FOTO: Facebook

Gesondheidstories

Inspirasie: Barbie Thomas, die spierbouer sonder arms

Barbie Thomas het albei haar arms as kind verloor, maar dít het haar nie gekeer om ’n danser, atleet en mededingende spierbouer te word nie. Hier is haar storie.

Toe Barbie net 2 jaar oud was, het sy haar arms ná ’n elektriese ongeluk verloor. The Daily Mail berig dat die elektrisiteit deur haar lyfie gehardloop en haar arms tot teen die been gebrand het. Die enigste oplossing was om haar arms by haar skouers af te sit.

Die dokters het gesê, indien sy oorleef, sou sy verstandelik gestremd wees. Maar Barbie het hulle verkeerd bewys. Behalwe haar arms wat nie gered kon word nie, het sy heeltemal herstel en het vandag, op die ouderdom van 38, twee tienerseuns. Sy funksioneer heeltemal onafhanklik en gebruik haar voete en tone om oor die weg te kom.

Barbie word ’n spierbouer

Barbie se ma het destyds toe sy in die hospitaal was reeds ’n belofte gemaak dat indien Barbie oorleef en herstel, sy haar dogter wil help om iets in haar lewe te bereik. Barbie wat nog altyd lief was vir sport, het fiksheid toe haar doelwit gemaak.

Volgens die blog Hello Giggles was Barbie deel van haar skool se swemspan en het sy aan dans en sokker deelgeneem. Daarna het sy by spierbou betrokke geraak.

Sy het onlangs ’n groot mylpaal bereik toe sy aan ’n groot spierbou-kampioenskap in die VSA deelgeneem het. Alhoewel sy geen prys gekry het nie, was sy die enigste deelnemer wat ’n staande toejuiging ontvang het. Haar spesiale roetine het elke hart in die gehoor gewen.

Barbie by ’n onlangse spierbou kompetisie in die VSA FOTO:  Facebook

Barbie by die NPC Junior VSA Spierbou-kampioenskap.
FOTO: Facebook

Lees meer oor Barbie se storie en kyk na foto’s van kompetisies waaraan sy deelgeneem het op haar webblad, Fitness Unarmed.

Barbie deel gereeld oefen-inspiraise op haar Facebook-blad. Hier is ’n paar aanhalings om jou aan te moedig om weer daardie oefenklere uit die kas te grawe:

  • ‘n Oefensessie is ’n persoonlike oorwinning oor luiheid

  • Moenie kla jy’s vet as jy niks daaraan gaan doen nie

  • ’n Negatiewe ingesteldheid sal nooit vir jou ’n positiewe lewe gee nie

Nóg oor gesondheid en oefen