FOTO Ulrich Knoblauch | MODEL Elise Lou @ Ice Models | HARE Mary Gouveia @ Supernova | GRIMERING Sylvie Hurford

Gesondheidstories

Kry weer lewe – ai, die kitskos

Altyd moeg? ’n Paar eenvoudige veranderinge aan jou leefstyl kan jou soos ’n nuwe mens laat voel. ’n Swak leefstyl help dikwels moegheid aan, sê dr. Martie de Wet, dieetkundige van Roodepoort. Hier is raad!

1. Jy is dikwels só aan die gang dat jy nie jou maaltye beplan nie.

Jy eet dan kitskos, restaurant- of wegneemetes: soms tot drie keer per dag. Vitamien B is veral noodsaaklik vir energie. Eet ’n halwe bord groente en/of slaai vir middag- en aandete, en 2 tot 3 vrugte deur die dag.

2. As jy maaltye oorslaan, daal jou bloedsuikervlakke en dit kan jou moeg en geïrriteerd laat voel.

Jy smag dan na iets wat jou vinnig energie gee (soos ’n stuk sjokolade), en dit word ’n bose kringloop. Eet ontbyt, middag- en aandete en klein peuselhappies tussenin.

3. Koolhidrate (stysel en suiker) kan wisselinge in bloedsuikervlakke veroorsaak en dus ’n effek op jou energievlakke hê.

Fokus op laer-GI-kosse en moenie meer as ’n vuisgrootte porsie koolhidrate per maaltyd eet nie.

Lae GI: Volgraan- en oorspronklike (original) ProNutro, mieliepap (afgekoel), Pro-Vita, volgraanrogbrood, swaar saadbrood.

Hoë GI: Brood (wit-, bruin- en volkoringbrood), aartappels (gebak, gaargemaak in mikrogolfoond, gebraai, slaptjips, kapokaartappels), ryskoekies, waatlemoen, gegeurde kits-hawermout, groenbone met aartappels, energiedrankies.

4. Waak teen kosse wat uit verfynde koolhidrate bestaan.

Soos koek, brood, verfynde kraakbeskuitjies, versoete laeveselontbytgraankos en koekies.

5. Alkohol en kafeïen is stimulante wat tydelik jou energievlakke verhoog en jou kort daarna weer moeg laat voel …

met ’n behoefte aan nog koffie. Drink minder koffie, koladrankies, gewone tee en energiedrankies. Alkohol en kafeïen kan ook jou slaappatroon versteur.

6. Onthou om genoeg water te drink.

Te min vloeistof lei tot dehidrasie wat moegheid, swak konsentrasie en irritasie kan veroorsaak.