Red heart
Gesondheidstories

Mites oor borskanker: deel 1

Oktober is borskankerbewustheidsmaand en met soveel mites en verouderde idees in ons kop en op die Internet, is dit dikwels moeilik om feit en verdigsel oor borskanker te onderskei. Prof. Justus Apffelstaedt, medeprofessor by die Universiteit Stellenbosch en hoof van die Tygerberg hospitaal se borskliniek, gee antwoorde.

Mite 1

Borskanker onder jonger vroue neem toe.

Waarheid: Nee, dit lyk maar net so weens die media-kollig op jong vroulike glanspersoonlikhede met borskanker. Vroue tussen 50 en 70 kry meermale kanker.

Mite 2

Chemoterapie se bydrae verminder die syfer vir sterftes aan borskanker aansienlik.

Waarheid:
’n Multidissiplinêre benadering wat verskillende behandelings kombineer, is die doeltreffendste. Dit sluit chirurgie, bestraling, chemoterapie, hormone en immuno-terapie (die stimulasie van die liggaam se immuunstelsel om teen die kanker te veg) in. Spesialis-sentrums wat meer as 150 borskanker-gevalle per jaar behandel, het die beste resultate. Hier word die akkuraatste diagnose gemaak en die toepaslikste behandeling gekies.

Mite 3

Rook vergroot jou kans op borskanker.

Waarheid:
Dis een van die min kankersoorte waar rook nie jou risiko vermeerder nie.

Mite 4

’n Mammogram is ’n mammogram.

Waarheid:
Hoe akkuraat dit is, is afhanklik van: Die soort tegnologie wat gebruik word. Volveld- digitale mammografie is tans die voorste tegnologie. Die beste beeld word verkry deur ’n radiografis wat in mammografie spesialiseer. ’n Dokter wat in bors-beeldvorming
spesialiseer en selfs oorsee in die interpretasies van mammografie opgelei is, se ontleding is gewoonlik die beste. Daar word streng gehaltebeheer toegepas sodat die sentrum kanker vroeg reeds opspoor.

Vra dus:
Word mammogramme slegs deur radiografiste gedoen wat bykomend daarin opgelei is en hoeveel doen hulle jaarliks? (’n Minimum van sowat 2 500 is goed.) Word rekords gehou sodat die uitslag jaar na jaar vergelyk kan word? As jy van sentrum verwissel, neem soveel moontlik inligting saam. Soos vorige mammogramme, asook inligting oor biopsies en behandeling wat jy ontvang het.

Mite 5

Dis nie belangrik waar jy behandel word nie.

Waarheid:
Dis inderdaad belangriker as die soort behandeling wat jy ontvang (chemoterapie, hormonaal of bestraling) en word dikwels misgekyk. Die risiko om binne die volgende vyf jaar te sterf kan tot 60% hoër wees by klinieke met min borskanker-pasiënte, wys navorsing. Teenoor klinieke wat meer as 150 gevalle per jaar behandel.

Lees nou

Skoonheid ♥ borskankerbewustheid – só kan jy ook help!