FOTO: Getty Images / Gallo Images

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Gesondheidstories

Medisyne oor die toonbank: goed of sleg?

Medikasie wat jy sonder voorskrif kan koop, is nuttig. Dit beteken jy hoef nie vir elke bakatel dokter toe te gaan nie. Maar watter van dié middels werk regtig?

Baie middels wat jy oor die toonbank kan koop, soos pynstillers en probiotika teen dermkanaal-kwale, maak werklik ’n verskil. Maar in baie ander gevalle word die aansprake nie deur goeie wetenskaplike bewyse gestaaf nie.

Op die ou end gaan van die rate jou miskien nie skade aandoen nie, maar dis dalk ook nie besonder doeltreffend nie. As jy medisyne sonder voorskrif neem, behandel jy boonop bloot simptome en nie die onderliggende oorsaak van jou toestand nie. Daarby kan sekere middels ook die werking van jou voorskrifmedikasie aantas, en ander kan gevaarlik wees as jy te veel daarvan inneem.

Watter items in jou medisynekassie werk regtig? Vir watter moet jy ligloop? Ons bekyk ’n paar gewilde oor-die-toonbank-middels van naby.

Verkoue- en griepmiddels

Die meeste mense gaan reguit apteek toe vir medisyne sodra hulle die eerste tekens van ’n verkoue of griep gewaar. Watter produkte kan ’n verskil maak?

Drie natuurlike produkte, echinacea, sink en Oscillococcinum, help moontlik.

Hoewel echinacea nie noodwendig griep gaan genees of ’n verkoue gaan voorkom nie, dui navorsing aan dat dit kan help om verkoue-simptome te verlig, volgens Naturalmedicines.com, ’n webwerf wat internasionale navorsingsbevindings publiseer. Produkte wat die spesie Echinacea purpurea bevat, het die beste resultate gelewer – gebruik dus dié soort as jy kan. Volgens die navorsing werk dit die beste as jy echinacea begin gebruik sodra jy begin snuif en nies.

Suigpille met sink (soos tablette met sinkglukonaat of -asetaat, wat jy elke twee uur neem) kan weer help om die duur van jou verkoue te verkort, volgens navorsingsbevindings op Naturalmedicines.com. Hou net in gedagte dat sink die doeltreffendheid van antibiotika en waterpille (urinedrywers) kan verminder, daarom is dit wys om sinktablette te vermy as jy dié medisynes gebruik.

Oscillococcinum, ’n homeopatiese middel wat al hoe gewilder raak, kan jou dalk help om ’n bietjie vinniger te herstel van griep. Volgens WebMD.com wys navorsing dat Oscillococcinum die duur van griep met 6 tot 7 uur kan verkort – dis byna ’n hele werkdag. “Tog is dit dalk net die placebo-effek wat hier ’n rol speel,” meen Health24 se dr. Owen Wiese, ’n mediese dokter van Kaapstad.

Dan is daar natuurlik ook talle dekongestiemiddels en pynstillers (wat sonder voorskrif te koop is) wat die simptome van verkoue en griep kan verlig. Volgens MayoClinic.org sal hierdie medikasie nie voorkom dat jy siek word nie, of jou noodwendig gouer gesond maak nie, maar dit sal jou help om die simptome te hanteer.

Onthou net dat verkoue- en griepmiddels newe-effekte (soos lomerigheid) kan hê en dat produkte met parasetamol (soos Panado) lewerskade kan aanrig as jy te veel inneem.

Vitamiene 

Baie mense sluk elke dag ’n hand vol vitamien- en mineraal-aanvullings, net vir ingeval hulle nie al die nodige voedingstowwe inkry nie. Maar as jy gebalanseerd eet en ’n verskeidenheid voedsame kos eet, behoort dit nie nodig te wees nie.

“In die algemeen drink mense te veel aanvullings,” sê dr. Adelaide Andrade, ‘n algemene praktisyn van Kaapstad. “Sover dit vitamiene en minerale betref, is te veel van ’n goeie ding net nie gesond nie. As jy voel daar is ’n tekort in jou dieet, moet jy net een multivitamien kies en daarby hou.”

Dr. Wiese voeg by dat die hoë vlakke van wateroplosbare vitamiene in baie van die produkte wat ons neem doodeenvoudig deur ons urine uitgeskei word, terwyl te veel van die vetoplosbare vitamiene A, D, E en K giftig kan wees.

Praat met jou dokter, apteker of dieetkundige indien jy ’n bepaalde voedingsbehoefte het – soos wanneer jy beplan om swanger te raak.

Onthou 

Raadpleeg altyd jou dokter en/of apteker voordat jy enige alternatiewe of aanvullende middels neem, en kry mediese hulp indien jou siektesimptome aanhou of die oor-die-toonbank-middels nie help nie.

 

Die volledige artikel het in die Mei-uitgawe van SARIE verskyn, laai dit hier af.