Inflammasie: 5 wenke wat werk (Deel 3)
Verloor gewig, oefen en kan jy raai . . . wees positief. Nog maniere waarmee jy chroniese inflammasie kan troef, wat 'n rol speel by van hartsiektes tot Alzheimer.
1. Verloor gewig
Vetselle stel sekere proteïene vry wat laegraadse inflammasie aanhelp, veral as jy gewig aansit. In 'n Amerikaanse studie het 'n sekere aanduider van inflammasie met tot 50% gestyg by vetsugtige vroue wie se rolletjies op hul heupe en dye versamel (sg. peer-liggaamsvorm). By vetsugtige vroue met baie vet om hul middel (appel-vorm) het dit meer as 400% gestyg!
2. Oefen
Oefening beveg inflammasie, selfs al verloor jy nie 'n gram nie. (Bron: www.unisci.com)
Vetselle stel sekere proteïene vry wat laegraadse inflammasie aanhelp, veral as jy gewig aansit, sê 'n Amerikaanse studie
3. Drink water
Mans wat vyf of meer glase water per dag drink se kans is sowat die helfte minder om 'n hartaanval te kry as hul broers wat twee of minder glase drink, wys Amerikaanse navorsing. Jy kan die water aanvul met drankies ryk aan antioksidante, soos groentee, lemoen- of bessiesap of rooiwyn ('n glas per dag vir vroue en twee vir mans). (Bron: www.health.com)
4. Wees positief
Mense wat as kind gemolesteer is, is twee keer meer geneig om hoë vlakke van inflammatoriese merkers soos CRP te hê, wat 'n vroeë waarskuwing vir toestande soos hartsiektes en diabetes kan wees, wys studies. Volgens die Britse navorsers kan sielkundige stres dus ook 'n sneller vir chroniese inflammasie wees. Ontspan daarom en vind maniere om stres te verlig, soos meditasie, joga en massering. (Bron: www.bbc.co.uk)
5 Slaap rustig
Slaapafwykings en hartsiektes gaan hand aan hand, volgens navorsing aan die Harvard Mediese Skool. As jy sleg slaap, verhoog die vlakke van CRP (merker vir inflammasie). (Bron: www.health.harvard.edu)
Aspirien & hartsiektes
Dis een van die oudste middels teen inflammasie en baie mense drink aspirien gereeld om hartaanvalle en beroerte te voorkom. Dit werk omdat dit abnormale bloedplaatjieklonting of "bloedklontvorming" kan voorkom. Maar dalk ook vanweë die anti-inflammatoriese krag daarvan. As jy blakend gesond is en jy neem dit elke dag, kan dit jou egter meer kwaad as goed doen, wys nuwe Amerikaanse navorsing.
Dit beskerm jou nie teen toekomstige hartvatsiektes nie, en jou risiko vir interne bloeding is boonop groter. Dis egter 'n ander saak as jy reeds 'n hartaanval of beroerte gehad het: Dit kan jou dan teen nog een beskerm. (Bron: www.medicalnewstoday.com)
Giftige omgewing
Doen alles in jou vermoë om dié lading van giftige stowwe te verminder. Volg 'n gesonde leefwyse, verminder stres en hou op rook. Eet organiese produkte en vermy verwerkte kosse, sê Bernard. (Besoek sy webblad: www.creatinghealth.co.za.)
Verwante artikels
-
20 Stappe vir ’n gesonder jy
SARIE - Januarie 2008
Ruk jou gesondheid reg in 2008 met ’n paar basiese beginsels. Dis maklik genoeg om by hierdie voornemens te hou
-
Chroniese Inflammasie: Hier's raad (Deel 1)
SARIE - Mei 2010
Inflammasie se rol in jou gesondheid is warm nuus. Nie net speel dit 'n rol by hartsiektes nie, maar ook by kanker, tipe 2-diabetes en selfs Alzheimersiekte. Gelukkig kan jy iets daaraan doen.
-
Inflammasie: Wat jy moet eet (Deel 2)
SARIE - Mei 2010 | Kommentaar: 2
Inflammasie is die natuur se manier om jou liggaam te genees, maar dit het ook 'n donker kant: Dit kan onder meer hartsiektes en kanker aanhelp. Gelukkig kan jy iets daaraan doen.
-
Systap jou gene - Alzheimer, hartsiekte of kanker
SARIE - November 2008
Kom sekere siektes algemeen in jou familie voor? Dit hoef nie jóú voorland te wees nie, want jy kan sélf iets daaraan doen.












Kommentaar