Phyllis Green

Gesondheidstories

Kom soggens aan die gang – 6 maklike wenke

Sukkel jy om met ’n lied in die hart uit die bed te spring? Of voel dit dalk asof die duvet jou ingesluk het? Hier’s ’n plan wat wérk om aan die gang te kom.

Die son is nog diep weggesteek agter die horison en jou alarm skree reeds op jou om op te staan. Jy kan nie glo dis al sulke tyd nie. Hoe gemaak om jou kop  – en jou lyf – weer aan die gang te kry?

6 wenke om makliker uit die bed te kom

1) Pak jou klere die vorige aand reg

Dit is soveel makliker om uit ’n warm bed te klim wanneer jy weet jy hoef nie vir jou onderklere in die donker te soek nie. Die bekommernis oor wat jy gaan aantrek, is ook nie daar nie. Dit neem net ’n paar minute in die aand, maar spaar baie tyd in die oggend.

So gepraat van onderklere … hierdie blink idee sorg dat jy elke maand ’n lingerie-verrassing in jou posbus kry! Klik hier om deel te neem. 

2) Beloon jouself

Dis ’n reuse-prestasie om uit die bed uit te kom! Beloon jouself met ’n snoesige japon wat gereed hang aan jou kasdeur, ’n warm koppie tee of jou gunsteling-ontbytprogram op radio of TV.

3) Kry ’n koffiemasjien met ’n tydhouer

Vir koffie-liefhebbers is daar niks wat jou so gou aan die gang kry soos ’n goeie sterk koppie koffie nie. Verbeel jou, jou koffie staan reeds reg wanneer jou alarm afgaan. Staan vinnig op voor dit koud word!

4) Kry ’n goeie nagrus

As jy goed en genoeg geslaap het, is die stryd halfpad gewen. As jy te min slaap of nie goed slaap nie, gaan jy altyd sukkel om uit die bed te kom – maak nie saak hóé sterk die koffie is nie! Belê in ’n goeie stel linne en kussings en probeer om nie kafeïene in te neem voor jy gaan slaap nie.

5) Kry vars – of kunsmatige – lig

Blootstelling aan helder lig vir ’n uur direk nadat jy wakker geword het, gee jou liggaam ’n hupstoot om wakker te word, berig Everyday Health. Probeer om vinnig om die blok te stap of draf, skep ’n gesellige area op jou stoep of in jou tuin waar jy kan ontbyt eet. As dit nog donker is wanneer jy opstaan, installeer ’n helder lig in jou kamer en skakel die hooflig, eerder as die bedlampie, aan wanneer dit tyd is om op te staan.

Leonardo se groen woonstel PLUS Maak jou huis groener in 4 stappe

Bykomende bron: Huffington Post

6) Neem die oomblik waar

Moenie te gejaagd wees in die oggend en pragtige oomblikke mis nie. Dít gee jou inspirasie vir die res van jou dag. Let op waar die son opkom en hoe die strale oor die teëls val. Kyk hoe jou kinders ontbyt eet – hulle gaan nooit weer lyk soos hulle vanoggend lyk nie. En ruik vir ’n slag hoe lekker jou seep in die stort ruik. Leef in die oomblik!

2959670_0_Img2

Nóg oor jou gesondheid