jul06gesondartikel1a
Gesondheidstories

Jou gids tot ’n gesonde, gelukkige vagina

Het joune ’n naam? Iets sags en vrouliks soos Duifie, Blommetjie, Rosie, Vetplantjie of Vlermuisie. Of wat van my ou Leeubekkie? Wel, dis wat party vroue doen. Hulle verwys na hul intiemste liggaamsdeel – hul vagina – met ’n troetelnaampie. Dis die minste wat dié liggaamsdeel verdien.

“Daar is so baie donkerte en geheimhouding rondom die vagina, dit herinner jou aan die Bermuda-driehoek. Niemand rapporteer terug van daar nie,” is hoe Eve Ensler dit effe dramaties in The Vagina Monologues beskryf. Maar dit was nie altyd so nie, sê Catherine Blackledge in The Story of V: Opening Pandora’s Box (Weidenfeld & Nicolson, 2003). In haar boek oor die geskiedenis, mites en geheime van die vagina, probeer sy ’n lansie breek vir dié “kultureel obskure klein orgaan“, soos sy dit stel.

“Vroue,” skryf Blackledge, “het eeue lank hul rokke gelig – en die see het stil geword, storms het bedaar en gesaaides het gegroei. Gode en dapperes het op vlug geslaan as hulle met die krag van die vroulike genitalieë gekonfronteer word.

“Dis hier waar die saadjie vir lewe geplant word, dis die kanaal waardeur geboorte gegee word en ook die setel van jou seksuele plesier. Maar ons weet minder van die vagina se struktuur en funksie as enige ander orgaan. In die Westerse kultuur is dit ’n taboe onderwerp. Dit staan vir sonde, skaamte . . . en vyeblare. (Dis egter ’n element in baie Oosterse gelowe.)”

OEFENINGE VIR BETER SEKS

As jy ’n baba gehad het, het jy waarskynlik in voorgeboortelike klasse geleer om Kegel-oefeninge te doen. Só versterk jy die bekkenvloerspiere wat met geboorte rek. As die spiere sterker en meer elasties is, kry jy meer intense orgasmes. Dit kan ook blaasbeheer verbeter en voorkom dat urine lek.

Doen dit só: Dis dieselfde spiere waarmee jy die vloei van urine stop. Trek dit saam, hou dit ’n paar sekondes lank só, en ontspan. Om seker te maak jy trek die bekkenvloerspiere saam – en nie jou maagspiere nie – doen dit aanvanklik terwyl jy op die toilet sit. Of sit een of twee vingers in die vagina. Trek die spiere saam. As jy druk teen jou vingers voel (selfs net effentjies), gebruik jy die regte spiere. Doen dit 5 tot 10 keer per dag – telkens sowat 10 keer. Moenie vergeet om die spiere ná elke sametrekking vir ’n paar oomblikke lank te laat ontspan nie. Dit kan 8 tot 10 weke duur voordat jy ’n verbetering ondervind. As daar geen verbetering is nie, doen navraag by jou dokter oor:

•    Vaginale keëls: Jy sit die toestel, so groot soos ’n tampon, in jou vagina en gebruik die spiere om dit in plek te hou. As jy dit met gemak kan doen, gebruik ’n swaarder een.
•    Elektriese stimulasie: Die bekkenvloerspiere word gestimuleer met ’n elektriese straal, wat dit laat saamtrek en ontspan.
•    Neocontrol is ’n spesiale stoel wat magnetiese velde gebruik om die bekkenvloerspiere te stimuleer.

Bron: Elna McIntosh

Maar Sharon Stone, wat 14 jaar gelede wêreldberoemd geword het vir haar omstrede beenkruistoneel in Basic Instinct en nou in die opvolgprent te sien is, is duidelik nie skaam om dié deel van haar anatomie in te span nie.

“As jy ’n vagina en ’n houding in dié stad het, is dit ’n dodelike kombinasie,” sê Sharon, wie se uitgesprokenheid al met dié van Mae West, legendariese aktrise en sekssimbool, vergelyk is.

Hoekom skryf SARIE oor ’n liggaamsdeel wat volgens die samelewing goed versteek moet word? (Verkieslik met ’n groot Bridget Jones-nommer, wat alles toemaak.) Dis tog so ’n . . . vreemde gedagte. “Kom ons begin by die woord ‘vagina’. Op sy beste klink dit na ’n infeksie of ’n mediese instrument. ‘Kom . . . kom . . . verpleegster, bring die vagina.’ Vagina. Vagina. Hoeveel keer jy dit ook al sê, dit klink nie na ’n woord wat jy wil sê nie. Dis ’n belaglike woord, glad nie sexy nie.

As jy liefde maak en dit gebruik om politiek korrek te wees sal dit alle passie nét daar smoor. ‘Liefie, sal jy my vagina streel?’” Aldus Eve Ensler in The Vagina Monologues (Villard, 1998), omstrede verhoogstuk wat geskoei is op haar gesprekke met meer as 200 vroue oor hoe hulle oor hul intiemste liggaamsdeel dink en voel. Dis reeds in meer as 40 lande, onder meer SA, opgevoer.

Die aktrise Dawn Lindberg, wat in 2004 ’n aangepaste weergawe van The Vagina Monologues opgevoer het, beaam dat vroue dikwels gevoelens van skuld, skaamte en ’n gebrek aan veiligheid rondom hul intiemste dele ervaar. “As jy die geheimenisse daarvan ontdek en leer om daarvoor lief te wees, sal jy seks as ’n daad van liefde sien. En nie slegs iets om jou man te plesier of om voort te plant nie.”

En, soos Ensler sê, is vroue-bemagtiging nie sterk aan ons seksualiteit gekoppel nie? Verkragting, bloedskande . . .  daar’s ’n sterk verbintenis met ons vaginas. Ook in haar praktyk sien dr. Elna McIntosh, seksterapeut van Johannesburg, hoe vroue uit-freak as sy hulle dáár moet ondersoek. Hulle gril vir hulself – dit stink glo en is vuil.

“Ons word dit van kleins af ingeprent. Advertensies versterk die siening – een verwys bv. na ‘die dae wat jy ruik’.” Sy praat gereeld “vagina-stories” met kliënte. Hoewel sy verkies om dit “vulva-stories” te noem. Het jy geweet dat die vagina slegs ’n hol buis is? Die vulva is jou uitwendige genitalieë. Twee paar vlesige voue – die labia majora en labia minora – omsluit die openinge van die vagina en uretra en strek tot voor by die klitoris. Dis nie so maklik om jou vagina te vind nie, sê Ensler. Vroue loop maande en selfs jare rond sonder om daarna te kyk.

 

Een paartjie het groot pret gehad met “Mr. Bean” wat sy “groen mini” in die “parkeerplek” intrek

 

“’n Invloedryke sakevrou het gesê sy is te besig. Om na jou vagina te kyk is ’n volle dag se werk.” Jy moet jou op jou rug voor ’n spieël, verkieslik ’n vollengte een, posisioneer. Jou posisie en die beligting moet perfek wees en daar is altyd skaduwees op strategiese plekke. Jou lyf raak geknoop. Jy buig jou nek opwaarts en breek omtrent jou rug. Teen daardie tyd is jy hondmoeg. Probleme . . . probleme . . . Maar dalk moet jy kennis maak. Volgens Elna is elke vrou s’n uniek – soos verskillende gesiggies. Daar is ’n groot mond (vaginale opening) en wangbene (labia) met ’n neusie (klitoris) op die voorkop. Gee joune ’n kleurryke persoonlikheid. Eve Ensler het vroue gevra wat hulle haar sou aantrek as hulle kon. Hulle het geantwoord: ’n Leerjas. Sykouse. Nerts. Net Armani. ’n Groot hoed met blomme. Hoë hakke. ’n Tutu. Pers vere. ’n Sweetpak. Volgens Elna verkies vroue sagte name vir hul vaginas – soos genoemde voorbeelde – terwyl mans sterk name verkies vir hul penis: President, Dick. Een man, fors, amper 2 m lank en die direkteur van ’n maatskappy, het wel van sy “piepie“ gepraat(!). Een paartjie het groot pret gehad met “Mr. Bean“ wat sy “groen mini“ in die “parkeerplek“ intrek. (Almal weet hoe wild daai man bestuur!)

En die skaamhare verklap glo meer van jou as wat jy dink. Daar’s die oënskynlike vroom juffrou, met ’n tatoeëermerk van ’n duiweltjie binne die bikini-lyn. Of sy dra ’n stemmige swart pakkie wat by haar (ewe stemmige) beroep pas. En dan het sy ’n ring in haar klitoris. (Maar as sy ginekoloog toe gaan, haal sy dit uit.) Elna sê:

“Ek vra vroue altyd wat hulle met hul (skaam-)hare doen. Dis soos ’n grasperk om jou huis, dit moet bietjie gesny word.” ’n Skoonheidskundige vertel dat sy dadelik weet as ’n kliënt ’n nuwe verhouding het: Sy raak baie behep daarmee dat haar privaatdele perfek gewaks moet wees. Nog ’n skoonheidskundige, Anschone Schonborn van R & R Health and Skincare in Johannesburg, skryf ’n Brasiliaanse waks voor wanneer die opwinding uit ’n verhouding verdwyn. Daar word dan ’n klein strokie hare gelos.

 

’n “Landingstrokie,“ het André le Roux, SARIE-rubriekskrywer, dit al beskryf.

 

’n “Landingstrokie,“ het André le Roux, SARIE-rubriekskrywer, dit al beskryf. Anschone sê ’n Brasiliaanse waks het al menige huwelik gered. Dis baie gewild, sy doen soms tot ses per dag. Haar oudste kliënt is sestig. As jy ’n “Hollywood“-waks (of Kojak) kry, waai ál die hare. Behalwe dat dit vrek seer is, sê vroue glo dat hul mans nie daarvan hou nie. Dit voel nie asof hulle met ’n vrou liefde maak nie. Anschone sê boonop is sterretjies, pyltjies en hartjies ook alles in aanvraag. Een vrou wou vir Valentynsdag ’n hartjie hê – en die hare moes rooi gekleur word. Jy kan natuurlik ook self in die “grasperk“ invaar: Met ’n “koekieskeerder”, soos een vrou se man daarna verwys. (Te koop by apteke.)

En nou – die ontwerper-vagina . . . In Los Angeles is dit ’n nuwe gier: Reklameborde adverteer dat orgasmiese vreugde binne jou bereik is. En dit waai ook oor hiernatoe: Medici noem dit ’n posterior en anterior-herstel. Die “verbruikers-vriendelike” naam is ’n vagino-plastie. Dis ’n chirurgiese prosedure waar die vaginale spiere en ondersteunende weefsel stywer gemaak word.

Dr. Peter de Jong, ’n ginekoloog van Kaapstad, sê die geboortekanaal rek elke keer wanneer jy vaginaal geboorte gee. Die prosedure gee jou meer spierkrag en -beheer – en dus meer sensasie tydens seks. Dit kan ook weens mediese redes nodig wees, soos erge simptomatiese prolaps (die afwaartse verplasing van die baarmoeder en vagina ten tyde van kindergeboorte). Dit word onder narkose gedoen, duur sowat ’n uur en jy gaan ná sowat 2 tot 3 dae huis toe. (Prys: Sowat R10 000, hospitaalkoste ingesluit.)

Maar hoekom dan daar ophou? Jy kan die perfekte skaamlippies hê. Die prosedure, ’n labioplastie, is niks nuuts nie. Die operasie word gedoen as die binnevoue van die labia (labia minora) uitsteek – dis dus groter as die buitenste voue (labia majora). Volgens dr. Paul Skoll, ’n plastiese chirurg van Kaapstad, kan chroniese irritasie en higiëne die redes wees om dit te laat doen. Maar die vroue wat by hom aanklop, sê gewoonlik reguit: “Ek hou nie van myne nie.” Dit lyk dalk te prominent in ’n stywe broek of bikini. Daar is ’n groter aanvraag na die prosedure, dalk omdat plastiese chirurgie meer “in“ is. Vroue word ook meer met naaktheid, en dus hoe ander vroue lyk, gekonfronteer, sê hy. Jy kry lokale of ligte verdowing, dit duur tussen 1½ tot 2 ure en jy gaan dieselfde dag huis toe. Dis ’n dag of twee ongemaklik. (Prys: Sowat R12 000, hospitaalkoste ingesluit).

Volgens Peter de Jong kry hy versoeke van vroue wat hul maagdevlies wil laat herstel. Hy het dié prosedure nog nooit gedoen nie, maar hy weet van plastiese chirurge wat dit wel doen. As jy voor jou huwelik seks gehad het en dis taboe in jou kultuur, is dit ’n uitweg. Gaan kyk op Google op die web en jy lees ook van vroue wat dit as ’n spesiale geskenkie vir hul mans laat doen. Dit word onder narkose gedoen, die operasie duur ’n halfuur en jy gaan dieselfde dag huis toe. (Prys: Sowat R5 000).

Die allerlaaste verbode sone, jou vagina? Anders as die Bermuda-driehoek, word daar klaarblyklik al hoe meer van daar terug gerapporteer . . .

• Vir meer inligting: Elna McIntosh: O11 787 1222; Anschone Schonborn: 011 888 4184; Peter de Jong: 021 422 3290; Paul Skoll: 021 426 2511 of www.plasticsurgeon.co.za

Behou balans

’n Vaginale afskeiding is ’n vloeistof – gewoonlik helder, troebel of witterig. Die afskeiding se dikte en hoeveelheid wissel in die loop van jou menstruele siklus. Daar is gewoonlik bakterieë sowel as swamme in die vagina: ’n Gesonde vagina handhaaf ’n balans tussen die twee. Enigiets wat die balans versteur, kan jou risiko vir infeksies verhoog, of oormatige groei van die normale bakterieë of gis veroorsaak. Dit kan insluit: Die gebruik van antibiotika en voorbehoedpille, douche, diabetes, swangerskap en stres.

Die aanduidings van ’n abnormale afskeiding of vaginitis (inflammasie van die vagina): jeukerigheid, ’n branderige gevoel, onwelriekende afskeiding, gelerige of groenerige kleur, vaginale pyn, ongemak en branderigheid tydens omgang, swelling en rooiheid van die labia, ongemak of ’n brandgevoel as jy urineer.

Candida of sproei (’n gisinfeksie) is die algemeenste oorsaak. Die meeste vroue sal minstens een maal in hul lewe candida opdoen. Moenie ’n abnormale vaginale afskeiding ignoreer nie: Raadpleeg jou dokter. As dit weens ’n bakteriële of gisinfeksie is, sal dit binne ’n paar dae op behandeling reageer (antibiotika of swamdoders, afhangende van die soort infeksie). Indien die infeksie vererger en inflammasie van die bekken buite die vaginale area veroorsaak, kan die behandeling langer duur.

Bron: Self: Die essensiële gesondheidsgids vir vandag se vrou deur dr. Linda Friedland (Tafelberg-uitgewers, 2005).

  • mwzeikn
  • muzeiki

    Gratis video downloads:
    http://xaijo.com/land?new-or.html

  • mgzsikv
  • mjzvikc
  • muzjikh
  • ANNELIZE

    HAAI DAAR EK HET SESMANDE GELEDE N HITEREKTEMI GE HAD EK HET N BRANDERIGHEID NA EK UIRIENE WAS AL 3KEUR BY N DOKTER DIE MEDIKASIE HELP NIE DIT BLY NET DIE SELFDE IS DAAR MISKIEN IEMAND WAT MY KAN HELP

  • Sanet Theunissen

    Hi ek het nie komentaar nie, wil graag meer uit vind, my dogter het agt maande terug gekraam, sy vloei nog al die tyd, ha dokter se haar serviks het tydens geboorte geskeer, kan u dalk meer inligting gee oor hoekom dit gebeur en wat ha te doen staan, sy het nou groot knop in ha nek, hul is nie seker of dit bloed of n lug bubbel is nie, en kan dit enige iets te doen he met ha serviks wat geskeer het tydens geboorte.

  • koekie

    Hi Daar, ek soek raad. ek het n vreeslike afskeiding wat geweldig stink. dit maak my vreeslik ongemaklik en skaam. wat kan dit wees en wat kan ek doen

  • maggie

    hi ek was od die inspuiting en is nou af ek kry spotting op my panties wat wissel van rooi na bruin of albei al vir 4 weke het iemand vir my raad asb !!!!!!!!!!! wil ook weet is dit moontlik dat ek kan swanger raak in die toestand.ek is baie skaam en wil nie graag hospitaal toe gaan nie en op die oomblik voel ek baie neerslagtig met my liggaam en myself

  • Gesiggie

    Hi daar! ek het 3mnde terug n blaasopbind operasie gehad. Intussen het ek baie ongemak en seer gehad tydens seks.Dit was ook ongemaklik as ek buk. Nadat ek terug dokt toe is, is gevind dat die net wat om die blaas gesit is,besig is om deur die vaginale buis te druk, Na nog n operasie om dit te herstel, kan ek nou glad nie seks met my man hê nie, dit is net te seer. Dokt meen ek is gespanne….. en dat ek geen probleem behoort te hê tydens seks nie….Ek is 22 jaar getroud, mal oor seks met my man, ek is beslis nie gespanne as dit daarby kom nie. Kan daar permanente skade wees of is ek net te haastig. Ek is deurentyd bewus van daai deel van die lyf omrede dit heeltyd seer is.

  • erica

    ek is 33.ek kan voel my blaas het gesak.maar daar is ook n ander prbleem,ek voel baie groot onder.is daar operasies wat sal help daarmee?

  • Zella

    halo inspuiting gegaan en soos normaal gemenstrueer maar vir omtrent n week en 2 dae.. intussen het ek blaas infeksie gekry en dokter toe gegaan waar hy vir my medikasie gegee het.. dit het gehelp en gesond geword en toe weer van voor af begin?? ek en my man het seks weer probeer he en dit was baie seer toe hy sy penis insit?? wat kan verkeerd wees??

  • Meisie

    Hallo Almal

    Ek is gediagnoseer met polorasistiese ovariele sindroom en endometriose. Tydens omgang is dit binne -in seer en ek kan ook nie meer as 1 keer ‘n orgasme he nie. Soos ander vrouens is ek ook skaam en wil ek baie graag weet hoekom dit kan seer wees en of dit normaal is om net een keer of soms glad nie n orgasme te he nie. Ek het ook n tipe van deurskynende wit afskeiding wat ook n reuk aan verbonde het… Indien iemand dalk raad het

    Baie dankie

  • Ella

    Ek het 9 maande terug n normale geboorte gehad. Ek is 38. Ek het nog net 2 keer in die tyd begin vloei en seker vir die afgelope 7 maande het daar niks gebeur nie. Ek weet ek is nie swanger nie,ek het n vagielale uitskeiding wat duk is, dit ruik niks en ek het ook nie pyn nie. Maar my buik is opgeswel en ek is die hele tyd ongemaklik. Kan dit my hormone wees? Moet ek maar langer wag…sal dinge regkom?

  • Christien

    Ek is 54 ek kan voel my blaas het gesak en is baie bang vir n operasie wat kan ek doen of is dit al uitweg