sep06gesondartikel1a
Gesondheidstories

Jou laaste dieet ooit

Ken jy dit ook? Op dieet, verloor gewig, tel als weer op, dieet weer, verloor gewig . . . En so gaan dit aan en aan. Liezl Gericke, ’n jong produksie-en-bemarkingsbestuurder van Johannesburg, het drie weke lank gelewe van druiwe en water. Nóg een van haar desperate pogings om die gewig af te skud wat sy met haar twee swangerskappe opgetel het. Sy moes leepoog sit en kyk hoe haar gesin aandete geniet, terwyl sy haar honger druiwekorrel vir druiwekorrel probeer stil. En sy’t ellendig gevoel.

“Ek het gedurig hoofpyn gehad,ek was naar en duiselig, my humeur was bitter kort en dit het my werk beïnvloed. Ek is ’n intelligente vrou, en tog … jy glo as jy nie eet nie, gaan jy gewig verloor. En ek hét – omtrent 6 kg. Maar as jy weer begin eet, tel jy al die gewig weer op.” Sy was terug waar sy begin het. Dié drie weke van druiwe en uithongering was vir haar die laaste strooi. Sy het besef sy trap keer op keer in dieselfde slaggate en gaan nooit só permanent maer word nie. Sy het by Weigh-Less aangesluit en hul ondersteuningsgroepe bygewoon. Sy het:

1. ’n Kopskuif na ’n gesonder leefstyl gemaak en stap vir stap reg leer eet.
Die kilogramme het stadigaan begin verdwyn. Vandag is sy 32 kg ligter en sy handhaaf haar nuwe gewig nou al sowat ’n jaar. Liezl sê sy het nooit ’n probleem met haar gewig gehad nie. Sy is ná skool ’n jaar lank oorsee en het gewig opgetel, maar sy het dit vinnig weer verloor nadat sy teruggekom het. Haar stryd het begin met haar eerste swangerskap. “Ek het 30 kg opgetel. Vier maande ná my eerste kind se geboorte het ek weer swanger geword. Ek het nie kans gekry om die gewig af te skud wat ek met my eerste swangerskap opgetel het nie.” Wat gevolg het, was twee jaar van “álles onder die son probeer”.

2. Maar sy het besef kortpaaie, kitsdiëte, melkskommels en eetlusdempers werk nie.
“Ek het druppels gedrink en pille gesluk. Maar jy kan nie daarmee volhou nie. Dis net ’n korttermynoplossing.” Van die middels wat sy probeer het, was vol kaffeïen en het haar hartkloppings gegee. Sy het die heeltyd sweterig gevoel en kon snags nie slaap nie.

3. Jy moet ’n ooreenkoms met jouself aangaan, is een van die lesse wat Liezl geleer het. Ons dink dikwels om gesond te eet beteken jy kan nie ook lekker eet nie, sê Liezl. “Ek geniet heerlike kos en as ek lus is vir iets lekkers, eet ek dit. Maar ek lewe 99% gesond.” Sy kweek ook nou gesonde eetgewoontes by haar twee spruite. “My kinders ken nie gemorskos nie. Hulle word min siek. As ons by vriende kuier en daar is ’n bak skyfies en ’n bak wortels en komkommer, eet hulle die groente.” ’n Kopskuif was ook die geheim van Marina Botha, SARIE se projekbestuurder, toe sy sowat twee jaar gelede 10 kg verloor het.

4. “Ek het besef ek sal vir die res van my lewe moet dophou wat ek eet,” sê sy.
Marina se gewig het reeds op skool wipplank gery. Sy het al “honderde” diëte in haar lewe beproef. Soos baie vroue het sy ook gewig verloor met diëte, maar dit weer opgetel sodra sy met die dieet opgehou het. “Ek sukkel om by ’n spesifieke dieet te bly omdat ek vinnig verveeld raak.”

5. Sy het kleiner porsies begin eet en vinnig die resultate gesien.
“Ek het myself gekondisioneer om nie alles te eet wat op my bord is nie.”

6. Ek het niks uit my dieet gesny nie en eet steeds gebalanseerd.
“Ek eet nou minder koolhidrate soos brood en pasta, en ek probeer om baie groente en vrugte in te kry.” Dis belangrik om iets te kry waarmee jy kan volhou en wat by jou lewenstyl pas, sê sy. “Met my werk moet ek baie uiteet en ek is gereeld weg van die huis af. As ek in ’n restaurant eet, sal ek byvoorbeeld biefstuk en slaai bestel.”

Die beste belegging is om jou lyf op te pas – en nie eers wanneer jy siek is nie

7. Sy het kitsoplossings en uithongering verruil vir gebalanseerde matigheid.
Hantie Olivier, ’n ma van Johannesburg, het ná jare se beproewings met kitsoplossings ’n duur prys betaal. Sy is vandag insulienweerstandig (jou liggaam kan nie die insulien wat dit vervaardig doeltreffend gebruik nie, en insulien is nodig om jou bloedsuikervlakke te stabiliseer). Sy het vroeër in haar lewe “die hele spektrum” kitsdiëte gevolg en ook eetlusdempers gebruik. “Dit werk nie meer nie. Ek dink my lyf sê nou jammer, dis genoeg. Ek het al hoe minder begin eet, maar het steeds nie gewig verloor nie.” Maar min eet is mos die pad na ’n maer lyf? Verkeerd, het ’n dieetkundige van Johannesburg haar gemaan toe sy raad wou hê om van daardie lastige 5 kg ontslae te raak. “Sy het vir my gesê ek eet heeltemal te min!”

8. As jy te min eet, beleef jou lyf dit as uithongering.
Jou lyf hou dan vet terug as reserwes vir dié “noodtoestand”. Hantie volg nou ’n eetplan wat veral kos met ’n lae glukemiese indeks (GI) insluit.

9. “Ek eet genoeg groente en vrugte en drink baie water.
“Ek verloor nou baie stadig gewig, maar dis die enigste manier om dit te doen. Baie van my vriendinne sê hulle het nie tyd om gesond te eet nie. Maar dis nie ’n verskoning nie.” Haar raad is om gesond eet op jou prioriteitslys te plaas.

10. “Beplan jou etes.”
Dis ook ’n les wat Caroline Heyns, ’n verspreidingsbestuurder van Kaapstad, moes leer voordat sy maer geword het. Sy het die kilogramme begin aansit toe sy vyf jaar lank as verkoopsbestuurder in Engeland gewerk het.

“Ek moes baie reis en was gedurig op die pad. Ek het smiddae hamburgers en melkskommels gekoop. Saans het ek doodmoeg by die huis aangekom en van wegneemetes geleef.” Sy het nie besef hoe die kilogramme een vir een om haar heupe kom sit nie – tot dit uiteindelik tot haar deurgedring het dat sy sowat 20 kg swaarder is. Sy het begin bekommerd raak oor haar gesondheid. “Weet jy hoe desperaat was ek om gewig te verloor? Ek dink nie iemand wat nog nie in só ’n situasie was, weet hoe desperaat jy word nie. Ek wou dadelik resultate sien.”

Sy was langer as drie maande op ’n hoë-proteïen-dieet (Atkins). “Ek het verskriklik hoofpyn gekry en my asem het sleg geruik – ek dink dit was van al die proteïene wat ek ingekry het. Ek het die heeltyd moeg en siek gevoel.” Sy het na groente en vrugte gesmag en kon nie die dieet volhou nie. Toe trap sy in nog ’n strik. Sy het ’n paar weke lank op ’n koolsopdieet gegaan.  “As ek vandag koolsop sien, word ek naar.” Die skommels wat sy vir ontbyt en middagete gedrink het, was nóg ’n poging om gewig te verloor. Sy kon dít skaars ’n week volhou. “Ek kon dit nie hanteer om nie te eet nie, en ek het nie resultate gesien nie.” Sy is gelukkig en het geen permanente skade van al die diëte oorgehou nie. “Maar as ek dit op lang termyn sou volhou, glo ek sou ek my liggaam baie skade aangedoen het.”

11. Sy het uiteindelik geleer om tipiese strikke te vermy.
Soos Caroline maak soveel van ons gereeld dieselfde foute in ons smagting na ’n slanke lyf. Nou ná langer as ’n jaar weeg sy byna 30 kg minder. En haar oplossing is eintlik eenvoudig: ’n gesonde lewenstyl.

12. “Ek oefen nou selfs – iets wat ek nog nooit gedoen het nie. Ek’s deesdae ook positief en baie meer energiek,” sê Caroline.


Wat sê die dieetkundige?

Marlene Vermaak, ’n dieetkundige van Pretoria, lyk moedeloos agter haar lessenaar wanneer sy begin praat oor vroue en hul kitsoplossings om maer te word. “Ek kan vir jou soveel pasiënte se lêers wys – mense wat verhoogde cholesterol het, wie se nierfunksies ingekort is, wie se metabolisme verander het . . . Mense dink verkeerd aan die woord dieet,” sê sy. “Ons moet ons persepsie oor ‘reg eet’ verander. ’n

Laevet-, hoëvesel-, gebalanseerde dieet behoort normaal te wees. Om reg te eet moet ’n lewenstyl wees. Daarom moet ons ’n emosionele besluit neem om vir die res van ons lewe reg te eet,” sê sy. 
Wat doen vroue soos ek en jy dan tog verkeerd?

•    “Hulle luister heel laaste na opgeleide dieetkundiges se raad! Hulle luister veel eerder na hul vriendinne wat die nuutste diëte beproef het. Maar onthou net, jou vriendinne is nie altyd reg nie.”

•    Hulle gebruik oor-die-toonbank-medikasie sonder om ’n kenner se raad te kry en hulle luister na agente wat maerword-medikasie verkoop. “Ek het ’n vrou gesien sterf weens vreemde verslankingspoeiers wat sy, klaarblyklik onoordeelkundig, gedrink het. Sy het omtrent 34 kg geweeg en haar lewe verloor,” sê Marlene.

•    Inspuitings vir gewigsverlies maak haar vies. “Weet jy hoeveel pasiënte sê hulle weet nie waarmee hulle ingespuit word nie? Dis skokkend. Hulle verloor gewig, tel dit weer op en gaan vir nog inspuitings. Vra die dokter of apteker waarmee hy jou inspuit. Hulle wil dikwels nie sê nie of maak dit af as ‘iets wat vet afbreek’. Jy is geregtig op meer inligting.”

•    Die glukemiese indeks (GI) is ’n wonderlike hulpmiddel, sê sy, maar mense verstaan nie altyd hoe dit werk nie. Kos met ’n lae GI is nie noodwendig laag in kilojoules nie. “Gaan na ’n dieetkundige wat jou kan help.”

•    Ouers moet kinders gesond leer eet. “As die ouers reg eet, is die stryd halfpad gewonne, maar ouers stop kinders geld in die hand en gaan laai hulle af by restaurante.”

•    Mense is dikwels bereid om enigiets vir gewigsverlies te betaal, maar hulle besef eers later in hul lewe hoe hoog die prys was. “Die skade gaan jou mettertyd inhaal en dis nie altyd herstelbaar nie.” Moontlike probleme wat jou in die gesig staar weens kitsdiëte, sê Marlene, is onder meer obesiteit, diabetes, insulienweerstandigheid, hipertensie en ’n trae metabolisme. “Die lewe is kosbaar. Die beste belegging wat jy kán maak, is om jou liggaam op te pas – moenie eers wakker skrik wanneer jy siek is nie.”