FOTO Instagram / @gwynethpaltrow

FOTO Instagram / @gwynethpaltrow

Gesondheidstories

Borrie-latte soos Gwyneth s’n

Gwyneth se trendy borrie-latte, maar is dit gesond?

Dit is okerkleurig, het gesondheidsvoordele en ’n kultus-aanhang. En dit word in gesondheidswinkels en trendy eetplekke van Sydney tot San Francisco verkoop.

Nié ’n koppie stomende koffie nie. Die goue drankie wat Instagram nou domineer, is ’n borrie-latte. Google Food Trends het borrie onlangs as die jaar se “ster-bestanddeel” aangewys. En internetsoektogte na dié geel spesery het sedert November verlede jaar tot nou toe met 56% toegeneem.

Maar wat is die heldergeel drankie wat so gewild by gesondheidsliefhebbers, insluitende aktrise Gwyneth Paltrow, is? “Goue melk” of borrie-latte is die ongewone kombinasie van neutmelk en fyn borriewortel.

Volgens Gwyneth Paltrow se Goop-webtuiste werk dit die beste met amandelmelk, gemmer, klappersuiker, klapperolie en borrie.

Maak dit só

bedien een

• 1 opgehoopte teelepel geskilde en fyngekapte vars borrie
• 1 teelepel geskilde en grofgekapte gemmer
• 1 eetlepel klappersuiker
• 2 teelepels klapperolie
• knippie sout
• 1 koppie amandelmelk

Gooi die borrie, gemmer, klappersuiker, klapperolie en sout in ’n kragtige menger. Verhit amandelmelk oor matige hitte tot naby kookpunt. Gooi in menger en meng tot glad en skuimerig. Gesondheid!

Daarom goed vir jou

Borrie se meteoriese styging is gedeeltelik te danke aan die gesondheidswaarde daarvan. Dit bevat boonop geen kafeïen nie. Dit word reeds 4 000 jaar medisinaal in Suid-Asië gebruik en wêreldwyd algemeen by kerrie en rysgeregte gevoeg. Die vars borriewortel is van die vroegste tye af wyd in medisyne gebruik vir die antioksidant- en anti-inflammatoriese eienskappe daarvan. (Vanweë die hoofbestanddeel, kurkumien.) En die wetenskap het intussen bewys dis nie ouvroustories nie.

Drink soggens ’n teelepel of twee borrie saam met ’n glas water. Of vra by jou gesondheidswinkel vir ’n borrie-aanvulling. WAARSKUWING: As jy egter enige probleme met jou galblaas het, moenie gebruik nie. Dit kan die toestand vererger.

Dit het onder meer die volgende voordele

Spysvertering Sleutelbestanddele in borrie stimuleer die afskeiding van gal, wat spysvertering verbeter en help vir opgeblasenheid en winderigheid (sien WAARSKUWING hierbo).

Lewer Die lewer ontgif (detoks) die bloed deur die produksie van sekere ensieme. Borrie stimuleer die proses. Daar word ook geglo dit verbeter bloedsirkulasie, wat bydra tot ’n gesonde lewer.

Gewig Dit kan dalk help om gewig te beheer. Gal speel ’n belangrike rol in die afbreek van dieetvet en borrie stimuleer die afskeiding van gal. Neem ’n teelepel saam met elke maaltyd (sien WAARSKUWING hierbo).

Gesonde brein Brein-inflammasie word beskou as een van die hoofoorsake van kognitiewe toestande soos Alzheimer-siekte. Borrie bevorder breingesondheid in die algemeen, deur die verwydering van plaak en die bevordering van suurstof-vloei. Dit kan dalk Alzheimer-siekte voorkom of die verloop daarvan vertraag.

Artritis Die anti-inflammatoriese eienskappe van borrie kan bydra tot die behandeling van osteoartritis sowel as rumatoïede artritis. Die antioksidant-eienskappe vernietig vrye radikale wat liggaamselle beskadig.

Diabetes Dit kan help om insulienvlakke te normaliseer en verminder insulienweerstandigheid, ’n voorloper van diabetes tipe 2. Raadpleeg jou dokter as jy medikasie vir diabetes gebruik, aangesien dit lae bloedsuiker kan veroorsaak.

Bronne: The Guardian, Goop, Daily Mail, Health Herbs 365, Top 10 Home Remedies