hike_pics_1
Gesondheidstories

Moenie aan my vat nie. Selfsug of sindroom?

Stel jou voor jy leef in ’n wêreld waar alle geluide te hard is, die lig te skerp, en niemand naby jou moet kom nie. Hoe hanteer mens dit?

deur LYDIA VAN DER MERWE

’n Groot groep mense stap die restaurant binne net toe die telefoon lui: Dis ’n verskaffer wat wil weet of sy vrugtesap wil bestel. Sy besef sy moet kombuis toe draf om te gaan kyk hoeveel voorraad daar is. Een van die met sy vingers op die toonbank – sug toe die telefoon se gehoorstuk klaterend val. Sy maak verskoning, vra hulle moet ’n minuut wag en hoor hoe die woorde agterstevoor uitkom. Haar ore pyn, sy is naar en haar vel voel hipersensitief: Sy weet as iemand nou net drie tree van haar verbystap, gaan sy die wind teen haar lyf voel stoot. Dis tienuur in die oggend en die res van die dag dreig om haar in te sluk.

Jomari (44)* was ’n prokureur in Kaapstad toe sy haar goed opgepak het. Na ’n Karoo-dorpie toe, stilte toe. Daar het sy ’n restaurant bestuur, maar ná ’n paar jaar was sy wéér op breekpunt. Sy het in 2004 glad nie gewerk nie. Perfeksionisties, puntenerig, ’n control freak: Dít was haar enigste wapen teen ’n wêreld wat altyd op die punt was om buite beheer te tol.
“Soggens kyk ek heel eerste na die weer. Warm dae maak my lusteloos, depressief en ek kry hoofpyn. Ek lê eers en wag dat my lyf behoorlik wakker word. Dis moeilik om wakker te word, en ek funksioneer nie behoorlik voor soggens tienuur nie. My gedagtes hol dadelik in duisend rigtings. Ek sukkel saans om af te skakel, om te slaap. As ek tienuur wil slaap, moet ek agtuur al begin rustig raak. Ek het eindelose rituele om dit reg te kry. In die week het ek geen sosiale lewe nie. Ek gaan net uit as ek die volgende oggend kan laat slaap. En naweke is ek gewoonlik só op dat ek net by die huis wil wees.
“Oor kos is ek baie puntenerig en dis ’n nagmerrie om saam met my uit te eet.
“Ek dra gewoonlik swart klere, of dalk swart en rooi gemeng. Ek is baie sensitief vir kleur. Rooi is ’n giggelkleur en swart laat my kalm voel. As iemand geel, oranje en groen dra, is ek dadelik omgekrap. My klere is lospassend en van katoen. Niks moet span nie.
“Ek stap op die dorpie waar ek wil wees. Om motor te bestuur mergel my uit. Daar is te veel beweging, geraas, uitlaatgasse. As daar ’n goggatjie in die motor is, stop ek eers en gooi dit uit. As dit beweeg, pla dit my. Dis só erg dat ek omtrent ’n uur nadat ek by die werk aangekom het, eers genoegsaam gekalmeer het sodat ek met my dagtaak kan begin.’’

Wat’s verkeerd?
Ná terapie by ’n arbeidsterapeut kyk Jomari met nuwe selfvertroue na die wêreld. Sy wéét nou wat fout is en dit het alles verander: Sy is visueel, gehoor-, tasen vestibulêr oorsensitief. (Die vestibulêre sintuig in die binne-oor is verantwoordelik vir koördinasie en balans.) Sy ken die gevaartekens wanneer sy besig is om oorgestimuleer te raak – en wat om te doen om te voorkom dat sy “uit sny’’ (soos met die voorval in die restaurant). Sy beplan om vanjaar ’n aktekantoor op die dorpie te open. Dis haar eerste treetjie terug na normaliteit …Vir mense soos sy voel dit voortdurend asof hulle deur ’n sensoriese mynveld moet worstel. Die son is pynlik skerp, jou klere krapperig en geluide wat ander mense nie eens hoor nie, dryf jou teen die mure uit. Om in die verkeer te bestuur, na ’n winkelsentrum of restaurant te gaan en selfs net by vriende te kuier, is ’n nagmerrie.
Sharon Heller, ’n Amerikaanse ontwikkelingsielkundige en self sintuiglik sensitief, skryf in die boek Too loud, too bright, too fast, too tight: What to do if you are sensory defensive in an overstimulating world (Harper Collins, 2002): Jou renons vir skynbaar onskuldige sintuiglike stimuli laat jou emosies skoppelmaai ry. Angs, spanning, irritasie, ontsteltenis en woede wissel mekaar af. Soms ervaar jy selfs pyn. Jy probeer dit wat jou irriteer so ver moontlik vermy. Jy kry dalk jare al psigoterapie, of jy drink anti-depressante en angsweermiddels – sonder enige verligting, skryf Heller. Volgens kenners het ’n mens met dié simptome ’n lae sensoriese drempel.

Aan die teenoorgestelde kant is mense met hoë sintuiglike toleransievlakke: Jy het dan voortdurend ’n behoefte aan sensoriese stimuli en floreer op ’n gewoel en lawaai. Die meeste van ons is iewers tussenin. Volgens Annemarie Lombard, ’n arbeids terapeut van Kaapstad, het ’n steekproef in Kaapstad getoon sowat 20% van volwassenes is sensories baie sensitief (of defensief). Heller reken dis sowat 15% van alle mense. Jou brein gebruik sewe sintuie om al die miljoene sensoriese boodskappe in te neem waarmee dit daagliks gebombar deer word. Dis die gehoor, visie, reuk, smaak, tas en vestibulêre sintuie. Nog een, die “liggaamsbewussyn’’-sintuig, gebruik inligting afkomstig van reseptore in die spiere en gewrigte om die brein te laat weet waar jy is. Hoe weet jy waar om die bed liggie in die donker aan te skakel? Dis dié sintuig, saam met jou tassintuig, in aksie, sê Annemarie. Die brein gebruik alle sensoriese boodskappe om ’n prentjie van die wêreld om jou te vorm. Dit word sensoriese integrasie genoem. Die brein het die vermoë om te bepaal wat op ’n gegewe oomblik belangrik is. As jy dus op ’n vergadering is, konsentreer jy op wat gesê word – en nie op hoe jou klere voel nie. Maar dis glad nie die geval as jy sensories sensitief is nie. Gelukkig is al jou sintuie gewoonlik nie sensitief nie. Twee, drie of vier sintuie kan baie sensitief en die res normaal wees (of selfs hoë toleransievlakke hê). Hoewel baie navorsing gedoen is met babas en kinders wat sensories sensitief is, kom kenners nou maar eers agter dis ook op volwassenes van toepassing.

Is jy sensories sensitief?
Dis jou gene se skuld. Só onthou ek die eienaardige ooms en tantes uit my kinderjare: Hulle eet nie dit en dat nie, kan nie luidrugtigheid verdra nie en asseblief … groet hulle maar so van ver af. Dit was eers toe ’n nefie met sensoriese sensitiwiteit gediagnoseer is dat alles skielik sin gemaak het. Ek weet nou ek is self gehoor- en tassensitief en het meer geduld met myself. Dis nie iets wat skielik kop uitsteek as jy ’n volwassenes is nie. Annemarie sê dié mense kan gewoonlik onthou dat hulle as kinders nie daarvan gehou het om gedruk te word nie, of maklik vir geluide geskrik het. (Dit kan wel ná ’n trauma, soos beroerte of ’n ongeluk, na vore kom). Jou omgewing speel ook ’n rol. Die tassintuie van iemand wat in ’n plakkershut grootword waar mense opmekaar leef, gaan bv. minder sensitief wees as iemand wat in ’n groot huis grootword waar net twee ander mense woon. As jy baie blootgestel word aan dit waarvoor jy sensitief is, raak jy in ’n mate daarteen gepantser (of gedesensitiseer). Die verskynsel was nog altyd daar, maar in die besige moderne wêreld is dit moeiliker om daarmee saam te leef. Dit kom in alle kulture voor. En hoewel vroue meermale hulp soek, is dit waarskynlik omdat hulle meer ingestel is op hul behoeftes – en nie omdat dit minder by mans voorkom nie, sê Annemarie.

As jy sensories sensitief is, raak dit jou hele lewe: Jou produktiwiteit, hoe jy by groepe inpas en jou verhouding met kollegas, jou man en kinders. Gestel twee mense met teenoorgestelde profiele deel ’n kantoor. Die een praat hard, sy moker selfs die rekenaar se toetsbord hard. Die ander een is gehoorsensitief. Die stilte wat die een nodig het om te kan konsentreer, maak die ander een kriewelrig. Drama!

Verhouding met jou lewensmaat
“Nóú weet ek hoekom ek en my man geskei is,’’ sê Rina. Sy kan nie geraas hanteer nie, terwyl rock-konserte en harde musiek sy kos is. Linda se man is tassensitief en hou nie daarvan dat sy aan hom raak nie. Sy daarenteen, is “vatterig’’. Aanvanklik het dit haar verward laat voel. Vandag besef sy dis maar net hoe hy “bedraad’’ is. Annemarie sê dit kan probleme met intimiteit skep, veral as jy tassensitief is. Jy het dan ’n groot liggaams-ruimte om jou nodig, hou nie daarvan dat mense aan jou raak nie en voel ongemaklik in groepe. Jy sal wel soms aanraking inisieer omdat jy dit dan beter kan beheer. Gee só ’n mens ’n lekker stewige druk eerder as ’n sagte, strelerige aanraking. Eersgenoemde organiseer die brein terwyl laasgenoemde dit stimuleer.

Verhouding met jou kind
Gestel jou sensoriese profiel is die teenoorgestelde as jou kind s’n. As jy bv. sintuiglike stimuli vermy, gaan jy nie jou kind aanmoedig om met vingerverf te mors, in modderbaddens te speel en kos met sy/haar vingers te eet nie. Maar as jy gedurig na sintuiglike stimuli soek, gaan jy jou kind aanmoedig om dit te doen. As die kind sintuiglik sensitief is, gaan dit hom/haar heeltemal oorweldig. Terwyl ’n sensories sensitiewe ma weer die kind met dieselfde probleem se geneigdheid gaan verskerp om van sensoriese stimuli weg te skram. Dis nodig om sy/haar sensoriese drumpel “uit te daag’’ op ’n vlak wat nie bedreigend vir die kind is nie.

Verhoudinge by die werk
Marie is gehoor-, visueel- en tassensitief en werk in ’n oopplan-kantoor. Sy het eers in die middel van die kantoor, langs die fotostaatmasjien en onder die lugverkoeler gesit.
Sy kon nie konsentreer nie, dit het haar produktiwiteit beïnvloed en haar werk was altyd agter. Sy was tot vyf keer per dag in trane. Annemarie het aanbeveel dat sy na die kant van die kantoor skuif, waar sy meer ruimte het en met haar rug na die deur sit. Sy het toestemming gekry om Vrydae twee ure lank in die konferensiekamer te sit om haar administrasie in te haal. Annemarie sê die sensories sensitiewe mens kan enige werk doen – mits aanpassings gemaak word sodat jy optimaal kan funksioneer. Sy vergelyk sulke mense met die wortels van ’n boom. Hulle hou van donkerte, koelte, kalmte. Hulle is goed met detail, werk volgens ’n bepaalde struktuur en is intuïtief oor mense en hul
omgewing. As jy sensories sensitief is, móét jy gereeld asemskep en beslis nie tee- en etenstye werk nie.

Wat nou?
Hoe gemaak as jy die kouende brigade in die fliek in hul springmielies wil versmoor? Kou self iets! En dis die goeie nuus: Daar is baie wat jy kan doen om te voorkom dat jy sensories oorlaai raak, sê Annemarie.

• Kennis gee mag: Dit help al klaar as jy verstaan dat jou brein anders “bedraad’’ is en dat jy anders as ander mense op sensoriese stimuli reageer.

• Raak bewus van die tekens dat jou brein besig is om oorversadig te raak. Doen dan iets om dit te voorkom. Die tegnieke is soortgelyk aan dié vir streshanterig: Haal stadig en diep asem, gaan loop ’n draai, tel stadig tot tien, staan op en strek, mediteer, visualiseer, gaan draf.

• Beweeg! Sport en oefening stel nie net allerhande goedvoel-hormone in die liggaam vry nie, dit het ook op sensoriese vlak ’n positiewe invloed.

• Iets so eenvoudig soos om kougom te kou of te krabbel op ’n vergadering kan jou help om beter te konsentreer.

• Kou ’n wortel of suig ’n peperment om te voorkom dat jy “karsiek’’ raak.

• Pas jou leefstyl aan. Wéét wat jou spesifieke snellers is en vermy dit. As besige winkelsentrums jou rasend maak, doen jou inkopies op die internet. Of op stil dae.

• Terselfdertyd raak jy meer gepantser teen ’n bepaalde stimuli as jy jouself daaraan blootstel. Doen dit op ’n vlak wat jy kan hanteer. Massering is bv. uit stekend vir mense wat tassensitief is. Die diep drukking kan help om jou vel te desensitiseer.

• Gebruik ’n chirurgiese borsel waarmee jy die vel op ’n spesifieke manier skrop, organiseer en kalmeer die brein. Jy gebruik dit wanneer jy dit nodig kry, bv. voor ’n belangrike vergadering. (’n Arbeids terapeut kan jou wys hoe.) Dis so twee ure lank doeltreffend.

**Skuilname deurgaans gebruik.