Gesondheidstories

Kosdrange: My koninkryk vir ’n roomys – nóú!!

Jy móét ’n stukkie sjokolade kry. Van die donker sort met soutkorrels wat in jou mond ontplof. Of anders ’n lekker romerige roomys. Jou vriendin kan jy onder ’n wip vang met ’n heerlike vars sny brood met konfyt.

En jou man? ’n Soutigheid of gemarineerde ribbetjie.

Nóú!

Dis ’n onblusbare drang na sekere eetgoed. ’n Craving in Engels. Jy visualiseer dit. Jou mond water – letterlik. Jy kan aan niks anders dink nie. Dis slaaptyd, maar kort voor lank gryp jy jou motorsleutels en gaan soek ’n kafee wat deurnag oop is. En dit het niks met honger uit te waai nie. Honger en dié gehunker na ’n sekere kossoort is twee verskillende sensasies, lees ons op die webblad health.discovery.com.

Jy eet vir oorlewing en jou liggaam reguleer honger. Maar jou kop slaan die kitaar as dit by kosdrange kom. Honger speel nie eens ’n  rominente rol in kosdrange se oorsprong nie. Tog is dié drange algemeen by  mense wat ’n baie gestruktureerde eetplan volg.

“Op twintig het ek van appels, jogurt en dieet-Coke geleef,” vertel ’n vriendin. “En waarna het ek,’n vegetariër, gehunker? Bruin gebraaide boerewors! Iets waaraan ek gewoonlik nie sal raak nie, wat nog te sê eet.”

Jou honger kan jy met die naaste eetbare ding stil. Kosdrange is egter spesifiek: “Ek is ontsettend lus vir soet, stroperige rooi vye.” “Ek móét nou pizza met avokado, fetakaas en spek kry.”

Want jou onkeerbare drang daarna wentel om die lekker van eet. Dis ’n “mengeldrankie” waarby jou lyf, brein en chemikalieë geklits is, noem health.discovery.com dit. Voeg nou sielkundige faktore soos stres by.

Studies wys jou emosionele toestand speel ’n groter rol by kosdrange as honger. Dís wat jou laatnag yskas toe laat haas vir daardie oorskietsjokolade-mousse. Sielkundige faktore kan inderdaad die intensiteit en aard van jou drang na ’nspesifieke kossoort beïnvloed.

En nee, dis nie net ’n vroueding nie, hoewel studies wys dis wel meer algemeen by ons. Sowat 100% van vroue en 70% van mans het die afgelope jaar ’n kosdrang gehad, volgens die webblad www.sciencedaily.com. Ons kry dit veral as ons menstrueer en swanger is. (Dalk weens hormoonskommelinge.)

Voorts is ons meer geneig om ’n behoefte te hê aan lekkergoed, met sjokolade bo-aan die lys. En mans vir southappies soos pepperoni-pizza en gemarineerde ribbetjie, berig die Washington Post.

Jy hunker selde na iets gesonds, soos broccoli. Sekere navorsers definieer kosdrange dan ook as die sug na kilojoule-ryke (kJ) kos vol vet en/of suiker. Wortels? Nie sonder ’n ryk doopsous nie! Tjips? Ja, nou dadelik!

JY HET NIÉ ‘N TEKORT NIE

Wetenskaplikes het grootliks die teorie verwerp dat kosdrange jou liggaam se manier is om jou te waarsku dat jy ’n spesifieke voedingstof nodig het, Aldus ScientificAmerican.com.

Jy crave immers ongesonde kosse: spek, kaaskoek, Coke. En nooit wortels, broccoli en slaaiblare nie. Nee, jy eet so lekker, want dit laat jou tog so lekker voel.

Studies wys ons liefde vir soetgoed is aangebore. Net so om bitter smake te vermy. En ons liefde vir vetterige kos? Dis ’n aangeleerde smaak, berig Psychology Today. Kos vol vet en suiker stel goedvoelhormone in ons bloedstroom vry. Jy voel dan op-en-top en selfs ’n bietjie eufories.

Soos dopamien, skryf kollega André le Roux in sy nuwe boek Kan ek maar aan jou selluliet vat? Hoe mans se koppe werk (indien wel) (Tafelberg, Oktober 2010). “Dié neuro-oordragstof sorg vir daardie uit-jou-vel-uit-gevoel.

Die najaag daarvan lei ook tot verslawing en die drang na sekere kossoorte of soetgoed soos sjokolade. ’n Breinskandering met funksionele magnetiese resonansie-beelding (fMRI) sal toon meer bloed vloei na daardie gedeeltes van jou brein wat die meeste dopamien-reseptore het, soos in die breinstam. Sou die dopamien-sentrum in jou breinstam elektries gestimuleer word, sal dit intense plesier verskaf, soortgelyk aan ’n orgasme.”

Trouens, alle middels of gewoontes wat verslawend is, soos dwelms en dobbel, verhoog die dopamien in jou brein, skryf André. Die plesier wat jy kry as jy toegee aan jou kosdrange, is net ’n matiger weergawe van wat dwelmslawe kry as hulle “hoog” raak.

SÓ KAN JY DIT NEK OMDRAAI

Ja, jy moet. Nie net omdat jou middeltjie soek gaan raak en omdat die skuldgevoelens jou ry nie. Gee jy keer op keer toe aan jou hunkering na cappuccino met ekstra room, raak jou dopamien-beloningsisteem skoon deurmekaar. As jy bv. aanmekaar sjokolade eet, moet jy later meer en meer verorber vir jou dopamien-skop.

Nes ’n dwelmverslaafde.

Nee, moenie eens probeer om die gedagte daaraan uit jou kop te haal nie. Dit gaan nie werk nie. In een studie het vroue wat hard probeer het om nie aan sjokolade te dink nie, 50% meer daarvan geëet! (Teenoor ’n groep wat oor hul lus vir dié lekkerny gepraat het, volgens die BBC.)

Volgens ScientificAmerican.com eet Spaanse vroue meer sjokolade as Amerikaners en hulle het ook minder drange daarna. Wat sin maak. Moet dus nie onrealistiese doelwitte stel nie. As jy sê: “Ek gaan nooit ooit weer sjokolade eet nie,” raai wat gaan by jou spook? Sjokolade!

* Eet dit maar so nou en dan. In ’n studie waar deelnemers hul kJ’s moes tel, het dié wat die minste aan hul kosdrange toegegee het, die meeste gewig verloor. Hulle het egter nie summier elke kosdrang  nek omgedraai nie, maar geleer om nie altyd toe te gee nie, berig Sciencedaily.com.

Dieetkundiges beklemtoon hoe belangrik ’n verskeidenheid kosse in jou dieet is. Studies wys angs oor en verveeldheid met jou eetplan moet meer skuld kry vir kosdrange as bloot ’n dieet waar jy die kJ’s tel, aldus health.discovery.com.

Talle studies suggereer prentjies in jou kop speel ’n sleutelrol by kosdrange, word in die Mei-uitgawe van die joernaal Directions in Psychological Science berig. Jy sien dus die begeerde kos duidelik in jou verbeelding. Stomende krummelpap met botter wat daarin wegsmelt. Stroopsoet ingelegde geelperskes met ’n dik laag room.

 

Jy kan koptake gebruik om kosdrange hok te slaan.

 

Hoe duideliker die prentjie, hoe meer kwyl jy. So baie van jou breinkrag is nou op die prentjie gerig dat jy dit moeilik vind om op ander take te konsentreer.

Nuwe studies dui ook op die omgekeerde:Jy kan koptake gebruik om kosdrange hok te slaan. In een studie moes vrywilligers bv. kosdrange bekamp deur hulle te verbeel hulle sien ’n reënboog of ruik bloekom. Dit het gewerk.

In nog ’n studie moes vrywilligers met kosdrange ’n flikkerende swartwit kolpatroon op ’n monitor dophou (soortgelyk aan ’n TV wat nie ingestel is nie). Hul verbeeldingsprentjie van die begeerde kos was daarna vaer en die drang daarna ook minder.

Keer jou suikertand

  • Kou kougom. Navorsing wys dit verminder kosdrange.
  • Sit klein hoeveelhede van die begeerde kos by jou dieet, maar eet jouself versadig aan gesonde kosse.
  • As jy gereeld soetigheid crave, kan kos wat baie soet is (ook kunsmatige versoeters), dit erger maak.
  • Beplan jou maaltye en hou daarby. Moenie wag totdat jy wil flou val van die honger nie.

(Bron: webmd.com)

 

Vreemd . . .& Vreemder

Marmite en roomys.

Grondboontjiebotter en agurkies.

Gebraaide eiers met ’n pepermentsous.

Tuna en piesang.

Dis van die rare koskombinasies waarna swanger vroue hunker.

Maar vreemder is die verskynsel wat pika genoem word. Dit kom veral by klein kinders en swanger vroue voor en is die hunkering na nie-voedsame (selfs skadelike) stowwe soos gras, klippe en steenkool! Die rede daarvoor is nie duidelik nie. Sommige mense met pika het spesifieke mineraaltekorte, soos as jy ’n ystertekort het en grond eet. Maar nuwe studies wys dit
gaan dalk meer oor die reuk en tekstuur van die gekose stof as oor die voedingswaarde. Dis nie iets om jou oor te bekommer nie, solank jy dit nie oordoen nie en ’n gebalanseerde dieet volg.

In ’n studie met 2 231 swanger vroue is die volgende vreemde drange gevind:

Ys: 22%
Kool: 17%
Tandepasta: 9%
Spons: 8%
Modder: 7%
Kalk: 6%
Wasgoedmiddel: 5%
Vuurhoutjies: 3%
Rubber: 1%
Persentasie swanger vroue met ongewone eetdrange:
sowat 31%.

Bron: BBC

 

  • E Heyns

    Ek is nie so seker dat om bitter kosse te vermy aangebore word nie. Vra maar vir hoeveel moeders met babas. As die baba ‘n ‘wet wipe’ in die hande kry sukkel jy om dit weer uit hulle monde te kry en dit is gal bitter. Altwee my kinders is van kleins af mal oor olywe en blou kaas maar eet geen aarbeie of koejawels wat tog baie soeter is….

  • McOHDn jzfjngwdcfmm, [url=http://twjlexcsuldg.com/]twjlexcsuldg[/url], [link=http://nvsyihlktjfe.com/]nvsyihlktjfe[/link], http://zyflwdplvflt.com/

  • Sindy

    Wat se Nataniel ‘matigheid is een van die sleutels tot ‘n gehalte lewe