Gesondheidstories

My nuwe bors ná kanker

 

My nuwe bors is sag, nes my oue.

 

Toe Frieda Henning (54) van George hoor sy het borskanker, was die minste van haar probleme dat sy ‘n bors gaan verloor. Sy wou net van die “indringer” in haar lyf ontslae raak. Boonop het sy dadelik ‘n rekonstruksie gekry. Maar eers talle operasies later is sy tevrede.

“Ek het mooi borste gehad. Min vroue van my ouderdom s’n is nog so ferm, het die plastiese chirurg net voor my mastektomie gesê.

“In Julie 2005 het ek gelyktydig ‘n mastektomie en borsrekonstruksie met silikoon-inplantings gehad. Dit het geblyk die kanker het reeds na die res van my bors en ook die kliere onder my arms versprei. Die knop was boonop gróót (sowat 6 cm). Die behandeling sou daarom aggressiewer wees as wat eers gedink is, met vyf weke se bestraling.

“Bestraling en inplantings werk nie lekker saam nie. Daar kan newe-effekte wees. Jou liggaam vorm bindweefsel om die inplanting – die normale reaksie op ‘n vreemde voorwerp. Maar weens die bestraling het daar méér bindweefsel gevorm en om die inplanting saamgetrek. My bors was daarom abnormaal hard en misvorm. Die inplanting het boonop geskuif en ná ‘n jaar 6 cm hoër gesit.

“Ek het aanvanklik gesê ek wil net gesond wees. Tog kon ek nie met my misvormde bors vrede maak nie. Natuurlik was ek dankbaar ek leef, elke dag. Maar die herinnering dat jy kanker gehad het, is altyd dáár. Elke keer dat jy in die spieël kyk. Dis iets wat ek nie eintlik meer wou doen nie, veral as ek kaal was. Ek het gestort terwyl my man, Ernst, nie by was nie. Dit het hom ook beïnvloed, asof hy my huiwering kon aanvoel as hy aan my wou vat.

“Ek was altyd lief vir mooi aantrek. Maar drie jaar lank wou ek nie klere koop nie. Ek het dikwels ‘n serpie só gedrapeer om my borste weg te steek. As ek iemand met ‘n cleavage sien, het ek weggekyk. Ek het gewonder hoe ek vir mense lyk.

“‘n Tweede plastiese chirurg het ‘n flap-rekonstruksie aanbeveel (sien kassie). Ná twee operasies, en nog voor my tepel gerekonstrueer is, was my bors egter weer kliphard en misvorm.

“Toe het ek by prof. Frank Graewe van Kaapstad uitgekom, ‘n rekonstruksie-spesialis. Hy het wéér ‘n rekonstruksie gedoen, ‘n vry-flap (sien kassie).  Weefsel vir my nuwe bors is uit my maag gesny. Dus het ek sommer ‘n (onbedoelde) tummy tuck ook gekry! Ek was sowat twaalf ure in die teater en vyf dae in die hospitaal. Maar die dag ná ek ontslaan is, het ek al gaan stap.

“Daar is nie baie gevoel in my nuwe bors nie. Maar dis sag, nes my ander een, en lyk goed. My mediese fonds het vir alles betaal.

“My nuwe tepel is daarna gerekonstrueer, my agtste operasie sedert ek met kanker gediagnoseer is. (Drie daarvan was nadat ek van ‘n perd afgeval en my sleutelbeen vergruis het.)

“Dis vier jaar ná my diagnose en my lewe is soveel ryker. Ek hou my met dinge besig wat ‘n verskil maak. Onder meer as stigterslid en mede-direkteur van die Journey of Hope-borskankerrit (sien brikkie later). Ek lewe met soveel dankbaarheid – elke dag.”

 

 

Die prostese het heeltyd uitgeval.

 

Jakomien de Souza (34) van Johannesburg is verlede jaar ginekoloog toe om die moontlikheid van sterilisasie te bespreek. Sy wys hom toe sommer die knop aan haar regterbors. Dit was kanker. “‘n Week later, 8 Julie 2008, was ek sonder ‘n boob,” vertel sy op haar loslit-manier.

“Ek was nooit ‘n boob-mens nie. Maar ná die mastektomie was dit bitter moeilik om aan te trek. Ek is in die somer lief vir toppies met spaghetti-bandjies. Nou moes ek dit aanmekaar optrek om die letsel weg te steek.

“Dit was lelik, al is die chirurgie netjies gedoen: Horisontaal oor my bors en nogal hoog (omdat die knop hoog gesit het). Dit sou my telkens tref as ek aantrek: Aan die een kant was ‘n boob en aan die ander kant . . . niks. Ek kon aanvanklik nie ‘n bra dra nie, dit het my seergemaak. Dus het ek my sussie se maternity-bras geleen en ‘n uitwendige prostese ingesit – ‘n opgestopte lap-sakkie. (Jy kry ook ‘n silikoon-soort.) Dit het heeltyd uitgeval: Elke nou en dan moes ek my boob vang en weer in my bra inglip!

“Een oggend terwyl ek aantrek, het Isabel (3), my dogtertjie, opgewonde uitgeroep: ‘Mamma, jou tietie is terug!’

“My kanker is geneties. My ma is weens borskanker dood toe ek 13 was. Sy was sewe jaar lank siek. Ná my mastektomie het ek en Janet, my suster, saam vir ‘n genetiese toets gegaan. Sy wou as voorsorgmaatreël ‘n dubbele mastektomie laat doen, maar gelukkig het sy nie dié dwarstrekkerige geen nie.

“Ek hét. My kanse was 80% om in my leeftyd borskanker te kry. En 50% om dit ook in my ander bors te kry.

“Dus het ek my gesonde bors ook laat verwyder. Ek het terselfdertyd albei laat opbou met ‘n flap-rekonstruksie (sien kassie). Die mediese fonds het daarvoor betaal. Die operasie was vyf uur lank en ek moes vyf dae in die hospitaal bly. Maar drie dae later is ek huis toe. Volgens my dokter herstel pasiënte wat ná ‘n mastektomie ‘n rekonstruksie kry, gouer as vroue wat net om kosmetiese redes vir ‘n boob job gaan. Enigiets is beter as wat jy gehad het.

“By die huis het Isabel en Stephan (5) my hemp omtrent oopgeruk, gevra of my tieties nou terug is, gekyk en gekyk . . . en weer begin speel. Dis wonderlik hoe aanpasbaar kinders is. Eintlik hoe aanpasbaar die méns is.

“My borste was lank geswel, nes twee pampoentjies wat onder my sleutelbene vasgehaak het. Dit lyk egter nou baie natuurlik. Ek was op so ‘n high daarna. Dit was asof ek ‘n nuwe trots gekry

het. Iets om te wys. Die sielkundige sy daarvan is seker: Ek lewe.

” ‘n Mens het steeds jou oppe en affe. My terapeut sê dis nie vreemd nie. Ek treur nou eers oor wat ek verloor het. My borste, my hare, die chemoterapie wat my waardigheid gestroop het. Ek het so lank op oorlewing gefokus . . .

“Maar een van die dae is ek weer die ou Jakomien. ‘n Kanniedood.”

 

Dit lyk onnatuurlik.

 

Elani Weetman van Pretoria het in November 2007 ‘n mastektomie gehad. Sy was 27. Hoewel sy sedertdien ‘n borsrekonstruksie gehad het, is sy ongelukkig met haar nuwe bors.

“Ek was liéf vir my borste en het dit in 2006 laat vergroot: ‘n klein 36B het ‘n vol 36C geword. Twee maande later was ek swanger met Logan (nou byna 3). Ek het ‘n knop aan my regterbors gevoel, maar borskanker is nie ‘n familietrek nie. Boonop was ek nog so jonk. My dokter was nie bekommerd nie.

“Logan is gebore en die knop was steeds daar: Presies in my borsgleuf en lelik. Logan was 10 maande oud toe ek aandring dat dit verwyder word. Dit was kanker, ‘n aggressiewe soort en reeds ver gevorderd.

“Die mastektomie was deksels seer, dit het gevoel of iemand my bors met ‘n warm mes bygekom het. En die letsel was onooglik, ‘n lang sny wat met krammetjies geheg is. Ek het nie gaan werk voor die krammetjies verwyder is nie. Toe eers kon ek ‘n spesiale bra dra wat ek met ‘n uitwendige prostese kon opstop. Ek was baie selfbewus en het nuwe klere gekoop wat my tot by my nek toemaak.

“Dis tydelik, het ek myself getroos.

“Ek het in Junie 2008 met chemoterapie klaargemaak. Twee maande later het ek vir die rekonstruksie gegaan. ‘n Tydelike silikoon-inplanting wat kan rek, is onder my regterborsspier ingesit. Dis oor vier maande geleidelik met soutwater gevul om die vel te rek. Dit was nie seer nie (sien kassie).

“Op 1 Desember verlede jaar is die tydelike inplanting met ‘n permanente een vervang. Die operasie was twee uur lank. Tot my groot teleurstelling lyk die bors egter onnatuurlik. Dis so ‘n vreemde hobbel op my borskas: Plat en sonder ‘n natuurlike peervorm. Ek het gekla en is dieselfde week weer teater toe. Die plastiese chirurg het ‘n groter inplanting ingesit. Maar ek is steeds ongelukkig. Ek is nie eens lus om die tepel te laat rekonstrueer nie.

“Dit het my eers die afgelope twee maande getref: Ek gaan nooit weer normaal lyk nie. Ek is net 29 en sal nooit weer ‘n bikini kan dra nie. Ek het gehuil, moedeloos gevoel. My voorkoms is ‘n belangrike deel van wie ek is.

“Die letsels pla my nie. My borste moet egter minstens dieselfde lyk. Ek kan dit onder my klere wegsteek en my bra se regter-keel met watte opstop. Maar ek sal nooit daarmee kan vrede maak nie. Ek wil nou my ander bors ook laat verwyder en dieselfde soort rekonstruksie laat doen. Vir eenderse borste. My mediese fonds wil egter nie daarvoor betaal as my kanker nie geneties is nie. Dus gaan ek binnekort vir ‘n genetiese toets. Die kanse is 80% dat dit nie ‘n familietrek is nie.

“Natuurlik is ek ongelooflik dankbaar dat ek lewe. Ek rou egter nóú eers oor die kanker en alles wat daarna met my gebeur het.”

Die tegniek vir jóú

Jou ouderdom, behandeling, liggaamsvorm, soort kanker ensomeer bepaal watter rekonstruksie-tegniek die beste vir jóú is, sê prof. Frank Graewe, hoof van die afdeling plastiese chirurgie aan die Universiteit Stellenbosch. Die nuwe tendens is om die mastektomie en rekonstruksie gelyk te doen. Die resultaat is dikwels beter, aangesien jou borsvel behou word (dit word ‘n velbesparende mastektomie genoem). Ook die tepel word soms behou. Dis sielkundig gesproke beter.

 

Rekonstruksie met ‘n inplanting

  • Met ‘n velbesparende mastektomie word ‘n sout- of silikoon-inplanting onder jou borsspier gesit om die verlore borsweefsel te vervang. As jy egter daarna bestraling kry, is daar dikwels newe-effekte. Jou bors kan infeksie opdoen of hard word, of die inplanting kan skuif. (Lees Frieda se verhaal).
  • As daar nie genoeg vel vir die rekonstruksie is nie, kan dit met ‘n spesiale inplanting gerek word. Dit word onder jou borsspier gesit en geleidelik met soutwater gevul. (Soos ‘n leë ballon waarin jy water gooi.) Met ‘n tweede operasie word dit verwyder en ‘n silikoon-inplanting ingesit, soos in Elani se geval.

Rekonstruksie met jou eie weefsel

  • Flap-rekonstruksie: ‘n Spier, vet en vel van óf jou rug óf onderbuik word onder jou vel deurgetrek na jou borskas toe. Die spier se bloedvaatjies bly gekoppel aan die plek waarvandaan dit kom en die bloedtoevoer word dus behou. ‘n Nuwe borsvorm word met dié flap gemaak. (Lees Jakomien se verhaal.) Die nadele: Jy het ‘n litteken op jou rug/maag en moet dalk steeds ‘n sout-/silikoon-inplanting kry. Omdat die bloedtoevoer nie goed is nie, kan die flap krimp as jy bestraling kry.
  • Vry-flap-rekonstruksie: Vet en vel van jou onderbuik word op jou borskas oorgeplant. Bloedvaatjies word versigtig uit ‘n spier gesny, wat in jou maag agterbly. (Soms word ‘n klein stukkie spier wel gebruik.) Die bloedvaatjies word met mikro-chirurgie aan die bloedtoevoer in jou borsgedeelte geheg, soos in Frieda se derde poging. Geen maagspiere word verwyder nie en jou maagwand word minder beskadig. Jou bors lyk ook baie natuurlik. Dié prosedure is ingewikkeld en neem lank en net ‘n paar chirurge in die land doen dit.
  • In ‘n variasie, wat plaaslik net deur prof. Graewe gedoen word, word boudweefsel gebruik. Dit word gedoen as jy bv. baie maer is, nog kinders wil hê of reeds ander maagoperasies – soos ‘n tummy tuck – gehad het.
  • Die afronding word met ‘n tweede operasie gedoen, drie tot ses maande later. ‘n Nuwe tepel word met borsvel gerekonstrueer. Dit lyk natuurlik, maar het nie enige sensasie nie, behalwe dalk as iemand hard daaraan gryp. Jy kan die vel daarom laat tatoeëer om dit soos ‘n areola te laat lyk. Of vel van jou ander bors se areola kan oorgeplant word. Vet kan met liposuiging uit jou lyf verwyder en vir kontoerfoute in jou bors gespuit word. Jou ander bors kan gelig, groter of kleiner gemaak word om by die nuwe een te pas.
  • Kontak prof. Graewe by info@professor-graewe.com; www.professor-graewe.com.