Gesondheidstories

Jul grootste kwale en hul oplossings – DEEL 2

KLIK HIER om oplossings vir migraines, ’n onderaktiewe skildklier en sinusitis

Wat is jou grootste mediese dilemma? Ons het SARIE se Facebook-vriende gevra, en hier’s jul top-5 kwellings. En ons voorste kenners se raad.

Spastiese kolon (Irritable Bowel Sindrome)

Hoewel jou simptome kan verbeter met goeie leefstylgewoontes, verskil die behandeling van IBS drasties van mens tot mens. Daarom is dit belangrik om ’n spesialis op die gebied te raadpleeg as jou simptome inmeng met jou lewensgehalte.

Kenner: Dr. David Epstein, ’n spesialis-gastroënterloog van Kaapstad.

  • Oefening, veral ontspannende oefening soos joga, kan help. Maar wat ook al jou stresvlakke verlaag, of dit nou ’n massering of ’n lekkerlag-fliek is, kan help om simptome te voorkom.
  • Vermy irriterende kosse soos kafeïen, alkohol en speserye totdat jou simptome verbeter.
  • Uie en blaargroente, verwerkte kosse, verfynde koolhidrate (soos pasta) en selfs veselryke kosse by sommige mense kan ook simptome vererger.
  • Sommige pasiënte vind dit help ook om meer gereeld, maar kleiner maaltye, te eet (ses klein etes per dag pleks van drie groot etes), omdat ’n mens sukkel om groot hoeveelhede kos op een slag te verteer.

Fibromialgie

Fibromialgie is ’n neurologiese siekte, waar die brein, rugmurg en die geaffekteerde dele van die liggaam hul seine te maklik en aanhoudend stuur.

Kenner: Dr. David Gotlieb, ’n rumatoloog van die Constantia-artritiskliniek in die Kaap.

  • Daar is nog nie ’n kuur vir fibromialgie nie, maar die simptome kan beheer word met medikasie soos betablokkers wat die senuwees se seine in erge gevalle blok.
  • Beter leefstylgewoontes kan ook simptome verlig. Gereelde oefening, selfs wanneer jy baie sleg voel, en genoeg slaap is baie belangrik.
  • Begin ’n roetine van daaglikse oefening, moenie ná 18:00 koffie drink nie en begin ná 21:00 die TV, rekenaars en onnodige ligte of enige steurings afskakel sodat jou liggaam kan begin regmaak om te slaap.
  • ’n Warm stort kan ook help tydens erge aanvalle. Dwing jouself ook juis dán om te oefen – gaan stap om die blok, al is dit pynlik.
  • Neem genoeg omega 3-olies en vitamien D as aanvullings, want ’n tekort aan dié stowwe kan simptome vererger.
  • Akupunktuur en gereelde masserings help ook vir sommige pasiënte.
  • Moenie chirurgie oorweeg nie, want dit kan jou nie help nie en kan moontlik simptome vererger.
  • Vermy pynmedikasie, antiinflammatoriese middels, slaappille en antidepressante. Dit help nie en kan ander newe-effekte veroorsaak as jy dit gereeld gebruik.

*Die artikel is aangepas uit ’n gesondheidstorie uit SARIE Februarie 2013

Nóg gesondheidstories