FOTO: Donna Lewis

FOTO: Donna Lewis

Gesondheidstories

Honde verminder die gevaar van asma by kinders

Babas wat in hul eerste lewensjaar aan ’n hond blootgestel word, het ’n 13% laer risiko om later in hul kinderlewe asma op te doen as dié sonder vierpotige vriende. Dis die bevinding in ’n nuwe studie aan die Universiteit van Uppsala in Swede, berig Huffington Post.

Die navorsers het data van meer as ’n miljoen Sweedse kinders geanaliseer. Hulle het ook bevind blootstelling aan plaasdiere verminder die gevaar van asma by kinders met 52%.

Dié studie is in die mediese joernaal JAMA Pediatrics gepubliseer.

Bron: Huffington Post

Siektes waarmee troeteldiere nóg help

Katte en beroertes

Navorsers weet nie mooi hoekom nie, maar jou kanse om ’n beroerte te kry verminder as jy ’n kat het. Dis deels vanweë die positiewe effek wat ’n troeteldier op jou bloeddruk kan hê. Maar die slimmes spekuleer katte het dalk ’n meer kalmerende uitwerking op jou as ander troeteldiere. Dit het dalk ook iets te doen met die persoonlikheid van “kat-mense”. Dan word katte dikwels die fokus van jou belangstelling, wat jou aandag van jou bekommernisse aftrek. Bron:www.medicinenet.com

*Uit die April 2014-uitgawe van SARIE

Troeteldiere en depressie

Diere kan spanning verminder en hul eienaar opbeur, berig  Web MD, ’n aanlyn gesondheidsblad. ’n Troeteldier kan help om iemand met matige depressie beter te laat voel, veral indien die persoon ook behandeling ontvang. Een van die redes hiervoor is dat ’n bietjie verantwoordelikheid, die ekstra aktiwiteit en die roetine wat ’n troeteldier verwag, die mens ook laat beter voel. Lees die volle artikel hier.

Katte en Alzheimer se siekte

Navorsing toon mense met Alzheimer se siekte is minder angstig in die teenwoordigheid van ’n troeteldier. Terselfdertyd voel hul versorgers minder belas, veral as die dier ’n kat is. (Dalk omdat katte minder aandag nodig het.) Mense met dié siekte eet ook dikwels nie gesond nie. Wanneer daar ’n akwarium is, sit die rusteloses langer stil, terwyl die wat lusteloos optree, skielik meer in hul omgewing belangstel. In albei gevalle help dit dat hulle beter eet. Bron: Dr. Oz op Oprah.com

*Uit die Junie 2014-uitgawe van SARIE