FOTO Unsplash / Sonja Langford

Gesondheidstories

Jou biologiese horlosie

Jy dink daar is nog baie tyd vir ’n baba. Maar dis ’n feit: Hoe ouer jy is, hoe moeiliker raak jy swanger. En selfs die moderne wetenskap het nie altyd ’n oplossing nie.

Angela Kelleher van Johannesburg was 34 – desperaat vir ’n baba – maar reeds in haar menopouse. Sy en haar man, Greg Smith, het ’n jaar lank tevergeefs probeer om op die natuurlike manier swanger te raak. Hulle het in dié tyd ook vier kunsmatige inseminasies* probeer, sonder sukses.

En toe die diagnose: vroeë menopouse. Daar was geen sigbare tekens nie en dis nie ’n familietrek nie. “Al my vriende van my ouderdom, en selfs ouer, was besig om met ’n gesin te begin. Dit was dus ’n geweldige skok. My kanse om swanger te raak – selfs met in vitrobevrugting (IVB) – was 10%. Ek was gebroke.”

Sy het met IVB begin, ’n laboratorium-prosedure waar die eierselle buite die liggaam met die spermselle bevrug word. Met die eerste probeerslag het ’n wonderwerk gebeur en sy het swanger geraak. Maar op vier maande het sy haar identiese tweelingseuntjies verloor. Die volgende twee IVB-behandelings het misluk.

Plan B was om eierselle van ’n “engel”-skenker te gebruik en die vyfde IVB daarmee was suksesvol. Saoirse Rose, wie se naam in Iers “vryheid” beteken, is nou 5 maande. “Dis moeilik om aan iemand wat dit nie self ervaar het nie, te beskryf wat ’n groot en blywende effek onvrugbaarheid op jou lewe het. Infertiliteit is ’n aaklige siekte.” (Dit word as een deur die Wêreldgesondheidsorganisasie erken.)

In die vyf jaar wat Angela en Greg gesukkel het om swanger te raak, was sy betrokke by die stigting van die Infertility Awareness Association of South Africa (IFAASA). Sowat 1 uit 6 pare sukkel met een of ander vorm van onvrugbaarheid. IFAASA wil mense bewus maak daarvan dat jy dan ander keuses het – soos skenker-eiers of -sperms, surrogaatmoederskap of aanneming. (Besoek www.ifaasa.co.za)

Die tegnologie se hulp

In 1978 was Louise Brown van Engeland die eerste baba wat met behulp van IVB gebore is. (Die huidige Mej. SA, Rolene Strauss, was toevallig die Universiteit van die Vrystaat se eerste suksesvolle “proefbuisbaba”, soos dié babas in die volksmond bekend staan.) Vroue het in dié tyd ook al meer hul plek in beroepe begin inneem, met nuwe loopbaan- en studie-geleenthede wat toenemend oopgegaan het. En daarmee saam het hulle moederskap begin uitstel.

Ons word deesdae al hoe later ma’s. Die Britse koninklike baba, prins George, beklemtoon dié neiging. Op 31 was Kate Middleton nog bloedjonk. Maar nogtans meer as ’n dekade ouer as prinses Diana toe prins William gebore is. Hoewel daar nie plaaslike data beskikbaar is nie, is sy indruk dat die gemiddelde Suid-Afrikaanse vrou met ’n Westerse leefstyl swangerskap uitstel, sê prof. Thinus Kruger van die Aevitas vrugbaarheidskliniek by die Life Vincent Pallottihospitaal in Kaapstad. Daar is baie vroue wat eers op 35 en ouer met ’n gesin begin.

FOTO Unsplash / Alexander Dummer

FOTO Unsplash / Alexander Dummer

 

En dis dikwels paartjies uit ’n hoër sosio-ekonomiese klas, beaam dr. Marienus Trouw van die Pretoria-vrugbaarheidsentrum. (Amerikaanse navorsing bevestig dit.) Met sterre soos die sangeres Mariah Carey wat vir die eerste keer op 42 ma geword het, is dit maklik om te glo ook jy het die wêreld se tyd.

As jy later nie op die natuur se manier geholpe raak nie, kan die moderne wetenskap jou mos ’n helpende hand gee. Maar om in jou laat dertigs, vroeë veertigs swanger te raak, is nie altyd so maklik nie, selfs met die wetenskap se hulp. Die samelewing het verander, ons lywe nie. By ’n groot aantal vroue wat by ’n vrugbaarheidskliniek aanklop, is ouderdom dan ook die enigste probleem, sê Dr. Trouw.

Vrugbaarste tyd

In die middel 1980’s het wetenskaplikes bevind ’n vrou se vrugbaarheid neem natuurlik met die ouderdom af, volgens ’n blog op www.uscfertility.org. Dit daal geleidelik tussen 20 en 35 – en val dan skerp ná sowat 37. Byna alle vroue is op 45 onvrugbaar. Die patroon dat ouderdom ’n rol speel, word ook in vrugbaarheidsbehandelings gesien. Selfs met aggressiewe behandelings soos IVB neem die aantal swanger-skappe ná 37 jaar af – en daal drasties ná 40. Op 45 word jou kans om ’n baba met behulp van IVB te hê op minder as 5% geskat, volgens die blog.

Ons biologiese horlosie het nie tred gehou met ons vermoë om langer te leef nie, sê dr. Trouw. Die navorsing is duidelik: Hoe ouer jy is, hoe moeiliker raak jy swanger. En hoe hoër die kans vir miskrame, swangerskap-probleme (soos gestasie-diabetes – wat laat in jou swangerskap verskyn en weer daarna verdwyn – en hoë bloeddruk). Ook vir chromosoom-afwykings soos Downsindroom. (Dis omdat die eierselle, soos die meeste selle in jou lyf, met die jare afgetakel raak.) In ’n studie in die joernaal Autism Research is ook bevind die risiko vir outisme is groter. Vroue bo 40 se kans is hiervolgens 77% hoër vir ’n kind met outisme, teenoor dié jonger as 25. Hoe dan nou met die filmstermammas in hul middel 40’s wat op glans-tydskrifte se voorblaaie met hul gesonde spruite pronk? Hulle het waarskynlik met skenker-eiers geholpe geraak, maar sê dit net nie, reken dr. Trouw en prof. Kruger. Selfs vroue in hul vyftigs kan só aan ’n gesonde baba die lewe skenk.

Word jou eiers, daarenteen, op daardie ouderdom in ’n jong surrogaatma se baarmoeder geplaas, is die kanse nie net skraler dat sy swanger gaan raak nie, die risiko vir chromosoomafwykings en miskrame is ook groter.

FOTO Unsplash / freestocks.org

FOTO Unsplash / freestocks.org

Horlosie tik reeds voor geboorte

Jou biologiese horlosie begin reeds voor jou geboorte die minute aftik. ’n Vroulike fetus het op 20 weke sowat sewe miljoen eiers. Teen die tyd dat jy gebore word, is dit sowat een of twee miljoen. Die volgende 35 – 40 jaar gaan jy sowat 300 – 400 eiers tydens ovulasie afskei – en die res sterf geleidelik tot jou menopouse op sowat 50. Op 30 is sowat 12% van jou eiervoorraad nog oor. Op 40 net sowat 3%. Sowat 81% van dié afname is aan die ouderdom toe te skryf, wat dit die belangrikste faktor in vroue se vrugbaarheid maak. Dis die bevinding van navorsers wat vroue se potensiële aantal eiers (jou eierstokvoorraad) van geboorte tot menopouse nagespeur het. Die resultate het in die internasionale aanlyn-joernaal PLOS ONE (www.plosone.org) verskyn.

Nie net word die aantal eiers minder nie, die gehalte neem ook af, sê dr. Sascha Edelstein, ’n vrugbaarheidspesialis van HART (Holistic Assisted Reproduction Treatment) in Kaapstad. (Jou eierstok-reserwe genoem.) Op 30 is jou kans 20% om met elke menstruele siklus swanger te raak, op 40 is dit minder as 5%. As jy in jou 20’s elke maand ovuleer, is dit meestal gesonde eiers van goeie gehalte; bo 40, meestal abnormale eiers. Jou kans is dus kleiner om in daardie jaar swanger te raak, al ovuleer jy elke maand. As jy bo 42 is en wel swanger raak, is jou kans boonop 50% op ’n miskraam weens die abnormale eiers. Dr. Edelstein stel voor as jy ouer as 36 is en nie binne ses maande op die natuurlike manier swanger raak nie, moet jy ’n vrugbaarheid-spesialis raadpleeg. Gaan vroeër as jy enige ginekologiese probleme gehad het wat jou vrugbaarheid kan beïnvloed, soos ongereelde siklusse (dalk ’n teken dat jy nie ovuleer nie), pynlike menstruasie (dalk ’n aanduiding van endometriose) of bekken-infeksie.

Ander faktore

Hoewel ouderdom die belangrikstevoorspeller van vrugbaarheid is, speel ander faktore ook ’n rol in hoe vinnig jou eierstok-voorraad verminder. As jy twee 35-jarige vroue het, gaan die een dalk baie langer vrugbaar bly.

• Familiegeskiedenis

Vrugbaarheid is dikwels ’n familieeienskap. As jou ma en ouma op 45 nog kinders gehad het, is die kanse goed dat jy ook sal kan. Was jou ma en ouma se menopouse in hul laat dertigs, vroeë veertigs, moet jy dalk maar vroeër met ’n gesin begin, sê dr. Trouw.

• Leefstyl

Vroue besef dikwels nie jou leefstyl kan jou toekomstige vrugbaarheid beïnvloed nie. Volgens die PLos One-studie het faktore soos stres, rook en oorgewig toenemend ’n negatiewe uitwerking as jy ouer word. Wat jou eier-reserwes spesifiek betref, is rokers se risiko groter vir eierselle wat vinniger en meer beskadig word. Dit kan eierselle só verander dat dit nie bevrug kan word nie. Of nie behoorlik kan groei nadat dit bevrug is nie. (Dinge soos vetsug en eetversteurings het nie ’n effek op jou eier-reserwes as sodanig nie, maar op jou vrugbaarheid in die algemeen.)

Toets jou eier-reserwes

Daar is toetse wat jou eierstok-reserwes kan meet, maar dit het tekortkominge. Volgens dr. Trouw meet dit die aantal eiers, eerder as die gehalte. (Onthou, hoe beter die gehalte van die eiers, hoe groter jou kanse om swanger te raak.) Dis boonop ontwikkel om jou respons op vrugbaarheids-behandelings te meet. Daar is min bewyse dat dit ’n goeie voorspeller van natuurlike vrugbaarheid is. So ’n toets kan dus op 35 wys jy het nog baie eiers. Maar op 40 gaan die meerderheid daarvan abnormale eiers wees.

Vries van eiers

Kan jy met die vries van jou eierselle die biologiese horlosie troef? Sperm vries goed, want daar is miljoene en dis klein, sê dr. Trouw. Daar is ook taamlik goeie resultate met gevriesde embrio’s (bevrugte eierselle). Nie so met eierselle nie. Dis groot en as dit ontdooi, kan yskristalle aan die sitoplasma dit beskadig. Tog is daar die afgelope 5 tot 10 jaar baie vordering gemaak en die resultate is beter, maar jou kans om swanger te raak is steeds net 10% per eiersel. Jy moet dus nog genoeg eierselle oorhê wat gevries kan word. Vroue skrik egter dikwels eers ná 35 wakker wanneer hul eierstok-reserwe reeds verminder het. Daar word dus minder eiers geproduseer wat gevries kan word. Dit maak die kans op sukses baie kleiner. Ons het boonop meestal nie in ons twintigerjare geld vir die proses nie. Dis duur (enigiets tussen R25 000 tot R50 000) om die eiers te stimuleer en te oes. (Laasgenoemde word met skemernarkose gedoen.)

“Ons is in ons tienerjare gereed om kinders te baar, maar wag tot twintig jaar later. Ons persepsie is dat ons hope tyd het en dat die tegnologie met ouderdomsverwante probleme sal help. Dis nie so,” sê dr. Trouw. Praat dus met jou ginekoloog oor jou vrugbaarheid, selfs al wil jy nie nou al kinders hê nie. Sê vir jou dokter: “Ek is hier vir my Papsmeer, maar laat ons nou daaroor praat. Want ek wil nie op 35 paniekerig raak nie.”

*Die artikel is in SARIE, Augustus 2014 gepubliseer.

Lees nou

Janet Jackson se eersteling is hier

Pas op vir min sperm, sofapokkel!

Die biologiese klok tik … vir mans óók