maag
Gesondheidstories

Jou maag beïnvloed jou brein

Ons het altyd gedink angs en depressie dra by tot maagkwale soos prikkelbaredermsindroom. Maar wat in jou maag gebeur, beïnvloed dalk ook jou brein, skryf ons gesondheidsredakteur Lydia van der Merwe in ons Mei-uitgawe

Jy het mos al “skoenlappers” op die krop van jou maag voel fladder? Of wat van ’n “sinkende gevoel”? Het iets jou al “dwars in die maag gesit”?

Jou maag en brein praat aaneen met mekaar. Daar is inderdaad ’n “snelweg” tussen die twee, ’n uitgebreide netwerk van neurone, hormone en chemikalieë wat heeltyd wedersydse terugvoer gee oor hoe honger jy is, of jy gestres is, en of jy dalk ’n kiem ingekry het.

Dis seine uit ’n onverwagte oord: jou sogenaamde tweede brein.

Versteek binne die wande van die spysverteringskanaal is ’n selfonderhoudende, selfregulerende senustelsel wat onafhanklik van jou brein funksioneer.

Dit veroorsaak nou ’n omwenteling in die wetenskap se begrip van die verband tussen spysvertering, bui, gesondheid en selfs die manier hoe jy dink, sê drs. Justin en Erica Sonnenburg, mikrobioloë by die Stanford-universiteit, in The Good Gut: Taking Control of Your Weight, Your Mood and Your Long-Term Health (Penguin, 2015).

Daar is onlangse bewyse gekry dat ons brein nie net bewus is van die mikrobes in die dieptes van ons spysverteringskanaal nie, maar dat die einste mikrobes (gesamentlik genoem die derm-bioom) ons persepsie van die wêreld kan kleur en dalk selfs ons gedrag kan verander. Dit word duidelik dat die invloed van ons derm-bioom verder as die dermkanaal strek. En dalk selfs die brein kan beïnvloed, skryf die Sonnenburgs.

Lees meer oor die derm-bioom in ons Mei-uitgawe van SARIE.

Die Paarlse dieetkundige en SARIE.com-blogger Mariza van Zyl skryf in Dik vir Dieet (Naledi, 2015) dat jy genoeg goeie kos moet eet wat probiotika bevat om jou derm-mikrobes te versterk.

Prebiotika, kos vir probiotika, stimuleer die dermflora se groei en werking. Dis gewoonlik onverteerbare of minder verteerbare koolhidrate (vesel).

Bronne
• Rou knoffel
• Rou preie
• Rou uie
• Groenerige piesangs
• Rou sampioene
• Aalwyn
• Amandels
• Rou sampioene
• Aalwyn
• Amandels
• Patat (gaar)
• Pektien in byvoorbeeld suurlemoene en appels

Vitamien A Donkergroen groente en geel vrugte bevat karotenoïede wat jou liggaam dan in vitamien A omsit.

Dierlike bronne van vitamien A is ook baie belangrik: volroomkase, eiergeel, lewer en niertjies, room en die vet van diere wat natuurlike weiding gehad het.

Gefermenteerde kosse Jogurt en kaas is die bekendste voorbeelde hiervan, maar ander is:

• Duitse sauerkraut
• Koreaanse kimchi (gefermenteerde groentes)
• Chinese kombuchu-tee
• Japannese miso-sop (gemaak van sojaboonpasta)

Sogenaamde “weerstandige stysel’’: Dis weerstandig teen vertering en word deur die dermbakterieë gefermenteer. Die kookmetode is deurslaggewend.

• Heel of grofgemaalde droë mielies, soos growwe mieliemeel (klipgemaal). Kook en laat koel oornag af. Warm op tot louerig, nie kokend nie.
• Aartappel: Kook en laat koel af.
• Rys: Kook en droog twee uur in die oond.

Jogurt Preserveermiddels en ’n verlengde rakleeftyd kan beteken dat min van die probiotika daarin die doellyn haal. Sommige vervaardigers waarborg wel ’n sekere hoeveelheid lewende kulture aan die einde van die produk se rakleeftyd.

Probiotika-aanvullings Dis baie belangrik om so ’n aanvulling te neem as jy antibiotika gebruik, maar dis nie altyd die ideale oplossing op lang termyn nie. Die soorte probiotika daarin is meestal beperk. Dit oorleef ook net sowat agt dae in jou dermkanaal. Die bakterieë is boonop baie sensitief, sterf maklik en dié in jou aanvulling dalk lankal kapoet. Vertroetel en “voer” dus dié wat reeds in jou derm woon, bykomend tot ’n goeie probiotika-aanvulling, sê Mariza.

Kies ’n produk met baie verskillende stamme (strains), is die raad van prof. Patrick Bouic, immunoloog van Kaapstad. Verkieslik ’n produk wat jy in ’n yskas moet bêre, want die bakterieë leef dan langer. Beskerm dit teen direkte lig. Sommige vriesgedroogde soorte het na bewering nie verkoeling nodig nie. Wissel verskillende handelsmerke af, want almal verskil, sê hy.

Lees die volledige artikel in ons Mei-uitgawe.

KONTAK
Mariza: 021 872 8243, mariza@bettereat.net, bettereat.net
Dr. Potgieter: 012 652 9511
Prof. Bouic: 021 933 9582, www.synexagroup.com