Gesondheidstories

Kollig op meningitis

Nadat daar vroeër vanjaar weens bakteriese breinvliesontsteking vir die lewe van Springbok Schalk Burger gevrees is, het dié gevaarlike siekte opnuut aandag getrek.

Sy familie het vir sy lewe gevrees, het Schalk Burger op ’n mediakonferensie gesê. Dié geliefde Springbok-rugbyspeler was vroeër vanjaar in die hospitaal om ’n sist in sy rugmurg te laat dreineer toe hy ’n kiem opgetel en bakteriese breinvliesontsteking opgedoen het. ‘‘Ek was ernstig, ernstig siek. Ons het vier of vyf dae lank nie geweet wat fout is nie. Ek was vier dae in afsondering en dit was glad nie lekker nie. Die mense rondom my het gedink dit is dít vir my,’’ het hy volgens Die Burger gesê.

Breinvliesontsteking (meningitis) is ontsteking van die delikate weefsel (meninges) om die brein en rugmurg. Dit word ook harsingvliesontsteking of rugmurgvliesontsteking genoem. Dit word gewoonlik deur ’n bakterie of virus veroorsaak. Bakteriese meningitis is ernstig en kan dodelik wees. Virale meningitis is meermale minder ernstig en jy herstel meestal heeltemal. Soms kan ’n fungus dit veroorsaak, maar dis minder algemeen en kom gewoonlik voor by mense wie se immuniteit verswak is.

Die oorsaak

Dit word feitlik altyd veroorsaak deur ’n bakterie of virus wat elders in die liggaam nesskop, soos in die ore, sinusse of boonste asemhalingsweë. Minder algemene oorsake is onder meer outo-immuunsiektes. Aangesien die bakteriese soort tot sterfte kan lei en sekere soorte hoogs aansteeklik is, behandel dokters dit altyd as ’n noodgeval. Voorheen het kinders jonger as vyf dit meestal opgedoen, maar vanweë huidige kinder-inentingsprogramme kom dit deesdae meestal by tieners en jong mense (15 tot 24) voor. Bejaardes is ook ’n risiko-groep.

Nog risiko-faktore

  • Oorbewoning.
  • Geslag. Dit kom meer algemeen by mans voor.
  • Reis na areas waar dit meer algemeen is, soos die ‘‘meningitisbelt’’ in Afrika suid van die Sahara. Dit is lande tussen die Demokratiese Republiek van die Kongo in die suide, Mauritanië in die weste en Ethiopië in die ooste. Die gebiede waar die risiko die hoogste is, is Burkina Faso, Mali, Niger, Tsjad, Soedan en Ethiopië. Suid-Afrika is nie deel van die belt nie.

Voorkoming

Was jou hande gereeld. As jy met iemand met bakteriese meningitis in kontak was, raadpleeg dadelik jou dokter. Voorkomende antibiotika is soms nodig. Vermy ook water wat met riool besmet is en beskerm jouself teen muskietbyte in die somer, veral in gebiede met uitbrake van virale meningitis.

Bakteriese meningitis

Dis hoogs aansteeklik en kan versprei word deur slegs ’n klein druppeltjie besmette liggaamsvloeistof wat deur ’n soen, nies, hoes of eetgerei oorgedra word. As dit nie vinnig behandel word nie, kan jy binne ure sterf of dit kan jou brein en ander organe permanent beskadig. Hoe vroeër jy antibiotika binneaars kry, hoe beter is jou kanse om heeltemal te herstel. Omdat dit so aansteeklik is, sal jy waarskynlik vir minstens 48 uur in isolasie gehou word.

Virale meningitis

Virusverwante breinvliesontsteking is meer algemeen en gewoonlik – maar nie altyd nie – minder gevaarlik. Die meeste mense herstel heeltemal. (’n Klein persentasie, sowat 5%, kan ernstige neurologiese simptome ontwikkel en sterf.) Dit is gewoonlik ook nie aansteeklik nie. Antibiotika help nie daarvoor nie en die infeksie klaar meestal self op. Dit kan onder meer deur virusse veroorsaak word wat deur muskiete

oorgedra word, of rioolbesmette water of deur masels en die rubella-virus (Duitse masels). As jy in die hospitaal opgeneem word, is dit gewoonlik net vir ’n paar dae. Alle meningitis-gevalle moet verkieslik in die hospitaal behandel word, aangesien komplikasies kan ontwikkel.

Diagnose

’n Prosedure bekend as ’n lumbale punksie word gedoen om te bepaal of jy meningitis het. ’n Deel van jou rug word met ’n doofmiddel gespuit, ’n hol naald word tussen twee werwels ingesteek en vloeistof van die rugmurg word onttrek. Die vloeistof is gewoonlik helder. As dit troebel is en witbloedselle bevat, het jy moontlik bakteriese meningitis. Verdere toetse is nodig om dit te bevestig. Monsters van jou bloed, urine en afskeidings van jou neus en ore kan ook geneem word. Omdat bakteriese meningitis so vinnig kan ontwikkel, word dadelik met behandeling begin – selfs voor die toetsuitslae bekend is.