wimpers
Gesondheidstories

Jou volledige ooggids: Laser-terapie, sonbrille, regte dieet vir jou oë

Jou oë. Verliefdes het sterre daarin. As jy ‘n aap van jouself maak, skaam jy hulle uit jou kop. En as iemand uit die oog is, is hy ook uit jou hart. Al ooit gedink hoeveel keer ons met taal ons kykers aan emosie koppel?

Ook geen wonder nie, want hulle is verantwoordelik vir 80% van jou sintuiglike indrukke. Dis die eerste ding waarna jy kyk as jy mense ontmoet, wys navorsing. Dis mos die vensters na jou siel! Natuurlik wil jy mooi na hulle kyk. Ons vertel jou hoe.

1. Sonbrille – koop reg!

Jy smeer jouself dik met sonbrandroom.
Maar weet jy jou oë is net so sensitief vir skadelike ultraviolet-strale (UV)? Kies daarom jou sonbril versigtig.

In helder lig trek jou pupille saam en keer só skadelike UV- en infrarooi-strale.
Goedkoop sonbrille maak bloot die omgewing donkerder – jou pupille trek dus nie saam nie en méér skadelike lig stroom jou oog binne! Dis skadeliker as wanneer jy glad nie ‘n sonbril dra nie.

Kies ‘n sonbril wat UV400-absorberend is.
Dit staan op die etiket. Die UVbedekkingslaag is ‘n deursigtige, kleurlose lagie op die lensoppervlak. Die donker tint beperk bloot die instroming van sigbare lig en laat jou oë gemaklik voel.

Ondersoek die lensgehalte.
Kyk deur die lens na ‘n voorwerp en let op of die beeld verwring word. Dít veroorsaak oog-ongemak en -spanning.

Fotochromiese lense verkleur in die son.
Die lensmateriaal bevat ‘n chemikalie wat deur UV-lig geaktiveer word en verdonker. Hoe meer UV-strale in die lens se omgewing, hoe meer verdonker dit. Plastiek fotochromiese lense is gewilder aangesien dit ligter en veiliger is – glas kan breek en jou beseer.

*Bron: Deidre de Jongh, president: Suid-Afrikaanse Oogkundige Vereniging (SAOA).

2. Hou weg van jou oë – ou grimering

Britse navorsing toon 3 uit 4 vroue gebruik grimering jare lank, selfs al ruik dit sleg of begin dit van kleur verander. Dit kan gevaarlik vir jou gesondheid wees, ook vir jou oë: Moenie maskara, ‘n oogpotlood of ander ooggrimering vir langer as ses maande gebruik nie. Nes kos het grimering ‘n vervaldatum. Die Europese Unie vereis dat alle grimering wat kan bederf ná dit oopgemaak is ‘n vervaldatum moet hê. Kyk by www.focusedvision.blogspot.com.

Ons kenner sê:

Oogprodukte kan bederf, beaam Jill Gardiner, tegniese bestuurder: Cosmetic,Toiletry and Fragrance Association of SA (CTFA). In SA is daar egter nie ‘n standaard dat ‘n produk ‘n sekere tydperk ná dit oopgemaak is, verval nie. Daar is ook geen spesifieke kriteria om te bepaal hoeveel maande ná ‘n produk oopgemaak is dit nog goed sal wees nie. Sy beveel aan: Moet nooit ‘n maskara-borseltjie “pomp” (op en af in die botteltjie druk) of met jou hand daaraan raak nie. Vermy kontak tussen die borseltjie en jou oog self. En vervang oogprodukte gereeld.

3. Rekenaarsuwwe-oë

Niks maak jou oë so moeg soos ‘n rekenaar nie, sê 82% van mense wat in 2008 by ‘n plaaslike opname betrek is.
(Dit was deur die lensverskaffer Transitions Optical. Besoek www.healthysightforlife.org.) Tog is dit deesdae deel van feitlik almal se werkdag. Daar is nie enige bewyse dat dit langtermynskade (soos katarakte) veroorsaak nie, maar op kort termyn kan dit jou oë moeg en geïrriteerd laat voel. Dit veroorsaak dowwe of dubbele visie, droë, rooi of geïrriteerde oë en hoof-, nek- of rugpyn.

Maak ‘n paar eenvoudige veranderinge by jou werkplek.

  • Verander die beligting om die flikkering/fel lig op jou rekenaarskerm te verminder. As dit deur ‘n nabygeleë venster veroorsaak word, skuif die rekenaarskerm en maak die blindings toe totdat die flikkering verdwyn. Laat installeer ‘n dempskakelaar as die oorhoofse ligte te skerp is. Of koop ‘n staanlamp met ‘n beweegbare lampskerm wat die lig eweredig oor jou lessenaar versprei. Of kry ‘n filter vir jou rekenaarskerm wat die lig demp.
  • Navorsers het bepaal die beste posisie vir jou rekenaarskerm is net onder oogvlak, sowat 50 tot 76 cm weg van jou gesig. Jy hoef dan nie jou nek te rek om te sien wat op die skerm is nie. Sit ‘n staander langs die rekenaarskerm vir gedrukte materiaal waarmee jy werk.
  • Kyk elke 20 minute of wat weg van die skerm af. Kyk sowat 20 sekondes by die venster uit of laat jou blik deur die vertrek dwaal. Knip jou oë gereeld om  hulle vogtig te hou. As jou oë baie droog word, gebruik oogdruppels wat dit smeer.
  • Speel met jou skerm se skerpheid, kontras en lettertipe tot jy die beste stellings vir jou oë kry.
    Bron: www.webmd.com

    Wat sê die kenner?
    Laat toets jou oë om te bepaal of brillense wat fokusspanning verminder nodig is, is Deidre de Jongh se raad.

4. SOS! – Daar’s iets in my oog 

Jou oog speel dikwels self klaar met klein goedjies soos sand of ‘n ooghaar. Indien nie, maak só
  1. Moenie jou oog vryf nie. Was jou hande voor jy dit ondersoek.
  2. Ondersoek die oog in goeie lig. Kyk op en af, dan heen en weer.
  3. Trek die onderste ooglid saggies af om daaronder te kyk. Om onder die boonste ooglid te kyk: Sit ‘n oorstokkie (met watte aan die punt) op die ooglid, naby die rand, en dop die ooglid versigtig daaroor om.
  4. As die voorwerp op die ooglid is, probeer dit liggies met water wegspoel. Werk dit nie, probeer dit afpik met die punt van ‘n klam gaasverband.
  5. As die voorwerp verwyder is, spoel jou oog liggies met water.

Bron: www.nlm.nih.gov

Wat sê die kenner? As jy dit nie regkry om die voorwerp te verwyder nie, plak jou oog met ‘n drukverband toe en besoek jou oogkundige so gou moontlik, sê Deidre de Jongh.

Blou oog weens ‘n hou

‘n Yspak sal die swelling verminder en dus ook die bloeding:
Dis die rede waarom dit verkleur, verduidelik
Joke Wandrag, hoof: opleiding by die Suid-Afrikaanse Noodhulpliga. Biefstuk? Dis bloot ‘n koue kompres, daarom werk dit wel.
Volgens Joke moet jy altyd jou oogkundige besoek as jy ‘n harde stamp op jou oog gekry het.
Die retina agterin jou oog kan beskadig wees.

Chemikalieë in jou oog

Spoel jou oog dadelik met lopende water uit. Doen dit 15 minute lank. Gaan so voort terwyl jy mediese hulp soek, sê Joke.

5. Kos vir jou oë - 

Eet só om oogsiektes te kortwiek

 

Katarakte (jou ooglens raak “bewolk”) Volg ‘n dieet vol antioksidante soos vitamiene C en E, selenium en betakaroteen. Goeie bronne is sitrus, soetrissies, tamaties, koejawels, aarbeie, pynappels, aartappels, groen blaargroente, suiwel, wortels, eiergeel, appelkose en patats.
**Ook Canola-/olyf-/grondboontjie-olie, Brasiliaanse neute, sonneblomsaad, tuna en hoender. Eet minder sout.

Ouderdomsverwante makulêre degenerasie (MD)

Dit verdof jou skerp, sentrale visie (nodig vir lees, fyn kyk en motorbestuur): Volg ‘n dieet ryk aan vrugte, groente en sink (in vis, pluimvee, melk en vleis). Moenie rook nie en verloor gewig as jy oorgewig is.

Diabetiese retinopatie

(‘n newe-effek van diabetes) Kry jou bloedsuikervlakke onder beheer. Raadpleeg ‘n dieetkundige. Eet vyf porsies vrugte/groente per dag. Dis goed vir jou oë – eintlik jou hele lyf.

Bron:

Marieke Loubser, dieetkundige by Discovery Vitality. Besoek www.discovery.co.za.

6. Só moet jy laat toets

  • 2 – 6 jaar: Toets jaarliks tensy anders aanbeveel
  • 6 – 18 jaar: Elke 18 maande tensy anders aanbeveel
  • 18 – 60 jaar: Elke twee jaar tensy anders aanbeveel
  • 60 jaar en ouer: Jaarliks

**As jy ‘n geskiedenis van diabetes, hoë bloeddruk, gloukoom of katarakte het: Minstens een keer per jaar.

7. Eina! Droë oë

Jou oë voel dikwels moeg, ongemaklik, geïrriteerd of krapperig. Dit brand of traan soms oormatig. Droë oë ontwikkel omdat jou oë nie genoeg bevogtigingstrane vervaardig nie. (Dit vorm ‘n beskermende lagie op jou oë se oppervlak.) Jou oë vervaardig dan ‘n oormaat “reflekstrane” om die irritasie te probeer uitspoel. Dit kan ook weens omgewingsfaktore wees, bv. die weer of lugverkoeling. Of jy werk lang ure voor ‘n rekenaar.
  • Dit kan deur sekere medisyne veroorsaak word (soos antihistamiene, die Pil, akneemedikasie en antidepressante), of deur mediese toestande soos die menopouse, skildklier-probleme en rumatoïde artritis.
  • Die oormatige gebruik van sekere oogdruppels kan dit vererger (bv. druppels om jou oë wit te maak). Gebruik middels sonder preserveermiddels. As lg. te lank gebruik word, kan dit ‘n toksiese werking hê.

Sien sonder ‘n bril

Ná jare se sukkel met ‘n bril en kontaklense kan jou sig wonderbaarlik herstel – soms tot 100%. Met die jongste tegnieke in laser-oogchirurgie is daar min mense wat nie gehelp kan word nie.

Dis ‘n uitkoms as jy sportief is,’n werk doen waar ‘n bril in die pad is of bloot nooit vrede met joune kon maak nie.

Jou kornea (of horingvlies, die deursigtige, sirkelvormige deel vooraan jou oogbal), en lens werk saam om ligstrale op jou retina aan die agterkant van jou oog te fokus. Jou retina omskep lig in elektriese impulse. Dit word na jou brein gestuur, wat die beeld interpreteer. En jy sien!

Versiendheid (jy kan goed ver sien, maar voorwerpe naby jou is dof), bysiendheid (jy kan nie goed ver sien nie), en astigmatisme (jy kan nie op enige afstand goed fokus nie), word refraksiefoute genoem. Ligstrale fokus dan nie op jou retina nie. Dis omdat die vorm van jou oogbal of kromming van jou kornea

verkeerd is. Die laserprosedure LASIK stel refraksiefoute reg deur die ronding van jou kornea te verander.

Navorsing wys sowat 90% tot 95% van mense is baie tevrede met die resultate. ‘n Klein persentasie moet ‘n tweede operasie kry. Soms moet jy steeds ‘n bril dra vir takies soos motorbestuur.

Jy moet ook onthou: Jou sig bly nie altyd dieselfde nie. Die meeste mense het uiteindelik ‘n leesbril nodig weens normale veroudering. Daar is risiko’s, maar min. Dit sluit in moontlike infeksie en ‘n

geringe kans dat jou kornea beskadig word.

  1. Is dit seer? Jy het tydens chirurgie min of geen ongemak. Jou oë word met druppels verdoof en jy is heeltyd wakker. Jy gaan dieselfde dag nog huis toe. Jou oë kan ‘n dag of twee effens gevoelig wees.
  2. Kan albei my oë gelyk behandel word? Die meeste mense verkies dit. Jy kan ook eers aan jou een oog laat werk en later aan die ander een.
  3. Sal ek dadelik kan bestuur en gaan werk? Jy kan so een tot drie dae daarna eers bestuur. Die meeste mense gaan twee tot vier dae ná die prosedure terug werk toe.
  4. Is dit permanent? Sommige mense wat perfekte sig ná die chirurgie het, vind dat een of albei oë mettertyd weer effens bysiende raak. Dit kan met nog LASIK,’n bril of kontaklense reggestel word.
  5. Kan my sig ná die chirurgie swakker wees? Ja, as daar komplikasies is. Dit gebeur egter baie selde.
  6. Kan ek vandag by ‘n kliniek instap en dit laat doen? Nee. Sekere toetse moet voor die tyd gedoen word, insluitend ‘n volledige ondersoek om te bepaal of jy nie ‘n oogsiekte het nie. Daar word ook bepaal wat jou oog se presiese fokus-afwyking is. Moenie voor die ondersoek of prosedure kontaklense dra nie.
  7. Die koste wissel van R16 000 tot R19 000. Sommige siekefondse betaal daarvoor, afhangend van hoe swak jou oë is en die siekefonds-opsie wat jy gekies het.
  8. Is dit geskik vir my? Jy moet bo 20 wees, jou visie moet minstens ‘n jaar lank onveranderd wees en jy moenie siektes van die kornea en retina, soos gloukoom en katarakte, hê nie. Los eers as jy swanger is, binne ses maande wil swanger raak of borsvoed (jou oogrefraksie kan tydens swangerskap verander) of as jy ‘n siekte het wat jou immuniteit onderdruk (soos MIV of gewrigsrumatiek). Ook as jy net ‘n leesbril dra.
 

  • Heila

    Om weer te kan sien sonder kontaklense of n bril is n groot droom van my – dankie vir die inligting…

  • http://dlvlnfxnlome.com/ fnmacudoud

    b3uywu xvgwezgzrxqo, [url=http://untnciqbvixg.com/]untnciqbvixg[/url], [link=http://ebsdeeoviooq.com/]ebsdeeoviooq[/link], http://ujlvvkrbrsqu.com/

  • Veronica

    Ek soek meer raad oor skildklier oogsiekte, oe wat uitpeul, tranerig is, oogballe wat gevoelig is, en hoe kan ek dit behandel tuis, en oor die algemen eetgewoontes of wat ook al daarmee gepaard gaan. Skildklier is we normaal, ma oe gaan aan!

  • Leonie

    ek wil graag weet watter twee kleure oë nie ‘n sekere kleur kan gee nie. Soos byvoorbeeld, blou en blou oë gee wat of wat nie

  • Elize

    Ek is n 51 jarige vrou en ek sukkel nou 8 maande met droee oe, droee neus en droee mond. Ek gaan van die 1 dokter na die ander en almal tas in die donker. Nou stuur my gp my na n kuraloog, da is nie eens n kans dat ek n afspraak kan kry voor oor 9 maande nie. Ek kan dit nie meer uithou nie en is geirriteerd elke oggend as ek wakker word met die probleem. Ek is raadop. Het iemand raad of enige inligting wat ek nuttig kan gebruik.
    Dis nie lekker om elke so mislik te voel nie, ek voel soos n uitgedroogde perske in die son

  • Aisret Venter

    More daar,

    Ek dra sagte kontak lense. Die afgelope 2 maande traan my oe sonder op hou? Enige raad asseblief.