Gesondheidstories

My man is onvrugbaar

Onvrugbare mans. Pare trek dikwels ‘n sluier daaroor. Sy sal dalk selfs teenoor vriende en familie bely iets skort met háár. Dit terwyl onvrugbaarheid by mans toeneem (sien bl. 246) en die probleem tot in soveel as 30% van gevalle by die man is.

Dit raak hom waar dit die seerste maak – sy manlikheid. Studies toon ‘n “beduidende” aantal onvrugbare mans sukkel met ‘n lae selfbeeld,’n gevoel van waardeloosheid en verlies aan libido. Maar die kollig val meestal op die emosies van die vrou wat sukkel om ‘n baba te kry.

As die probleem by hom lê, ry sy emosies óók wipwaentjie, sê prof. Riana Bornman van die andrologie-eenheid by die departement urologie aan die Universiteit van Pretoria. So erg dat dit die einde van die verhouding kan beteken. Ná die dood van ‘n geliefde en ‘n egskeiding is onvrugbaarheid (as die probleem syne is) derde op die lys van top-stressors. Moenie jouself die skuld gee as jy nie die vaagste vermoede gehad het dís hoe hy voel nie. Hy besef dit dalk self nie.

Ben, ‘n Johannesburger in die rekenaarbedryf, sê hy het eenvoudig geweier om sy emosies te verwoord nadat toetse gewys het hy het vrugbaarheidsprobleme:  

* Die woord het heen en weer deur sy kop gebons.  “Onmoontlik.”

* Vir hom was die spermtoets net roetine . . . om sy vrou gelukkig te hou. Maar toe moes hy hoor sy sperma is min, abnormaal gevorm en swem in die rondte. Sy kans om ‘n kind te verwek was gering. Ben, ‘n Johannesburger in die rekenaarbedryf, en Anet (skuilname), ‘n arbeidsterapeut, het in hul laat twintigs besluit dis tyd vir ‘n gesin. Sy het aan endometriose gely en toetse ondergaan om seker te maak sy kan swanger raak. Vir ‘n volledige beeld het die ginekoloog voorgestel dat Ben vir ‘n spermtoets gaan.

* “By die kliniek was almal professioneel, maar dit was nietemin vernederend. Ek het geweier dat Anet saamgaan. Toe sy my by die werk bel met die uitslag, was ek skielik onredelik kwáád en kortaf.” En daarby het dit gebly. Hy wou nie daaroor praat nie. Nie met Anet nie. Nie met die huweliksberader of sielkundige nie. Nie met sy ma nie. En beslis nie met sy vriende nie, want die manier hoe mans daaroor praat, maak dit onmoontlik: “Sus en so skiet windballe, hy is verniet so wintie.”

* Hy het uiteindelik sy pa, ‘n dokter, gevra of hy weet van ‘n goeie uroloog. “Ek het soos ‘n loser gevoel. As die enigste seun moet ek die familienaam voortdra. Ek en my pa het nie ‘n openhartige verhouding nie, maar ek het na hom opgekyk. Ek wou hom nie teleurstel nie.

*  “Ek besef nóú dit was vir my só oorweldigend dat ek nie logies kon dink nie. Ek het gevoel as Anet na my kyk, sien sy ‘n groot, abnormale sperm. Hoekom het ek rugby gespeel? (‘n Ou rugbybesering het vermoedelik die probleem veroorsaak.) Hoekom het ek gerook? Hoekom dit, hoekom dat . . . “Ek was, irrasioneel, woedend vir Anet. Dis sý wat wou hê ek moes vir die toets gaan. Ek het oor simpel dinge begin baklei – ‘n teelepel in die wasbak,’n leë koeldrankbottel in die motor.

* “Anet wou dadelik vir my afsprake maak by al wat ‘n dokter is. Sy het aangedring dat ons daaroor praat. Vroue kan mos ‘n ding so met ‘n draai benader. Op die een of ander manier kom sy by babas uit. Dit het my méér die josie in gemaak. Ek wou niks van babas hóór nie. As ‘n baba op TV verskyn, het ek van kanaal verander.

* “Ek het soos ‘n besetene gholf gespeel. Ek wou nie huis toe gaan nie. Wat maak dit tog saak? Wat beteken ek immers? En toe het ek ‘n verhouding met ‘n ander vrou begin. Sy het mos nie geweet van my probleem nie, dat ek nie volledig man was nie.

* “Maar ek het later besef ek was bang Anet gaan my los vir ‘n man wat vir haar kinders kan gee. Ek wou myself eerste losmaak. Want ek wou nooit weer so weerloos voel soos die dag toe ek die uitslae gehoor het nie. Toe Anet van die ander vrou uitvind, was dit die finale strooi. Ons is geskei. Vreemd. As sý die vrugbaarheidsprobleem gehad het, sou ek derduisende rande bestee het sodat sy kon swanger raak. Ek sou haar met alles in my ondersteun het. Maar met die skoen aan die ander voet kon ek dit nie hanteer nie.

* “Dis twaalf jaar later en ek het grootgeword. As ek destyds saam met die berader gewerk het, was ons dalk nog saam. Maar ek sou te veel moes ontbloot – ek was bang vir seerkry. Ek het myself destyds getroos dat die huwelik tog nie werk nie. Ons baklei dan te veel. Ek besef nóú hoeveel ek verloor het.”

 
Die samelewing se stereotipering van manwees speel ‘n groot rol in sy onvermoë om dit te hanteer, aldus die webblad www.sharedjourney.com.
* As jy nie kinders kan verwek nie, voel jy dat jy nie ‘n “ware” man is nie. Jy vrees jy is nie ‘n goeie minnaar nie en dat jy “iets” verkeerds doen. Volgens Riana sukkel só ‘n man dikwels tydelik om ‘n ereksie te kry. Dan begin hy miskien rondloop – dalk kan hy homself by ‘n ander vrou “bewys”.

* Die man moet mos sterk, georganiseerd en altyd in beheer wees. Nou het hy nie eens beheer oor sy eie vrugbaarheid nie.

* Daar word dikwels van mans verwag om die familienaam voort te dra. Jy kan nie en voel soos ‘n mislukking.

* Jy het skuldgevoelens, veral as jou vrou nie probleme het nie. Dis mos jou “plig” om haar ‘n gesin te gee.

Jy begin nou oorkompenseer in jou werk of sport. Jy vermy jou gevoelens oor onvrugbaarheid en behandeling daarvoor. Jy krop jou emosies op, wat tot woede-uitbarstings lei. Dis egter nie vir alle onvrugbare mans só ‘n krisis nie. Volgens Riana verwerk hy dit beter as julle dit sáám deurpraat en deurleef. Hoe ‘n man dit hanteer, sal van verskeie dinge afhang, veral van sy vermoë om verlies en ‘n gevoel van mislukking te verwerk, sê Julie Lockyer, Kaapse sielkundige wat met onvrugbare pare werk. Dit help as hy nie sy manlikheid koppel aan sy vermoë om kinders te kry nie.

Onthou: Mense hanteer dit verskillend. Ondersteun mekaar, eerder as wat julle mekaar beskuldig, sê sy. “As hy dus nie dadelik daaroor wil praat nie, los hom,” sê Ansu Kaplan van Pretoria. SARIE het twee jaar gelede vertel van haar stryd om swanger te raak. Ansu,’n finalis in die Mev. Verenigde Nasies SA-wedstryd (2005), bied werksessies vir onvrugbare mense aan. Ná die artikel het sy talle oproepe gekry, ook van mans. “Almal het begin met: ‘Ek het ‘n probleem – maar dis seker nie ‘n grote nie.’ Hul vroue raak pushy, en wil nóú ‘n antwoord hê oor die pad vorentoe – verdere behandeling, aanneming?

“Wat moet hy vir haar sê? Een man het verklaar: ‘Ek’s verlore. Ek het dit nooit verwag nie.”’ Ansu se raad is, sê vir haar: “Ek is lief vir jou. Ek sien ek krap jou om. Maar ek wil nie nou praat nie, my kop is deurmekaar. Gee my tyd.”

“Van die mans het teruggebel en gesê hul vrou verstaan. En dat ‘n emosionele las van hul skouers af is.” Jou behoefte aan ‘n kind kan só groot wees dat jy druk op hom plaas, sê Riana. Sy sien dit gereeld. ‘n Paar het ‘n geringe kans om wel ‘n kind van hul eie te hê. Hulle het reeds telkemale vir vrugbaarheidsbehandelings gegaan. Sonder sukses. Maar die vrou dring aan: Ons probeer wéér.

Hou op fokus op jóú verlies. Wees eerder die vriendin wat jy altyd vir hom was. Vertel jou vriendinne hoe jy voel, maar gee hom kans om dit op sy eie manier te verwerk. En wanneer hy gereed is, gaan sien sáám ‘n sielkundige of berader en bespreek die moontlikhede.

MEER MANS ONVRUGBAAR

* Spermtellings neem af en spermabnormaliteite word meer, sê dr. Wusuf Dasoo, infertiliteitspesialis by die BioART-kliniek in Johannesburg. Daar is baie hipoteses soos ‘n veranderende dieet, omgewingsfaktore, stres en leefstyl. Dalk word net meer mans deesdae vir onvrugbaarheid getoets. Nog ‘n hipotese is dat sg. estrogeniese hormoonontwrigters ‘n rol speel. Dié chemikalieë boots die vroulike geslagshormoon estrogeen na en versteur jou liggaam se delikate hormoonbalans. (Dit kom onder meer in plaagdoders en plastiek-bymiddels voor.) 

* Volgens Wusuf is die definisie van onvrugbaarheid ‘n paartjie wat ná ‘n jaar van gereelde, onbeskermde seks nog nie ‘n baba verwag nie. (Paradoksaal word “normale vrugbaarheid” gedefinieer as die vermoë om binne twee jaar natuurlik swanger te raak.) Sowat 15% van pare sukkel. Die probleem is in 30% van gevalle die man, 30% die vrou en 30% albei s’n. In 10% van gevalle kan dit nie verklaar word nie.

Daar is behandeling

KUNSMATIGE INSEMINASIE (KI): Sperma word via die vagina in jou baarmoeder geplaas sodat bevrugting kan plaasvind.

IN VITRO-BEVRUGTING (IVB) (of “proefbuisbabas”): Eier- en spermselle word in ‘n laboratorium bymekaargebring en ‘n maksimum van twee embrio’s in jou baarmoeder teruggeplaas. Met KI en IVB kan skenkersperma gebruik word. Daar is nie ‘n vaste patroon hoe mans (en vroue) oor skenkersperma voel nie, sê Julie Lockyer, sielkundige van Kaapstad. Sommige mans voel bedreig daardeur, ander nie.

ISSI (Intra-sitoplasmiese sperminspuiting): As sy spermtelling baie laag is, word een “gesonde” sperm in ‘n eiertjie gespuit. (Die sperm moet “normaal” lyk en beweeg.) stamselle bied hoop dat “gesonde sperma” in die toekoms “gekweek” sal kan word, maar volgens Riana Bornman van die departement urologie by die Universiteit van Pretoria sal dit nog lank wees voor dit ‘n werklikheid word.

 

 

 

Hy’t soos ‘n alleenloper opgetree

 

Dit was ‘n warrelwind-romanse. Januarie ontmoet, Desember getroud. Ná ‘n jaar het Natalie,’n Kapenaar in die klerebedryf, en Jurie,’n bouer, besluit om met ‘n gesin te begin. Hulle was in hul middel-twintigs en sý ouers wou graag ‘n kleinseun hê – sy broer het reeds twee dogters gehad.

Natalie het gou swanger geraak. Hy het self die wiegie van kiaathout gemaak. Vir sy seun. Want almal was oortuig dis ‘n seun. Twee maande later het sy ‘n miskraam gehad. Jurie het soos ‘n kind gesnik. Daarna toegeskulp en stiller geraak – ook teenoor Natalie. Sy het vir berading gegaan, hy het geweier.

Sy onthou dié tyd. “Hy praat nie. En dit vreet aan my.” Daar was tekens dat hy sukkel om dinge te verwerk. Sy broer se vrou het weer verwag en hy het hulle nie geluk gewens nie. Natalie sou telkens vind die boks in die spaarkamer met babakleertjies is oop. Niemand durf ook in dié kamer kom nie. Toe sy skoonsus later die lewe aan ‘n seun skenk, wou Jurie hom nie vashou nie.

Al was dinge nog baie rou, het hulle besluit om dadelik weer te probeer. Maar sewe maande later was daar nog niks nie. Dinge het drasties verkeerd begin loop. Natalie het voor haar swangerskap vir toetse gegaan, maar daar was geen fout met haar nie. Hulle het albei vrugbaarheidsbehandeling begin kry. Sonder resultate.

Die dokter het gevra of Jurie al getoets is, maar hy het geweier om te gaan. “As sy broer hom spot en sê hy ‘skiet blanks’, sit hy net daar. Later het hy vir my sê: ‘Wat as die probleem by mý lê? As ek nie vir jou kinders kan gee nie?”’ Die altyd rustige Jurie het uitgehaak, ná werk ‘n dop gaan drink (voorheen was hy nie juis ‘n drinker nie). Hy het soos ‘n alleenloper opgetree.

Natalie het hom gesmeek dat die ding nie tussen hulle moet kom nie en dat hy met haar moet praat. “Sy familie het bly vra waar die kleinkind dan is. Tot hy uitgebars het: ‘Ek wil nie kinders hê nie!”’ Toe het hy Natalie by haar familie in Kaapstad afgelaai. Wat ‘n kuier van twee weke sou wees, het maande geword. Hy het haar toe vir ‘n egskeiding gedagvaar. “Jy verdien méér as wat ek jou kan gee,” is al wat hy gesê het.

Hulle is nou al amper ‘n jaar geskei. Maar steeds hoop sy dat hy tot sy sinne sal kom.

Kontaknommers

  • Ansu Kaplan 083 268 6999
  • Riana Bornman 012 354 1752
  • Julie Lockyer 021 683 3853
  • Wusuf Dasoo 011 484 5119.
 

  • Natasha

    Ek en my man is nou amper 7 maande getroud. Ek is nog nie swanger nie. My man het ‘n seuntjie (7) uit ‘n vorige huwelik. Wat is die kanse dat my man nou onvrugbaar kan wees? Daar is geen mediese faktore, soos dat hy seergekry het, of siek is of so iets, wat ‘n rol speel nie.

  • onseker

    Ek wil net graag weet wanneer is dit nodig om vitro te gebruik?

  • MendozaLynda20

    Make your life time more simple get the mortgage loans and everything you want.

  • annetha

    Ek het nie komentaar nie maar we’ll n vraag. Ek is nou al 9 jaar gesterriliseer en het 3 keisers gehad. Ek wil weet of dit moontlik is dat ek kunsmatige inplanting kan kry en dan weer n keiser. Ek kan nie normaal geboorte gee nie en wil bitter graag nog n baba he.