FOTO: Instagram  @laurenconrad

FOTO: Instagram @laurenconrad

Gesondheidstories

Help voorkom borskanker

Aan sommige dinge, soos jou familiegeskiedenis, kan jy niks doen nie – maar aan jou leefstyl wel …

1 WEG MET DIE BOEP

Die hormoon estrogeen “voed” sowat 75% van alle borskanker. Die goeie nuus is: Jy kan jou risiko vir borskanker met tot 25% verminder as jy net sowat 5% van jou gewig verloor. (Dus 3,5 kg as jy 70 kg weeg.) Visserale vet (ingewandsvet, of vet om jou maag) is veral gevaarlik.

2 SUS JOU BLOEDSUIKER

Diabetes vergroot jou risiko vir borskanker met sowat 23%. En jou kans om weens die siekte te sterf, met 38%. Studies wys as jy ’n hoë risiko vir tipe 2-diabetes het, kan klein veranderinge in jou dieet en oefening dit vertraag en selfs voorkom.

3 JOU MES & VURK

Volg ’n gesonde, gebalanseerde dieet. ’n Oormaat suiker en geprosesseerde vleis word bv. aan baie kankersoorte gekoppel. Eet volop groente en vrugte. Die koolfamilie (broccoli, Brusselse spruite, blomkool) beskerm jou blykbaar veral teen borskanker.

4 DAPPER EN STAPPER

Postmenopousale vroue wat baie aktief is, of minstens 7 uur per week flink loop, se risiko vir borskanker is minder, volgens navorsing in die Amerikaanse joernaal Cancer, Epidemiology, Biomarkers & Prevention. Dis net so voordelig soos swem of draf, sê die navorsers.

5 KIES GEBOORTEBEPERKING WYS

As jy op die Pil is, is jou risiko vir borskanker effens hoër as iemand wat nog nooit daarop was nie, volgens die Amerikaanse Kankervereniging. Dis veral by jonger vroue die geval. Jou risiko daal weer as jy dit staak en binne 5 – 10 jaar is dit terug na normaal.

Bronne: www.sciencedaily.com, www.cancer.gov, webmd.com