Gesondheidstories

Dis Wêreldkankerdag

Dis vandag Wêreldkankerdag, en die skokkende statistieke is dat dit meer lewens eis as VIGS, TB en malaria saam.

Maar jy kan ‘n verskil maak – deur bloot jou handtekening te gee. Die veldtog begin vandag en word gelei deur Sue Janse van Rensburg, uitvoerende hoof van KANSA, wat self kanker oorwin het.

Die idee agter die World Cancer Declaration is dat wêreldleiers hul stemme kan laat hoor teen kanker. Dit verteenwoordig ook die stem van kankerorganisasies, regeringsleiers en gesondheidsverteenwoordigers wêreldwyd.

Met navorsing wat wys dat 90% van kankers deur omgewingsfaktore veroorsaak word, is dit duidelik dat die siekte in baie gevalle voorkom kan word deur ’n  gesonder leefwyse.

(KANSA is vanjaar 80 jaar oud!)

Besoek KANSA se webtuiste om jóú handtekening te gee of besoek een van KANSA se takke landwyd.

Inspirasie-meisie knip haar hare vir kanker

Dis die klein dingetjies wat ‘n verskil maak …

Christel Theron is nie sommer enige tienjarige nie.  Dié plaasmeisie van die Karoodorp Merweville was braaf genoeg om haar lang lokke te laat afsny vir die maak van pruike vir kankerpasiënte.

“Verlede jaar het ‘n vrou van CHOC hier aangekom en ‘n DVD agtergelaat wat handel oor kinders wat aan kanker lei. Nadat Christel die DVD gekyk het, het sy besluit sy wil graag haar poniestert skenk vir die maak van pruike vir kanker-pasiente” vertel Suzaan Theron, Christel se ma.

Christel het besluit sy gaan dit sommer nou ‘n instelling maak, tweejaarliks of so, afhangende van hoe vinnig haar hare groei. 

Christel se hare was amper tot op haar boude en toe sy haar hare in ‘n netjiese bob knip, wou almal weet waarom? Die antwoord het nie net bewusmaking veroorsaak in Merweville nie, maar nog 2 meisies stap ook nou met ‘n bob rond. Laré Marais (die Therons se bure se dogtertjie, ook 10) en Maria Snyman (7 jaar) het albei besluit om Christel se voorbeeld te volg.

Klein Christel sê: “Jy lewe net een keer, geniet dit.”

Vir meer inligting om jou hare te skenk besoek givngain.com

Kanker-feite:

  • Tot 40% van alle voorkombare kankers kom voor in lae- en middel-inkomste lande, wat SA insluit.
  • Navorsing dui daarop dat tot 90% van kankers deur omgewingsfaktore veroorsaak word.
  • Een uit elke vier Suid-Afrikaners word deur kanker geraak.
  • In Suid-Afrika loop een uit elke agt vroue en een uit elke ses mans die risiko om met kanker gediagnoseer te word.
  • Die vernaamste kankers wat Suid-Afrikaanse mans raak, is prostaat-, long- en slukdermkanker.
  • Die mees algemene kankers wat Suid-Afrikaanse vroue raak, is bors-, serviks- en kolorektale kanker.
  • Suid-Afrika het, na Australië, die hoogste voorkoms van velkanker in die wêreld. Honderde Suid-Afrikaners sterf jaarliks aan velkanker.


BRON: givengain.com

 

  • Brenda

    Christel, Jy is baie braaf en ek het jou lief.

    Tannie Brenda, die Engelsman van Australia. x.x.x.x.x.