Gesondheidstories

EK leef met ATHS: Hoekom galop my kop?

Jou kop is soos ’n televisie wat rondspring tussen kanale – SABC1, SABC2, kykNET, e.tv . . . En die TV se afstandbeheer bly soek. Jy voel verstrooid, ongeorganiseerd, rusteloos . . .  en kan om die dood nie take afhandel nie. Jou toestand het ’n lomp naam: aandag-tekort-hiperaktiwiteitsindroom (ATHS).

Daar is baie debatte hieroor, maar hoofstroom-wetenskaplikes twyfel nie dat dit wel bestaan nie. Dis neuro-biologies en meestal geneties – en nie die skuld van jou ouers, skool, rekenaarspeletjies of ’n swak dieet nie. Dit word gewoonlik met kinders geassosieer, maar jy is lankal nie meer ’n kind nie. ATHS verdwyn nie magies as jy die dag 18 word nie. Prof. André Venter, hoof van die departement pediatrie en kindergesondheid aan die Universiteit van die Vrystaat, sê na raming ly tot 8% van Suid-Afrikaanse kinders daaraan. Van hulle sal sowat 40% tot 60% as volwassenes nog simptome hê. Minder as 20% het egter medikasie nodig.

“Jy ‘ontgroei’ nie ATHS nie. Maar jy kan leer om daarby aan te pas, of dit kan só verbeter dat dit jou minder pla. Die hiperaktiwiteit verbeter beslis soos wat jy ouer word, die probleem om te fokus egter nie.“ Volgens hom sal volwassenes eerder hulp soek vir sekondêre simptome, soos depressie, ’n lae selfbeeld, kommunikasie- en huweliksprobleme.
 
Nuwe medikasie, die eerste nie-stimulant vir ATHS, is onlangs bekend gestel. Dis ook die eerste ATHS-medikasie wat vir volwassenes geregistreer is. Prof. Venter sê egter Ritalin word al jare lank met goeie resultate deur volwassenes gebruik. Maar jy het nou ’n groter keuse as jy ATHS het.

SARIE het met twee volwassenes gepraat wat met dié toestand saamleef.

Mari Louw (25) van Kaapstad

Sy voel hoe die motorfiets se neus in die wind beur, die enjin se krag tussen haar bene. Sy is gefokus, midde-in die oomblik  . . . kop en lyf vir ’n wyle sáám in ’n vreedsame eenheid.

 

‘Ek besef nou dat ’n hele nuwe dimensie van my menswees wag om ontdek te word’ Mari Louw (25) van Kaapstad

 

“Ek is 25 – en lei ’n normale lewe danksy Ritalin. Dié medikasie laat my meer selfversekerd voel. Ek weet ek is dan rustiger, meer gefokus en dus meer produktief. (Normaal! sê my kollegas.) Ek is in beheer van myself en my gedrag is meer aanvaarbaar vir ander. Daarsonder irriteer ek mense dikwels eindeloos. ’n Hartlyer het medikasie en terapie nodig om sy toestand te beheer en sy lewensgehalte te verbeter . . . ek ook. My probleem is neurologies: my brein is permanent in overdrive.

“Dit het vroeg al kop uitgesteek. Op my eerste skoolrapport staan: ‘Dis nie vir Mari belangrik om take te voltooi nie.’ Ek het sommige dinge vinniger as ander kinders gesnap, maar met ander goed weer vrek baie gesukkel.

“Ek het nooit aan ’n spesifieke vriendekring behoort nie. Dit het veral hier by st. 5 (gr. 7) rond begin pla. Ek was rebels, dalk verward en het altyd stroomop geswem. ’n Loner en ’n maklike teiken vir boelies. Ek het nie buddies gehad wat my kon beskerm nie. Ek het alleen baklei. Later het ek ’n vriendin gekry en sy het die ergste geboelie gekeer.

“Toe almal klieks vorm, het ek nêrens ingepas nie. Ek was nie ’n nerd nie, ek was nie ’n prefek nie. Ek was te rebels vir die CSV-groepie en te soet vir die rokers, drinkers en jollers. Seuns het my per brief uitgevra en as ek ja sê, het die hele klas daaroor gelag en gespot.

“Op hoërskool het dit erger geraak. Ek was die teiken van ’n groep meisies wat my geboelie en gespot het. My boeke is voor eksamens en toetse gesteel. My werkopdragte ook. Hulle het in my boeke gespoeg en lelike boodskappe daarin geskryf, ek is gekoggel en sleggesê. Die onderwysers het gekla oor my skoolwerk. Ek is dan só intelligent, maar presteer so swak! Ek het sekere vakke as oorbodig beskou om my vir die grootmenswêreld voor te berei. Ek het beter in vakke met ’n praktiese agtergrond gevaar.

“Dinge het in st. 8 (gr. 10) te veel geraak: Ek het ’n hand vol pille gedrink en in die hospitaal wakker geword. Ek was keelvol om anders te wees en het gevoel niemand verstaan my nie. Ek en my ouers was permanent haaks, want ek was ’n onderpresteerder. Die positiewe sy is dat ek en my ouers daarna nader aan mekaar was. (Ek spook steeds met depressie, maar danksy terapie hanteer ek dit beter.)

“Ek het st. 9 deurgeskraap. Die voorligting-onderwyseres het my ouers oorreed dat ek matriek aan ’n tegniese kollege moet voltooi. By die Tygerberg-kollege het my punte dadelik geklim en ek het met ’n C-gemiddeld gematrikuleer. En ek het die onwrikbare besluit geneem: Ek sal dié wys wat my ’n loser genoem het.

 “Ek het myself in vier jaar van ontvangsdame tot verkoopskonsultant opgewerk. My salaris het vyf keer verdubbel. Ek het onlangs my eerste motor gekoop. Ek probeer hard om ’n sukses van my lewe te maak. Ek het die ondersteuning van my ouers . . .  my handjievol vriende.

“ATHS maak my leergierig en my brein moet aanmekaar gestimuleer word. Ek vra altyd vrae – ek wil alles weet. In my werk moet ek kreatief wees en my verbeelding gebruik. Dit pas my soos ’n handskoen. Ek is altyd betyds vir afsprake want ek glo aan stiptelikheid. Maar ek het bietjie ondersteuning nodig om take te voltooi! Ek is eerder uniek as soos almal om my. Ek is mal oor motorfietse en die afgelope ses jaar ’n aktiewe biker. As dit by biking kom, kan ek ure lank konsentreer. As ek maar soveel op my skoolwerk kon konsentreer, het my pa altyd gesê.

“Die biking-gemeenskap in die Kaap is baie close: soos familie. My biker-buddies is altyd daar vir my. Huil of bedonderd wees: Ek kan myself wees by hulle. Ek is baie reguit en sê ’n ding soos dit is: Dis ’n ATHS-simptoom om te praat voor jy dink. Dit maak my soms baie ongewild.

“Op my troue het ek en my blommemeisies op ’n motorfiets die kerk binnegery. Maar die huwelik is oor, verby – ná skaars drie jaar. Toe ons getroud is, was ons naïef genoeg om te glo dat dinge sal verander, dat al die probleme en issues oornag sal verdwyn.

“My ATHS het hom teen die mure uitgedryf. Sy perfeksionisme en ek-moet-in-beheer wees het my kwaad en seergemaak. Ons het albei seergekry.

“Ek fokus nou op my toekoms, om die beste daarvan te maak. Weens omstandighede en negatiewe gebeure in my lewe, asook mense se kritiek, onkunde en verwerping, het ek te lank teen die negatiewe sy van ATHS vasgekyk. Ek besef nou dat ’n nuwe dimensie van my menswees wag om ontdek te word.“

Ryan Poole (27) van Johannesburg

Sy twee meter lange lyf krul gemaklik in die rusbank se kromming. Sy hande is groot, met fyn sproetjies. Mooi hande. Dit beduie, vat hier, peuter daar. Dis die enigste uiterlike teken van sy kop wat aanmekaar weghol – soos ’n steeks perd gedurig ingetrek moet word.

“Dis klein goedjies wat ’n volwassene met ATHS verklap. As ek saam met my ouers in ’n motor is, kla hulle ek peuter met al wat knoppie is. Ek weet nie eens ek doen dit nie. Maar die toestand is nie so opsigtelik soos by kinders nie.

“Dis wat aanmekaar in jou kop gebeur wat jou anders maak. Jou kop galop, galop . . .  jy smag daarna om daarvan weg te kom. Maar dit volg jou oral – selfs as jy met vakansie is.

 

‘Dis wat aanmekaar in jou kop gebeur wat jou anders maak. Jou kop galop, galop . . . jy smag daarna om daarvan weg te kom’ Ryan Poole (27) van Johannesburg

 

“Ander mense se koppe werk stadiger. Jy kan nie jou behoeftes vinnig genoeg oordra nie. Jy raak gefrustreerd met jouself – én met hulle. En die oomblik kan jou maklik meesleur. Hiperaktiewe kinders gaan heeltemal oorboord en hul ouers vra: ‘Nou hoekom het jy dit gedoen?’ En jy weet nie hoekom nie, jy het net.

“As volwassene kan jy ’n situasie heeltemal oorneem: Jy is luid en uitgesproke en trap buitekant die lyne. Op baie tone. Dis nie sosiaal aanvaarbaar om elke gesprek te domineer nie, jou idees in ander se kele af te druk nie. Jy bedoel dit nie. Jy wil nie daardie mens wees nie. Maar as jy weer sien, is dit ‘genade, daar het ek dit al wéér gedoen!’ Jou kop beweeg te vinnig en jy besef nie altyd hóé vinnig nie. Jy het iemand nodig wat sê: Stadig oor die klippe, haal diep asem, kalmeer . . .

“Dis ’n kwessie van beheer, van onbewus wees hoe jy optree omdat jy in jou eie wêreld verstrengel raak. Gestimuleer, opgewen . . .

“Daar is ’n positiewe kant: Jy raak nooit depressief en negatief nie. Jou energievlakke is ongelooflik. Ek kan 18 uur lank werk, ’n paar uur slaap en dan weer aangaan. Maar ander mense vind jou ’n handvol.

“As kind was my kop altyd moeg. Jy word behandel asof jy ’n tydbom is. Jy hét die vermoë om te leer. Ek hou van leer. Maar jy moet op interessante maniere in die leerproses begelei word. En as jy dan op iets afkom wat jy interessant vind, verstaan jy dit onmiddellik. Maar van die res wil jy niks weet nie. Jy kan egter nie deur die lewe gaan en sê: ‘Ek het ATHS en hoef nie van die ander dinge te weet nie.’

“Ek is op ses met ATHS gediagnoseer en het Ritalin begin drink. Niemand het aan my verduidelik wat verkeerd is nie. Ek was die derde van vier kinders en onmoontlik. My ma het dit maar hotagter gehad. Sy het gedoen wat sy gedink het die beste was.

“Maar ek was in die duister en deurmekaar: Ek moes hierdie wit pilletjies drink, niemand anders het dit gedrink nie. En my ma was streng. As jy hiperaktief is, probeer hulle jou met dissipline in toom hou. Want breek jy uit, brand jy die huis af, of iets.

“Dis moeilik vir ’n ouer . . .  jy wil nie ’n sielkundige debat met ’n sesjarige voer oor hierdie toestand wat hy het nie. Soos wat die kind ouer word, moet daar tog maniere wees om aan hom te verduidelik hoekom hy ‘anders’ is – en dat dit nie ’n big deal is nie. Ek het hier teen hoërskool geweet wat aangaan. Teen daardie tyd het ek Ritalin gedrink net wanneer ek moes studeer. Ritalin het nie vir my gewerk nie. Dit werk soms wel vir ander kinders. Dis erg genoeg as jy op en af en op en af bons. Ritalin help ’n paar uur, maar los jou dan soos ’n warm patat. Sterkte as sesuur nader kom. Want jy kan dit nie ná vyf neem nie, dis ’n stimulant en jy sal nie kan slaap nie. Ek het baie angstig geraak: Ritalin bring dit na vore. Daar het ’n tyd gekom toe ek besluit het: liewer nie. Ek wou nie so sleg voel nie.

“Hoërskool? Jy is ’n tiener, met ’n tiener se probleme. Maar daar is ook die konstante ‘gekheid’ in jou kop. Dit was ’n opdraande stryd om ’n E-gemiddeld te kry. Ek het gevoel ek word as ondergemiddeld geklassifiseer. Maar ek het geweet ek is nie dom nie, dat ek met die hulp van een of ander ‘super-medikasie’ baie beter sou kon vaar. Jy wíl graag beter vaar, jy wéét jy kan beter. Maar jy kan nie studeer nie.

“As ’n ander kind vier uur lank studeer, fokus hy en neem die inligting in. Die ATHS-kind daarenteen, dink ’n bietjie, lees ’n bietjie, krabbel ’n bietjie. Om twee uur met ’n handboek te sit en te konsentreer, is onmoontlik . . . malligheid.

“Ek was gewild en deel van verskillende groepe: vriende met die jocks en cool ouens, maar ook met die nerds. Ek was altyd in die middel van alles. Daarom het dit nog minder sin gemaak dat ek akademies gesukkel het.

“Rolprente was nog altyd ’n passie. En ná ’n (mislukte) jaar aan die Universiteit Stellenbosch, het dit ook my loopbaan geword. Ek het vier jaar aan die Afda-rolprent-en-dramaskool in Johannesburg gestudeer en ’n honneursgraad verwerf. In my finale jaar is ek as die beste regisseur in my groep aangewys. Ek het baie gehad om aan myself en my ouers te bewys: Dat ek iéts goeds kan doen. Asof ek só kon bewys dat ek ‘normaal’ is.

“Ná my studie het ek en ’n vriend, Adam Thal, met ’n produksiemaatskappy, Star Productions, begin. Adam ondersteun my, hy verstaan my toestand goed. Voorheen het ek myself probeer dwing om sekere dinge te doen. En dit dan half gedoen. Nou los ek dit vir later of delegeer dit. Ek evalueer alles wat gedoen moet word en maak seker dit word wel gedoen. Maar ek fokus op dit waaroor ek passievol is.

“Adam is my vangnet. Ek kry die idees, Adam sorg dat dit in die praktyk uitgevoer word. Hy kyk dat die onderneming intern op geoliede wiele loop. Ek is meer betrokke by die kreatiewe konseptualisering van dinge.

“Een van ons flieks, Under the Rainbow, is verlede jaar op die Cannes-filmfees vertoon. Ek het skouers geskuur met die akteurs Billy Zane, Edward Norton en die sosiale vlinder Paris Hilton.

“Die wêreld gaan nie stilstaan en ’n Kleenex uithaal omdat jy aan ATHS ly nie. Daar is mense wat jou ondersteun, maar op die ou end is dit jyself wat elke dag daarmee moet saamleef. En daar is nie ’n eindstreep nie. Dis ’n resies wat jy die res van jou lewe gaan hardloop.“

  • http://xygtwsvagqut.com/ hsvcveqzap

    kCmOEi mrtryyyujjoo, [url=http://xlsxmttyssov.com/]xlsxmttyssov[/url], [link=http://kvhrkggxmvbg.com/]kvhrkggxmvbg[/link], http://zeurcvvayalh.com/

  • alida ellis

    ek self het n kind wat concerta gebruik- sonder dit sou hy nie kon vorder op skool – daar is vir ons gese
    dat hy nie in die hoofstroom onderwys sal kan bly nie. Dit was vir my as ouer buite die kwesie en het alles in my vermoe gedoen om hom te help. Vandag klaar met n graad in LLB en ook klaar met sy prokureur-eksamen.

    Een ding waarmee ek nou worstel is hoe haal ek hom af van Conserta. Is daar enige persoon of instansie wat my kan help!

    Waar klop ek vir hulp aan

    Groete
    Alida Ellis.

  • iucjjvgbhh

    sxuS4t erwpawhbwfxo, [url=http://vjcqssewnyws.com/]vjcqssewnyws[/url], [link=http://fketveotuzwz.com/]fketveotuzwz[/link], http://nkeehighbrjd.com/

  • Christa

    Hi Alida
    Kontak die mense van Brain Gain. Hulle spesialiseer met kinders met ADD en ADHD. Jy kan hulle besonderhede kry by http://www.braingain.co.za Brain Gain is begin omdat ‘n mamma haar kind wou help en uitgekom het by Neuroterugvoeringsterapie.

  • Bettie

    My pleegseun van 9 is al 3 jaar op Ritalin ek wil net weet of daar n verskil is tussen Conserta en Ritalin