FOTO: Instagram @inarebelheart

Gesondheidstories

Is jou hormone die rede vir jou groot broekgrootte?

Daardie maag is nie altyd van lekker eet nie. Dit kan ook stres, ’n dermkanaal wat kla of jou hormone se skuld wees. Vind die oorsaak en ons help met ’n oplossing.

SARIE se gesondheidsredakteur, Lydia van der Merwe, het in ons September-uitgawe ondersoek waarom sommige vroue ’n maag met visserale vet (ingewandsvet om jou maag) het.

Sy kyk die oorsake, wat jou te doen staan, én deel wenke om jou maag platter te kry. (Laai dié uitgawe digitaal af)

Is dit jou hormone se skuld?

Serotonien

Jou hormone kan ’n uitwerking op jou spysvertering hê, aldus Mariza van Zyl, geregistreerde dieetkundige van BeterEet Voeding en Voedsel Konsult in die Paarl.

Só is estrogeen, die vroulike hormoon, en serotonien, die sogenaamde goedvoel-hormoon, pasmaats in die brein. ’n Tekort aan een en jy slaap sleg, voel bedruk, hou vog terug en/of begin meer eet.

Maar het jy geweet? Jou ingewande het meer serotonienreseptore (“ontvangstelsels”) as jou brein. Daarom is dit geen wonder jou depressie en swaar gemoed gaan sit op die ‘‘krop van jou maag’’ nie.

Stres en kortisol

Padvarke, die daaglikse gejaag, angstigheid, pyn, vrees en selfs siekte laat jou liggaam kortisol, ’n streshormoon, afskei. Kortisol verander via verskillende meganismes veral die manier hoe jou liggaam bloedsuiker as energie gebruik. En ook hoe doeltreffend jou liggaam ‘‘werk”, wat jou spysvertering en bloedsomloop, bloeddruk en selfs hormoonbalans insluit.

Dit kan jou gewig laat aansit, sê Mariza. Vroue wat makliker stres en andersins nie oorgewig is nie, is meer geneig om ’n magie te hê, volgens navorsers aan die Amerikaanse universiteit Yale.

Menopouse

Die meeste vroue sit tydens die menopouse weens ’n hormoonwanbalans gewig aan, sê dr. Ronel le Roux, ’n mediese dokter van Johannesburg wat in hormone en teen-verouderingsmedisyne belangstel. Die verhouding tussen jou vroulike hormone bepaal hoeveel en waar. Lae estrogeen- en progesteroonvlakke laat jou middel uitrys (’n sogenaamde muffin top, as die vet bo jou jeans uitpeul).

As die verhouding tussen estrogeen en progesteroon versteur is, word jou heupe groter. Dit kan gebeur lank voordat jou menopouse amptelik aan die deur klop. Die behandeling is so uniek soos jou vingerafdruk. Besoek dus ’n mediese dokter wat in teenverouderingsmedisyne spesialiseer.

(Vir ’n verwysing, kontak The Aesthetic and Anti-aging Medicine Society, www.aestheticdoctors.co.za).

september corne crous corné kim 7de laan

* Dié inligting kom uit die artikel “Weg met daai maag!” in die September-uitgawe van SARIE. Die tydskrif is nie meer op die rak nie, maar kan steeds digitaal afgelaai word.