Gesondheidstories

Hoe gelukkig is jy?

Darem lekker om so op jou eie strandhuis se stoep te sit en die dolfyne dop te hou. Boonop het José so pas ’n mengeldrankie met ’n sambreeltjie in jou hand gesit voor hy met die aandete begin. Dís mos pure geluk.  Maar jy kan gerus ophou droom op die voorstedelike stoepie van jou voorstedelike huis met ’n verband. Die troos is: Ware geluk lyk anders as op die stoep van daardie begeerde strandhuis. As jy weet waar om geluk te soek kán jy dit aangryp. Dit lig jou gees en verleng jou lewe. Jy moet jou net aan geluk toewy, sê die kenners.

Daar’s wêreldwyd ’n swaai na sogenaamde “positiewe” sielkunde en navorsing oor geluk. Positiewe sielkunde fokus op dinge soos positiewe emosies, geluk, optimisme en gesonde karaktereienskappe. “Dit vervang egter nie die ‘tradisionele’ sielkunde, wat op gebreke en siektes gefokus het nie, maar komplementeer dit eerder,” sê prof. Ian Rothmann, direkteur van WorkWell, ’n navorsingseenheid vir mense, beleid en prestasie aan die Noordwes-universiteit, Potchefstroom. Dis juis hier waar die eerste positiewe sielkundekongres verlede jaar in SA gehou is. “Navorsers besef nou welstand is meer as die afwesigheid van siekte,” sê Ian.

 

Welstand is meer as die afwesigheid van siekte

 

“’n Gesonde mens se welstand is nie noodwendig goed nie. ’n Fokus op gebreke bevorder eweneens nie jou veerkragtigheid (vermoë om ‘terug te spring’) of jou vernuf en vermoë tot vernuwing nie,” sê hy. Sielkundiges het lank op die negatiewe gefokus. Waarom word mense siek, wou hulle weet. Daar is 17 keer meer gepubliseerde wetenskaplike artikels oor negatiewe as positiewe toestande, sê Ian. “En min is gedoen om die lewe van gesonde mense te verbeter.” Dié neiging tot positiewe sielkunde het eintlik lank terug begin. Die humanistiese sielkunde van die 1950’s was die voorloper en in 1987 het Aaron Antonovsky van Israel die salutogenese beskryf. Dié woord is afgelei van “saluto” (gesondheid) en “genese” (oorsprong). Hy’t gesê die klem behoort eerder op gesondheid te val. As daar egter ’n datum aan die benaming “positiewe sielkunde” gekoppel moet word, is dit waarskynlik die jaar 2000, sê Ian.

Die tydskrif American Psychologist is toe in sy geheel aan positiewe sielkunde gewy. Speel die huidige tydgees ’n rol in die swaai na die positiewe? Anna-Marie Esterhuyzen, sielkundige van Worcester, sê ja.“Ons streef deesdae na ’n gesonder lewenstyl.” En kyk jy na die styging in die verkope van goedvoel-boeke, hunker mense na positiewe onderskraging om só geestelik gesond te bly. Dalk speel misdaad ook ’n rol. Geestelike gesondheid is egter nie al wat tel nie. Jy moet ook gelukkig wees, sê navorsers nou.

Maar wat is geluk?
Die skrywer Allan K. Chalmers sê die groot onontbeerlikhede vir geluk is “iets om te doen, iemand om lief te hê, en iets om voor te hoop” (www.wisdomquotes.com).
Anna-Marie sê: Geluk is ’n emosionele ervaring van tevredenheid en genoegdoening. Jy’t vrede in jouself en ervaar spiritualiteit. “Geloof maak ’n mens se lewe sinvol,” sê sy. Ons gebruik juis die woord sielsgelukkig. “Geluk het dus baie met jou siel te doen.”

 

“Geloof maak ’n mens se lewe sinvol,” sê sy. Ons gebruik juis die woord sielsgelukkig. “Geluk het dus baie met jou siel te doen.”

Hoekom wil ons gelukkig wees?
Sonja Lyubomirsky, sielkundige aan die Universiteit van Kalifornië (Riverside), sê op http://www.faculty.ucr.edu/~sonja/ as jy gelukkig is, het jy gewoonlik ’n beter inkomste, jy werk beter, jou huwelik is gewoonlik gelukkiger en hou langer en jy’t meer vriende. Jy’s meer aktief, het meer energie, is gesonder en leef ook langer.

“En as jy gelukkig is, lag jy baie, straal jy ’n positiewe lewenshouding uit, gee jy vir ander om en leef jy dié omgee uit,” sê Anna-Marie. Geluk kan nou ook gemeet word, sê kenners. Daarom kan jy jou geluksvlak opstoot. Die vraelyste waarmee geluk bepaal word, word juis deur die WorkWell-navorsingseenheid vir onder meer betroubaarheid en geldigheid getoets. Die “Satisfaction with Life”-toets, wat in 1980 deur die sielkundige Edward Diener aan die Universiteit van Illinois ontwikkel is, is toepaslik vir SA bevind. Die meeste navorsers meen ook jy’t ’n vasgestelde gelukspunt. Ian stem saam: Nadat iets goeds met jou gebeur het, neig jou geluksvlak mettertyd weer na dié punt terug. Só het ’n studie van loterywenners getoon hul geluksvlakke is mettertyd niks hoër as dié van die kontrolegroep nie. Ná negatiewe dinge keer jy ook geleidelik na jou gelukspunt terug. Al laat ’n ongeluk jou paraplegies, sal jy ná sowat agt weke meer positiewe emosies as negatiewes ervaar, sê Ian. Dit het navorsing bewys.

Ná sekere gebeure keer jy egter nie maklik na jou gelukspunt terug nie, soos as jy ’n kind of lewensmaat verloor het of as jy familielede met Alzheimer-siekte moet versorg, sê hy. Daar’s ook ’n struikelblok wat kan verhinder dat jou gelukspunt hoog bly: “’n Mens raak gewoond aan goeie dinge, dis later vanselfsprekend. Hoe meer besittings jy ook het en hoe beter jy presteer, hoe hoër is jou verwagtinge,” sê hy.Anna-Marie voeg by dat ’n mens egter moet onthou dat net jý vir jou geluk verantwoordelik is. Amerikaanse navorsers het vasgestel die dinge wat jou nie merkbaar gelukkiger maak nie, is: Rykdom (indien jou basiese behoeftes wel vervul is), goeie opvoedkundige kwalifikasies of ’n hoë IK, jeug (ouer mense is glo meestal meer tevrede met hul lewens) en sonnige weer, volgens Time (17 Januarie 2005). Ian voeg fisieke aantreklikheid by. Hy sê ook navorsing toon mense in baie arm lande ervaar veel laer vlakke van geluk as ander. En dat daar ’n sterker verband tussen opvoeding en geluk in ontwikkelende lande is. “Volgens oorsese navorsing is die basiese behoeftes van mense met beter opvoedkundige kwalifikasies meer bevredig,” sê hy.

Wat maak jou wél gelukkig?
Jou gene speel ’n rol van sowat 50% in geluk, is in navorsing deur David Lykken van Minnesota bevind. Dit bepaal jou persoonlikheid, hoe jy stres en angs hanteer en hoe goed jy oor die algemeen voel. Tog toon Martin Seligman se studies (http://www.authentichappiness.sas.upenn.edu/) dat ’n positiewe benadering wel depressiewe simptome kan verminder. Anne-Marie stem saam:

“Dit kan wel bydra tot die genesing van depressie. Psigoterapie verander negatiewe gedagtes. Jy leer weer realisties en positief dink.” In Seligman se boek Authentic Happiness (Random House, Sydney, 2002) sê hy sy navorsing bewys geluk bestaan uit drie hoofkomponente: betekenis, betrokkenheid en plesier.

Toets jouself

Die “Satisfaction with Life”-vraelys het 5 vrae. Gee vir elkeen ’n punt tussen een en sewe. Dis belangrik dat jy die vrae verstaan. Wees net eerlik, sê Ian.

 

Gee só punte:
1 = Stem hoegenaamd nie saam nie
2 = Stem nie saam nie
3 = Verskil net effe
4 = Stem nie saam nie, maar verskil ook nie
5 = Stem net effe saam
6 = Stem saam
7 = Stem beslis saam

 

Vrae
1. In die meeste opsigte is my lewe na aan my ideaal.
    (1)   (2)   (3)   (4)   (5)   (6)   (7)

2. Die omstandighede van my lewe is uitstekend.
    (1)   (2)   (3)   (4)   (5)   (6)   (7)

3. Ek is tevrede met my lewe.

    (1)   (2)   (3)   (4)   (5)   (6)   (7)

4. Tot dusver het ek al die belangrike dinge gekry wat ek uit die lewe wil hê.
    (1)   (2)   (3)   (4)   (5)   (6)   (7)
5. As ek my lewe kan oorhê, sal ek byna niks verander nie.
    (1)   (2)   (3)   (4)   (5)   (6)   (7)

 

Jou punte lyk so:
31 tot 35: Besonder tevrede met jou lewe
26 tot 30: Baie tevrede
21 tot 25: Effe tevrede
20: Neutraal
15 tot 19: Effe ontevrede
10 tot 14: Ontevrede
5 tot 9: Besonder ontevrede

 

Bron: http://www.ppc.sas.upenn.edu/lifesatisfactionscale.pdf

Om gelukkig te wees moet jy:
1. voel jou lewe het betekenis.
“As jy sin ervaar, is jy baie gelukkiger,” sê Anna-Marie. Gebruik dus jou sterk punte om ander te help. Viktor Frankl, wêreldbekende sielkundige, het juis gesê: “Die groot vraag na die sin van die lewe is nie watter sin dit vir my bied nie, maar watter sin ek daaraan kan gee.” Ander faktore wat betekenis verleen, is geluk in jou werk en ’n goeie verhouding met kollegas en vriende. “En moenie jouself voortdurend met ander vergelyk nie. Dankbare mense is gelukkiger, gesonder en het meer energie,” sê Anna-Marie.
2.  meer betrokke raak by jou werk, familie, romantiese verbintenisse en stokperdjies.
3.  meer plesier uit die lewe kry, soos deur jou sintuie. Anna-Marie stel dit só: As jy vir jouself sê die sonsondergang is stunning, voel jy goed.
Hoe pas jy hierdie 3 gelukskomponente toe?
  • Skryf élke dag (verkieslik drie dinge) neer waarvoor jy dankbaar is. Die effek duur maande lank, sê Lyubomirsky en Seligman.
  • Prys ander en skryf dankiesê-briewe. As jy dit boonop aan daardie persoon voorlees, sal jy ’n maand later steeds gelukkiger en minder depressief wees, het Seligman bevind.
  • Wees behulpsaam en gaaf en doen omgee-take binne jou gemeenskap.
  • Leer om met jouself te redeneer, sê Ian. Bevraagteken of jou negatiewe oortuigings gegrond is.

Twee van die ander belangrikste faktore wat ’n rol in geluk speel, is geloof en vriende, blyk uit verdere navorsing. Deur geloof ervaar jy betekenis en hoop vir die toekoms. Jy geniet die ondersteuning van ’n gemeenskap van gelowiges en jy’s heel waarskynlik fisiek en geestelik gesonder, sê Ian. Vriende is eweneens belangrik, veral as julle nie met mekaar meeding nie. Hulle maak daardie gedeelde smart halwe smart en die vreugde dubbele vreugde, sê Anna-Marie.

“Veral vroue vorm ’n sisterhood wat lewenslank kan hou.” As jy ’n gelukkige mens is, word jy boonop meer dikwels as vriendin gekies. Mense wil hulle met jou assosieer, sê Ian. Vriende bevredig ook jou behoefte om deel te wees van ’n groep en is daarby ondersteunend. Bykomende faktore vir geluk sluit in of jy in ’n demokratiese, ryk land woon, genoeg geld het, getroud is (dan’s jou kans op geluk glo groter), gereeld sosiaal verkeer, jou alleentyd beperk en jy ’n ouer is. Ouerskap verhoog gewoonlik jou lewenstevredenheid.

’n Peiling in Time het Amerikaners gevra watter een ding bring vir hulle die grootste geluk. Die meeste (35%) het kinders en kleinkinders gesê, 17% het familie gekies, 11% het God, geloof of godsdiens gekies en net 9% hul man of vrou! Dr. Michael Fordyce, Amerikaanse psigiater en navorser van die geluksielkunde, het jare lank sielkundepublikasies bestudeer en sy teorieë getoets om só 14 grondbeginsels vir geluk te bepaal (http://www.gethappy.net/). Anna-Marie lewer kommentaar.

1. Wees meer aktief en bly besig.
“Besige mense het meer lewensvreugde. En as jy oefen, skei jou liggaam endorfien, die goedvoelhormoon, af.”

2. Wees meer sosiaal. “Ander mense kan jou lewe verryk.”

3. Wees produktief wanneer jy betekenisvolle werk doen. “Dit gee sin aan jou lewe.”

4. Organiseer beter en beplan jou doelwitte. “Jou lewe is minder stresvol.”

5. Hou op om jou te bekommer. “Dis dikwels oor dinge wat nooit gaan gebeur nie.”

6. Verlaag jou verwagtinge en strewes. “Realistiese verwagtinge is uitvoerbaar.”

7. Ontwikkel ’n positiewe, optimistiese manier van dink. Seligman sê ’n mens kan optimisme aanleer. “Dan’s jy geneig om goeie gebeure aan permanente en universele oorsake toe te skryf,” sê Ian. Soos: Ek is talentvol, eerder as die tydelike: Ek probeer te hard.

8. Leef vir vandag.

9. Werk aan ’n gesonde persoonlikheid. As jy geestelik gesond is, aanvaar jy jouself, hou jy van jouself, en ken en help jy jouself.

10. Ontwikkel ’n ekstroverte, sosiale persoonlikheid. Word lid van ’n klub, glimlag meer, groet ander en “oefen” om nuwe mense te ontmoet, sê Fordyce. Ian maan: Versigtig hier. ’n Persoonlikheidsverandering is nie sommer moontlik nie. Jy kan wel sosiale vaardighede aanleer.

11. Wees jouself. Jy sal diegene aantrek wat van jou hou nes jy is.

12. Raak ontslae van negatiewe gevoelens. Praat met ’n vriendin of sielkundige. “Dis baie belangrik om te ontlaai, anders kan jy dalk later ’n emosionele probleem hê.”

13. Hegte verhoudinge speel die belangrikste rol. “Dit gee jou lewe sin, dis lekker en jy voel gekoester. Koester ook die mense na aan jou, die lewe is kort,” sê Anna-Marie. Maar, waarsku sy, dis gevaarlik om jou geluk op iemand anders te bou. Verhoudings kan verbreek word, mense kan sterf. “Om gelukkig te wees moet jy eerstens ’n goeie verhouding met jouself en ’n positiewe, realistiese selfbeeld hê,” sê sy.

14. Gelukkige mense heg waarde aan geluk “en werk hard daaraan”. Waardeer die goeie in jou verlede en vergeet die slegte dinge, sê Ian. “Ons het ’n goeie voorbeeld in oudpres. Nelson Mandela.” Dalk moet ’n mens ook die skrywer Victor Hugo se woorde onthou: “’n Glimlag is die son wat die winter van die mens se gesig verdryf.”