.’n Klein persentasie moet ’n tweede operasie kry. Soms moet jy steeds bril dra vir takies soos motorbestuur. Dit kan gebeur as jou refraksiefout te hoog is of jou korneas te dun om jou oë 100% te korrigeer. Jy moet ook onthou jou oë is dinamies en nie staties nie. Daarom moet sommige mense ná ’n paar jaar weer bril dra. Die meeste mense het uiteindelik ’n leesbril nodig weens normale veroudering.

Daar is risiko’s, maar min. Dit sluit in moontlike infeksie en ‘n geringe kans vir komplikasies met jou LASIK-flappie.

PRK is ‘n tegniek sonder ‘n flappie. Dis meer ongemaklik ná die tyd en neem effe langer om te herstel. Die voordeel is dat daar nie ‘n moontlikheid van flapkomplikasies is nie.

Jou oftalmoloog sal vir jou kan aanbeveel watter tegniek die beste geskik is vir jou oë.

Heelwat meer tipes refraksiefoute kan deesdae behandel word met die nuwe lasertegnieke soos golffront- (wavefront guided) en topografies geleide (topographic guided).

Mense met keratokonus (‘n siekte van die kornea) kan deesdae ook behandel word met die laserprosedure in kombinasie met ‘n kruisbindingsprosedure (cross linking) wat die kornea versterk.

Gereelde vrae

1. Is dit seer? Jy het tydens chirurgie min of geen ongemak nie. Jou oë word met druppels verdoof en jy is heeltyd wakker. Jy gaan dieselfde dag nog huis toe. Jou oë kan ’n dag of twee  effens gevoelig wees.

2. Kan albei my oë gelyk gedoen word? Die meeste mense verkies dit. Jy kan ook eers aan jou een oog laat werk en later aan die ander een.

3. Sal ek dadelik kan bestuur en gaan werk? LASIK: Jy kan so een tot drie dae daarna bestuur. Die meeste mense gaan twee tot vier dae ná die prosedure terug werk toe.

PRK: Jou visie is gewoonlik binne ‘n week goed genoeg om te bestuur.

4. Is dit permanent? Sommige mense wat perfekte sig ná die chirurgie het, vind dat een of albei oë mettertyd weer effens bysiende of versiende raak. Dit kan met nog laser, ’n bril of kontaklense reggestel word.

5. Kan my sig ná die chirurgie swakker wees? Ja, as daar komplikasies is. Dit gebeur egter baie selde.

6. Kan ek vandag by ’n kliniek instap en dit laat doen? Nee. Sekere toetse moet voor die tyd gedoen word. Insluitende ’n volledige ondersoek om te bepaal of jy nie ’n oogsiekte het nie. Daar word ook bepaal wat jou oog se presiese fokus-afwyking is. Moenie voor die ondersoek of prosedure kontaklense dra nie.

7. Die koste wissel van R 16 000 tot R 24 000 – afhangende van die ingewikkeldheid van jou refraksie. Sommige mediese fondse betaal daarvoor, afhangende van hoe swak jou oë is en die plan (mediese fonds s’n) waaraan jy behoort.

8. Is dit geskik vir my?

Jy moet bo 20 wees. Jou visie en refraksie moet minstens ’n jaar lank onveranderd wees. Jy moenie ander oogsiektes hê nie. Los eers as jy swanger is, binne ses maande wil swanger raak of borsvoed. (Jou oog-refraksie kan tydens swangerskap verander.)

Indien jy twyfel, kontak jou naaste oftalmoloog en laat hy/sy vir jou sê of dit vir jou sal kan werk.

Bron: Dr. Alic Jacobsz, oftalmoloog by die Pretoria Ooginstituut