sr0903gesondkalender03
Gesondheidstories

Jou kalender vir 2009

Elke maand
Bekyk jou vel vir vlekke en seerplekkies. Onthou: Jy kry nie net velkanker op die dele wat in die son kom nie. Dit kan selfs onder jou arms en borste of tussen jou tone voorkom. Wees bedag op enige moesie wat van kleur of vorm verander, of nuwe vlekke op jou vel. Besoek ’n dermatoloog as ’n moesie geïrriteerd raak.

Ondersoek jou borste:

  • Lê op jou rug met jou linkerarm bo jou kop.
  • Ondersoek jou linkerbors met die plat deel van jou regterhand se vingers vir knoppe.
  • Begin aan die buitenste deel van jou bors en vorm ’n sirkelpatroon.
  • Skuif telkens 2 cm binnetoe en doen dieselfde, tot by die tepel.
  • Ondersoek ook jou tepel en onder jou arm.
  • Herhaal met jou regterbors en linkerhand.

Januarie – Begin oefen

Begin jou jaar goed – met jou jaarlikse mediese ondersoek. Laat jou dokter jou cholesterol, suikervlakke en bloeddruk nagaan, sê dr. Craig Nossel, hoof van DiscoveryHealth se Vitality-gesondheidsprogram in Johannesburg.

Kyk met nuwe oë na jou oefenprogram (of die gebrek aan een!), sluit by ‘n gimnasium aan of kry ‘n persoonlike afrigter. (Vra ‘n gimnasium vir ‘n verwysing).

Februarie – Kyk na jou oë

Laat jou oë toets, selfs al sien jy uitstekend. Die Healthy Sight-opname, deur bril-lensvervaardiger Transitions Optical SA, wys 9 uit 10 Suid-Afrikaners kyk heel eerste na jou oë wanneer hulle kennis maak. Maar 47% van ons gaan slegs elke 2 jaar – of nóg meer ongereeld – vir ’n oogtoets!

Trish de Jager van Mellin Oogkundiges in Table View, Kaapstad, sê veroudering het ‘n invloed op jou oë se lense. Daarom begin baie mense in hul laat dertigerjare bril dra. Voor 40 moet jy jou oë elke 2 jaar laat toets; ná 40 jaarliks. Baie oogsiektes het nie simptome nie en is ook nie pynlik nie. As jy diabetes of hoë bloeddruk het, lang ure voor ‘n rekenaar werk of ‘n familiegeskiedenis van gloukoom (‘n optiese senuweesiekte) het, is jou kans op oogprobleme groter.

Maart – Hou hart, hou

Avokado’s bevat baie “goeie” vette wat jou hart beskerm. Dis van nou tot Oktober vrylik beskikbaar. Maak dit só ryp: Sit hulle in die vrugtebak saam met ander vrugte, veral piesangs. Of nog beter: Sit jou avokado saam met piesangs in ‘n bruinpapiersak. 

*Gaan tandarts toe (sien ook September).

Avokado

 

April – tref voorsorg

*Onthou jou griepinspuiting. As jy ouer is as 65, aan jou hart of aan ‘n chroniese siekte ly, móét jy een kry. Die spertyd is einde April. Hierdie inspuiting verminder ernstige griepgevalle en sterftes. Volgens dr. Craig Nossel van Discovery Health is dit egter nie ‘n waarborg dat jy nie gaan siek word nie. Dit beskerm darem 70% tot 90% van gesonde volwassenes teen griep. Daar ís wel mense wat ná die inspuiting ‘n bietjie lyfseer en koorsig voel, sê Craig.

Mei – Eet reg

Bly die winter gesond

  • Eet vis. Dis belangrik dat jy in die winter meer omega-3-vetsure inneem – dit versterk jou immuunstelsel. Dit kom voor in olierige vis soos tuna, makriel, salm en sardiens. Of neem ’n aanvulling (1 000 mg daagliks).
  • Volg ’n gebalanseerde dieet wat donkergroen (groenbone, groen soetrissies), rooi (rooi soetrissies, tamaties) en geel (wortels, pampoen) groente en vrugte insluit – dit gee jou immuniteit ’n hupstoot.
  • Vandeesmaand begin KANSA sy veldtog teen tabak. Sowat 16% van Suid-Afrikaners het ophou rook, 10% beplan om dit te doen en 10% rook af en toe of slegs by sosiale geleenthede, wys www.health24.com se Health of the Nation-opname in 2008.

Craig beveel die volgende organisasies aan: Smokenders (011 784 7838, www.smokenders.co.za) en Allen Carr’s Easyway to Stop Smoking (0861 100 200 of www.allencarr.co.za).

Junie – Stap vir geluk

  • Stap – elke dag! Oefening laat jou gelukkiger voel. En elke keer dat jy hardloop of stap, kikker jy jou immuunstelsel op – dis jou liggaam se natuurlike “vegter” teen virusse. Dit verminder ook stres en laat jou beter slaap, en stres en slaaploosheid kan albei immuniteit aftakel. Die minimum wat jy moet stap, is ’n halfuur per dag, of 10 minute 3 keer per dag. Moet dit egter nie oordoen nie. As jy ure lank hard oefen of byvoorbeeld marathons hardloop, word hormone afgeskei wat jou immuunstelsel kan onderdruk. Besoek www.webmd.com.
  • Terwyl jy stap, kry jy ook sommer jou daaglikse dosis vitamien D in (sonlig op jou vel stel dit vry). Nuwe navorsing wys vitamien D, nog méér as vitamien C, beskerm jou teen verkoues en griep. Rol jou moue op, maar onthou die sonskerm, al is dit winter. Olierige vis en eiers is ook goeie bronne van vitamien D. Besoek www.medicalnewstoday.com.
  • Junie is die bewustheidsmaand vir prostaat- en testikulêre kanker. Herinner jou man daaraan om sy prostaat te laat ondersoek.

Julie – Bly gesond

 
Moenie vanjaar griep kry nie:
Was jou hande gereeld.
Moenie onnodig aan jou oë en neus raak nie.
Gebruik weggooi-sneesdoekies as jy nies, jou neus blaas of hoes.
Probeer om nie aan voorwerpe in openbare plekke te raak nie.
Eet vrugte in seisoen – dit het dan sowat 50% meer voedingswaarde as wanneer dit buite seisoen is.


Avokado’s
Maart tot Oktober
Appels Maart tot September
Lemoene April tot November
Koejawels Mei
Perskes Oktober tot Februarie
Nektariens & pruime November tot April
Appelkose & lietsjies November tot Februarie
Druiwe Desember tot Mei
Mango’s Desember tot April

Die meeste groente is heeljaar beskikbaar: botterskorsies, pampoen, groenbone, wortels, beet, broccoli, blomkool, kool, komkommer, sampioene, uie, aartappels, patats, spinasie, soetrissies, tamaties, ertjies, mielies, slaaiblare, ens.

Augustus – Keer die nies

  • Maak seker jou gesin is gereed vir die hooikoors-seisoen. (Kritieke tye is Augustus tot November en Maart tot Mei.) Dr. Arien van der Merwe beveel die volgende aanvullings aan in Geluk en Gesondheid (HSM Uitgewers, 2006):
  • salmolie: 500 mg, aandblomolie: 1 000 mg, vitamien A: 5 000 IE, vitamien C: 1 000 mg, vitamien E: 100 IE, kalsium: 600 mg en magnesium: 300 mg. Verminder vitamien A, C en E met die helfte ná die hooikoors-seisoen. Stoom met bloekomolie (as jy nie allergies daarvoor is nie) en teeboomolie.
  • Snuif ’n flou oplossing van tafelsout (2,5 ml in 250 ml louwarmwater).
  • Kry homeopatiese hooikoors-samestellings en -oogdruppels by gesondheidswinkels.
  • Laat ’n paar gousblomme in kookwater trek. Laat afkoel en spoel jou oë met die water.
  • Meng ’n knippie gemmer, kaneel en borrie met warm water en drink dit gereeld (met ’n bietjie heuning indien verkies). Dis uitstekend vir hooikoors, sinusitis-slym en postnasale drup, asook lyf- en hoofpyn weens verkoue of griep. Vir meer inligting, besoek www.HealthStressWellness.com.
  • Dis Nasionale Vrouemaand. Besoek jou ginekoloog vir ’n volledige ondersoek van jou borste en bekken. Én ’n Papsmeer: Dit spoor abnormale selle in jou serviks op, wat die eerste tekens van servikale kanker of ’n geslagsoordraagbare siekte kan wees.

September – Glimlag mooi, besoek die tandarts

  • Vir gereelde ondersoeke en om jou tande deeglik te laat skoonmaak. Die meeste tandartse beveel aan dat jy 2 keer per jaar gaan. Maar as jy selde probleme met jou tande het, is een keer genoeg.
  • As jou tandvleis bloei wanneer jy daarop druk of dikwels bloei as jy jou tande borsel.
  • As jou tande los is of uitmekaar beweeg, of as daar veranderinge is in die manier hoe dit op mekaar pas.
  • As jou tandvleis baie rooi, geswel of teer is.
  • As jy tandpyn het. Gebruik anti-inflammatoriese medisyne soos aspirien of ibuprofen vir die pyn voor jy by die tandarts uitkom.
  • As jy ’n stopsel verloor.
  •  As daar ’n besering aan jou gesig, kakebeen of tande is.
  • As daar langer as 2 weke ’n seer in jou mond is.
  • As jou asem sleg ruik en dit wil nie beter word nie.

Bron: www.webmd.com

Oktober – Gaan tuin toe

  • Dis Borskankerbewustheidsmaand – onthou jou mammogram. As jy 40 is, móét jy jaarliks vir een gaan, en vroeër as borskanker in jou familie voorkom. Bespreek in lg. geval met jou ginekoloog op watter ouderdom jy daarmee moet begin.

Borskankermaand

  • Meer mense het in dié tyd rugpyn. Dis omdat ons ná maande van niksdoen skielik meer aktief raak. Maak seker jy warm voor oefening op en doen strekoefeninge ná die tyd om jou spiere soepel te hou.

November – Geniet bessies  

Van nou af tot middel Januarie is dit aarbeityd. ’n Dieet ryk aan bessies kan jou cholesterolvlakke en bloeddruk help laag hou. Dit kan jou ook teen kanker en Alzheimersiekte beskerm, wys nuwe Finse navorsing.

Eet die bessies net so, of probeer dié smoothie-resep (dit maak 4 porsies).
500 ml melk • 500 ml roomys • 500 ml aarbeie • 125 ml strooisuiker • 5 ml suurlemoensap
Meng alles saam in ’n smoothie-masjien. Bron: Priya Seetal, dieetkundige, SA Suikervereniging

  • Gebruik ’n sonskerm en eet kleurryke groente en vrugte om van vry radikale ontslae te raak – hulle kan jou vel beskadig.
  • Onthou om genoeg water te drink. Volgens www.health24.com se Health of the Nation opname drink net sowat 21% van Suid-Afrikaners 2 liter water per dag.

Desember – Eet vars kos

  • Somer, son . . . maar pasop vir voedselvergiftiging. (Jy het diarree en is naar sowat 6 tot 12 uur nadat jy geëet het. Jy voel beter nadat jy vomeer het.)
  • Koop vars bestanddele en vries voorafbereide disse, eerder as om dit ’n paar dae in die yskas te hou.
  • Moet nooit rou kos ontdooi en weer vries nie.
  • Maak seker dat vleis- en melkdisse behoorlik gaar is – rou kos is ’n teelaarde vir bakterieë.
  • Moenie kos ure vooraf op tafels in ’n warm vertrek of op die patio sit nie. Haal dit net voor etenstyd uit die yskas.
  • Wees nougeset as jy met rou vleis, pluimvee, vis, skulpvis, eiers en melk werk. As jy klaar is met een soort kos, was jou hande, eetgerei en die snyplank voor jy met die volgende een begin. Bron: www.health24.com
  • Braai hoender en jou middel sal jou bedank – jy eet net ’n fraksie van die vet as jy dit braai.
  • Skenk bloed voor jy met vakansie gaan! Voorraad raak in die Kerstyd uitgeput.
  • Mango’s is nou in seisoen. Om te bepaal of dit ryp is: Ruik aan die stingelpunt van een wat effens meegee as jy dit druk. As dit ’n mango-geur het, kan jy maar lekker smul. Besoek www.mango.co.za.
  • Word jy gereeld op pad na jou vakansiebestemming karsiek? Gemmer, een van die oudste rate hiervoor, werk regtig. Verskeie toetse toon jy word nie so naar van karsiekte as jy gemmer inkry nie, al is dit onbekend hóékom!